Nuuskommentaar: Trump en die Iranse kernvermoë

Pres. Donald Trump tydens ʼn mediakonferensie by die Withuis in Washington (30 April 2018). Foto: AP Photo/Susan Walsh

Israel se onthulling dat Iran sedert sy kernooreenkoms in die geheim met die ontwikkeling van kernwapens voortgegaan het, kan pres. Donald Trump se skeptisisme oor die bestaande ooreenkoms ’n stewige hupstoot gee. Maar Israel is ook dadelik uit talle oorde aangeval en daarvan beskuldig dat hy kluitjies verkoop.

Ondanks ’n steeds hewige aanslag van onder meer sekere medialede teen pres. Donald Trump se presidentskap, weier die Amerikaners skynbaar om nukkerig met die president te word. Trouens, dit lyk of Trump se steun groei.

Pas het twee belangrike wêreldleiers besoek by Trump afgelê. Hoewel die besoeke van Angela Merkel, Duitse kanselier, en Emmanuel Macron, Franse president, op die oog af baie verskil het, kan daar geen twyfel wees oor die kern van hul onderskeie besoeke nie, naamlik om Trump te oorreed om nie die prop van die ooreenkoms met Iran oor kernbewapening uit te pluk nie. Trump het laat blyk hy staan ’n heronderhandelde skikking wat meer holisties van aard is voor.

Nou het Israel Trump se planne ’n groot geloofwaardigheidsinspuiting besorg, deur in besonderhede aan te voer dat Iran so ingestel is op sy kernprogram dat hy, ooreenkoms ten spyt, heimlik daarmee voortgegaan het.

Die reaksies is erg uiteenlopend. Sommige lande en groepe glo Israel eenvoudig nie, en beskryf Israel se aansprake as niks nuuts nie. Ander is duidelik dankbaar dat Trump eers die kat mooi uit die boom wil bekyk.

Iran, ’n grootliks Sjiitiese staat wat ook de facto deur die ajatollas regeer word, het beslis nie sy aggressiewe buitelandse betrokkenheid as deel van ’n vredespakket afgeskaf nie. Met die opstand deur ’n minderheid Sjiiete in Jemen, het Saoedi-Arabië en ’n rits vriendskaplike Soenni-state gedink hulle sou die opstand min of meer oornag kon onderdruk. Met die hulp wat die rebelle van Iran kry, is hulle egter ’n harde neut om te kraak.

’n Idee oor die omvang van Iranse betrokkenheid in Sirië kon ook onlangs gevorm word toe sowat 30 Iranse soldate in een rebelle-aanval gesterf het. Pres. Basjar al-Assad en die regerende kliek waaruit hy kom, behoort tot die Alawiete, ’n sekte van die Sjiiete. Sirië bied dus vir Iran ’n belangrike deurgangsroete om wapens en ander voorraad by die Libanese Hezbollah (ook Sjiiete) te kry.

Dit het pas bekend geword dat Marokko diplomatieke betrekkinge met Iran verbreek, nadat Marokko vasgestel het dat Iran wapens aan die Polisariofront lewer. Dié keer is daar geen gemeenskaplike Sjiitiese band ter sprake nie – Iran meng wel in by ’n skietstilstand wat al jare duur, en waar die internasionale gemeenskap ’n vreedsame skikking probeer bewerkstellig.

Of Trump reg of verkeerd is, meningspeilings deur die agentskap Rasmussen het sy daaglikse gewildheidsvlak op digby 50% bepaal. Dit is besonder hoog omdat presidente uiters selde, en slegs vir kort tye, die 50%-kerf haal. Meestal skraap presidente gedurende hul ampstermyn baie laag op die gewildheidsleer rond. Trump kan dus aanvaar dat die koers wat hy inslaan wel die regte een is, al is dit ook net by Amerikaanse kiesers.

Trouens, ’n nuwe Rasmussen-peiling het aangetoon 52% van die Amerikaanse kiesers meen die ooreenkoms met Iran sou niks doen om Iran se ontwikkeling van kernwapens te stuit of te vertraag nie. Dit blyk wel dat Amerikaners geleidelik al meer vertroue in die ooreenkoms ontwikkel het, en Israel se onthulling kom vir diegene wat Iran op sy plek wil sit, soos manna uit die hemel.

Die vraag is net – hoe betroubaar is Israel se inligting? Niemand betwis dit dat die Mossad een van die beste intelligensiedienste ter wêreld is nie, en in die Midde-Ooste waarskynlik sonder weerga. Kortom, dit kan aanvaar word dat Israel deurlopend presies sal weet wat in Iran aangaan, en ook net so deurlopend die CIA ingelig sou hou.

Maar die ander kant van die munt is dat Israel ook oor een van die beste propagandadienste ter wêreld beskik. Israel se internasionale beeld kom juis nou weer onder druk met die daaglikse skermutselings met Hamas-ondersteuners op die grens met die Gasastrook.

Volgens Rasmussen het Trump se Republikeinse Party egter met ’n probleem te kampe wat die party erg kan rysmier. Dit verwys na die sogenaamde Rino’s (Republicans In Name Only). (Dis nogal ironies omdat die Republikeine se logo ’n olifant uitbeeld.)  Breedweg verwys dit na kongreslede wat tuis ’n konserwatiewe beeld aan die kiesers voorhou, maar as kongreslede ’n swaai na links maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wasserman ·

Trump is n doener, en ek is mal oor doeners. Pionee vir die supperrykes soos Hillary gaan val soos die middelklasgeleerdes van Amerika en Europa se oe almeer begin oopgaan.

JC ·

Baie dankie Herman, jou rubriek is uitstekend!Ek vind dit ‘n teken van veranderende tye;met ‘n nuwe,waarderende blik op konserwatisme en die bevordering daarvan;dat die berig melding maak van die “lafhartige” RINOS. Dit wysop besondere kennis van wat aangaan in VSA politiek.

Die RINO verskynselkan juis die Republikeine (wattans lyk asof hulle een van die min presidensiele partye in die geskiedenis gaan wees wat die “blue wave” in November gaan verander in ‘n nuwe blink laag rooi verf vir Amerika ) kniehalter,maar het ek al kommentare gevolg op konserwatiewe webwerwe in die VSA,en wil dit voorkom asof; om die “blue wave” te verhoed;en ook die polities-gedrewe,kwelsugtige “impeachment” van President Trump deur die Demokrate;die Republikeinse kiesers die metode gaan volg om tydens die “primaries” die RINOS uit te probeer stem en ‘n ware konserwatis in, maar werk dit nie en ‘n RINO gaan deur na die middeltermyn verkiesing;-om dan omdie Republikeinse party en Trump se onthalwe Republikeins te stem,nieteenstaande die feit dat die Republikeinse kandidaat ‘n RINO mag wees.

Anders as ander jare wanneer die kiesers van die presidensiele party (Republikeins) ietwat laks, gemaksugtig en ongeergd voorkom,WEET die Republikeinse kiesers van die chaos en gevaar wat voorle, word die Huis en/of Senaat “blou” (“demokraties”),en is daar besondere opgewondenheid en ambisie onder die Republikeinse kiesers-een hoef maar net na Trump se Michigan “rally” te gekyk het om te waaerdeer presies hoe lief ‘ngrootsegment vandie Amerikaners vir Trump is.

Daan ·

Of Trump reg of verkeerd is sal tyd ons dit uitwys, maar intussen het ek ook ‘n Trump ondersteuner geraak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.