Nuuskommentaar: Van Columbus tot COP 17

Die Amerikaanse skrywer, Charles C. Mann, het pas ‘n nuwe boek geskryf waarvan die Nederlandse titel, 1493. Hoe de wereld zich ontwikkelde na de ontdekking van Amerika die verhaal van globalisering by Columbus se herontdekking van die Nuwe Wêreld gaan haal. Dit is reeds bekend dat Columbus nie die Nuwe Wêreld ontdek het nie. Die Noormanne het dit sowat 500 jaar tevore reeds gedoen, en ook Christenkolonies in die teenwoordige Kanada gestig. Mann stel dit dan ook dat Columbus nie die Nuwe Wêreld ontdek het nie, maar met sy ontdekkingstog ‘n nuwe wêreld help skep het.

Na Columbus se herontdekking het talle produkte soos aartappels, patats, tamaties, pampoene, mielies en sekere soorte boontjies die ou wêreld bereik waar sommiges stapelvoedsel geword het. Omgekeerd het koring, onder meer, na die Nuwe Wêreld koers gekry en bygedra om ‘n kosmandjie vir ‘n groeiende wêreldbevolking te skep. Hiermee, argumenteer Mann, is daarin geslaag om die mensdom minder blootgestel te maak aan periodieke kosskaarstes en kon die mensdom sy getalle geweldig uitbrei. Daar was wel terugslae, soos toe talle Iere gesterf en ander geëmigreer het toe ‘n siekte die aartappeloes vergiftig en ‘n hongersnood veroorsaak het.

Daar sal lank geredeneer kan word of Columbus se ontdekkings die vernaamste globaliseringsinvloed was. Ander sal argumenteer dat die groter verspreiding van die vermoë om te kan skryf daarmee verband hou, ander die moderne kommunikasie, en ander industriële en tegnologiese ontwikkeling. In die konteks van COP 17 is Mann se argumente egter baie relevant. Die groter voedselsekuriteit wat die uitruiling van voedselsoorte wêreldwyd tot gevolg gehad het, het nie net die uitbreiding van die mens se getalle moontlik gemaak nie, dit het die mens ook in staat gestel om nie net sy eie grootste bedreiging nie, maar die ganse planeet se grootste bedreiging te word. Die mensdom se koolstofvoetspoor het eenvoudig te groot geword.

Soos nooit tevore nie, is die mens in staat om die natuurlike klimaatsveranderings te beïnvloed, en in die proses sy vermoë tot voedselsekureit in die voet te skiet. Die fokus is dus nou op Durban, waar COP 17 tans plaasvind. Die opskrif van Trouw is insiggewend: Red wat te redde is in Durban. Die rede is dat die bestaande Kyoto-protokol oor ‘n jaar ten einde loop. Ingevolge daardie protokol het 37 lande onderneem om die vrystelling van koolstof in die atmosfeer teen 2012 met vyf persent teenoor die uitlaattempo van 1990 te verminder.

Daar moet dus nie net na ‘n opvolg op die Kyoto-protokol gesoek word nie, maar dit is belangrik dat van die voorste sondaars ook ingebind word. Die VSA het die verdrag nooit met ‘n handtekening versier nie, en Sjina word daarin nog as ontwikkelende land beskryf, wat dus vrygestel is. Vrystelling van die protokol gee aan lande ‘n mededingende voordeel op die wêreldmark, en Sjina het dit behoorlik benut. Dit verhoog die aantreklikheid van lande wat uitgesluit is as beleggersbestemming omdat veral kragvoorsiening dan dikwels goedkoper is.

Hoewel die VSA uitgesluit is, het hy nogtans sekere wetgewing ingestel, soos die katalisators vir motors se uitlaatgasse, boetes vir die besoedeling van riviere, en veel meer. Etanolprojekte word ook swaar gesubsidieer.
‘n Hele nuwe tegnologie het ontwikkel, soos die hernubare energiebronne wat onder meer windkrag en kragopwekking van nog ‘n kweekhuisgas, metaangas, behels. Entrepreneurs skiet oral op, maar ‘n beduidende rol word dikwels nog beperk omdat die hernubare bronne grootliks nog duur is. Lande wat dit kan bekostig, subsidieer, en in ander lande is genoeg kragverbruikers bereid om ‘n premie vir skoon krag te betaal. Onlangs is aangekondig dat die eerste vulstasie waar motoriste hul elektriese motors blitssnel kan laai by Amsterdam opgerig gaan word, terwyl voorheen eksperimenteel al waterstof-vulstasies ingerig is. Uiteindelik is al heelwat werksgeleenthede geskep.

Al woon afgevaardigdes van sowat 192 lande die Durbanse verrigtinge by, is oorsese koerante nie baie optimisties dat ‘n opvolger vir die Kyoto-verdrag gevind sal word nie. Na berig word het verskeie van die ondertekenaars van die Kyoto-verdrag, soos Japan, Rusland en Kanada, aangedui dat hulle nie ‘n opvolging sal onderteken nie, pres. Barack Obama het aangedui hy gaan die VSA se koolstofbeleid op dreef kry maar is ook nie baie lus vir ‘n handtekening op ‘n internasionale verdrag nie, en Sjina is ook traag om van sy voordeel afstand te doen. In die aanloop tot ‘n groot krisis is daar dus nie veel entoesiasme nie. Die aanduidings is dat lande voel hulle wil tot 2010 genoeg tyd vir voetwerk hê voor hulle hul inbind.

Onder die talle redes waarom die wêreld se industriële land nou traag is, is dat hulle meen dit hou geen sin in as 192 lande ‘n verdrag teken wat nie nagekom word nie. Koyto-verdrag ten spyt, het die uitstoot van Koolstof verlede jaar ‘n nuwe rekordvlak bereik. Die ryker lande meen dit hou meer sin in dat hulle toegelaat word om in meer hernubare kragontwikklingsprojekte te investeer, ook in die armer lande, sodat meer mense toegang tot krag sal hê. Die bakhandsindroom staan ook soos ‘n blok in die deur. Suid-Afrika wil ‘n groenfonds in die lewe laat roep waarin die ryk lande jaarliks $30 miljard stort, wat teen 2020 reeds $100 miljard sal bedra. Met die huidige wêreld-ekonomiese krisis is die wêreld se gebruiklike spaarvarkie, die VSA, nou leeg, en ander lande wat wel bydraes kan lewer, is skepties. Saoedi-Arabië wil byvoorbeeld weet hoe dié land sal baat as dit tot die fonds bydra, en dit lei tot ‘n afname van sy olie-uitvoere.

Politieke korrektheid het ook nog nie die wyk geneem nie. Niemand waag nog om ‘n woord te rep oor die eintlike probleem nie. Die mensdom het onlangs die 7 miljardkerf bereik. Die probleem is nie net die getalle nie, maar dat die aanwas gewoonlik geskied in lande wat dit die minste kan bekostig. Om die dilemma te beklemtoon – die president van die gasheerstaat het meer as twintig kinders binne en buite sy huwelike. Boonop is Suid-Afrika besig om twee mega-steenkoolkragsentrales te bou, weliswaar met koolstof-verminderde tegnologie. Trouens, by COP 17 het Suid-Afrika onder die VN se tong deurgeloop omdat die land per capita die grootste koolstof-voetspoor ter wêreld neersit. Die koolstofvoetspoor van die Wêrldsokkerbekertoernooi in Suid-Afrika was agt keer groter as die vorige in Duitsland. Die onverantwoordelike lande se probleem word in die globale konteks dus ander se probleem.

En so lank elkeen nie self ernstig verantwoordelikheid neem vir die oorsake waartoe dit bydra nie, gaan die lande wat kan help dalk vreemd-onwillig bly om opofferings te doen. Aan die positiewe kant verwag min waarnemers dat COP 17 die wêreld met leë hande gaan laat. Suid-Afrika verkondig dat dit na skoon energie mik, en dat 27 % van die land se krag teen 2030 hernubaar moet wees. Of dit wat beredder gaan word egter genoeg gaan wees om die mensdom se koolstofvoetspoor te verminder, is ‘n vraag wat oor twee weke beantwoord sal wees.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae