Nuuskommentaar: Tweespalt, fopnuus, tweespalt, verdomming, tweespalt, Zuma

Pres. Jacob Zuma tydens die Jeugdagvieringe in Ventersdorp (2017) Foto: @PresidencyZA, Twitter

Of daar nou na binnekerklike verband gekyk word, of na die staat, of politieke partye onderling en intern, oral is tweespalt te vinde. Die felste stryd, al is dit nog dikwels onder die oppervlak, is binne die ANC te vinde, en het veral te make met pres. Jacob Zuma. Sommiges van dié wat Zuma die trekpas wil gee, het die beste belang van die land in die oog. Vir ander gaan dit daaroor dat Zuma se val, of vermoë om te klou, die opvolgstryd in groot mate kan bepaal.

Binne sommige kerke wil die gay-debat net nie ’n einde kry nie. By ander is die stryd oor die toelating van vroue-ampsdraers vuurwarm. En watter Psalmboek gesing behoort te word.

En tussenin “stir” die Guptas en die #GuptaLeaks. Die sosiale media verskaf boonop ’n heerlike medium om die vure te stook – anoniem as die deelnemer wil, en fopnuus krap die kaarte lekker deurmekaar.

Die Oxford Dictionary skryf dat 2016 die jaar sou wees waarin die era van die post-waarheid ingegaan sou word, waar feite minder swaar sou begin weeg om die openbare mening te verander as emosies en persoonlike gelofies.

Ray Williams skryf in Psychology Today soos volg hieroor: “(In) My article in Psychology Today, Anti-intellectualism and the ‘Dumbing Down’ of America, I argued, the new elite are the angry social media trolls, those who can shout the loudest and most often. Together they encourage a culture of anti-rationalism where every fact is suspect and conspiracies abound. Rational and reasonable thought has become the enemy. Anger and fear have become their weapons. I would add to that observation that the current wave of alternate reality now includes the creation of fake news and ‘alternative facts’ which seems to populate both political and popular discourse, fueled by the power of social media. The article must have struck a resonant chord with many, as it has had almost 1.4 million views.”

Een van die gevolge, skryf hy, is die verdomming van die VSA.

Die VSA se adjunk-prokureur-generaal, Rod Rosenstein, het verlede week nog Amerikaners gemaan om nie hul ore uit te leen aan berigte wat ongenoemde amptenare aanhaal nie.

Leserskommentare onderaan berigte op nuusplatforms in Suid-Afrika verklap dikwels dat die verdomming ook ’n deel van die bevolking beetkry. Omdat net ’n klein persentasie lesers (ongelukkig) van die kommentaargeriewe gebruik maak, word die indruk maklik, as mens nie weet hoe onverteenwoordigend hierdie groepie kan wees nie, gewek van ’n verdomming oor ’n veel wyer skaal as wat dit werklik is.

Nog hinderliker is diegene wat uit hul pad gaan om nie nuus te luister of te kyk nie, en ook nie koerante lees nie, maar tydig en ontydig die grootste wolhaarstorie per selfoon kan versprei – fopnuus wat hulle op hul beurt van elders ontvang het. Hulle raak dikwels bevange oor die “verskriklike nuus” en sal dit as die reine waarheid bly verdedig lank nadat dit duidelik was dat dit ’n wolhaarstorie was.

In ’n land soos Suid-Afrika waar die Coligny-voorvalle werklik plaasgevind het, en ook die afbrand van Bloemfontein se stadsaal, en onskuldige verbygangers se motors onder die klippe gesteek word, is dit uiters gevaarlik as fopnuus die ontvangers so skepties maak dat hulle ook werklike feite as wolhaarstories ervaar. So kan daar groot skade of selfs lewensverlies voortspruit.

Sielkundiges en sosioloë sal wel mettertyd uitpluis wat die sielkunde agter die Helen Zille-twiet was. Intussen lyk dit of dit vir baie mense ’n bitter pil was om te sluk om die waarheid te ondergrawe ter wille van persepsies wat wyd gehou word. Met grondhervorming word ook sterk met persepsies eerder as feite gewerk. Uit die Matie Charl Swart se meestersverhandeling blyk dit dat ongeveer 85% van die swart mense glo wit mense het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel. Die ad hoc-komitee oor eiendomsbesit het die verkondiging van dié persepsie as die groot leuen beskryf, en die TLU-SA het ’n groot prys uitgeloof vir diegene wat diefstal van grond kan bewys. Intussen neem die aandrang toe binne die ANC dat die Grondwet gewysig moet word sodat grond sonder vergoeding onteien kan word.

Uit talle oorde word versoek dat Suid-Afrika ’n tweede Kodesa nodig het, en veral ekonome bepleit ’n ekonomiese Kodesa.

Daar is ’n magdom redes hoekom baie mense desperaat van Zuma as president ontslae wil raak, soos dat hy feitlik eiehandig veroorsaak het dat Suid-Afrika nou by twee graderingsagentskappe rommelstatus verwerf het. Zuma self is selfvoldaan omdat hy meen dat hy die land goed regeer. Dit verhinder egter nie dat baie ANC-leiers vir die vale keer vir verdeeldheid in die ANC nie (maar skynbaar vergeefs).

Volgens nuwe syfers wat deur die DA bekend gemaak is, het die ANC se steun nou tot onder 50% gedaal, en is daar ’n wesenlike moontlikheid dat die ANC met die 2019-verkiesing die kous oor die kop kan kry.

Is daar ’n moontlikheid dat ’n soort kennis-Kodesa ’n groter gemeenskaplikheid van feite tot gevolg kan hê? Veral ten opsigte van die feite wat die politieke toneel beïnvloed? Dit sluit in dat verskillende bevolkingsgroepe bewus gemaak word van sake waaroor ander sensitief is, en ter wille van die vrede nie onnodig geopper moet word nie. Daarsonder sal ’n mens nooit weet hoeveel voorvalle soos die Zille-twiet en die blackface-voorvalle nog uit onkunde kan opduik nie. En dat die meeste wit mense aanstoot neem as die president in toesprake voor die voet na wittes as “white supremacists” verwys.

’n Nuwe Kodesa sal nie noodwendig slaag nie. Suid-Afrika is immers deel van die wêreld, en word blootgestel aan feite soos dat die meeste Amerikaners glo hul land is nou meer verdeel as vyf maande gelede toe Trump president geword het. Daar is egter ook diegene, ook hier in Suid-Afrika, wat glo Trump is min of meer die agtste wonder van die wêreld en dus onfeilbaar.

Met die reformasie 500 jaar gelede is vergaderings gehou waar deelnemers uit die reformasie en die Rooms-Katolieke Kerk teologies en intellektueel teen mekaar te staan gekom het. Dit het as disputasies bekend gestaan. Dit kon egter nie die skeuring, en dus reformasie, keer nie.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Vytjie Molefe ·

Maar as jy een v d top marketing & branding companies in die wereld huur (Pottinger) om ‘n sekere fake boodskap soos White Monopoly Capital & Radical Economical Transformation laat plant, selfs al is die fopnuus…net ‘n mooi woord vir snert, dan moet jy maai wat jy gesaai het. Die land is nou kaal gesteel en geroof…nou moet dit maar “rip” …

al ·

Ek lees gister hul twitter is ontoeganklik nou agv SA’ners wat die spot met hul dryf ens. Ek kry te lekker noudat in hul gesigte ‘gebackfire’ het. Hul sal nou ñ beeldpoetser moet kry om hul beeldpoetsfirma blink te vryf … Lol

John ·

‘Conspiracy’ moet een van die ‘catch words’ van die’ dekade wees… Dis baie interessant dat die outeur telken meerwaardig die kommentaar, wat enigsins nie sou ja-en-amen nie, afskiet as oningelig. Dit spruit skynbaar uit die heerlike jare voor ‘face booking’ ea toe koerante in SA die leek se kamma- bybel was tov die verklaring van wereldnuusgebeure. En dan trap ons nuuskommentators ook maar lieflik in dieselfde ongure val deur fopnuus vanaf hul geliefde glo hoogs betroubare, veral Europese ‘intellektuele’ bronne as die alwetendheid vanselwers, na te praat. En dit is ook waar: Afrikaners moes nog altyd net voor sekere gode buig… of…

Therese van Schalkwyk ·

Soos gewoonlik is Herman Toerien se insiggewende “Nuuskommentaar” heel eerste op die leeslys.

Opvallend, nie die eerste keer dat leserskommentare ‘n besprekingspunt is deur hierdie en ander joernaliste nie.

Verskoon tog as die kloutjie nie lekker by die oor gekry word in hierdie verband nie, maar moet die kommentaarfunksie nie maar eerder gesluit word as dit so problematies is nie?

Wat presies word met “verdomming” bedoel? Is dit wanneer lesers verskillende menings huldig as ‘n skrywer of die ‘establishment’? Is die relatief klein, onverteenwoordigende persentasie wat kommentaar lewer toevallig die ‘dommes’ of waar lê die probleem?

Laastens, opmerklik dat geen skewe opmerkings destyds gemaak is oor die slaafse ophemeling van Barack Obama as die eerste swart president van die VSA nie. Hy is selfs in sommige kringe as die moontlike redder van Afrika voorgehou. Dieselfde hoop en vertroue word klaarblyklik nie aan Trump-ondersteuners gegun nie. Feilbaar of nie.

Herman Toerien ·

Dankie Theresa. ‘n Mens loop deesdae nie so baie vasvraprogramme raak soos voorheen, waar deelnemers se kennis ‘n mens skoon verbluf laat nie. Met die laastes wat ek gesien en gehoor het wou die vraesteller dikwels ‘n verkeerde antwoord hê, soos wat die hoofstad van Tanzanië is, of weet die deelnemer nie die eenvoudigste antwoord nie. Ek dink ‘n goeie voorbeeld is as iemand wat duidelik niks van ‘n onderwerp weet nie, met groot agressie ‘n artikel afmaak wat uit ‘n wetenskaplike artikel geneem is, en wat aan ‘n prortuuroorsig onderwerp is. Obama is ‘n goeie voorbeeld van wat as politiek korrek beskou is, en daarom sou die pollitiek-korrektes hom slaafs volg. Ek self is nie politiek korrek nie, en het hom beslis nooit opgehemel nie. Nuuskommentaarskrywers het dit nie altyd maklik nie. Op die destydse Nuus 24 is ek deur ‘n leser beskuldig dat ek “nooit” vir Malema kritiseer nie, maar toe iemand uit die teenoorgestelde spektrum droogmaak (hy het Hitler in Nederland voor die TV-kamers gaan aanprys) toe kritseer ek hom omdat hy verskeie AfriForumprojekte in gevaar gestel het. Ek help toe die man reg (ek het Malema toe al ‘n paar honderd keer gekritiseer volgens Google). Nuus 24 verwyder my antwoord en los die vals beskuldiging. Laaste wat ek iets vir Nuus 24 geskryf het.

Koos1 ·

Herman, dieselfde geld vir Maroela Media ook. Gereeld “verdwyn” my kommentare ook, so dit kan dalk ‘n rede wees hoekom baie minder mense kommetare plaas, en nee my kommentaar bevat nie vuil taal of haat spraak ens nie.

Sw ·

Ons is maar op ñ relatiewe moeilike wipwa-rit. Ek glo verdomming kan dalk wees dat agv sosiale media word ons so gebombardeer word met inligting dat ons artikels nie meer behoorlik lees en dit insink nie.
Dat 80% glo ons het hul grond gesteel is nie onmoontlik nie.
Data is onbekostigbaar duur sodat lesers ingelig bly, geskooldheid is in baie gevalle laag en die politikus op voetsoolvlak wat baie ure aan die mense bestee, sal uiteindelik in sy doel slaag met leuens.

MCH ·

Soos altyd uit Herman se pen, n artikel wat jou laat lees en herlees. Voorwaar n pragmatiese kwessie en mens moet jouself keer om nie in besondehede verstrik te raak nie. Emosie en vooroordeel verwring in baie gevalle ook die feite. Dit is eie aan die mens. Wat n feit is vir een is n fabel vir n ander. Neem byvoorbeeld die grond kwessie en die TLU se uitdaging om te bewys dat boere grond gesteel het en die gepaardgaande belonging. Die uitdaging se bewoording bepaal uitdruklik enige lid van TLU of enige bona fide boer. Dit impliseer slegs huidige boere en sluit onmiddellik uit die geskiedenis. Die wetgewing, kodifisering en rekordhouding is bo verdenking wat die boere betref wat tans boer. Indien ons egter na die tyd perk van kolonisasie beweeg, raak die feite aanvegbaar synde aan die een kant n gemeenskap is wat beskik oor die vermoë tot kodifisering van ooreenkomste en aan die ander kant n gemeenskap wat hoofsaaklik beheer word deur tradisie en n vorm van diktatorskap wat geensinds oor die vermoë tot kodifisering van ooreenkomste beskik nie en verder, nie die taal kan besig van die kontrakterende party nie. Voeg daarby dat die een van die twee party, militêr en tegnologies ligjare vooruit is en die geleentheid is daar vir n baie aanvegbare situasie.

Leendert ·

Ons groot probleem in die land is dat die oningeligtes hul ore vir die politikuste uitleen. Dan is daar nog die ‘verdomdes’.

Leendert ·

O’ja, en natuurlik is baie politici self verantwoordelik vir die fopinligting wat hulle aan hul ondersteuers oordra. (propadanda, mesmeraais?)

CJ ·

Herman. Daar sal maar altyd meningsverskille wees oor wat die “waarheid” is. Wat mens natuurlik kwaad maak is as iemand “ooglopende waarheid” ontken. Ek kyk gisteraand “Verskroeide Aarde”. Soos wat mens kan verwag, verontskuldig sommige Britse geskiedskrywers die Britte van die verskriklike elende en sterwes in die konsentrasiekampe, omdat daar kamptig nie die bedoeling was om iemand te laat sterf nie. Toe FW de Klerk dit ook “as juris” sê dat daar geen bedoeling was om iemand te laat sterf nie…… Prof. Raath het dit so besadigd as wat hy kon, gestel dat growwe nalatigheid oorskrei is en dat daar regstegnies “opset” was. Vir my is dit so ooglopend dat die Britte die ongelooflike sterftes moes voorsien het, dit sien gebeur het en nog steeds gesloer het om dit te stop…. Ek wil gaan oplees oor wat nog ‘n Britse geskiedskrywer gesê het dat Kitchener homself verontskuldig het deur te beweer dat daar nie genoeg treintrokke was om kos en voorrade na die blanke konsentrasiekampe te stuur nie, maar toe Swartes vervoer moes word om blanke plase te gaan beset, was daar skielik 600 treintrokke beskikbaar…. Elkeen van ons het maar ons eie “waarheid” waarmee ons moet saamleef….

Boerseun ·

Jy kan niks glo wat De Klerk kwytraak nie, nie toe hy in 1989 eie skole en eie woongebiede aan die wit kieser belowe het nie, en ook nie op die Verskroeide Aarde dvd waar hy die holocaust op die Boere aan die hand van die Britte, ontken het nie. Paul Alberts was een van weinige geskiedkundiges wat dit wel ‘n holocaust genoem het. Die verdomming het reeds na Verwoerd se sluipmoord by NP-ministers ingetree. Geen wonder ons is vandag bywoners in ons eie vaderland nie!

Herman Toerien ·

In die kol CJ. ‘n Nuuskommentaarskrywer behoort egter navorsing te doen voor hy ‘n feit gebruik waarvan hy nie reeds doodseker is nie. Hoe meer ervare, hoe beter sal ‘n mens weet watter bronne is gewoonlik betroubaar, en verkieslik ‘n paar nagaan.
Ek kan egter ‘n taamlike lang lys maak van onwaarhede wat sommige mense vas glo, en jy GAAN uitgetrap word oor die “twak” wat jy nou verkondig – selfs al is bv ‘n meningspeiling se data wat ‘n mens gebruik het, self in die stuk aangebring. (En ‘n mens soek die data van die mees betroubare firmas uit). Soos gemeld, dis ‘n minderheid, maar so verbaal dat die indruk van ‘n beduidende groep geskep word. Soms word verskeie boodskappe van dieselfde IP-adres, maar onder verskillende name, gestuur om die indruk van “baie” te skep.

Gideon ·

Fopnuus was nog altyd met ons, byvoorbeeld in die vorm van staatspropganda. In die verlede het die wat mag gehad het, altyd gepoog om die media te beheer. Mense het in ‘n groot mate geglo wat die koerante en tv uitgesaai het. Sosiale media het daardie greep afgebreek. Die gevestigde media dra self groot skuld daaraan – kyk na CNN, kan jy hulle berigte, as hoofstroom media, oor Trump glo? Veral gesien in die lig daarvan dat hulle 24/7 Trump aanval? Hulle skree heeltyd wolf, en wanneer die wolf wel daar is, glo baie hulle nie meer nie. Domheid was altyd daar, ek dink Williams was dalk self lid van die vorige elite, en hy kla eintlik so ‘n bietjie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.