Nuuskommentaar: Vader Cyril, slaap jy nog?

Cyril Ramaphosa (links) en Jacob Zuma. Foto: GCIS

Selde is so ’n groot ommekeer in ’n land se historiese verloop verwag as nou met Cyril Ramaphosa wat sake uit Jacob Zuma se hande gewring, en skynbaar reggeruk het.

’n Euforie het losgebars oor die presidentskap van Ramaphosa. Vroeg vanoggend berig die BizNews dat die “Cyril Lente” aangebreek het, en dat dr. Frans Cronjé, hoof van die Instituut vir Rasseverhoudinge, voorspel het dat die Ramaphosa-effek so kragtig is dat die land se GDP die volgende jaar met 1,9% gaan verdubbel, wat ’n $4 miljard spoedig aan die SA-ekonomie toevoeg.

Daar is twee kwessies wat getoets gaan word. Die eerste is Ramaphosa se verbintenis tot grondwetlikheid. Dit is onder meer omvattend deur die Afrikanerbond uiteengesit, wat ’n skerp oog gaan werp op die grondwet se bepalings oor kultuurkwessies, en in die besonder taal. ’n Afspraak hieroor is reeds met Ramaphosa aangevra.

Die tweede kwessie, wat soos ’n brommer rondhang, is Ramaphosa se uitsprake tydens die ANC se leierskapsverkiesing in Desember, dat die grondwet gewysig sal word om grondgrype sonder vergoeding moontlik te maak. Ramaphosa het allerlei voorwaardes wat grondgrype eintlik onmoontlik maak gestel, maar die feit is daar word gebou aan Ramaphosa as ’n man van sy woord…

Hopelik bring sy staatsrede vanaand groter opklaring.

Oor beide kwessies is al boekdele geskryf, en veral sedert die konstitusionele hof in ’n meerderheidsuitspraak ’n aansoek om appèl van onder meer AfriForum oor Kovsies se taalbeleid afgewys het, loop hoofregter Mogoeng Mogoeng en sy swart mede-regters vanuit verskeie hoeke skerp onder kritiek deur. Onder baie Afrikaanssprekendes is die vertroue in die konstitusionele hof erg vertroebel.

Die kwessie het wel ’n lang aanloop. Jan Bosman, hoofsekretaris van die AB, skryf hoe beloftes oor hoër onderwysregte in Afrikaans reeds vroeg deur die Zuma-administrasie verbreek is: “Ons onthou maar te goed ʼn ete met ʼn aantal Afrikaners op 11 Maart 2010 saam met mnr Jacob Zuma by Mahlamba Ndlopfu, die presidensiële woning in Pretoria. Op ʼn pertinente vraag van die Afrikanerbond oor die toekoms van Afrikaanse skole en universiteite het hy net die teenvraag gevra: Is dit werklik onmoontlik om ʼn oplossing te kry? Hy wil nie hê “mense moet uitgesluit word van universiteite nie, maar as dit hulle (wit en swart) behoefte is om in Afrikaans te studeer moet die geleentheid daar wees”.

Hy het toe onderneem dat ʼn klein werksgroep gevorm sal word om aandag te gee aan hierdie en ander belangrike kwessies. Ten spyte van vele herinneringe deur korrespondensie is daar nooit reaksie ontvang nie. Inteendeel,  hy  was instrumenteel daarin om taal- en ander kultuurregte nog verder te verskraal. Die hoeveelheid hofsake oor taal en onderrig in die laaste paar jaar is die sigbare bewys hiervan. Ongelukkig is die eens oop en gemoedelike verhouding tussen die president, die regerende party en Afrikaanse organisasies ernstig geskaad in dié tydperk.

Zuma het strykdeur ’n probleem ervaar om sinvol inhoud te gee aan daardie dele van die grondwet wat as ampseed die dien van die beste belange van “al” die land se mense vereis.

Gaan Ramaphosa dit weer skoonspuit of gaan hy in die styl van Thabo Mbeki afsydig daarteenoor staan as sou dit ’n afgehandelde kwessie wees en nie meer deel van die openbare gesprek nie?

Ramaphosa behoort ook te besef dat grondgrype sonder vergoeding die land se ekonomie in duie sal laat stort. Die waarde van vaste eiendom speel net ’n té belangrike rol in die verkryging van produksiekapitaal sodat daar oeste kan wees, en bedryfskapitaal vir ekonomiese uitbreiding beveilig is. Versteur dit en die domino-effek is skrikwekkend. Gebouekapings in Johannesburg (en elders) maak ekonomiese opheffing in vervalle sentrale sakegebiede feitlik onmoontlik. Dis makliker en veiliger om eenvoudig elders vars te begin en dit wat agtergelaat word in misdaadhole te laat ontaard.

Dit is moeilik om enige faktor in te dink wat sal keer dat grondgrype sonder vergoeding nie ’n domino-effek van ekonomiese verval sal afgee nie.

Vir Ramaphosa lê die moeilike taak voor om euforie en kommer in ’n realisme te versoen. Dit help baie dat die Valke en die Batebeslagleggingseenheid met soveel mening toegeslaan het ná dit duidelik geword het Ramaphosa kry neus voor in die magstryd met Zuma. Een van die Gupta-broers word sommer op Ramaphosa se inhuldigingsdag ’n vlugteling voor die gereg.

Ingrypend gaan die veranderinge wees, maar u gaan soggens steeds die slaap-spinnerakke met ’n koppie Jacobs-koffie verdryf. Dit word nie eensklaps Cyril’s Boeretroos nie. U sal saans steeds aan ’n glasie van Jacobsdal se wyne teug, nie ’n glasie van Cyril’s Winery nie.

En die kleintjie sal soggens steeds wil hoor hoe ma sing van Vader Jacob wat nie wakker wil word nie. Cyril moet liefs teen daai tyd lankal wawyd wakker wees…

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Jordaan ·

Hy is ons ook ‘n verduideliking verskuldig oor die “padda in warm water” vergelyking wat hy sou getref het met wit mense, al het baie jare reeds verloop sedert hy dit glo gese het.

Tom ·

En baie jare later sien ons dis presies wat gebeur het… En nog steeds gebeur.

Johann ·

Die AFRIKANER BOND? Min of meer watter en hoeveel “Afrikaners” verteenwoordig hulle met watter mandaat? Behalwe ZUMA se ooglopende ANTI AFRIKAANS EN BLANKE ANC LEFGACY… kan ek dink hy en die ANC en CR vra presies dieselfde vraag. Wies julle in vandag se relevantheid? Om nie te praat van hulle geskiedkundige verwysing nie.

Ou Leierskap Vlakvark van Beskeieheuwel ·

Geagte Johann,

Niks keer jou om self leierskap te wys en die Afrikaners te mobiliseer nie. Just do it. Kom ons wees opbouend.

Jerry ·

Net soos die kwessie getoets sal word van CR se verbintenis tot grondwetlikheid, so sal die Afrikaner se verbintenis tot versoening getoets word, of dit nou die AB of Afri-Forum of wie ookal is. Geeneen van die organisasies slaag tans die toets van versoening nie want versoening verg dat geen groep ander groepe mag uitsluit by inisiatiewe en veral inisiatiewe wat net die belange van een groep bevorder. Die tweede kwessie rondom die verandering van die grondwet vir grondgrype is n gegewe maar met voorbehoud dat dit nie voedselsekerheid in gedrang sal bring nie. Dit is tog reeds duidellik deur CR verduidellik. Dit is ook duidellik dat CR homself verbind tot die opheffing van 9.3 miljoen werklose Suid-Afrikaners. Hy gaan beslis nie tyd he om na die Afrikaner se gekla en gekerm te luister nie. Afrikaner, slaap jy nog?

Paul ·

Fluit fluit …. my Tom en Jerry storie is uit. Mens kan Max, Christie en Ander Afrikanerbashers daarby insluit, wat so saam in die koor op een noot vashaak. Dus as die Afrikaner nie dit doen nie…… As die Afrikaner nie dat doen nie……. ens ens

Opbouer Jan Piet Henk Erdvark van Liefdesfontein ·

Beste Jerry,
Ek hoop en vertrou dat alle Suid-Afrikaners lesse geleer het uit die afgelope 10 jaar se Suid-Afrikaanse politieke opset. En dat ons die uitdagings vir ‘n beter Suid-Afrika met passie sal aanpak.
Mag elke Suid-Afrikaner in Suid-Afrika op sy eie beskeie manier leierskap toon ter bevordering van vrede, veiligheid, reg en geregtigheid, en ‘n voorspoedige toekoms. Mag ons as Suid-Afrikaners gesien word omgee-mense te wees, burgers van ‘n omgee-vir-mekaar Suid-Afrikaanse samelewing. Mag ons aan andere doen wat ons verlang hulle ook aan ons moet doen. Dit is tog die Goue Reël van die Lewe.

Alida ·

Ons as lesers moet asb nie dink CR kan hierdie land regruk in een dag nie. Hy het nie ‘n towerstaf nie. Gee die man kans om sy voete te vind, ontslae te raak van die onbekwame ministers en te vervang met mense met integriteit. Hierdie goed neem tyd. Hy weet waar al die stukkende skakels is en sal dit regmaak met tyd. Alles neem tyd. ‘n Goeie begin was om die Gupta gevolg te vervolg. Nou nog net al die ministers wat gedeel het in daardie geld. Hier kom ‘n paar groot verrassings. Almal moet vervolg word en afgedank word sonder vergoeding.

Wessel ·

Elke keer as ek jou kommentare lees, kom die volgende name by my op; Max, Jerry en die Seunse Weenkoor.

John ·

Jerry, lees gerus wat skryf Rapule Tubane vandag in Beeld oor CR, in kort, ons moet waaksaam wees, mag nie laat slaplê nie..

Vermeende ·

Herman een van jou beste skrywes nog.
Die magstryd in die ANC is groot en CR sal moet lewer om te kan bly, as hy gelig sou word in die volgende 10jaar wat sou dit aan sy geloofwaardigheid doen as sakeman???
CR gaan die NUG tevrede hou, ons kan daarop staatmaak.

CHARMAINE TROLLIP ·

geagte Mnr die president maak asb ons south afrika se grense toe en stuur almal wat nie hier moet wees nie terug na hulle eie lande dis al wat ek vra

Jerry ·

Opbouer, gelukkig weet ek van beter as om vir jou soetsappige storie te val. Die Afrikaner het voor 1994 die goue reel wat jy so skynheilig aanhaal nie nagekom nie en tans is Afri-Forum ook nie besig om dit na te kom nie en dit is die een enkele hoofrede hoekom die Afrikaner die teiken is van die EFF en die ANC radikales.

Johny ·

Hulle sal nie charmaine wie gaan dan vir hulle stem by die stembus

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.