Nuuskommentaar: Tyd om dinge reg te ruk

brexit

Foto: Pixabay.com

Vanaand om middernag tree Brittanje uit die Europese Unie en die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het ’n noodtoestand oor die nuwe koronavirus verklaar, maar Suid-Afrikaners se nuussin word gekaap deur wavragte slegte nuus wat uit korrupsie, onbevoegdheid en rassisme (wat transformasie genoem word). So moeilik soos dit is, moet die silwer randjie gesoek, en behoorlik benut word.

Vannag om middernag onttrek Brittanje hom aan die Europese Unie, al word die onttrekking nog net as ʼn oorgangsmaatreël beskou vir die finale afskeiding wat later vanjaar gaan plaasvind. Dit was ’n stormagtige proses, wat Suid-Afrika, as groot uitvoerder van veral voedselprodukte na die EU, ten nouste gaan raak. Trouens, veral Wes-Kaapse boere het reeds onaangename verrassings gekry toe hulle net ’n halwe appel en ’n pennie en ’n aks vir uitgevoerde vrugte gekry het waarvoor hulle ’n jaar tevore nog ’n handvol euro gekry het.

Volgens ’n verslag oor klimaatsverandering gaan die klimaat in die Wes-Kaap binnekort só verander dat heel anders gedink moet word oor wat waarheen uitgevoer kan word, of selfs geproduseer moet word. ’n Onlangse verslag oor klimaatsverandering in Europa dui aan dat beplanners in Suid-Afrika en Europa deeglik hiervan moet kennis neem sodat oor en weer aangepas kan word.

Kortom. Die implikasies, veral ekonomiese implikasies, sal eers later duidelik word, en daar is nog baie raaiskootwerk vir analiste. Die Skotse hoofminister het ook ’n knuppel in die duiwehok geslinger deur daarop te wys dat kwessies soos die Skotse onafhanklikheid nog aandag moet kry. Ook ander Keltiese bevolkings is nie volkome gelukkig met die Britse siening nie, en die jongste verkiesingsuitslae toon dat al hoe meer Kelte soos die Skotte dink.

Wat ook hiermee saamval is dat persepsies oor globalisering nog vol gate is. Die Engelse strewe weg van die EU kom vierkantig te staan teen die Skotte se onafhanklikheidstrewe – ’n staatkundige “wet” dat hoe sterker ’n sambreel-struktuur soos die EU word, hoe sterker begin minderhede in daardie lande twyfel of die “moederstaat” nog enigsins bestaansreg het. Ander voorbeelde is Vlaandere wie se gesag toeneem teenoor België wat al meer as ’n lastige onnodige struktuur beskou word. Dieselfde, min of meer, het gebeur in Spanje waar die Katalane ook regstreeks by die EU wil inskakel. In België se geval wil veral die Franssprekende akademici en die media niks daarvan weet om België se regering te onderploeg nie. België sukkel al weer om ʼn federale regering saam te stel en die vertraging duur nou al agt maande.

Kortom, om bloot Brittanje se onttrekking aan die EU as ’n stap teen globalisering te prys, is eensydig. Sou die Skotte, Walliesers en Iere se onttrekkingsimptome aan Brittanje nie ook globalisering op sy baadjie gee nie, terwyl die dwarsboming daarvan ook globalisering in die hand werk? Sou Skotse onafhanklikheid nou ’n werklikheid word, kon die soewereiniteitskoors nog sterker wêreldwyd toegeslaan het as die nuwe koronavirus. Voorbeelde is die Friese, Beiere, Vlaandere, Biskaje, eilande soos Sardinië en Korsika, Lombardye en Venesië en ander. Die vraag is selfs in die media gevra hoe pres. Trump se vredesplan in die Midde-Ooste van ’n outonome tuisland uit die apartheidsera verskil.

Dit maak dus sin om eerder op plaaslike vlak te soek na verwikkelinge wat die land gaan raak. Sal Suid-Afrika se uitvoerbeleid meer werd wees as wat dit was? In dié stadium lyk dit of die antwoord eerder in Suid-Afrika as in die EU gesetel is.  Sommer die eerste faktor wat die hande opsteek is dat elke rolspeler se bekostigbaarheidsplan gepaard gaan met die EU se aankooppotensiaal.

Dit is egter hier waar dinge nie te goed lyk nie. Bloemfontein, eens as modelstad beskryf, word nou as bankrot beskryf, maar dis nie die volle verhaal nie. Pas kon die raadslede en senior amptenare nie salarisse betyds kry nie, omdat die staat die munisipalieteit R3,18 miljard skuld, en die raadslede self meer as ’n halfmiljoen rand skuld.

Parys, eens ’n juweel aan die Vaal (nou weinig meer as ’n rioolsloot) het in die 2018/2019 boekjaar ’n verlies van R200 miljoen getoon, terwyl sy laste sy bates met R128 miljoen oorskry. Krugersdorp en omgewing beleef ’n waterkrisis weens wanbestuur. Lees hier, en hier.

Tot betreklik onlangs het Maroela Media-lesers gou gekla wanneer ’n aantal negatiewe nuuskommentare mekaar opvolg. Dié keer, met ’n aantal wat erg negatief was en wat mekaar opgevolg het (lees hier) was daar min wat gekla het. In teendeel, daar is meestal met oorgawe saamgestem. In die verlede was die nuuskommentaarskrywer maklik erg die kop gewas as hy ’n positiewe tema wou aanpak. Dit is deesdae egter baie moeilik om enigsins goeie nuus raak te loop – mislukte staat of nie, die land is in tamatiestraat.

’n Nuuskommentator het nie ’n keuse nie, hy moet die waarheid, goed of sleg, bring. Die goeie kry dus ook periodiek aandag al is dit net ’n silwer randjie wat ontgin word. Positiwiteit is immers aansteeklik. In 2018 was die rente van die VSA op skuld alleen $391 miljard, en dit het verdediging, welsyn en gesondheidsorg uitgesluit. (Lees hier). Die totaal is duiselingwekkend: “When the winner of the 2020 presidential election takes the Oath of Office on January 20, 2021, he or she will assume responsibility for a government that carries about $24 trillion in debt and projected budget deficits exceeding $1 trillion every year for the foreseeable future.”  Lees hier. Tog word die VSA se ekonomie as sterk beskryf. Positiwiteit lei tot positiwiteit en ’n wil om self die hande uit die moue te steek. En ons het dit bitter nodig.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae