Nuuskommentaar: Trump troef media-elite se wensdenkery 

Foto: Wikimedia

“Dewey Defeats Truman” was die voorblad-opskrif wat die Chicago Daily Tribune in 1948 die dag na die Amerikaanse presidensiële verkiesing gepubliseer het.  Hierdie opskrif het verkeerdelik aangedui dat Thomas Dewey as teenstander die destyds sittende president Harry Truman in die verkiesing oorwin het.

Die koerant, tesame met die res van die hoofstroommedia, die demokratiese establishment en ander politieke elite was só oortuig dat Dewey sal wen, dat hulle so ver gegaan het om die uitslag van die verkiesing te bepaal voor dit nog bevestig is.  Tot hulle groot skok het Truman egter sy titel as president vir ʼn tweede termyn behou en hulle blinde hubris blootgelê.

Hierdie verregaande misstap herinner baie aan die wyse waarop die sogenaamde onafhanklike media-elite in 2016 ineengestort het toe Donald Trump sy eerste termyn as president gewen het. Byna geen meningspeiling het ʼn oorwinning vir Trump voorspel nie – die blote gedagte van ʼn Trump-oorwinning was so verregaande dat niemand in die media-elite dit eers vir ʼn oomblik oorweeg het nie. Daarom het hulle soos bogenoemde koerant net nooit op ʼn Trump-oorwinning voorberei nie. Selfs maande na Trump se oorwinning het hulle verduidelik hoe Trump eintlik die verkiesing by Hillary Clinton gesteel het.

Donald Trump

Foto: AP Photo/Paul Sancya

Trump was nie ʼn tradisionele politikus nie en het ʼn bombastiese persoonlikheid wat hulle monopolie op die waarheid bedreig het. Hy was bereid om hulle ruiterlik oneerlike en onderdrukkende kultuur van verslaggewing uit te wys. Daarom het hulle uit noodsaak vir hulle eie voortbestaan Trump van die staanspoor as noemenswaardige kandidaat verwerp.

Die media het na Trump se 2016-oorwinning egter géén introspeksie gedoen nie – dit ten spyte daarvan dat hulle die verkiesing met soveel selfvertroue só verkeerd voorspel het. Hulle het eerder tot die gevolgtrekking gekom dat dit Trump-kiesers se fout en skuld moes wees. Die helfte van die land móét bloot so rassisties, seksisties, onderdrukkend of onnosel soos Trump self wees. Die fout kan tog nie by die media lê nie – hulle is immers die elite en daarom beter en slimmer as enigiemand anders.

In hulle volslae blindheid het die media-elite daarom presies dieselfde foute van die vorige verkiesing begaan. Byna geen meningspeiling het ʼn 2020-oorwinning vir president Trump voorspel nie. Veral in die belangrike “swaaistate” is Biden oorwegend as wenner voorspel. Selfs tradisioneel Republikeinse state soos Texas sou volgens meningspeilings deur Biden gewen kon word.

Gevolglik het hulle tans nog ʼn emosionele ineenstorting. Hoewel die verkiesing nog nie beslis is nie, vaar Trump veel beter as wat hulle ooit voorspel het. In deelstate soos Ohio, Florida, Noord-Carolina en Georgia waar die peilings meestal ʼn Biden-oorwinning voorspel het, is hulle nou reeds byna volledig verkeerd bewys. Die media-elite word weereens weens hulle blindheid deur die werklikheid oorrompel. Nes in 2016 staar hulle hulself blind teen dit wat hulle wíl hê, eerder as dit wat op grondvlak gebeur.

Tucker Carlson. Foto: Twitter

Tucker Carlson, aanbieder op Fox News, het uitgewys watter ontkoppeling daar tussen die hoofstroommedia en die mense op grondvlak bestaan. Carlson skryf die media en meningspeilers se absoluut verkeerde voorspellings vanjaar toe aan die feit dat hulle bloot nie meer weet wat op grondvlak aangaan nie. Hulle is so vasgevang in hulle eie egokamer en hubris dat dit vir hulle ondenkbaar is dat enigiemand dwaas genoeg sal wees om van hulle te verskil.

Trump is al herhaaldelik deur die media-elite met Hitler vergelyk – een kommentator het selfs so ver gegaan as om te sê dat Hitler eintlik beter as Trump was, omdat Nazi-Duitsland darem ʼn tipe dissipline gehad het wat Trump nie het nie. Trump, wat kwansuis ʼn aardsrassis en Nazi is, se 2020-uitslae skets sover egter ʼn veel ander prentjie.

Edison Navorsing het reeds na die tendense in sogenaamde “exit polls” gekyk en bevind dat Trump se steun in vergelyking met 2016 in alle groepe buiten wit mans verhoog het. Dit wil sê dat meer wit vroue, swart mans en vroue, Latyns-Amerikaanse mans en vroue nou vir Trump gestem het as in 2016. Die media se haat teenoor Trump taan absoluut ironies hier teen die selfstandige besluite wat mense self oor Trump en sy beleid neem.

Gallup het ook vroeër vanjaar bevind dat 56% van Amerikaners meen dat hulle nou meer welaf is as wat hulle onder die Obama-administrasie was. Eerder as om na die media-elite se menings, misleiding en histerie te luister, het mense gekyk of hulle eie lewensomstandighede onder die Trump-administrasie verbeter het en waarskynlik dienooreenkomstig gestem.

Pres. Donald Trump. Foto: REUTERS/Carlos Barria

Met die media-elite wat só van die werklikheid op voetsoolvlak ontkoppel is, kon hulle weereens nie Trump se waarskynlike 2020-oorwinning voorspel nie. Selfs al wen Trump nie die verkiesing nie, het hy naby genoeg aan wen gekom om die media-elite en die meerderheid meningspeilers van alle geloofwaardigheid te stroop. Trump het die afgelope vier jaar die media-elite se wêreld van wensdenkery gebreek. Hy het hulle herhaaldelik op hul oneerlikheid en bevooroordeeldheid gewys en uitmekaargeskeur. Nou bewys hy met hierdie verkiesing weereens hoe irrelevant die hoofstroommedia hulself werklik gemaak het.

Die media- en Demokratiese elite het 2016 se uitslae toegeskryf aan die onkundige besluit van die mense – mense wat maklik oor vier jaar tot ʼn ander mening gemanipuleer kon word. Mense en hul omstandighede op grondvlak is bloot nie iets wat deur die elite weggewens, geïgnoreer of gemanipuleer kan word nie. Die elite het na 2016 gepoog om mense en werklikhede te ignoreer en hul eie wêreld van wensdenkery geskep. Een waarin Trump se verkiesing ʼn fout en fenomeen was wat nooit herhaal sal word nie. Dit het egter nie die omstandighede op grondvlak verander nie. In vanjaar se verkiesing is daar steeds ʼn goeie kans dat mense bevestig dat 2016 nie ʼn fout was nie, maar noodsaaklik was. Daar is steeds ʼn kans dat hulle Trump met al sy karakterfoute bo die elite establishment kies.

Dit is juis die rede waarom ʼn tweede Trump-oorwinning so belangrik is. Nie omdat Trump noodwendig ʼn uitnemende staatsman en wonderlike morele kompas is nie. Eerder omdat sy onkonvensionele bombasme dalk die enigste ding is wat die media-elite se onverdiende monopolie op die waarheid en mag finaal sal kan fragmenteer en afwentel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Cherokee ·

Een groot probleem in die Amerikaanse kiesstelsel is dat Donald Trump nie ‘n derde termyn sal kan dien nie.

Therese ·

Absoluut skitterende artikel!
Donald J. Trump het die media-elite inderdaad onherroeplik van alle geloofwaardigheid gestroop.
Die wyse waarop die vordering met vrede in die Midde-Ooste grootliks ignoreer of as ‘n nietigheid afgemaak is, is net één voorbeeld.

Soos sake nou staan, gaan Biden ongelukkig met honderdduisende laat posstemme die wa deur die drif trek. Wat ‘n anti-klimaks en tragedie.

Maria ·

Fantastiese artikel. Ons is almal moeg van- en vermy hoofstroommedia. Hierdie media se aanval op Trump is die ergste wat ek nog gesien het. Inderdaad het Trump groot foutlyne uitgewys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.