Nuuskommentaar: Trump se vroeë skuif teen aborsies

Pres. Donald Trump. Foto: AP Photo/Evan Vucci

Pres. Donald Trump. Foto: AP Photo/Evan Vucci

Dit lyk of die bewindsaanvaarding van pres. Donald Trump van die VSA ’n veel minder aborsie-vriendelike land gaan maak. Die eerste dekreet hieroor is reeds onderteken. So ’n proses moet stapsgewys aangepak word, terwyl daar ook ander verwagtinge is oor die beskerming van persoonlike regte wanneer dit bots met gay-regte.

Net twee dae ná die aanvang van reuse-betogings deur vroue, veral in Washington DC, maar ook wêreldwyd, waartydens onder meer die reg op aborsies opgeëis is, het pres. Donald Trump ’n presidensiële dekreet onderteken wat sal daartoe sal lei dat geen oorsese instelling wat aborsies uitvoer of inligting oor aborsies verskaf, enige Amerikaanse hulp mag kry nie. Die stap het meer simboliese as praktiese implikasies.

Die dekreet wat as die Mexico City Policy bekend staan, is niks nuuts nie. Dit is aanvanklik deur pres. Ronald Reagan ingestel, en daarna deur pres. Bill Clinton herroep. Pres. George W. Bush het dit weer ingestel, maar was een van die eerste goed wat pres. Barack Obama herroep het.

Trump het hiermee duidelik in die hand van die sterk anti-aborsiebeweging in die VSA gespeel. Die “beweging” was vir agt jaar gefrustreer deurdat alle suksesse teen aborsies in sommige deelstate en stede feitlik dadelik deur Obama nek omgedraai is deur presidensiële magte in te span.

Nou is die verwagtinge hoog dat Trump se steun meer as net simboliese waarde sal hê, en dat die veldtog stuksgewys sy suksesse kan herwin. Dit is nou 44 jaar sedert Amerika se hoogste hof in die saak Roe versus Wade aborsies as grondwetlik toelaatbaar verklaar het. Dit is dus moeilik om die kwessie sonder aanloop op nasionale vlak te takel.

Foto: AP Photo/Ted S. Warren

Foto: AP Photo/Ted S. Warren

In 2011 is meer as ’n miljoen aborsies in die VSA uitgevoer. In 2014 was die koers egter die laagste sedert die Roe versus Wade-uitspraak toe “net” 926 200 aborsies uitgevoer is.

Peilings toon ook afwisselend dat die meerderheid ten gunste van aborsies op aanvraag is, en dan weer omgekeerd.

In dié stadium is daar kommer by pro-aborsiegroepe (wat politiek-korrek as pro-keuse bekend staan) dat Trump ’n regter wat teen aborsies is in die hoogste hof kan aanstel om wyle regter Antonin Scalia te vervang. Uiteindelik kan die Roe versus Wade-uitspraak in die stof byt.

Maar selfs sonder die herroeping van Roe versus Wade sal die aanslag teen aborsies in veral sekere deelstate baie verskerp word, bloot omdat Trump dit nie met dekrete gaan verongeluk nie. Obama het tydens sy agt jaar aan bewind dikwels ’n besonder aggressiewe beeld uitgestraal oor sy voorkeur vir aborsies. Baie inisiatiewe teen aborsies is dus nooit deurgevoer nie omdat by voorbaat verwag was dat Obama dit sou verongeluk.

Die reaksie in die media oor Trump se herinstelling van die Mexiko City Policy is uiteenlopend. Sommige is doodgewoon vyandig. Ander hanteer dit baie omsigtig, en wys daarop dat dit in die verlede dikwels die teenoorgestelde uitwerking gehad het. Die rede wat aangegee word, is dat baie van die instellings wat geraak word, ook voorbehoedingsdienste lewer. Sonder geld is dit nie moontlik nie.

Foto: AP Photo/Evan Vucci

Foto: AP Photo/Evan Vucci

Voorts wys ander daarop dat daar nog onsekerhede is oor wat die inhoud van Trump se standpunt is. Trump self het gesê sy beleid is dieselfde as Reagan s’n, maar daarin lê juis die knoop dat Reagan se standpunt nie altyd konsekwent was nie. Hy het aanvanklik (as goewerneur van Kalifornië) en voor die Roe-uitspraak, uitsonderings gemaak vir gevalle van verkragting, bloedskande en waar die swangerskap die fisieke of geestelike gesondheid van die swanger vrou bedreig het.

Dokters in Kalifornië het die gesondheidsbepaling so wyd gerek dat daar ’n skerp toename in aborsies was. Later was sy houding veel meer in pas met dié van konserwatiewe Christene wat ’n algehele verbod op aborsies wou hê.

Hoewel dit lyk of Trump se kop in die rigting van Reagan se aanvanklike opvattings staan (wat deur verreweg die meeste Amerikaners gesteun word) probeer moedswillige joernaliste die indruk skep dat Trump se mees konserwatiewe teenstanders sy kop kan swaai.

Nog ’n groep meen Trump probeer met die prominensie wat sy aborsie-standpunt kry, die aandag wegneem van stellings wat hy in die verlede oor vroue gemaak het.

Dit laat natuurlik ook die vraag oop oor wat Trump se houding oor die gay-kwessie sal wees, wat tweede op konserwatiewe Christene se lysie is. Die verwagting is dat die huidige afgeforseerde praktyk dat mense wat teen hul beginsels in byvoorbeeld verplig word om spyseniering vir troues van gay pare te voorsien, in pas met die meer algemene balansering van regte elders in die wêreld gebring sal word. Maar eintlik is enige bespiegeling hieroor erg voortydig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Lizelle ·

Ek kan nie glo dat dit gestel word dat “maar net” amper n miljoen kindertjies vermoor is laas jaar net in die VSA…en almal vra vir regverdige vrou regte…wat van daai amper miljoen babatjies se regte…laat hulle eerder daarvoor march…die mensdom is siek…en selfsugtig…ek verstaan daar is kere wat dit MOET gedoen word…maar nie amper n miljoen keer in een land in een jaar nie.

Annatjie Kruger ·

Dit moet genoem te word dat die verdediger van die Roe versus Wade saak intussen van oortuiging verander het en nou sterk teen aborsie optree. Sy het ook ‘n boek geskryf oor haar ondervinding en verandering van oortuiging.

Valerie ·

Annatjie, ek weet dit ook en dit is baie insiggewend, maar die liberale “moordenaars” (aborsies) sal dit tog nooit erken nie. Dit is mos hul “keuse” om lewens te neem. Jy weet, dis mos “my liggaam.” Ja, dis maklik om te praat vir die wat nie self geaborteer was nie, of hoe? Want hule LEWE…

Koos ·

Amerikaners het baie geld in vergelyking met ander lande. Ou kokkelollie besef nie dat mense maar net doodeenvoudig oor die grens sal gaan om dit te laat doen nie.. *grinnik*

Sarie ·

Die doodstraf word afgeskaf maar aborsies word goedgekeur. Dr Peter Hammond en sy groep wou ook Mandela keer om die wet nie af te skaf nie ,maar hy het hom die koue skouer gegee

ja ·

Wel in SA en reg oor die wereld is daar genoeg kleintjies sonder huise en kos….. So wat sou jy voorstel??

stem saam ·

As mens nog n regering gehad het wat kinderhuise en kos aan hawelose kinders kon bied sou ek ook se ja geen aborsies maar word wakker mense julle woon in SUID AFRIKA

Anoniem ·

Ek stel voorbehoeding voor. ‘n Groter verantwoordelikheidsin. En beter “morals” – om nie so hot en haar rond te slaap nie.

miv ·

Die vroue wat so pro aborsie is – pas liewer beter voorbehoeding toe dan sal dit nie nodig wees om ‘n ongebore baba te vermoor nie! Toerien, aangesien jy nou die gay debat vooruit loop, ek hoop en bid Trump leef die Woord van Skepper God uit in dié verband. Ond bid vir Trump! Om die Woord van God uit te leef, is ‘n dolk in die hart van die liberales en humaniste.

Thuunda ·

Mooi so president Trump. Hou so vol! Met al die liberale trane wat gehuil word het mens amper nie meer reën nodig nie.

hannes marais ·

miljoene vroue wereldwyd pleeg moord..en hulle doen dit onder die dekmantel van aborsie en ‘vroueregte’..dankie VADER U het my n man geskape

Rita ·

Ek stem saam dat aborsies in sekere gevalle oorweeg moet word soos hierbo genoem. Daar is egter meer nadele as voordele verbonde aan. 2 Van my vriendinne is vandag kinderloos na aborsies. Nie omdat die aborsies verkeerd geloop het nie., maar omdat die een toe nooit getroud is nie, en die ander later getroud is met ‘n man wat steriel is. Wat ‘n vreugde sou daardie kinders in hul lewens gebring het. Mens neem soms, wat jy die die maklikste uitweg is, om later te besef dit was toe nie.

Nel ·

Volgens die Christelike etiek behoort die mens God te verheerlik in alles wat hy/sy doen (as die bevrugte eiersel, sigoot, embrio of fetus ‘n mens is wie na God se beeld geskape is is aborsie moord. Punt.) Maar die humanis met sy humanistiese uitkyk erken nie God en sy Ryk nie. Dus is aborsie vir hom/haar slegs maar ‘n doel wat die middele ‘heilig’.

John ·

Daar is baie metodes om swangerskappe te verhoed. Hoekom word geen voorbehoedmiddels gebruik nie? In SA vind ook duisende aborsies jaarliks plaas. Afrikaners tel ook onder hulle. Onlangs was daar ‘n program oor aborsies in Sjina en hoe die klein wesentjies in kleipotte ingeprop word en in massas opgestapel word soos ‘rubbish’. So siek en skokkend. Die kerke, ook Afrikaanse kerke, behoort hul stem dik te maak maar sekeres is teen geboortebeperking gekant maar sluit hul oe vir die nagevolge.

chris ·

Mnr Toerien, gewoonlik bring u die nuus in verband met dinge wat elders in die wêreld gebeur. Ek het verwag dat u in dié verband ook sou skryf oor die aankondiging van die Nederlandse regering, wat die internasionale finansiering van abortus wil oorneem noudat Trump die VSA se bydraes aan internasionale finansiering van abortus het afgeskaf.

Yolandi du Toit ·

Dit is uiters skokkend dat ‘n man die reg het om besluite te maak oor ‘n vrou se liggaam. Die besluit om ‘n swangerskap te terminale lê by die eienaar van die baarmoeder wat daardie swangerskap dra.
Geen voorbehoedmiddel is 100% veilig nie en as daar geen ondersteuning is, of finansiële hulp ens is nie, wat is die keuse dan?
Wat van dames wat verkrag word? Wie se mediese of geestelike gesondheid in gedrang is.
Ek dink nie enige vrou maak die besluit oor terminasie sommer vinnig oor ‘n koppie tee nie. Ek dink dit moet ontsaglik moeilik wees. Maar totdat daai fetus nie ‘n baba is wat lewensvatbaar is nie, glo ek daai keuse behoort by die persoon wat met dit moet saamleef. ‘n pa kan altyd gaan seep koop, ‘n ma kan nie.

Hierdie gaan, in my opinie, net meer agterstraatse aborsies en verlate/weggooi babas voortbring, en wie gaan dan help?

DewaldS ·

Het jy die artikel gelees? Want ek lees nêrens dat aborsies onwettig verklaar word nie. Let wel : Ek neem nie ‘n standpunt vir of teen aborsie in nie. Maar soos ek die artikel lees word befondsing afgeskaf – en ook net spesifieke kanale van befondsing na nie-VSA entiteite? Die eintlike vraag wat opkom is hoekom moes die VSA belastingbetaler voorheen opdok hiervoor?

Soos ek dit sien is Donald Trump besig om ‘n bankrot besigheid (die VSA) te probeer omdraai. Jy kan nie ‘n emmer voltap as dit vol gaatjies onder is nie – hy MOET besteding wat nie bydrae tot inkomste nie sny.

Moenie van alles geweldige emosionele kwessies maak nie .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.