Nuuskommentaar: Trots op die land, of op mede-Suid-Afrikaners?

vlag suid-afrika

Argieffoto.

’n Aantal Suid-Afrikaners het die afgelope ruk prestasies gelewer wat baie hoog aangeslaan word. Is ons net trots op hulle, of help dit ons ook trots maak op die land? Of is die impak van die Zupta-administrasie en korrupsie net te groot om blindelings trots op die land te wees?

 Presies 50 jaar nadat dr. Chris Barnard en sy span die eerste mens-tot-mens hartoorplanting gedoen het, het die Groote Schuur se hartspan weer wêreldgeskiedenis gemaak deur die ontwerp van ’n eenvoudige hartklep wat baie lewens kan red, ook in taamlik ontoeganklike gebiede. Dit kom kort nadat ’n Suid-Afrikaner weer daarin geslaag het om ’n Mej. Heelal te word. Verskeie atlete lewer nou wêreldprestasies en Wayde van Niekerk se naam is op almal se lippe.

Ons land beskik oor van die beste ekonome, wetenskaplikes en kenners in baie ander velde – ja, ook in die taalkunde met Afrikaans as vertrekpunt. Suid-Afrikaanse akademici word hoog aangeslaan en skuur gereeld skouer met buitelandse kollegas. Suid-Afrika se boere word as van dié, of selfs as die heel beste boere ter wêreld beskou wat onder marginale toestande suksesvol kan boer.

Die land het van die mooiste natuurtonele en elke kultuur het iets baie mooi vasgevang.

Dit alles kom uit ’n land wat gestaatskaap is, waar korrupsie en onbevoegdheid aan die orde van die dag is, en wat deur ’n president gelei word oor wie hoe minder, hoe beter, gesê kan word. Rassisme word tot ’n groot mate deur die regering aangeblaas, ook deur onewehandigheid.

Voor rugbytoetse swel van die Springbokke behoorlik van trots soos hulle die volkslied sing – uit trots vir Suid-Afrika.

Wanneer twee sakeondernemings sosiaal op die krieketveld ontmoet, is die trots en entoesiasme aanvoelbaar. Vir die oomblik is dit vergete dat die een werknemer die baas se nek wil omdraai, die ander van seksuele teistering aangekla en verhoor word, en vele meer.

Maar beteken die Springbokke se trots dat hulle nie omgee oor staatskaping en korrupsie nie, of dat die hoë misdaadvlakke hulle nie pla nie?

Dis ’n vraag wat elke dag in baie Suid-Afrikaners se koppe maal. Word ek deel van die “breindrein”? Word ek deel van die groter wordende aantal Suid-Afrikaanse spelers wat in die buiteland speel, en waarvan al amper ’n span vol ander lande op die rugbyveld verteenwoordig? Oor die afgelope paar dekades kon Suid-Afrikaners amper ’n hele Engelse krieketspan volmaak, en ’n paar het selfs kaptein geword.

Is ’n mens werklik lojaal aan Suid-Afrika, bedoelende die fisieke grond waarop die land gebou is, of op die mense, of sommige van die mense, of ’n moeilik begrensbare konsep waarin baie dinge ’n rol speel? Die lekker kabeljou wat aan die Weskus ingekatrol is, die lekker uitspan langs die groot dam, ’n huis waaraan jare lank afbetaal is, vogtige grond waarin die mielies ontkiem, ’n lekker braai saam met vriende of Kersfees se saamwees met die gesin en familie. Ouma se heerlike mosbeskuit, of vrugterolletjies wat in die mond smelt.

Elkeen skep sy eie klein stukkie Suid-Afrika soos hy dit wil hê om hom, en is geweldig trots daarop, en lief daaroor. Hy kuier gereeld in ’n vriend of familielid se eie stukkie Suid-Afrika, en voel tuis. Sommiges se eie stukkie is groter as ander s’n, soos Orania.

Daagliks word hy egter aan Suid-Afrika in geheel se blootgestel. Rommelstatus, rommel, wanfunksionele munisipaliteite, staatsdepartemente wat op die oog af in die lewe geroep is om ’n mens se lewe te verkort weens frustrasie, hopeloos onbevoegde en skelm politici, padvarke wat ander se lewens op die spel plaas, die goor buurman wat jou lewe versuur, die Springbokke wat kort-kort met mening aanjaag…

Dit is ver van ’n mens se gedagtes so kort voor die Springbokke begin speel.

Regeringslui het al AfriForum en ander instansies en individue van dislojaliteit teenoor die land beskuldig, en selfs geluide van sedisie gemaak. Maar wie is die lojaalste aan die land? Die persoon en instansie wat hard probeer om sake eiehandig reg te ruk, of diegene wat die land leeg besteel?

Om die regering tot orde te probeer roep en terselfdertyd uit eie bronne leemtes te probeer aanvul is stellig die toppunt van lojaliteit.

Om vir minderheidsregte in die bresse te tree is nie dislojaal nie. Dis demokrasie, net soos dit demokrasie is om ’n president se misstappe aan die groot klok te hang. Dis nou voordat die groot klok ook gesteel en vir skroot verkoop word.

Maar dit sal darem lekker wees as ons eendag nie so hoef kop te krap oor wat maak dat ons lojaal aan die land is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Cornelia ·

Lojaal aan my Land. Want ek is hier geplant met ‘n God gewilde roeping en werksopdrag. Om te midde van die storm en noodtoestand, God se Stem te hoor in die Lewens OPDRAG om Sout te wees, Lig te wees. Om te getuig dat God se Teenwoordige Inwoning nie deur die poorte van die hel “oorweldig” kan word nie. Om te glimlag ten spyte van trane, om te hoop ten spyte van druk en aanslae, om te bou ten spyte van die wat breek. Want waar God ons Fokus en fondasie bly, gebeur Wonderwerke soos die klein klippie uit ‘n “slingervel” wat deur die Geloof, die “rookmis” en vure van ‘n “spottende” “reus” doof. Trots word dan klein as liefde vir die Land in verhouding met die Heer se Liefde vir Sy mens en skepping stap. Dit is in vreugde om saam met Hom te mag liefhê wat vir Hom saak maak. Bid u ‘n geseënde Christusfees toe.

Jewel ·

Ken u “Outliers” (deur Malcolm Gladwell)? In die hoofstuk oor Koreaanse vliegtuie wat jare gelede baie meer ongelukke gehad het as wat verstaanbaar was, het hulle besluit om Suid-Afrikanse loodse in te span om die Koreaanse loodse verder op te lei – omdat hulle van die beste in die wêreld is.

Alida ·

Hoe kan mens trots wees op ‘n land waar ± 50 mense daagliks vermoor word?

Piet ·

Trots op hierdie “volkslied” en vlag? Jy moet jou kop laat lees. Moet sport altyd as maatstaf gebruik word? I do not think so.

Jerry ·

Ek is trots op Afrikaners en Suid Afrikaners wat presteer, maar beslis lankal nie meer lojaal teenoor my land nie. Daar is baie ander lande wat ek my eie kan maak wanneer die tyd aanbreek. Almal van ons kan n vers uit die bybel aanhaal wat ons opinie regverdig, ek ook. Daar is n rede hoekom God se mense verdeeld was in tye soos ons nou ervaar en daar is n rede hoekom die Afrikaner verdeeld is. Sekere groepe met sekere opinies gaan oorleef en ander nie, met ander woorde, die koring gaan van die kaf geskei word. Wees waaksaam en geniet n veilige feestyd.

Grassie ·

Hierdie nuuskommentaar van Herman raak diep aan ‘n mens se hart en emosie. Die vraag wat jy in die eerste paragraaf vra – ek het nie ‘n antwoord nie. Ek het my werksjare daaraan gewy om van hierdie land ‘n veilige en voorspoedige land te maak. Ek, en almal wat saam met my in dieselfde beroep was, het redelik daarin geslaag totdat die gety in 1994 finaal gedraai het. Daarna kon ‘n mens maar net staan en kyk hoe alles waaraan jy ‘n leeftyd lank help bou het in ‘n tydperk van enkele jare in die stof in getrap word. Jy het nooit ‘n “dankie” gekry vir al jou harde werk en passie nie, net ‘n “voetsek.” Ek koester nog ‘n groot liefde vir ons land, maar daar is bitter min oor om op trots te wees en die kanse om te herstel na eertydse glorie en voorspoed is net wensdenkery

“Alles te vergeefs, sê die Prediker, alles te vergeefs, dit is alles te vergeefs!”

Eish ·

Met die bou van die toring van Babel onder leiding van Nimrod, was die dryfveer trots. Die toring moes tot aan die hemel raak en Nimrod wou die mense bymekaar kry sodat hy oor hul kon regeer. Direk teen die opdrag om te versprei oor die hele aarde.
Die res van die geskiedenis ken ons.

Trots word nêrens in die Woord as n bate beskryf nie, nêrens, so ek sal my verskoon van dié term as n beskrywing van my gevoel teenoor die helhool waar ek my midde-in bevind en geen blywende gom tussen groepe beleef nie.

Met my Afrikaanse opvoeding, is wat tans in die land gebeur, altyd in die sterkste moontlike terme afgekeur. Inteendeel, die gebeure is terme waarmee slegs uitgesoektes in die SAP mee vertroud was, synde die misdrywe ongehoord was gedurende my vormingsjare. Diegene wat hul wel skuldig gemaak het hieraan het vinnig te doen gekry met die volle krag van die regstelsel.

Dit is myns insiens n skande soos sake tans in die land staan en hoe die regering hom handhaaf. Ja, mens probeer jou deel doen deur jou eie lewe as teenpool te leef teenoor die vergrype. Helaas, loop jy jou vas teen die misdaad, wat n selfgerigte lewenswyse tot gevolg het om oorlewing te verseker.

Dis n skandvlek op ons geskiedenis wat tans in sulke dik swart letters verrand word. As mens in vandag se tyd lojaliteit soek, skaf jy n hond aan.

Leahim ·

Die land is nog die beste in die wêreld ,ongelukkig het kritiese departemente soos die polisie,onderwys en gesondheids totaal verval weens jare lange wanbestuur deur n onbevoegde regering maar soos in Zim kan dinge verander en miskien net miskien vir beter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.