Nuuskommentaar: US-taalstryd hartseer, maar die toekoms van Afrikaans allermins

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

Vandag vind daar ʼn protesoptog by die Universiteit Stellenbosch (US) plaas oor die universiteit se beplande hersiene taalbeleid. Dit is die jongste gebeure in die taalstryd wat Afrikaanssprekendes teen die universiteit se taalonverdraagsaamheid voer.

Dié protesaksie is deur die DAK Netwerk, ʼn groep vir voorheen benadeelde Afrikaanssprekendes, gereël. As deel van die protesaksie het Danie van Wyk, voorsitter van die DAK Netwerk, reeds ʼn griefskrif aan die deure van die hoofingang vasgespyker soos wat Martin Luther dit in Wittenberg gedoen het. Die griefskrif bevat 14 stellings wat sekere eise aan die universiteit daarstel. Die eise sluit in dat Afrikaanse studente hul studie in Afrikaans moet kan voltooi en dat Afrikaans as inheemse taal erken moet word.

Enigiemand wat die gebeure sover vandag gevolg het, sal ook sien dat die optog oorweldigend uit bruin Afrikaanssprekendes bestaan. Dit maak natuurlik sin. DAK is ʼn organisasie wat spesifiek op die belange van voorheen benadeelde Afrikaanssprekendes fokus – dit is oorwegend die bruin Afrikaanssprekende gemeenskap. Verder het die US, as ʼn universiteit in die Wes-Kaap, ʼn voergebied wat oorweldigend uit bruin Afrikaanssprekendes bestaan.

Die Afrikaanse gemeenskap in die suide van die land lyk demografies heelwat anders as in die noorde. Hierdie twee gemeenskappe verskil wesenlik in gemiddelde ouderdom, opleidingsvlakke, sosio-ekonomiese welstand, geskiedkundige ontwikkeling en uitdagings, kultuur asook in die probleme waardeur die gemeenskap geteister word. Demografies is dit twee verskillende gemeenskappe.

Die Universiteit van Pretoria (UP) en die Universiteit van die Vrystaat (UV) wat verengels het, het daarom ʼn ander groep geraak as wat die US se verengelsing raak. Die UP en UV wat in die noorde van die land gesetel is, het veral die wit Afrikaanssprekende gemeenskap geraak, omdat die demografie van Afrikaanssprekendes in die noorde oorweldigend wit is. Die US se taalstryd het egter weer ʼn geweldig negatiewe uitwerking op die bruin Afrikaanse gemeenskap – juis omdat dit in die suide van die land gesetel is.

Dit is ook natuurlik die ongelooflike hartseer ironie van die US se verengelsing. Afrikaans wat uit openbare ruimtes gedwing is, is grootliks gedoen uit weerwraak teen Afrikaners – weens apartheid is die regering se antagonisme teenoor Afrikaners spesifiek absoluut onontkenbaar.

Nou ly die res van die Afrikaanssprekende gemeenskap egter ook hieronder. Dít ook nog die deel van dié gemeenskap wat dit die minste kan bekostig om moedertaalonderrig te verloor. Bruin Afrikaansprekendes is een van dié swaks opgeleide groepe in die land met slegs 4,5% van mense wat tersiêre opleiding het – dit teenoor Suid-Afrika se gemiddeld van 11,8%.

Dit is ʼn absolute tragedie dat dié bevolkingsgroep ook nou onder die vaandel van verdraagsaamheid, diversiteit, inklusiwiteit en meertaligheid van moedertaalonderrig ontneem word. Dit is bruin mense wat disproporsioneel hierdeur benadeel word. Dit is dus hulle geveg om te verloor – dit is hulle moedertaalonderrig wat op die spel is; Afrikaners is dit lank reeds kwyt in die noorde.

Danie van Wyk se simboliese vasspyker van die eise is om ʼn paar redes ongelooflik belangrik.

Eerstens is dit die aktiewe teenstand teen taalonderdrukking. ʼn Taal kan nie uitsluitlik oorleef in die monde en harte van sy sprekers nie, maar het hoër funksies nodig om noemenswaardig voort te bestaan. Dit is dus ʼn aandringing op die beskerming van hoër funksies en daarom op die waardige voortbestaan van die taal.

Die feit dat die DAK Netwerk hierdie optog bedryf en gereël het, is ook noemenswaardig. Daar bestaan lank reeds ʼn vrees vir en probleem van apatiese onbetrokkenheid onder die bruin Afrikaanse gemeenskap. In ʼn onlangse artikel van Heindrich Wyngaard, skrywer en radio-aktualiteitsaanbieder, druk hy ook hierdie bekommernis uit. Hy stel tereg dat dit nou tyd vir die bruin Afrikaanse gemeenskap is om in die voorste gestoeltes te gaan sit – nie om vir aalmoese te wag nie, maar eerder om groot te dink en groot te doen. Dit is tyd vir die bruin Afrikaanssprekendes om nie as ʼn aanhangsel van Afrikaners op te tree nie, maar eerder as ʼn eie volwaardige gemeenskap wat nie staatmaak op ander nie, maar wat sélf sy lot bepaal.

DAK se optrede vandag raak dit egter aan. Vandag se optrede spreek van ʼn selfstandige bruin Afrikaanse gemeenskap wat sy eie interne energie in eksterne dade en teenstand omsit. Dit spreek van ʼn gemeenskap wat nie gaan sit en wag vir iemand anders om sy taal te red nie, maar wat self aanspraak gaan maak op waardigheid, erkenning en beskerming. Dit spreek van ʼn gemeenskap wat sy eie lot bepaal deur sterk standpunt in woord en daad in te neem vir dit wat hy belangrik ag.

Dit herinner weer aan die gedagte van “ons sal self, maar nie alleen nie”. Weens die taalstryd in die noorde het Afrikaners lank reeds geveg, verloor en met ander oplossings vorendag gekom. Dit het ook gespruit uit interne energie wat in daadwerklike, strategiese dade omgesit is. Die oplossing van die nederlaag was nie om in assimilasie op te gee nie, maar eerder om eie ruimtes vir moedertaalonderrig te bou. Dít is die rede waarom Sol-Tech en Akademia vandag as bastions van selfstandigheid, doelgerigtheid en kulturele selfvertroue staan. Hierdie ruimtes kan net bestaan en ontstaan indien ʼn doelgerigte en selfstandige kultuurgemeenskap dit dryf en steun.

Vir ʼn groter stelsel van kulturele selfstandigheid en outonomie om te ontstaan, is dit egter belangrik vir verskillende gemeenskappe om verantwoordelikheid vir hulself te neem. Hoe sterker elke gemeenskap intern is, hoe sterker sal die gemeenskap van gemeenskappe kan wees. Sodoende sal selfstandigheid binne en samewerking tussen gemeenskappe lei tot ʼn beter grondvlakwerklikheid wat mettertyd geskep word. Een waarin elke gemeenskap verantwoordelik is vir die kulturele ruimtes wat hy wil hê en beskerm. Een waarin ons multikulturele samelewing nie op die altaar van monokultuur, verengelsing en assimilasie geoffer word nie, maar die ruimtes het om te floreer.

Vandag is eintlik ʼn goeie dag vir Afrikaans, bruin Afrikaanssprekendes en kulturele selfstandigheid. Vandag spreek daarvan dat Afrikaans en sy hoër funksies deur kulturele selfstandigheid, doelgerigtheid en selfvertroue sal voortbestaan en floreer. Dit is nie weens die staat nie, maar deur die gemeenskap wat die taal sal voortleef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
PdB

Omdat Afrikaners in Afrikaans dink, bid en droom, is dit belangrik dat die taal tred hou met die wetenskap, die reg en algemene ontwikkeling. Dit is wat US en Stellenbosch aan sy mense en inwoners verskuldig is!!

Sarel

Ironie is Engels is nie Inheemse taal nie nasr die van die laaste Koloniale Owerheid. Maar nienand kan of wil antwoord hierop nie.

Skim

My vraag is eenvoudig: Hoekom moet ons Afrikaanssprekende kinders, Bruin en Wit, gestraf word vir apartheid waarby geeneen van hulle betrokke was nie? US was nog altyd ‘n baken vir Afrikaans. ‘n Prestige Universiteit waarop ons Afrikaanssprekende mense trots was. Ek ondersteun die groepe wat nou veg vir ons taal. Vir my is dit teleurstellend en hartseer dat my Alma Mater, NWU, so maklik afstand gedoen het van hul Afrikaanse erfenis. Wonder wat sou Totius en TT Cloete hieroor te sê gehad het…

Nico

Nadat die Britse setlaars in 1820 aan die Kaap aan gekom het, is die voortrekkers die binneland in vir beter blyplek, eie skole, eie kerke te begin. So Engels is ‘n ingevoerde taal. Die Duitser, Franse. Spanjaarde en Turkey weier om Engels te praat, nou hoekom moet ons hierdie rooi taal praat, nadat die Britte hoeveel vrouens en kinders weeraardig vermoor het die sogenaamde konsentrasie kampe “moordkampe”. Olof Bergh die joiner het van swartes gebruik om die vrouens en kinders op die plase te vermoor en te verkrag. Engels is die taal van die ANC.

JM

Die ANC haat kolonialiste, maar praat met oorgawe Engels, wat ‘n koloniale taal is! Logika is by die agterdeur uit.