Nuuskommentaar: Tronkvoëls van eenderse vere of prinse wat blindelings vertrou kan word?

Pres. Donald Trump praat met verslaggewers net voordat hy op die Marine One vanaf die Withuis in Washington na Kentucky vertrek. (Foto: Alex Brandon, AP)

Kommunikasie en kommunikasiemiddele het oor die afgelope eeu en ’n half so verbeter dat mense dwars oor die wêreld goed ingelig behoort te kan wees. Sommige mense is inderdaad oor minstens sekere onderwerpe goed ingelig, maar die literatuur verwys ook na verdomming wat ingetree het, en ontkenners en samesweerders, plataarde‑aanhangers en ’n rits ander wat floreer. Alles kan nie voor die deur van fopnuus gelê word nie, ook nie die neiging om sekere individue so erg te verromantiseer dat dit op die vertrou op prinse, premiers en presidente neerkom nie.

Min dinge het ’n Trump-dweper so gou wit om die kraag van woede as ’n berig of artikel wat die een of ander, of meerdere ooreenkomste tussen pres. Donald Trump en ’n ander politikus tref, selfs al gaan dit net oor die haarstyl van Trump en die Britse premier, Boris Johnson. Om nie te praat van die gebruik van ’n spotprent wat oudpres. Jacob Zuma met Trump se haardos uitbeeld nie.

Daar is egter ander ooreenkomste tussen ander politici wat meer treffend is as dié met Trump. So staar oudpres. Jacob Zuma, premier Benjamin Netanyahu van Israel en einste Johnson moontlik tronkstraf in die gesig. Darem ook nie altyd oor dieselfde rede nie. Zuma en Netanyahu se beweerde sondes is bedrog; Johnson, dat hy hom aan iets soos minagting van die hof of parlement sou (wou) skuldig maak.

Ontevrede LP’s probeer Johnson met hofbevele dwing om met die EU oor ’n latere datum vir Brexit te onderhandel. Johnson skop egter vas dat hy “eerder dood in ’n afvalsloot sal lê as om oor uitstel met die EU te onderhandel”. Johnson het homself met die strokiesheld, die Hulk vergelyk. Hoe groter die druk op hom en hoe kwater hy word, hoe sterker word hy. Lees gerus Netwerk24 se hoofartikel oor die kwessie hier.

Benjamin Netanyahu. (Foto: Abir Sultan, AP)

Netanyahu werp nou alles in die stryd om die verkiesing later die week te wen, nadat die eintlike geskeduleerde verkiesing vroeër vanjaar nie ’n wenbare meerderheid vir Netanyahu opgelewer het nie. En Netanyahu het eintlik nie ’n ander keuse as om te wen nie, want verloor hy weer sal die wiele heel waarskynlik aan die rol kom om hom agter tralies te laat beland. En dis nie sommer praatjies nie. ’n Vorige premier, Ehud Olmert, is reeds onder baie soortgelyke omstandighede na die “hotel” (soos die tronk in Pidgin bekend staan) gestuur.

Netanyahu het pas aangekondig dat sou hy wen, gaan hy ’n derde van die Wesoewer annekseer. Hieroor is hy wyd veroordeel, onder andere deur die sekretaris-generaal van die VN. Lees gerus Maroela se nuuskommentaar oor die agtergrond tot die huidige situasie in Israel hier.

Ironies is Trump nog nie heeltemal uit hierdie geselskap geskuif nie. Sedert hy aan bewind gekom het, het sy teenstanders min of meer alles in die stryd gewerp om hom in ’n staat van beskuldiging te stel. Na berig word loop hy nie nou die onmiddellike gevaar hiervoor nie. Die Republikeine staan min of meer bankvas agter Trump, maar daar is nou ongeveer die helfte van die Demokrate wat voel die kool is nie die sous werd nie. Maar ’n derde van die Demokrate se kongreslede hoop steeds om die staat van beskuldiging ingestel te kry. En met Trump se skynbare onvoorspelbare en wispelturige optredes hou sy adviseurs maar die asem opgetrek dat hy nie onverwags sy hand gaan oorspeel en hom groot moeilikheid op die hals haal nie. (En nee, die uwe kan nie eens onthou of hy al ooit CNN as bron gebruik het nie.) Dus, vir minstens die huidige, maak Trump nie deel van hierdie mielieblaarklub-debat uit nie.

Geoordeel aan die plaaslike media se aandag aan Johnson se moontlike Vyfster-verblyf, is dit te wagte dat min Suid-Afrikaners hierdie saak ernstig opneem. Maar google ’n mens “Boris Johnson” en “jail” en ’n netjies 50 miljoen trefslae word registreer. Die Britte is duidelik meer begaan hieroor.

Boris Johnson. (Foto: Dominic Lipinski/Pool Photo via AP)

Wat die saak verdiep – en ook hier min aandag trek – is dat die sogenaamde Keltiese weerstand hierin ook ’n rol speel. Die Skotte, die Walliesers en die Noord-Iere het immers in die Brexit-referendum téén Brexit gestem. Hul selfbeskikkingsreg wat stadigaan meer beduidend word, was egter nie genoeg om hul keuses teen dié van die Engelse te laat opweeg nie. Dit het egter nie die selfstandigheidstrewe van veral die Skotte gedemp nie. Die Noord-Iere het sedert die vredesooreenkoms ’n veel beter verhouding met die Iere van die Ierse Republiek gevorm, en ’n onlangse peiling het aangetoon dat die meeste Noord-Iere glo die Ierse regering beteken vir die Noord-Iere meer as die Britte. Die voltrekking van Brexit beteken dat die grens tussen Ierland en Noord-Ierland, wat nou as “sagte grens” eintlik net op papier bestaan, ’n grens tussen Brittanje en die Europese Unie word, en iets moet gedoen word om te keer dat hierdie grens ’n vername smokkelroete word.

Meer toeval as iets anders, het ’n setel wat die Konserwatiewe Party van Johnson in Wallis gehou het, kort na sy verkiesing na ’n opposisiegroepering wat sterker oor selfbeskikking voel, gegaan en Johnson se meerderheid in die parlement tot een gesny. Hy is kort hierna sy meerderheid ook kwyt en verloor steeds parlementslede wat bedank of oorloop. Hoewel Wallis se status verskil van dié van Skotland en Noord-Ierland, lyk dit of die Walliese inwoners nou na ’n sterker vorm van selfbeskikking mik.

Wallis, as volwaardige land, het in die 13de eeu ophou bestaan en die status van prinsdom in Engeland ingeneem. Wallis se eie vlag is ook nie soos dié van die ander in die Britse vlag, die Union Jack, opgeneem nie. Sedert 1999 beskik Wallis egter oor ’n nasionale vergadering (Cynulliad Cenedlaethol Cymru) wie se standpunt dit egter is dat Wallis geen prinsdom is nie, maar ’n volwaardige land.

Nog ’n aanduiding van Keltiese eiesinnigheid is dat toe die lede van die EU hul keuses as amptelike tale aangedui het, het Ierland nie Engels aangedui nie, maar Iers. Sou Brittanje die EU verlaat, is daar net een EU-land wat Engels aangedui het, naamlik Malta. Engels en Maltees is die land se amptelike tale, maar ’n opname in 2012 het aangedui 98% van die inwoners is Maltees (baie nou aan Arabies verwant) en 88% is Engels magtig.

Vertrou u tot die punt van dwepery op prinse? Dink weer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Arak ·

Die eintlike vraag is, gestel die parlement kry dit reg om Brexit te keer, wat sê dit van die referendum en van demokrasie? Dit beteken demokrasie in die VK is ‘n klug.

Jimmy ·

Die Britte het nie die konining of die Eerste Minister gekies nie. Tog neem die twee nou belangrike besluite wat die hele nasie raak.

John ·

Dis so waar… Ons moet vrome Joe Biden nou op die troon kry om Trump en Putin op hul plek te sit… nee, heeltemal te ontplek. Ons het Iran via die potpourri van Palestyne in Siriè nou dringend nodig om die Jode te verjaag… Wie dink hulle is hulle? Antie Engeltjie moet eenvoudig regeer ook oor Engeland… en sy beursie. Weg met Johnson en sy wit kuifie. Ons het al soveel grootse leiers in die wèreld gehad soos ons heilige Mogabe en hier wag Malema en Ace om ons reg te ruk… Dis ‘waar’ ons moet saamkoek want die Vader het skynbaar ‘n gruwelike fout begaan om rasse en kulture te skep. Maak een groot koekerasie wat die draak kan aanbid en die jol kan jol en die hel singend binne kan toi. Hoera vir CNN vir die volle waarheid!

Jerry ·

Om een of ander rede sukkel vandag se geslagte in die algemeen om hulle te weerhou van slegte dinge soos lieg en bedrieg, bedrog, diefstal, korrupsie, owerspelerigheid, arrogansie en gewetenloosheid, selfingesteldheid, minderwaardigheid, meerderwaardigheid, verslaafdheid, vetsug, luiheid ens. en miskien daarom raak mense stomp of naief om te onderskei tussen reg en verkeerd (fopnuus en toneelspel) en kies mense oor die algemeen goeie toneelspelende populere leiers met radikale kort en medium termyn idees, maar sonder die nodige inbors of integriteit en sonder enige noemenswaardige langtermyn lewensvatbare oplossings. Hoe groter die voete van klei van leiers, toneelspelers en sangers hoe meer raak mense vergewensgesind en hoe gewilder raak die leiers, toneelspelers en sangers by die huidige geslagte. Iets is dus iewers drasties fout met die oordeel van die huidige geslagte mense wie populere prinse blindelings volg na n nuwe geisoleerde nasionalistiese/rasgebaseerde wereldorde van onvermydelike konflik!

Dirk Breytenbach ·

Is dit aanvaarbaar dat daar neerhalend na openbare figure se haarstyle of persoonlike eienskappe verwys word (maak nie saak of sy naam Malema of Ramposa is nie)? Volgens my is dit hoogs onaanvaarbaar en sal ek ook wit om die kraag word.

Therese van Schalkwyk ·

Enige aanvanklike belangstelling in Brexit het totaal verdamp.
Dié fiasko word m.i. gekenmerk deur onbeholpenheid, reuse-ego’s (ook in die EU) en die aftakeling van die demokratiese stelsel. Die stomme Britte.

Wat “dwepery” betref:
Indien dit van ‘n mens ‘n dweper maak wanneer irrelevante vergelykings van politici, op grond van persoonlike voorkoms in stede van beleid, as onprofessioneel en hoogs irriterend ervaar word, meld ek aan.

MTSteyn ·

Dankie Therese! Ek self meld – met trots – ook aan.

Dis dieselfde afgesaagde, holrug-geryde praatjies oor dieselfde politici, gebaseer op dieselfde opervlakkige bronne en ligsinnige linkse idees (of eerder die afwesigheid daaraan).

Daarom my dank aan Sebastiaan Biehl, Jaco Kleynhans en kie wat Maroela Media leesbaar maak

Attie. ·

Niks in die wreld is onmoontlik nie. Die verhouing tussen die Engelse, Walliesers en Iere is sodanig dat niemand daar baie lief is vir die Engelse nie. Sou Skotland homself bevry mag dit eendag wel gebeur dat Wallis saam met die Noord-Iere span en wegbreek van Engeland waar staan Engeland dan? Die land war vroeer bykans helfte van die aarde onder sy beheer gehad het, wat met sy Lancester bomwerpers die Duitsers platgevee het. Die land wat SA se geskiedenis permanent kom verander het, mag dalk dalk hulself bevind in ‘n situasie waar hulle lakeie van die VSA word en Geen sê in die wêreld van more gaan hê nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.