Nuuskommentaar: Tuks-“rassisme”, Zwarte Piet en die gollywog

Sinterklaas en Zwarte Piet Foto: brainfreeze.be

Sinterklaas en Zwarte Piet Foto: brainfreeze.be

“Ons neem kennis van die negatiewe sentimente wat uitgespreek is en wil mense verseker dat dit nie ons bedoeling is nie.”

Nee, dit het nie betrekking op die “huishulp”-voorval by Tuks wat die wêreld aan die gons het nie. Hierdie woorde kom van Dudu Nchoba, hoofdirekteur van bemarking in die departement van kuns en kultuur, wat in die bresse tree van haar departement se kopdoekveldtog ter viering van vrouemaand.

Die Burger haal haar soos volg aan: “Die dra van ’n kopdoek is daarop gerig om te wees soos wat die dra van sokkeruitrustings op ’n Vrydag was, en om iets te dra van wat jou Suid-Afrikaansheid verteenwoordig… Ons is aangespoor deur die debat wat die veldtog ontlok het en dit moedig ons aan om die dialoog voort te sit namate ons die geskiedenis van die maand vier.”

Twee Tuks-studente het nie net die verlangde kopdoeke opgehad nie, maar hul gesigte ook swart gekleur en hul boude opgestop, en siedaar, dit is, aldus e-TV se nuus, ‘n “voorval van rassisme”.

Ook die Tuks-studenteraad gaan, volgens die nuusbulletin, klagtes teen die twee studente, wat reeds uit die koshuis gesit is, by die Menseregtekommissie aanhangig maak.

In Polokwane dra die wêreldbeker-sokkerstadion die naam van die persoon wat met die “skiet die Boer”-liedjie geassosieer word, Peter Mokaba.

Anders as in wiskunde maak twee negatiewe nie een positiewe nie. Dit is reg dat Suid-Afrikaners besonder bewus moet wees van opvattings en optredes wat vir ander Suid-Afrikaners wat anders is, aanstoot kan gee. Dit is nie nuut in Suid-Afrika nie – in die ou Suid-Afrika het dit in strafsake as verswarend getel as misdade oor die kleurgrens heen gepleeg word juis omdat dit rassespanning kon opwek.

Maar wat nou, as jong mense onder die impak van transformasie op kampusse glo die situasie het, op die kampus minstens wat rassesake betref, só genormaliseer dat die raskwessie nie meer sensitief is nie, en in hul optrede, in die woorde van Nchoba, geen bedoeling gehad het om te kwets nie – en nog minder die bedoeling gehad het om rassisties te wees?

En wat dan van die owerheid wat sulke gemengde seine uitstuur dat dit veral jong mense moet verwar?

Maar wat die Tuks-insident betref, is dit duidelik dat ook baie ouer mense die kop in ongeloof skud dat daar iets rassisties in die insident gelees kan word. Gaan dit hoegenaamd oor die letterlike swartsmeerdery, of gaan dit oor die opgestopte boude wat ‘n bepaalde stereotipering verdiep?

En hoe onskuldig is die media wat ‘n ophef hiervan maak? Volgen die e-TV-nuusbulletin was dit ‘n daad van rassisme, nie “beweerde rassisme” soos dit in ‘n voorverhoorstadium behoort te geld nie. En hier het ons weer die Reitz 4-voorval van voor af, waar ‘n uitstellanddros die media en politici moes maan om nie die uitspraak vooruit te loop met ‘n skuldigbevinding nie. Sy het haar asem gemors.

Toe die Reitz-4 om verskoning vra, is dit deur Sapa gedra. Beeld en Volksblad het dit gepubliseer, maar die ander Media 24-koerante nie, en so ver bekend geen Engelstalige koerant in die land nie. ‘n Paar Britse koerante het dit wel gedra. Dus het die een brief na die ander in die Suid-Afrikaanse koerante verskyn waarin die studente verkwalik is “omdat hulle nie om verskoning vra nie”.

Dit, ongeag daarvan dat so ‘n verskoning op ‘n erkenning van skuld sou neerkom nog voor hulle gepleit het.

Om alles te kroon het ‘n afgetrede adjunkredakteur van Die Burger in ‘n rubriek wat in beide Volksblad en Die Burger gedra is, na die voorval verwys as sou die skoonmaaksters sonder hul medewete skelm afgeneem gewees het. Terwyl dit uit die beriggewing voorheen duidelik was dat hulle vrywillig en entoesiasties meegedoen het, en toe die voltooide produk aan hulle vertoon is, hulle vriende en kollegas gaan roep het om saam daarna te kom kyk.

Nederland en België het pas deur ‘n groot polemiek gegaan oor die tradisionele gebruik van Zwarte Piet wat Sinterklaas vergesel wanneer hy vir die kinders geskenke bring. Die besware teen hierdie tradisionele gebruik het gewissel van stereotipering van swart mense (in die opmaak-proses dikwels geskoei op die stereotipe wat aan die eeueoue golliwog-tradisie neerslag gevind het), totdat Zwarte Piet dan al die harde werk moes doen soos deur die skoorstene klouter.

Presies dieselfde argumente as wat nou in die sosiale kommentare oor die Tuks-voorval geopper word, is in Nederland en België gebruik – diegene wat Zwarte Piet aan die ban wou doen, en diegene wat hamer op “geen negatiewe bedoeling nie”. Zwarte Piet het oorleef. Met toenemende getalle anderskleuriges wat in Nederland ‘n permanente tuiste vind, is die laaste skote hieroor egter lank nie geskiet nie, en uiteindelik sal Zwarte Piet seker wel die knie moet buig, en op dieselfde ashoop as die eens uiters gewilde gollywogs moet beland.

Maar is die Tuks-insident werklik die voorval wat rasseverhoudings die sterkste onder druk plaas?

Wat van die omstrede pamflet wat op die Potchefstroom-kampus gevind is? Die een waarin gevra word dat die boere, die rassiste en Afrikaans doodgemaak moet word? Is dit nie besonder rassisties dat die boere en Afrikaans sommer net so met rassiste gelyk gestel word nie, en dan praat ‘n mens nie eens van die doodmaak-gedeelte nie?
Maar waar is die grootskaalse veroordeling van hierdie pamflet deur die owerhede, en selfs sekere media?

Die skerpste kritiek het trouens weer teen “die regses” gekom, waar sommer bevind is dat “die regses” agter die opstel en druk en verspreiding van die pamflet sit. “Die regses” sou dit gedoen het om die suksesse van transformasie op die Puk-kampus ongedaan te probeer maak. In hierdie geledere het paranoia heeltemal hande uitgeruk, soos dat dit mense is wat “vertroud is met NIA-strategieë”. Hulle vergeet dat die NIA die produk van die nuwe Suid-Afrika is. Die ou NI waarna vermoedelik verwys word, het geen uitvoerende magte gehad nie.

Weeg die Tuks-voorval werklik op teen suggesties, by herhaling, dat diegene wat transformasie teenstaan vir die dood van prof. Russel Botman verantwoordelik was? In die proses is sommer mense bygesleep wat openlik transformasie steun, maar dan ‘n weergawe daarvan wat met die grondwet versoenbaar is.

In ‘n nuuskommentaar vroeër die week, Rassisme kan ons verskeur, is onder meer die volgende geskryf: “Die meeste verantwoordelike kommentators sal bitter bly wees as die raskwessie die dag nie meer ‘n agendapunt sal wees nie – wanneer die norme van die volkereg neerslag sal vind en nie as dekmantel van rassisme verdink word nie.”

Daar het baie water in die see geloop van Maroela vir sowat twee jaar lank in nuuskommentare nie na ras per se hoef te verwys het nie, tot nou dat die kwessie twee keer in een week aangespreek moes word. Veral die regering het die emmer van rasbenepenheid bitter vinnig vol laat loop en hou aan tap terwyl dit reeds oorloop.

Die verdere aanwending van ontduikende terminologie soos bevolkingsgroepe, kultuurgroepe, minderhede en ander terme wat deur die volkereg positiewe inhoudelike status gegee word, sou bloot volstruispolitiek wees, en nie die werklikheid van die regering se wette en maatreëls wees wat skerp op ras as kriterium afgestem is nie. Rasbenepe transformasie wat modderspore oor die grondwet trap, kan nie aangespreek word solank die baba nie by die naam genoem word nie.

Geen wonder nie ‘n peiling deur Pondering Panda onder jong mense het enkele jare gelede reeds bevind dat die meeste wit, bruin en Indiërrespondente meen die regering is besig om apartheid terug te bring nie.

In ‘n rubriek in Beeld spreek Danny Titus ‘n soortgelyke kwessie aan – die verskille van “onverdraagsaamheid en ’n onverskilligheid wat ons samelewing baie seermaak en baie seerder kan maak”. Hy kom tot die volgende gevolgtrekking: “Ons Grondwet praat wel van die eenheid in verskeidenheid. Dit lyk vir my na ’n beginpunt uit die gemors. Erken ons verskeidenheid, erken die regte in ons verskeidenheid en moenie een donderstem van ’n meerderheidsparty vir almal laat geld nie. Ons klowe van verskille vra ’n ander aanpak.”

Terwyl adjunkpresident Cyril Ramaphosa aangekondig het dat hy graag gesprek met die Afrikaanse gemeenskap wil voer, sal sulke geleenthede baie goeie geleenthede bied om die regering oor sy rassebenepenheid tot orde te roep.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Hanno Visagie ·

In die NSA is die Kaapse Klopse se Tweede Nuwejaarsfees (Coon Carnival) lank ontmoedig omdat dit polities inkorrek sou wees!

Hein ·

Daar is ‘n groot verskil tussen rassisties en ras-realisties. Rassisme beteken om te diskrimineer op iemand omdat hulle van ‘n spesifieke ras is. Ras-realisties beteken dat die empiriese feite wat aan elke spesifieke ras gekoppel is erken moet word. As Trevor Noah in een van sy optredes wat op DVD beskikbaar is, die mense so lekker kan laat lag oor die verskille tussen wit, kleurling en swart vroue se fisiese eienskappe; spesifiek praat hy oor die agterstewes van swart vroue, en almal in die gehoor (wit en swart) sit lekker en saamlag oor hierdie ras-realistiese feite, is daar niks mee fout nie. Nou kom jong studente tydens ‘n PRIVAAT partytjie (daar is absoluut NIKS in die foto wat die universiteit impliseer nie), en beeld ‘n empiriese feit uit dat sekere swart vroue groter agterstewes as ander het, word hulle aangekla dat hulle diskrimineer teen die hele swart bevolking. Gaan kyk in die klerebedryf vir die subtiele name wat aan broeke gegee word met ’n snit om beter te pas om die ‘plaaslike bevolking’. Dit is ras-realisties, nie rassisties nie. As hierdie studente net die kussings onder julle klere ingedruk het sonder om hulleself swart te smeer, sou hulle dan nog steeds teen oorgewig wit vroue ‘rassisties’ opgetree het? Elke keer as ek my oë skrefies trek teen die son, diskrimineer ek dan teen die hele Japanese en Chinese bevolking?

Hein ·

Mandela is amptelik oorlede op 5 Desember, Sint Nicolaas, die dag waarop geskenke uitgedeel word…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.