Nuuskommentaar: Uitdagings te veel om te noem

Pres. Cyril Ramaphosa kyk vir oulaas oor sy staatsredetoespraak by sy amptelike woning in Kaapstad. Hy sal vanaand die staatsrede in die parlement lewer. Foto: Elmond Jiyane/GCIS

Die land beleef soveel uitdagings dat dit moeilik is om te voorspel watter vanaand in pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede (wat ook as parlementsopening dien) aan die bod gaan kom. Media24 se dagblaaie skryf vandag in hul gedeelde hoofartikel dat dit te veel is om te noem.

Baie van hierdie uitdagings is die resultaat van wat hy onlangs “die nege verlore jare” genoem het – ’n klaarblyklike verwysing na die tydperk wat Jacob Zuma die president was.

Dit moet ook onthou word dat die staatsrede in die skadu van later vanjaar se algemene verkiesing plaasvind. Dié verkiesing hou die potensiaal in, al is dit ’n bitter skraal kans, dat die ANC vir die eerste keer sedert 1994 nie ’n volstrekte meerderheid kan behaal nie. Daar is boonop tweespalt in die ANC waar die slang in die gras enige oomblik die Ramaphosa-faksie aan die hakskeen kan pik.

Volksblad berig dat comrade Eisj (Ace Magashule, oud-Vrystaatse premier en nou sekretaris-generaal van die ANC), die Vrystaatse kandidatelys effektief van Ramaphosa-ondersteuners suiwer.

’n Verskerpte rassisme, in die vorm van uitsprake deur leiers van die EFF en BLF, plaas nou bykomende druk op die Menseregtekommissie en selfs die Onafhanklike Verkiesingskommissie. Die Vryheidsfront Plus het voor die EFF se eerste verkiesingsdeelname die OVK versoek om nie die EFF toe te laat om as party te registreer en aan die verkiesing deel te neem nie. Die OVK het geweier, en steeds vloei die rassistiese vitrioel uit daardie party.

Nou doen die VF Plus aansoek dat die OVK nie die BLF toelaat om te registreer nie. Onder die redes tel dat die BLF, volgens sy webblad, net swart lede toelaat (waarby alle nie-wittes klaarblyklik ingesluit word) terwyl sy woordvoerder, Lindsay Maasdorp, bruin is, en wetgewing partye verbied om onder meer ras as kriterium vir lidmaatskap te gebruik.

Gaan die OVK dié keer die wet toepas?

Of gaan Ramaphosa die kwynende Ramaforie laat herleef? Dit sal sommer ’n hele aantal Houdini-toertjies verg. ’n Groot deel van die bevolking sal byvoorbeeld eers weer met entoesiasme vir Ramaphosa reageer as hy omvattende planne aankondig om plaasaanvalle en -moorde hok te slaan. Net so sal hy sy pratery teen sy eie beterwete oor grondonteiening sonder vergoeding moet laat vaar.

Die versengende droogte se negatiewe uitwerking kan slegs teengewerk word deur die beskikbaarstelling van R3 miljard.

En gaan Ramaphosa die situasie met die vyf ambassadeurs wie se vertroulike besprekingsdokument uitgelek het, en handel oor kommer oor korrupsie en die versuim om sigbaar en hard op te tree, grondgrype sonder vergoeding, BEE ensovoorts nou doeltreffend besleg? Hierdie lande is die lande van herkoms van 75% van buitelandse beleggings in Suid-Afrika.

Een van Ramaphosa se vernaamste probleme, oor wanneer die geskikte tyd sal wees vir Ramaphosa om ’n Blitzkrieg uit te voer om van die verrotte deel van die ANC ontslae te raak, word netjies deur Barnard Beukman, redakteur van Beeld, in ’n rubriek onder die loep geneem. Alles dui daarop dat tot ná die verkiesing gewag sal word.

Kwellende vrae, soos wanneer die staatskapingsonthullings wat Zuma en verskeie ministers betrek, ook tot hul vervolging gaan lei, sal dus waarskynlik nie nou regstreeks aandag kry nie. Dit sal egter interessant wees om daarop te let of hy iets so tussen die lyne gaan laat blyk.

Pres. Donald Trump lewer sy staatsredetoespraak in Washington (5 Februarie 2019). Foto: Andrew Harnik/AP

Wat ná die staatsrede gaan gebeur is dat analiste, insluitend dié van die media self, die toespraak gaan ontleed. Dit is presies wat met die Amerikaanse staatsrede wat pas deur Trump gelewer is, gebeur. Los Angeles Times beskryf die proses so:

‘Fact-Checking Trump’s State of the Union
“Together, we can break decades of political stalemate.… Tonight I ask you to choose greatness.” That was the sentiment President Trump expressed near the beginning of his 82-minute State of the Union address, one of the longest on record. (Read the full text here.) By the end, he had hit upon topics including criminal justice, drug prices, trade, infrastructure, healthcare, national security, curing childhood cancer and ending AIDS in America. He also announced that the second summit with North Korean leader Kim Jong Un will be Feb. 27-28 in Vietnam. But he spoke the most about one of his most divisive issues — illegal immigration and his proposed wall along the border with Mexico — and threw in plenty of jabs at Democrats and “ridiculous partisan investigations,” prompting more than a few eye rolls from House Speaker Nancy Pelosi. So what did Trump get right and wrong in his speech, one that had two conflicting missions? Our fact-checkers worked overtime to break it down for you here.’

Onder die Zuma-bewind is die indruk gewek dat dit meer oor die pronk en praal, en selfs magsvertoon wat met die parlementsopening gepaard gaan, gehandel het as die inhoud van die president se toespraak. Met Ramaphosa aan die stuur is afgeskaal op die vertoon-aspekte. Die verwagting is dat daar nou veel meer waarde geheg kan word aan Ramaphosa se toespraak.

Mag hy nou die regte dinge sê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Afrikaner ·

Herman, jy het alle aspekte van kommer en wat aandag verg in ‘n neutedop saamgevat, ook dat hy iets aan rassisme sal moet doen, hy staan mos agter die deur, sy beleid is dan daarop geskool, want hy het nie ‘n ander wortel om aan die stok te hang nie, maar so kan dit nie aangaan nie.

Die groot vraag is of die kabinet die kapasiteit in denke het wat hy positief met hom op so ‘n reis kan saamvat, dis nou die reis wat hy behoort te volg, soos deur jou uitgelig.

B ·

Ons verstek lewens- en werlikhedsbeskouiing is inherent Westers, dus is daar weinig sinchronisasie met ‘n Afrikanistiese / ideologiese benadering.

Ewigdurende frustrasies en konflik sal dus ons voorland bly tot die dag dat ons in beheer is van ons eie lotgevalle.

Sarel ·

100% reg en hy sal ook nie vanaand die weerligafleier bêre nie.

humor ·

B jy het hom nou in enkele woorde reg gese. Stem 100% saam met jou.

Hennie ·

Die sogenoemde 9-verlore jare is eintlik maar net 9-ANC jare. Niks meer en niks minder nie!

Meerkat ·

Kom ons gee hom die voordeel van die twyfel en gee hom ‘n nuwe naam. Wat van Negejaar-Cyril?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.