Nuuskommentaar: Uit ons demokrasie verneuk

Jacob Zuma. Foto: Flickr/GovernmentZA

Dit is nie ongewoon dat die burgery van ’n land selfs betreklik kort ná ’n verkiesing kan voel die regerende party hou nie by sy mandaat /sosiale kontrak nie, en dat die demokrasie só eintlik gesteel is. Dit blyk immers uit ’n nuwe Amerikaanse peiling. Maar dat die demokrasie op die omvang van dit wat nou voor ons oë ontvou, in die vorm van ’n staatskaping gesteel is, is stellig sonder weerga. Die kapers het wel vyfdekolonners tot hul beskikking gehad, maar die vraag is nou hoe om die land vir die demokrasie te herwin.

Vanuit regeringskringe, en veral uit die mond van pres. Jacob Zuma, gaan daar gereeld stemme op dat die land se onafhanklike howe die demokrasie ondermyn. Die howe is al as deel van die land se opposisie beskryf, soos wat meerderheidsbesluite deur die ANC in die howe omgekeer word. Dit word dan sommer as kapstok gebruik oor hoekom die staat nie by sy ontwikkelingsdoelwitte sou kon uitkom nie – die howe steek net te gereeld ’n stok in die wiel om behoorlike uitvoering te gee.

Maar het die ANC hom nie deur die hantering van die staatskaping skuldig gemaak aan die ernstige verwonding van die demokrasie nie? Dit waaroor die ANC wel so kla, is internasionale praktyk. Op die oomblik word Pole gedreig dat dit sy stemreg in die Europese Unie kan verbeur as deurgedruk word met vier wette wat ten doel het om die howe van hul onafhanklikheid te stroop, en onder die gesag van die minister van justisie te plaas.

Wat die ANC skynbaar as demokrasie verstaan, kom eerder neer op die tirannie van die meerderheid.

’n Regering verkry ’n mandaat van die kiesers, wat ook as sosiale kontrak bekend staan. Nie alles kan in so ’n kontrak en sy fynskrif voorsien word nie, soos dat omstandighede die regering kan verplig om sonder oorleg met die bevolking oorlog te verklaar – iets wat immers nie deel van die regerende party se verkiesingsbeloftes was nie. Tog is dit nie ongewoon dat kiesers meen hulle is deur hul regering aan die hakskeen gebyt nie. In die VSA meen net 23 % van die kiesers die regering het ’n mandaat van die kiesers om te doen wat hy doen. Bykans 60 % van die kiesers meen die regering het nie ’n mandaat vir wat hy doen nie, en ongeveer 20 % meen hulle is nie seker nie.

Maar Suid-Afrikaanse kiesers het rede om te brom. Geen party het immers met die laaste, of vorige verkiesing, aangedui dat hulle ten gunste van staatskaping is nie. Niemand kon dus daarvoor stem nie. En meer as genoeg data het reeds aan die lig gekom om die staatskaping as ’n nare werklikheid te aanvaar.

Volgens getuienis in die dissiplinêre verhoor van diegene wat geoffer word oor die Nkandla-skandaal, het dit in getuienis aan die lig gekom dat daar geen tenderproses was om die kontrakteur aan te stel wat die hoofkompleks gebou het nie. Volgens getuienis het Zuma self aangedring dat die betrokke kontrakteur aangestel word, omdat hy reeds op die terrein was om ander werk te doen. Die demokrasie kon nie vroeër hierop reageer nie, want dit is in die geheim uitgevoer.

En dan was dit boonop nog eerder ’n geval van brouwerk as bouwerk.

Dit blyk boonop ’n onbegonne taak te wees om Zuma af te dank, of om die staatskaping in sy spore te stuit.

Het die demokrasie dan misluk?

Volgens Zuma se vertolking gee ’n verkiesing vir die oorwinnaar grasie (van vervolging weens misdaad, en ’n verskansing teen die gevolge van brouwerk), en hoef hy hom ook nie aan sy ampseed te steur nie. En die sosiale kontrak? Watter sosiale kontrak?

Tog is daar ratte wat stadig, maar seker, draai. Terwyl die ANC, en spesifiek die ANC in Zuma se vesting, KwaZulu-Natal, dissiplinêre stappe instel teen dr. Makhosi Khosa, wat haar teen vergrype in die ANC uitspreek, het die parlementêre komitee oor openbare  ondernemings, die Guptas en Duduzane Zuma, seun van die president, ontbied om vrae oor die staatskaping te beantwoord.

Dit is duidelik dat ’n deel van die ANC nie die staatskaping gesluk kan kry nie. Dit reflekteer immers swak op hulle dat die land so onder hul neuse uitgesteel is. Daar kan selfs, politiek-inkorrek, gevra word of die Guptas se ras nie deel van die verontwaardiging uitmaak nie – Indiërs wat ’n swart regering behoorlik vir ’n ride gevat het.

En dan sal daar stellig ook hier en daar een wees wat afgunstig is omdat hy/sy “oorgeslaan” is toe die ruim lokaas, en later ’n deel van die buit, milddadig van hande verwissel het.

Dit sal interessant wees om te sien of die regering (as deel van ’n paleisrewolusie) self die demokrasie kan herstel. Tog is dit duidelik dat die burgerlike samelewing die spore diep sal moet bly inslaan om te verseker dat die krisis op die een of ander manier opgelos kan word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Basson ·

Wat maak SA so spesiaal dat ‘Afrika nasionalisme’ juis hier anders sou verloop as in die res van Afrika?

Eish ·

Absoluut niks, buiten miskien die aanwesigheid van n klein groepering verdeelde blankes wat al hoe meer besef integrasie is wêreldwyd n mislukking. Die rigting van die politiek, egter, is dodelik in lyn met Afrika, buiten dat daar n vertraagde tempo daaraan is in vergelyking met die res van Afrika. Maar soos n komeet, is dit op die stadium nog dodelik op sy wentelbaan en stort net bietjie ys (Khozas, SAKP, veterane, ens)soos die baan nader aan die son verby beweeg.

Leon ·

Zuma weet duidelik nie hoe dinge werk nie , ons howe is onafhanklik en moet onder geen omstandighede deur enigeen gekaap word nie. Ons kan die Vader dank dat ons regbank hulle nie laat voorskryf deur Zuma en kie nie

Jordaan ·

Nog nie, maar hy probeer hard om daar ook sy vertrouelinge in te kry.

Valie ·

SA kan nie aanspraak maak dat n demokrasie enigsins hier van toepassing is nie. Die grondwet beteken niks as die regerende party en die algemene bevolking nie die wil het om dit toe te pas nie. Die howe mag onafhanklik wees maar dit het nie tande nie. Hoeveel hofbevele word deur die stàat eenvoudig geïgnoreer?

humor ·

Afrika so groot en met natuurlike bronne begunstig dat dit byna die wereld van voedsel kan voorsien en tog ly sy eie bewoners aan ondervoeding. Dis die grootste tragedie op hierdie aarde oor baie eeue heen.. Wat Amerika in bg. skrywe betref glo ek n mens kan selfs trots wees oor wie jou vyand is. Die groot deel van die probleem le opgesluit in die feitelike dat liberalisme so in die mensdom ingewortel het dat dit vir hom moeilik is om hom met konserwatisme te vereenselwig.

Rupert Ashford ·

Goed gese. Verder kan met hierdie sg meningspeilings ook redelik beheer word wat die uitslag sal wees deur die manier waarop die vrae geformuleer word en hoe die steekproef geneem word. En mens kan nou maar aanvaar die liberales dryf tans meeste daarvan en hou nie van die Trump regering nie. Ander peilings se weer Trump sal weer verkies word en selfs verder wen as daar nou weer verkiesing gehou word.

MCH ·

Mnr. Teorien,
Ek het gegoogle, geraai en gewoordeboek, maar tevergeefs. Wat op aarde is n vyfdekolonner?

Adam ·

MCH, vyfdekolonners is ‘n groep mense wat ‘n groter groep mense van binne af ondermyn. Vgl die Guptas wat die ANC van binne af ondermyn.

Adam ·

Eish, die oorsprong van die term dateer uit die Spaanse Burger oorlog. Dit was quinta columna genoem wat in Engels Fifth Column is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.