Nuuskommentaar: Trump: Sy vyande gaan hom mis

(Foto: MANDEL NGAN / AFP)

ʼn Onlangse artikel in die Wall Street Journal getiteld “Addicted to Trump” het bevraagteken wie oudpresident Donald Trump die meeste gaan mis noudat hy die Withuis verlaat het – sy vriende of sy vyande? Die antwoord was dat sy vyande hom beslis die meeste gaan mis.

Die kommentariaat, joernaliste en politieke rolspelers gaan vir etlike maande nog, indien nie jare lank nie, klaagliedere sing oor hoe verskriklik Trump was, hoe ondenkbaar sy 2016-oorwinning was en hoe veragtelik al sy ondersteuners is.

Een van die gewildste stellings is dat Amerika “ʼn sug van verligting kan slaak noudat dié fascis verwyder is”. Vier jaar lank het die linkses gesê dat Trump Hitler is – sonder om die ironie daarvan te waardeer dat iemand wat só iets oor Hitler sou sê dit nét één keer sou kon waag. Daarna sou hy of sy letterlik swyg soos die graf.

Trump was nie foutloos nie, maar hy was beslis ook nie ʼn diktator nie. Hy is seker die eerste “fascis” in die geskiedenis van die mensdom wat absoluut in ʼn vreedsame oorgang die Withuis verlaat, mag oorhandig en (uiteindelik) sy beste wense vir die volgende administrasie uitgespreek het.

Ongeag wat die linkses vier jaar lank gesê het, was Trump nooit ʼn fascis nie. Hy is wel ʼn ongeneesbare narcissis. Dit is hierdie narcissisme wat hom uiteindelik die presidensie gekos het, sy nalatenskap groot skade berokken het en sy vyande onnodige ammunisie teen hom gegee het.

Trump het die verkiesing verloor. Indien hy ʼn saak vir die teendeel wou maak, moes hy die nodige bewyse lewer om dit te steun. Net omdat hy verloor het, beteken egter nié dat daar nie ongerymdhede was, nié groot foute met die Amerikaanse kieswette en -stelsels is en dat die establishment-media se oneerlikheid nié ʼn reuse-invloed op die verkiesing gehad het nie.

(Foto: Pete Marovich – Pool/Getty Images/AFP)

Trump kon egter op geen noemenswaardige vlak bewys dat die verkiesing by hom gesteel is, soos wat hy aanvoer nie. Tog kón hy net nie sy trots sluk nie. Trump is in die afgelope twee maande verblind en verdwaas deur sy eiewaan, trots en ongelooflike selfliefde. Dít het waarskynlik ook die Republikeine die senaat gekos – Trump se eiebelang het ongetwyfeld die aandag en politieke motivering van die Georgia-senaatverkiesing getrek.

Dit is waarskynlik ook Trump se opswepende toesprake van die afgelope twee maande wat die politieke klimaat geskep het waarin die Amerikaanse Kongresgebou uiteindelik binnegeval is op 6 Januarie. Dit is debatteerbaar of Trump strafregtelik aanspreeklik gehou kan word. Wat wel duidelik is, is dat hy op ʼn morele vlak beslis nie onskuldig is nie.

Trump se absolute blinde narcissisme het ook veroorsaak dat hy teen verskeie goeie rolspelers in die politiek gedraai het. In ʼn werklik teleurstellende stap het Trump teen Mike Pence, seker een van die mees opregte mense in die politiek, gedraai – bloot omdat Pence nie Trump bo die Amerikaanse grondwet wou kies nie.

Dit is ook Trump se trots wat gelei het tot sy afwesigheid by pres. Joe Biden se inhuldiging. Hy was eerder besig om die Withuis te ontruim. En dit is dalk ook die hele punt. Trump se afwesigheid by die seremonie spreek van sy reusekarakterfoute. Die feit dat hy vreedsaam, hoewel selfbejammerend, die Withuis verlaat het, spreek daarvan dat hy helaas ʼn ongeneesbare narcissis, maar beslis nie ʼn fascis is nie.

Die Amerikaanse pres. Donald Trump waai vir ‘n skare in Alamo. (Foto: Mandel Ngan/AFP)

Trump se narcissisme, wat veral oor die afgelope twee maande ʼn hoogtepunt bereik het, het uiteindelik tot voordeel van sy vyande gestrek. Hoewel hy nooit fascisties opgetree het nie, het hulle sy narcissistiese optrede gebruik om al hul vooropgestelde idees oor hom te bevestig.

Die linkses het dit nodig dat Trump ʼn diktator moet wees. Vier jaar lank het hulle al hul vooropgestelde idees oor konserwatiewe mense op hom geprojekteer. Trump was vir hulle die vergestalting van die veragtelike, onderdrukkende en wit meerderwaardiges wat volgens hulle konserwatiewe stemmers is. Mense wat nie eintlik ʼn stem behoort te hê nie. Mense wat gedwing moet word om te dink, doen en praat soos wat die linkse elite dit wil hê.

Indien Trump ʼn fascis is, en sy ondersteuners soos hy is, is die linkses, volgens hul eie oortuiging, reg om dié mense geen stem en plek in die politiek te gee nie. Trump se “fascistiese” aard regverdig dit 100% moreel vir die linkses om almal wat anders as hulle dink en doen bloot te onderdruk.

Op die keper beskou was Trump se laaste paar maande eintlik tragies – in die volle literêre sin van die woord. Verskeie kommentators het Trump al as ʼn tragiese karakter of tragiese held bestempel. Dit is ʼn karakter wie se grootste karakterfoute hom enersyds in staat stel om te slaag en simpatie by mense te wek, maar op die ou einde altyd sy nederlaag veroorsaak.

Pres. Donald Trump hou ‘n trui vas wat die afrigter van die New England Patriots vir hom gegee het. (Foto: Saul Loeb/AFP)

Trump se narcissisme het tot groot mate bygedra tot sy sukses. Dit was juis sy eiewaan, trots en selfliefde wat hom in staat gestel het om teen die establishment op te staan. Hy was ʼn politieke buitestander met ʼn onwrikbare geloof in homself. Die kombinasie van Trump se karikatuuragtige persoonlikheid en blinde selfliefde was die perfekte ding om die politieke verhoog te ontwrig. Dit was hierdie ontwrigting wat miljoene Amerikaners opnuut ʼn stem gegee het – die miljoene Amerikaners wat die linkse elite en establishment dink nie eintlik ʼn stem behoort te hê nie.

Dit is egter ook hierdie selfde narcissisme wat nie net tot sy ondergang bygedra het nie, maar ook sy baie belangrike invloed op die politiek en sy ongekende prestasies die afgelope vier jaar verdwerg het.

Die belangrike vraag is hoe die Republikeine hiervan gaan herstel. Hulle kan Trump nie volledig verwerp nie. Tog loop ʼn ongetemde Trump-karakter duidelik die risiko om homself uiteindelik te saboteer. Die groot uitdaging gaan wees om Trump se sukses op die politieke landskap na te volg sonder die tragiese aard van sy karakter. Die vraag is dan nou of dit enigsins moontlik is?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

domheks ·

Sal wat wil gee om vir Trump as SA president te kry! Met al sy foute….

Andre ·

Ja Trump enige tyd welkom hier.In SA sal hy huis skoonmaak en gou gou die unies vertel waar hulle hoort.Sou regtig wonderlik wees.Amerika is nou baie slegter af.

Pieter ·

Die amerikaners gaan nou kom sien wat is n kommunis. Ou biden hoort in die oue te huis.

Human ·

Hy was in ‘n pos waarvan hy nie die kennis of vaardighede oor beskik nie. Hy het dit verwar met gholf. Kul jou hier en kul jou daar en siedaar alle norme van ordentlikheid en die waarheid verdwyn soos mis voor die son. Hy sal nogals mooi inskakel, as President, van die RSA en oorvat waar die ANC ophou.

Jack ·

Enige negatiewe dinge omtrent Trump moet opgeweeg word teen die alternatief wat in 2016 aan die Amerikaanse kieser voorgehou is – Hillary Clinton een van die baas knoeier egpaar wat vir 16 jaar aan die roer van sake gestaan het in die VSA. As Trump nie in 2016 gewen het nie sou Hilary die septer gewaai het. Al die beweerde knoeiry wat Trump sou gepleeg het het sy reeds gepleeg. Skaam jou.

Human ·

Moet ek my skaam vir die waarheid oor Trump of oor die onbevestigde aannames wat jy maak. Hilary was nooit President so daar is niks te sê of sy ‘n slegte President sou gewees het of nie.

Human ·

Trump het jou goed geleer. Herhaal die leuen gereeld en dit gaan later deur as die waarheid. Dan praat jy van skaamte!

Karlahari ·

Met herhaling van die leuen dink ek jy bedoel CNN en Netwerk24.

Anel ·

Amerika oor oor paar maande lang trane huil oor die spul wat nou oorgevat het. Maar hoe sê hulle, spyt kom te laat. Wens Trump kon hier kom oorvat. Mens mag mis maar droom?

Bertus ·

Trump nie ‘n diktator nie? Dieselfde ou wat gehire en fire het, maande lank geweier het om die viruspandemie te erken en vroegtydig te beveg, vreemde presidential pardons in sy laaste dae toegestaan het, geweld aangehits het, en vele, vele meer my way or the highway dinge kwytgeraak het? En sodra hy nie sy sin kry soos ‘n babatjie sonder sy fopspeen op en af spring en skree en almal behalwe homself blameer? As hy nie een is nie, is dit uit die aard van die saak net omdat die politieke omgewing hom nie toegelaat het nie. Gaan plaas daardie selfde swaap in Hitler of Mau Tse Toeng se stoele in daardie jare en siedaar!

Karlahari ·

Ek stel voor jy Google die definisie van ‘n diktator. Of nog makliker. Gaan lees op oor Idi Amin.
Ns:
Amerika het sy laagste werkloosheid syfer in dekades bereik voor Covid. Iets wat baie maklik vergeet word.

Thom ·

Dit is verbysterend dat kamstige beskaafde mense kan hunker na ‘n president wat gesê het wat hy gedoen het oor dames _____ dit sê egter ook geweldig baie oor die mentaliteit en opvoeding van diesulke aanhangers !

Karlahari ·

Laat hulle wat sonder sonde is die eerste klip gooi.

My mentaliteit is genoeg om te besef dat hy baie foute het. Maar dat hy n patriotiese besigheidsman is is n feit.
Jou vermoë om na mense wat van jou verskil se opvoeding en mentaliteit neerhalend te verwys spreek boekdele oor jou persoonlikheid.

Human ·

Hy was so ‘n patrioot, dat hy minimaal belasting betaal het in die VSA, maar het 100,000.00 duisende dollar aan Sjina oorbetaal, sonder dat hy enige probleme daarmee gehad het. Verder was of is Putin sy beste buddy met wie hy hand op die blaas verkeer het.

twaalfboor ·

Human……. WAAAAAAR op dees aarde kry jy jou inligting? Seker die agter kant van ń chappies papiertjie.

Dries ·

Gaan kyk maar net waarop reageer Human. Net oor Trump. Hy het n obsessie met Trump. Hy het nie oplossings nie net beledigings.

Human ·

Moet nie bekommerd wees oor wie en wat ek op reageer. Wees eerder uiters bekommerd, dat jy jou aan die neus laat rondlei, deur jou afgod. Oplossings vir wat? Beledigings is al wat sommiges verstaan, want redeneer kan en wil hul nie.

Human ·

Is dit wat in die pakkie was wat jy vir my aangestuur het. Gelukkig nie die pakkie oopgemaak.

Jacobus ·

As jy die mentaliteit van kommentators moet oordeel dan slaan jy jou hande saam. ‘n Hele nuwe histeriese kleinlike taalgebruik het ontstaan. Narsisme, misogeen ens. Mense wat tyd in mitologie en Charles Dickens literatuur spandeer het, het kwistig te kere gegaan oor Trump se persoon. En hy was alles behalwe perfek.
As mens daarinteen na sy teenstanders kyk (2016 en 2020) moet jy jou skaam dat jy nie hulle immoraliteit en kriminaliteit raakgesien het nie. Die nuwe bedeling is veel meer oneerlik en het feitlik met die teken van die eerste bevele Amerika uitverkoop. As jy dit nie glo nie – wag en kyk.

Human ·

Nou hoekom wag en kyk jy nie, voordat jy jou mond uitspoel en onwaarhede en ligsinnige aannames, kwytraak. As Biden soos Trump optreë en aanjaag sal hy vinnig tereg gewys word deur ieder en elk. Dit is maar ‘n bitter pil om te sluk as jou afgod voete van klei het. Hoe vinniger jy dit aanvaar hoe gouer kan jy aanbeweeg.

FBS ·

Is dit altyd so swaar om krediet te gee, maar so maklik om foute volgens eie mening uit te lig. As jy Pres. Trump ken dan kan jy oordeel. Pres. Trump het meer vir die VSA en sy mense gedoen as enige vorige President. As mens wat n fantasties persoon om te ken.

Porseleintjie ·

Die beste president wat n land nog kon he. Seker ook die enigste wat in ander lande n begeerte kon laat ontstaan om hom as president op hul eie bodem te he. Trump was n uitstekende president gewees en al sy besluite het om sy land gegaan. Is dit nie maar so dat alle presidente vyande het nie? Om die eenvoudige rede dat hy nie almal kan tevrede stel nie. Trump se karakter word uitmekaar getrek. Feit dat hy Bybelse waardes het en daarby staan is eerder die eintlike rede daartoe. Verder is dit nie so dat die hoogste bome die meeste wind kry nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.