Nuuskommentaar: Utopiese denke en Ramaforie by die Zondo-kommissie

Pres. Cyril Ramaphosa tydens sy getuienis voor die Zondo-kommissie. (Foto: Themba Hadebe/AFP)

President Cyril Ramaphosa het die afgelope week as leier van die ANC voor die Zondo-kommissie getuig. Die doel hiervan was om uit te vind waar presies wat alles fout gegaan het en waarom die ANC, en Ramaphosa self, dit eers so laat besef het.

In Ramaphosa se getuienis het hy verduidelik hoe die ANC die bal laat val het, die mense van Suid-Afrika teleurgestel het en van hulle aanvanklike ideale afgewyk het. By nadere ondersoek van Ramaphosa se getuienis is daar steeds baie groot en belangrike vrae te vra. Veral wanneer dit kom by hoe lank dit die ANC, Ramaphosa ingesluit, geneem het om “bewus” te raak van korrupte gebeure.

Ten spyte hiervan was Ramaphosa se getuienis nie ʼn spektakel soos dié van oudpresident Jacob Zuma byna elke keer is nie – ongeag die meer twyfelagtige inhoud van sy getuienis was die voorkoms daarvan heel presidensieel.

Hierdie getuienis was sodoende ʼn absolute droom vir diegene wat steeds in die moontlikhede van Ramaforie glo. Ramaphosa was uiteindelik besig om eerlike eienaarskap te neem vir dit wat verkeerd gegaan het met die ANC. Ramaphosa se presidensiële getuienis is gesien as ʼn terugkeer na die nuwe dagbreek. Uiteindelik was die ANC, en daarmee saam ook Suid-Afrika, terug op die regte pad – net weens Ramaphosa se bereidwilligheid om te lei.

Adriaan Basson, redakteur van News24, het reeds op die eerste dag van Ramaphosa se getuienis gesê:

“Let’s take a pause and acknowledge how healthy and encouraging it is to see a sitting president being questioned by senior advocates in full public glare. It is a very democratic moment and we should acknowledge that too.”

Hiermee het Basson bogenoemde sentiment verwoord.

Eerder as om te oorweeg dat Suid-Afrika weens die ANC se idees misluk het, word dit gesien as ʼn terugkeer na die ANC se goeie plan. Eerder as om fundamenteel te bevraagteken waarom presies die ANC is waar hulle vandag is, word dit gesien as die herverbinding aan aanvanklike ideale. Eerder as om te vra of die ANC se idees en politieke bestel dalk ongeskik vir Suid-Afrika se grondvlakwerklikhede is, word dit gesien as ʼn herstel van die reënboog-droom en -plan.

Sodoende sien ons die utopiese denke fundamenteel aan die ANC in aksie – denke wat ʼn verbeelde perfekte, foutlose en sondelose wêreld beskryf en voorskryf.

Utopiese denkers se beginpunt is dat alles op ʼn sekere manier moet werk en wees. Enige iets “goed” of “reg” wat bereik word, is daarom ʼn blote stap in die regte rigting. Dit in teenstelling met konserwatiewer denkers wat begin by die voorveronderstelling dat alles in die wêreld eintlik sleg en gebroke is – sodoende is enige iets goed wat bereik word nie ʼn gegewe nie, maar ʼn wonderlike prestasie.

Daar is nooit iets fout met utopiese denke self nie, maar eerder met iets ekstern. Sodoende is hierdie tipe denke net een regte beleidsverandering, een goeie leier en een deeglike rewolusie van ware utopie af.

Ramaphosa is vir diegene wat steeds aan die utopiese denke vashou, die regte leier wat die deurslaggewende verskil gaan maak. Die fout het nog nooit gelê by hulle denke nie, maar eerder by die feit dat hulle nie die regte leier tot dusver gehad het nie.

Daarom was Ramaphosa se getuienis ook vir dié mense die toonbeeld van die terugkeer na die utopie. Daar waar die ANC misluk het, was dit nie omdat hulle beleid sleg is nie, maar eerder omdat hulle juis daarvan afgewyk het in korrupsie, patronaatskap en oneerlikheid. Die fout lê nie by die wanpassing tussen ANC-denke en die land wat hulle regeer nie, maar eerder by hulle praktiese implementering daarvan.

Utopiese denke wat in praktyk misluk, is altyd toe te skryf aan ʼn fout in toepassing. Daarom het utopiese denke eintlik glad nie die vermoë om kritiese introspeksie te doen nie.

Daarenteen behels die konserwatiewer aanslag om te kyk na wat werk en dit te behou en so ook te kyk na dit wat nie werk nie en dit stadigaan te verander. Utopiese denke kyk vas in die prentjie op die legkaartboks, ongeag die beskikbare stukkies. Konserwatiewe denke kyk na watter stukkies beskikbaar is, hoe hulle werklik in mekaar kan pas en so ook wat die mooiste moontlike prentjie is wat gebou kan word – of dit nou pas by die prentjie op die boks of nie.

Omdat utopiese denkers bly vasklou aan die prentjie, het hulle nie die vermoë om by die werklikheid van die wêreld en die mens aan te pas nie. Wanneer iets fout gaan, keer hulle al strenger terug na die utopiese prentjie. Wanneer dinge ineenstort, moet die orde herstel word in ʼn rewolusie – juis om die utopie te verwesenlik. Siende dat die utopiese prentjie reg is, is radikale omverwerping regverdigbare optrede om dit te laat verwesenlik.

Dit beteken bloot dat volhoubare vooruitgang vir ʼn samelewing onder utopiese denke feitlik onmoontlik is. In die strewe na die utopiese denke word nie net die werklikheid verontagsaam nie, maar ook dit wat goed is. Die hele punt van rewolusies is dat alles wat as sleg gesien word, omvergewerp word saam met dit wat goed is.

Die ANC is fundamenteel ʼn rewolusionêre en utopiese party. Daarom gaan hulle ook vashaak by die rasse-Marxistiese “reënboognasie”-prentjie wat hulle as ideaal vir die staat voorhou. Alles wat nie daarby inpas nie, behoort verander te word in die nasionale demokratiese rewolusie (NDR). Alles wat dalk langs die pad sleg gaan, is ook nie so belangrik soos die najaag van die ideaal nie.

Daarom is Ramaphosa se verskyning voor Zondo byna irrelevant. Veral gegewe sy blywende lojaliteit aan hulle utopiese, rewolusionêre party-ideologie. Sodoende is dit nie ʼn radikale ommekeer na iets beter nie, maar eerder ʼn terugkeer na dieselfde denke wat dié omstandighede geskep het. Dit is egter nie ontmoedigend as jy bereid is om die werklikheid onder die oë te sien nie. Solank as wat die ANC verlangend na die legkaartboks staar eerder as om ʼn beter legkaart te bou, kan mense met beter idees die stukkies tot hulle beskikking daadwerklik in ʼn beter prentjie neersit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

LANA is ELANè ·

Dit is hoekom ek v dag een af sê die hele Zondo komissie is ‘n klugspul wat net nog geld vd belastingbetaler verg.
Als word ten duurste ondersoek, al vir altyd, en steeds is daar gedurig nuwe ondersoekeenhede wat gestig word om die grootwordende sg korrupsie oop te vlek, waarvan dadels kom.
SA is nou maar eenmaal SA, gebou op die bloed van plaasboere en ander en dan nou natuurlik op korrupsie deur die einste regering wat veronderstel is om die vlaag v korrupsie uit te roei.

Jack ·

Ja, ek twyfel of daar veel goeds vanuit Zondo sal voortkom. Maar aan die ander kant, die masker is finaal van die ANC afgeruk. Die ANC is inherent moreel verrot, was dit altyd, sal dit altyd wees. Na Zonfdo het baie mense se oë finaal oopgegaan. Vandag het daar op Politics Web sowaar ‘n artikel verskyn wat iets positiefs oor die apartheid era gesê het .

Kobus ·

Beteken dit nie dat die ANC skuldig is aan hoogverraad en dus as regering moet bedank nie? Beloftes van regstelling beteken niks

JohanR ·

En nog geen ANC is tronk toe nie. Die tronk toe moet by Ramaphosa begin want hy het geweet en was selfs daarin betrokke. Nie my president nie!

Blikkies ·

Hy se net wat die bevolking graag wil hoor. Ek glo nie sy stories nie en persoonlik vertrou ek hom glad nie. Hy is deel van die Vrot en het van alles geweet.

Mariana ·

En steeds is dit nog net blah, blah, blah……ANC moet gaan punt. Hulle het die land op sy knieë en Ramapoza is net so skuldig soos die res.

Vrijburger ·

Puik ontleding.

Ps. Ramaforie is vir mense met kort geheues en liberale brille. (Onthou, Ramaphosa was die hoof onderhandelaar vir die ANC voor ’94. En hoeveel van daai ooreenkomste is in stand gehou, indien enige? En vir hoeveel van die ANC korrupsie het hy hom blind gehou? )

Jacobus ·

Die “bottom line” – ons het opgeneuk -“so what”. Lewe in ons silo’s is baie lonend behalwe vir Suid Afrika en meer spesifiek, die belastingbetaler.

Genis ·

Nou wanneer gaan hulle terug Robbin Eiland toe? Of in n tjoekie in die stad? Wanneer word al die geld verhaal, en lewenstyl audits gedoen? Of is dit nie beskore vir die miljoenets ANC klubs nie?

Tiptol ·

Net praat en getuig gaan niks bereik nie. Daar moet aksie geneem word. Die beloftes verander nou al te veel jare in teleurstellings.

Piet ·

Soos all ANC lede, praat b aie en se niks.
Enigeen wat glo dinge gaan verbeter dink seker ook Rooikappie was n Voortrekker heldin.

Pietertjie ·

En daar sal ook dadels van al die beloftes kom. Die Engelse noem dit “track record”. En “watch this space”.

Elsabe ·

We will never hear the truth, the whole truth and nothing but the truth.

Jack ·

Iets wat aansluit by wie mnr r nou eintlik is is die storie van sy plaas in limpopo wat deur mnr cele se manne bewaak word. Maw die staat se fondse en kapitaal word gebruik vir sy privaatdoeleindes wat niks minder as korrupsie is nie. Of word dit onder die wet van die blouligte ingesluit om dus daarmee weg te kom.

Wikus ·

Ja, terwyl julle Utopiese Ramaphoriërs besig is om Ramaphosa te loof en te aanbid, hou hy en die ANC julle aandag gevestig op absolute leë beloftes en feëverhale.
Vergeet almal van sy grondhervorming beleid?
Vergeet almal dat terwyl Zuma skaamteloos en sonder n vrees vir vervolging besig was om die koffers te plunder, dat Ramaphosa die adjunk president van die land was?

annie ·

Die vraag is net: Waarom klou die ANC so aan die idee dat dit eintlik foutloos en sondeloos was en is en gevolglik alles mag opeis wat engele toekom? Alle foute word deur ‘ander’ se toedoen bewerk. Zuma, die beeswagtertjie, is bv deur slinkse vriende verlei en staatsamptenare deur bose ‘ander’. En so word die sg gewete se rol totaal uitgewerk uit alle eie optrede. Kyk na Mandela, wie sou dit waag om iets slegs aan die volmaakte en wyse verontregte leier en bevryder van die swart ras toe te dig? Toe, waag dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.