Nuuskommentaar: Tsjôtsjô vernietig nie net land se ekonomie, maar ook sy siel en bestaansreg

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, hoof van die kommissie van ondersoek na staatskaping. (20 Augustus 2018). Foto: Karen Sandison/ANA

Hoe meer korrupsie voor die Zondo-kommissie aan die lig kom, hoe groter gaan die druk op pres. Cyril Ramaphosa word om die ondersoek te staak, of om die president self uit die kussings te lig. Maar korrupsie het nie plek in enige samelewing wat wil voortbestaan nie.

Die Zondo-kommissie het versoek dat sy termyn tot die einde van die jaar verleng word; ’n teken dat daar erns is om die staatskapingskwessie tot op die been oop te vlek. Of is dit?

Die staatskapers, daarenteen, probeer alles in hul vermoë doen om die ondersoek te kelder, deur onder meer verdagmakery van die getuies, vertragingstaktiek en die skep van politieke destabiliteit. Pres. Ramaphosa gaan sy hande vol hê met dwarsboming as hy sou oorweeg om Zondo sy sin te gee – maar om anders te besluit gaan sy termyn(e) as president weerstand en selfs dwarsboming wat aan sabotasie grens laat ervaar (mits Ramaphosa uiteraard die pogings middel vanjaar oorleef om ge-Mbeki te word).

As daar een ding is wat as konstante faktor die land erodeer is dit die terminale kanker genaamd korrupsie. Nee, dis nie van gister of 1994 af nie. Min van die ouer Suid-Afrikaners sou al vergeet het in hoe ’n mate swart aansoekers om passe soms bloedgeld moes opdok om passe te kon kry. Die “prys” was lank ’n netjiese R10, wat nou soos kleingeld klink, maar dit was destyds bloedgeld. Dit was onder meer gelykstaande aan die sogenaamde oumenspensioen wat swart indiwidue maandeliks gekry het, waarmee ’n uitgebreide familie dikwels versorg moes word.

Die sogenaamde LAPA-dieet het lank soos ’n swaard oor die destydse regering se koppe gehang nadat ’n minister nie mooi gedink het voor hy gepraat het nie.

Ja, die ANC het nie korrupsie uitgevind nie, net vervolmaak. (Met apologie aan SAL se destydse advertensie voor dit net SAA en ’n leeggekaapte ramp geword het.)

Die rede waarom die ou regering nie hard teen die euwel by die ou administrasierade opgetree het nie, was advies aan die regering dat tsjôtsjô deel van swart mense se kultuur is – as iemand in die (gesags-)posisie is om dit te kan “hef” dan word dit van hom/haar verwag – die publiek se afkeer was dus minder as wat normaalweg verwag sou kon word.

Daarom dat oudpres. Jacob Zuma se pikante woorde dat korrupsie ’n Westerse konsep is nie vars afgegaan het nie, en steeds ’n dolk in die land se rug is. Dit was immers lank staande en toelaatbare praktyk van Westerse firmas om om te koop vir kontrakte in Afrika. Dié geldjies is selfs as uitgawes aan die lande se inkomstedienste verklaar. Daar was nogal taamlike konsternasie toe dié praktyk midde in die Suid-Afrikaanse wapenskandaal die wind van voor gekry het. Oudpres. Thabo Mbeki het die toon oor geheueverlies ingesit oor ’n vergadering waar hy teenwoordig was. Die Seriti-kommissie van ondersoek is lank nie so ’n groot skandaal soos wat die tersydestelling daarvan deur die hof geregverdig het nie.

Met die afskaffing van die ou ontwikkelingsrade, en samesmeltings met byvoorbeeld provinsiale administrasies, moes staatsbates, soos meubels by amptenare se huise gaan haal word. Die huise was dikwels luukse dubbelverdiepinghuise in groot stede, met swembaddens, luukse motors ensovoorts, ver bo die bekostigbaarheidsvlakke van die amptenare se salarisvlakke. In minstens een Bloemfonteinse woonbuurt is daar effektief geen betrokkenheid van die verkeersdepartement nie, want die inwoners is te “dom” en gaan betaal die boetes in plaas van om die goedkoper tsjôtsjô-“tarief” op te dok. Dit maak die “wetstoepassing” daar te onlonend en dis ’n paradys vir jaers en motorfietse wat ongelooflik raas. Dit is meer as steurend as so ’n vurige kragmonster jou in jou eie huis ’n moeder van alle migraines besorg, en hy nog gehoor kan word as dit ’n 15 minute of so later verby Petrusburg weergalm – by wyse van spreke.

Of as ander dienste soos die herstel van rioolverstoppings en vullisverwydering effektief net Saterdae, Sondae en na-ure geskied en oortydbetalings die munisipale begrotings verongeluk.

Die Wêreldbank beskryf korrupsie as die vernietiging van ’n land se toekoms. Verskeie politieke en ekonomiese kommentators beskryf korrupsie in Suid-Afrika al lank as endemies … terwyl die internasionale korrupsiepersepsie-indeks tydsaam agterna drentel, en met Zuma se tweede termyn selfs verbeter het.

Ja, dit gaan erg en veel erger in baie, baie ander lande. Selfs in betreklike “skoon” lande soos Nederland en België is korrupsie meer as net ’n ergenis. Daar is byvoorbeeld 17 alternatiewe woorde om korrupsie in Nederlands te beskryf, en dié lys sluit nie eens “graaien” in nie. In Afrikaans is dit stellig nie minder nie, maar … in Suid-Afrika is korrupsie nie eens ’n misdaadtipe in die periodieke misdaadstatistieke nie. Die bedoeling is stellig dat dit veral deel uitmaak van die hofie “bedrog” maar op die politieke terrein sal ’n politieke party op dun ys loop as hy in ’n verklaring oor misdaad, nie kommer uitspreek oor die vlakke van “misdaad en korrupsie” nie asof korrupsie nie iets anders is nie, maar erger is as ander misdaad. Dit voeg meer erns toe aan sulke verklarings.

Maar korrupsie doen meer as om ’n land se bestaansvermoë te “vermoor”. Dit “vermoor” ook die integriteit en siel van die land se mense. Watter Christenvolk met selfrespek wil nou bekend wees as volk sonder integriteit? Selfs al oorleef die land ekonomies? Wie, met ’n greintjie integriteit wil nou saans ná die dag se aktiwiteite afgeskaal het, sy dag se sukses meet aan hoeveel keer hy iemand anders ingedoen het, en hoeveel ander hom weer ingedoen is? Het hy darem gelyk gebreek?

Die voorsitter van die Belgiese SP.A-party, Conner Rousseau, het pas verskeie stellings gemaak, wat as dit na die Suid-Afrikaanse konteks oorgeplaas kon word, as ’n aanval op eiebelang ten koste van die belang van die gemeenskap vertolk kan word: “Bijna niemand is bezig met wat er echt toe doet, behalve met zichzelf…. Stop met uw spelletjes. Zoek naar oplossingen. Get sh*t done.”

In Afrikaans, in ons konteks, sou dit stellig lui: “Om in eie belang korrup te wees vernietig ons almal. Stop dit en doen mee aan eerlike oplossings, anders jaag jy net bollie aan.”

Teen dié agtergrond kan minister Lindiwe Sisulu se aanstelling van twee verdagte en gediskrediteerde spesiale adviseurs nie net as verdag beskou word nie, maar skadelik.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Piet Badenhorst

Zondo komissie speel net vir tyd…

remondo

baie mooi bewoord….Ek hou van die nuus komentaar

Die politieke wil is glad nie daar om iets aan Korupsie te doen nie dis ver te lonend..

John

… miskien moet alle Afrikaners nou maar begin opdok vir alles wat verkeerd is en vir alle oordrewe jammergeit begin vergoed. Met die oog op die nuwe hofsaak oor ‘n dekades lange onduidelikheid wat opgegrawe word, is dit nodig dat die geagte outeur meer olie op die vuur gooi vir diegene wat hulpeloos en so verontreg maar net opgetree het in die wrede lig wat uit apartheid skyn, Viva!

Johan Venter

Herman, jou eerste paragraaf sê als. Ek wonder hoe ernstig die mense werklik is om die skuldiges voor die hof te daag. Die korrupsie is so omvangryk, baie erger as wat aanvanklik gemeen is, dit lyk my ons het nie naby die kapasiteit om almal betrokke, op watter vlak ook al, uit te wys en aan die pen te laat ry nie. Ek het ‘n idee regter Zondo se kop moet nou al suf wees, hy weet seker nie meer of hy Arthur of Marther is nie. Dis voel my of mense met sulke glasige oë na die getuies staar… Lees meer »

Elizabeth

Wat is die kans dat ons met belastingweerhouding die regering kan dwing om op te tree teen misdadigers in die staatsdiens en regering? Ons kan nie langer toesien dat ons belastinggeld gebruik word om ons te ondermyn nie. Bestaan daar ‘n moontlikheid dat die berugste skelms privaat aangekla kan word?