Nuuskommentaar: Twiet + (oud)politikus = moeilikheid?

Argieffoto: Pixabay.com

Om deel te wees of nie is nou in die nuus nadat oudpres. Jacob Zuma hom ook op die terrein van Twitter begewe het, die aandag goed op hom gevestig het en pres. Cyril Ramaphosa se kopsere laat toeneem het.

Die toeganklikheid van die kuberruim het enorme veranderinge teweeggebring.

Twee van die belangrikstes is dat gedrukte koerante onder groter druk gekom het en self die kuberruim moes begin ontgin nog voordat die geldelike potensiaal al ten volle uitgepluis is, en daar moes sterk herbesin word oor waar die grense tussen twee belangrike menseregte lê, naamlik die reg op waardigheid en die reg op meningsuitdrukking, waarvan die “sletlyste” van skoolmeisies wat op Mixit geplaas is, ’n vroeëre voorbeeld was.

Terwyl gedrukte koerante se besture en direksies baie ure bestee om die inkomstepotensiaal in die kuberruim te probeer ontsluit, en ook met eksperiment ná eksperiment vorendag kom, is daar instellings soos Google en Tencent wat heelwat verdien, en selfs fabelagtig ryk word.

Inligtingsvloei in die kuberruim het van komkommertyd kleingeld gemaak, en die wêreld is meer as ooit nou in die spreekwoordelike neutedop saamgevat. Daar is natuurlik ook diegene wat hul spreekwoordelike oë en ore toedruk en enige gesaghebbende nuusbron vermy deur te sê die media dra net slegte nuus. So word ’n soort illusie-Utopia geskep, waar alternatiewe “nuusbronne”, dikwels via slimfone, ingespan word.

Nie alleen word dié mense aan ’n vloed fopnuus blootgestel nie, maar die isolasie van die werklikheid maak dié mense ook vatbaar vir die ongelooflikste wolhaarstories, wat allerlei samesweringsteorieë en ontkennings insluit. Hierdie wolhaarstories word dan grootoog via die sosiale media versprei, en ewe grootoog vir soetkoek opgevreet en as die heilige waarheid verder versprei.

Nuusmedia wat die kuberruim benut moet gewoonlik hard werk om ’n reputasie van geloofwaardigheid op te bou, en tyd inboet wat eintlik goed benut kon wees om inkomstebronne te ontgin.

’n Regsraamwerk moes ontwikkel word. Die aanvanklike frustrasies wat ’n blog-eienaar byvoorbeeld beleef het dat sielsieke naamloses hulle op hul eie blog met leuens sit en beledig is veel minder as aanvanklik toe diensverskaffers basies volgehou het die oortreder se reg op privaatheid moet beskerm word. Ferm optrede deur die ouers van die onskuldige meisies wie se name op die “sletlyste” verskyn het, en ’n aantal selfdoodgevalle van slagoffers van die kubergespuis het baie diensverskaffers laat besef hoe skeefgetrek die aanvanklike benadering was, of alternatiewelik hulle bloot laat besef dat hulle aan vervolging blootgestel kan word deur die kubergoggas se identiteit te beskerm.

Daarmee saam het heelwat kubersensuur ingetree, en soms selfs die algehele weglating van leserskommentaar, wat natuurlik ook tot ’n groot verarming van kennis en ’n verskraling van die openbare diskoers lei.

En dan is daar Twitter en die Twitter-gemeenskap. In ’n sekere sin is daar nou twee soorte mense – diegene wat Twitter “het” en diegene wat dit nie “het” nie. Vir veral mense wat van bekendheid afhanklik is, soos politici, is dit amper ondenkbaar om nie op Twitter te wees nie. Hoeveel kleiner sou die openbare diskoers wêreldwyd nie gewees het as pres. Donald Trump nie gereeld getwiet het nie? En hoeveel rustiger kon dinge in die DA nie gewees het as Helen Zille nie getwiet het nie?

‘n Skermskoot uit die video van oudpres. Jacob Zuma se eerste Twitter-inskrywing.

En nou is Zuma ’n ywerige Twitteraar, en ook in sy geval bly die omstrede twiets nie uit nie. Dit is byvoorbeeld moeilik om jou in te dink hoe groot die skade is wat hy aan Ramaphosa se (nie baie suksesvolle nie?) pogings aanrig om die voorgestelde grondonteiening sonder vergoeding ’n fatsoenlike baadjie aan te trek.

Zuma het hom nou ten gunste daarvan uitgespreek dat alle landbougrond in staatsbesit moet wees, wat EFF-beleid is. En dit basies ’n week voor die ANC se verkiesingsmanifes bekendgestel word, en Ramaphosa die belangrike ANC-toespraak bekend as die 8 Januarie-toespraak, die naweek lewer. Geen wonder nie ’n afspraak met Zuma is in die president se dagboek ingeskryf nie.

Analiste is wel deeglik bewus daarvan dat Trump-fanatici in Suid-Afrika erg ontstoke word as daar enige vergelyking tussen Trump en Zuma getref word, al is die vergelykings soms feitelik in die kol. Dat Zuma nou, soos Trump, ’n ywerige Twitter-gebruiker is, hou veel meer as ’n tikkie ironie in. Dit is ook ietwat van ’n verrassing, aangesien dit geen geheim is nie dat Zuma oor bitter min formele geletterdheid beskik, en dat dit hom as president dikwels ’n reuseverleentheid besorg het.

Wie sal byvoorbeeld ooit vergeet van sy eleventy million-toespraak, of sy stelling dat Afrika die grootste vasteland is waarbinne al die ander kan pas? Of sy stelling dat swart mense tradisioneel die droogste en onvrugbaarste grond in die land besit – ’n kluitjie van besonder groot omvang. Sy stelling dat wit mense hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel het hom verskeie klagtes van haatspraak by die Menseregtekommissie op die lyf laat loop, waaraan soos verwag kon word, effektief niks gedoen is nie.

Ook in Trump se geval moet ministers en ander woordvoerders dikwels ná ’n twiet so diskreet as moontlik die drinkwater probeer skoon kry. Op die oomblik word Trump se stelling dat die VSA sy troepe uit Sirië gaan onttrek “omdat Isis verslaan is” deur onder meer die veiligheidsadviseur, John Bolton, in ’n heel ander perspektief geplaas. Bolton het in Jerusalem gesê die VSA sal nie onttrek voor Isis wel verslaan is en die Koerde (die VSA se bondgenote in Sirië en Irak, en dikwels in effek die voetsoldate) se posisie beveilig is nie. (Die Koerde vrees dat Turkye in die afwesigheid van Amerikaanse troepe op hulle kan toeslaan.)

In effek is Trump gerepudieer, en dit nadat die Amerikaanse minister van verdediging reeds weens Trump se voortydige twiet bedank het.

Pres. Donald Trump. (Foto: Ting Shen, Xinhua)

Trump het skynbaar daarin geslaag om Twitter so doeltreffend te gebruik dat openbare steun in die VSA relatief goed behou word, ten spyte van ’n taamlike omvattende volgehoue media-aanslag. So wys ’n analis daarop dat Trump se gewildheid nou ongeveer vyf persentasiepunte hoër is as dié van Barack Obama in die ooreenstemmende tyd van sy bewindstermyne. Obama was in teenstelling met Trump die media se liefling, en kon selde, volgens die oorwig van media, ’n voet verkeerd neersit.

Of nog iemand anders ooit daarin sal slaag om op die oog af die massamedia die stryd doeltreffend met Twitter aan te sê, lyk onwaarskynlik. Dit word immers nie verniet gesê dat geen mens die stryd kan wen teen hulle wat hul ink by die konka aanskaf nie. Voeg daarby dat die inkgedrewe media nou ook kuberweergawes tot hul beskikking het, dan is dit duidelik hoe groot hul invloed behoort te wees.

Die situasie kan uiteraard nie sommer oorvereenvoudig word nie. Talle drukgroepe en ander invloedryke groepe gebruik die kuberruim om hul eie nuusbriewe en ander inligtingstukke werklik wyd te versprei, en so ook die tradisionele massamedia die stryd aan te sê. Baie hiervan steun Trump. Dit kos ook net een ongepoetste omroeper om die veldtog teen Trump enorme skade te berokken.

Wat Zuma betref – met sy toetrede tot Twitter het hy hom nou deel van die Twitter-gemeenskap gemaak. Hy is, verdiend of nie, nou deel van die openbare diskoers waar die meeste invloedrykes soos politieke joernaliste en analiste hulle bevind.

Daarby sorg sy omstrede twiets en die nuutjie van ’n twietende Zuma dat sy twiets wye nuusdekking geniet. Trouens, van die analiste meen dat dit geen solo-poging van Zuma is nie, maar dat hy ruim van advies bedien word, al is dit ook een van sy talle kinders wat tegnologies meer toegerus is as Zuma self.

Feit is, hy het deur Twitter ’n veel groter hoofpyn vir Ramaphosa geword as wat hy daar sonder was.

Tong in die kies kan gesê word gelukkig is Twitter nie so omvattend dat die rooi knoppie (met Trump se knoppie wat groter as Kim Jong-oen van Noord-Korea s’n is) ook deel van die Twitter-toetspaneel uitmaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Therese van Schalkwyk ·

Baie interessant, so ook die verskeie ‘Jaaroorsigte’ gedurende die vakansie!

Dis duidelik dat die groeiende gebrek aan gesonde verstand Twitter problematies maak. Die uitdrukking, “‘n goeie begrip het ‘n halwe woord nodig”, is van toepassing.

Alle redelike Trump-ondersteuners het sy stelling dat Isis verslaan en troepe onttrek gaan word, gelees met dien verstande dat Amerika sy militêre teenwoordigheid in die gebied gaan begin afskaal. Slegs moedswillige, minder intelligente ‘Demokrate’, en diegene wat ‘n permanente staat van volskaalse oorlog voorstaan, sou die betrokke twiet misverstaan.

Te oordeel aan die optrede en taalgebruik van Trump se vyande in die VSA is dit m.i. meer korrek om van “anti-Trump fanatici” te praat.

Jonny ·

Sou jy dan Bolton ook ‘n “anti-Trump-fanatici” noem? Dis goed dat jy Trump se tweets vir soetkoek opeet, maar hou op om nugterdenkende mense uit te kruit as “fanatici”! Dis kommerwekkend dat jy verwys na “minder intelligente demokrate” was skynbaar oorlog honger is!? Myns insiens is dit ‘n ooglopende en algemene oningeligte stelling om te maak.
Teenstrydig met wat hier ter plaatse gebeur het jy geen opinie?
Die feit dat Zuma se tweets sovele meer skade aan ons politieke bedeling kan veroorsaak, hetsy dit sy eie of wie ookal van sy magsbasis gebruik maak.
Sou die nasionalistiese ontwaking van Trump se presidensie dalk vir jou meer rooskleurig wees?

Annie Webb ·

Ek is ‘n Trump-ondersteuner. Omdat hy en sy gesin hul eie gemaklike rykmanslewe prysgegee het om hulle geliefde land en sy gewone mense te red uit die gat van algemene korrupsie van byna alle loopbaanpolitici en amptenary vir baie dekades, en bowenal van die radikale sosialisme van Barack Obama en die kabaal wat hy om hom vergader het. (“The worst president ever”, deur Noonan et al.) Trump werk hom oorhoeks om Amerika weer die kapitalistiese, Westerse, Eerstewêreldse, selfversorgende mag te maak wat dit was voordat dit vernietig is deur globalisme, herverdeling van rykdom van hardwerkende belastingbetalers na Derdewêreldse sosialiste, en Obama se vernietiging van werksgeleenthede en die ekonomie weens sy blinde navolging van aardverwarming voordat alternatiewe energiebronne voldoende ontwikkel was. Die persoonlike aanvalle op Trump uit die linkse hoofstroommedia, Hollywood en die luidrugtiger Dems is pogings om die (denkende) Amerikaanse publiek emosioneel teen Trump te beïnvloed, maar dit werk net vir dié wat sosialisme nodig het om te oorleef, of dié wat ideologies daaraan verknog is en wie se persoonlike rykdom hulle teen die gevolge daarvan beskerm. Om Trump met Zuma te vergelyk, is gewoon absurd, gesien hul basies teenoorstaande politieke uitgangspunte. SA sit stewig aan die ander kant van die politieke spektrum, in sosialisme, en ons vriende is ander in dieselfde ideologiese bootjie, soos Palestina, Iran en Kuba. Maar SAners is nie almal blinde navolgers van linkse propaganda nie en sommige van ons behou die reg voor om groter politieke strominge te begryp.

Gert ·

Dankie tog vir mense soos Therese en Annie wat vir hulleself kan dink en nie inval by die massahisterie oor en teen Trump nie. Dis so ooglopend dat hy ‘n struikelblok vir wereldsosialisme is en daarom so aangeval word.

Jonnie ·

Dis duidelik dat die nuwe beleidsrigting van Amerika nie net kapitalisties van aard is nie. Soos Teresa verwys na die oningeligte demokrate, het Trump goeie ondersteuning van die ver regse groeperings, wat nasionalisties is. Kyk verby kapitalisme en sosialisme en sien hoe nasionalisme bo patriotisme uitstuig, soos wat in baie Europese lande ook gebeur.
Hierdie artikel vergelyk Trump en Zuma, oor tweets of die gebruik van Twitter en maak geensins vergelykings oor hulle politieke ideologië nie.
Dink eerder daaraan hoe die beweging van nasionalisme opstaan teen kapitalisme en wonder hoe dit jou gaan raak, terwyl jy groot lofsange sing vir iemand wat geensins in ons welstand geintriseerd is nie.

Gert ·

Trump is beide ‘n kapitalis en ‘n nasionalis. Vir my is dit baie duidelik dat kapitalisme by verre beter is as sosialisme wat maar net gewettigde diefstal is. Verder is nasionalisme verreweg beter as globalisme, soos die europeers nou begin besef, natuurlik heeltemal te laat. Ek sing dus graag lofsange vir die president van die VSA, wat in teenstelling met sy voorganger, ‘n kapitalis en nasionalis is, en goed op pad is om die skade wat sy voorganger aangerig het te herstel. Hy is wel tot ‘n mate in ons welstand geinteresseerd, maar dis ‘n bysaak.

Annie Webb ·

Die Amerikaanse politiek is só veelvlakkig en interessant dat ‘n mens skaars een aspek in ‘n kort kommentaar kan aanroer, maar die onkunde en oppervlakkige oordele oor pres. Trump deur die Afrikaanse media en publiek is verstommend. Hoekom jou uitspreek oor iets waarvan jy duidelik niks verstaan of weet nie? En hoekom SA politici op enige wyse vergelyk met pres. Trump? Afrika is nie naastenby die VSA nie. Hoekom Trump se nasionalisme vergelyk met Hitler en sy ondersteuners met Nazi’s? Trump se nasionalisme is patriotisme, but what’s in a name? Kyk na sy dade. Ons linkse mediak-narratief getuig van ‘n totale onbegrip van die VSA-politiek, ‘n onvermoë om enige politieke beskouing te beskryf anders as deur oppervlakkige “soos”-vergelyking of skelname. Die wêreld balanseer op die oorgang tussen dekades se humanisme, globalisme en sosialisme wat gelei het tot die migranteprobleem en die linkse media en regerings se paniekerige ontkenning daarvan. Tradisioneel kapitalistiese Europa en die VSA besef waartoe hulle deur politieke korrektheid emosioneel afgepers is en probeer terugkeer na nasionalisme. Die flenters van SA se vorige kapitalisme trek steeds sosialiste uit mislukte state aan, wat ons ekonomie nie kan dra nie. Maar ons linkse media hou hul besig met Trump se haarstyl en twiets of die nuutste oproer oor verbeelde rassisme of ander -ismes of -fobies. Ons verwyt nog mekaar oor apartheid terwyl sosialisme dreig om die Westerse wêreld te verswelg. En Nero speel viool wyl Rome brand.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.