Nuuskommentaar: Van dreadlocks tot boerkini’s

Foto: AP Photo/Frank Augstein

Foto: AP Photo/Frank Augstein

Hoe op dees aarde word die kwessies van dreadlocks in Suid-Afrikaanse skole, die boerkini-debakel in Frankryk en onluste in Ethiopië in een nuuskommentaar hanteer? In kort kom dit daarop neer dat Ethiopië, wat die laaste aantal jare ’n model etniese federasie was, nou weens onluste onder druk geplaas word omdat bevolkingsdele se belange met dié van ander volke in die land bots. Kultuur en belange is ook minstens deels onderliggend aan die dreadlock- en boerkini-kwessies. Dit is nie so maklik om heterogeniteit, of dan diversiteit, binne ’n staatsbestel wat vir homogeniteit ontwerp is te ondervang nie.

Dreadlocks tot boerkini

Terwyl daar in Suid-Afrika ’n storm losgebars het oor haarstyle van swart skoolmeisies, krap Europa kop oor wat om te maak met die boerkini. Die boerkini is uiters kuise swemdrag vir Moslem-vroue wat hulle daarsonder nie sommer op strande en in die see of swembaddens sal waag nie. Die kwessie het onlangs skerp in die nuus beland toe die Franse stad Nice die dra van die boerkini verbied het, en dit toe ook deur ander stede en dorpe gevolg is. Die verbod is intussen deur ’n appèlliggaam ongrondwetlik verklaar, maar het beperkte geografiese regskrag.

Die kwessie het egter ook na ander lande, soos Nederland, oorgespoel waar ernstig besin word oor die verbod.

Intussen het dit ook deel van die Franse presidentsverkiesing geword toe een van die kandidate, oudpresident Nicolas Sarkozy, laat blyk het dat hy ’n boerkini-verbod landwyd wil instel.

Hoe is dit dat ’n konserwatiewe presidentskandidaat ’n kuise kledingstuk wil verbied in ’n land wat betreklik verdraagsaam teenoor bostukloosheid en deurtrekkers staan? Die antwoord loop heelwat dieper.

Die boerkini is ’n sigbare simbool van andersheid in ’n land wat nog nooit besonder simpatiek teenoor minderhede, en selfs inheemse minderhede gestaan het nie. Sarkozy het juis gewaarsku dat immigrante, minderhede en die linkses ’n bedreiging vir Franse identiteit inhou.

Intussen beskuldig die media Sarkozy daarvan dat hy van sy idees en uitsprake by die ekstreem regses gesteel het.

’n Groep vroue, baie van hulle geklee in boerkini’s, het as protes teen die Franse optrede ’n impromptu strandpartytjie by die Franse ambassade in Londen gehou. Selfs seesand is vir die geleentheid aangery. Die vroue het dit daarteen dat geargumenteer word dat die boerkini ’n simbool van vroue-onderdrukking is. Hulle meen die boerkini, wat uit eie keuse gedra word, maak dit juis vir vroue wat hulle andersins in ’n skadulewe sou bevind het, om die buitelewe te geniet. Dit stel moeders ook in staat om hul kinders te leer swem.

Frankryk word gereeld deur die Islamitiese Staat vir terreuraanvalle uitgesonder, onder meer omdat verskeie van die kruistogte om die Beloofde Land van Moslem-besetting te bevry sterk Franse bande gehad het. Die permissiwiteit van die Franse samelewing is ook vir die Islamitiese Staat ’n steen des aanstoots.

Is die Franse nie nou besig om die weerlig van terreuraanvalle op hulle te trek nie, en dit oor swemdrag?

Dit is egter duidelik dat nie net die Franse nie, maar al hoe meer Europese en ander nasies ’n mate van weerstandigheid begin ervaar om deur mense wat vrywillig na hul lande gekom het, nou tot ’n gevoel van vreemdelinge in hul eie land gereduseer te word. En daarom sal die dra van kopdoeke en boerkini’s as simbole van hierdie vervreemding ongemaklik bly lê.

Die dra van kopdoeke is ook al jare lank in die spervuur en ’n verbod op die dra daarvan is in 2010 deur wetgewing in Frankryk bevestig.

In Duitsland is ’n Moslem-vrou ontslaan nadat sy nie haar kopdoek by die plek waar sy haar internskap gedoen het, wou verwyder nie. Dié internskap, ironies, het ten doel om mense in die Duitse samelewing te integreer. Volgens die burgemeester van Luckenwalde is die owerheid neutraal, en daarom word dit ook nie toegelaat dat byvoorbeeld Christelike simbole soos kruise teen mure aangebring word nie. ’n Groot debat is aan die broei oor of die burgemeester se optrede wettig is. In die jongste geval wil ’n Franstalige akademiese instelling in Ukkel naby Brussel, Moslem-vroue wat kopdoeke dra verbied om hereksamens af te lê.

Frankryk word nou dikwels daarvan beskuldig dat hy nie die verskil tussen kerk en staat ken nie.

Een van die bewerings deur 'n leerder van Pretoria Girls High School. Foto: ANA

Een van die bewerings deur ‘n leerder van Pretoria Girls High School. Foto: ANA

Dit is nog te gou om met gesag te kan praat oor die bohaai wat oor haarstyle vir swart skoolmeisies by sommige skole losgebars het. As alles wat in die pot gegooi word, waar sou wees, het hierdie skole baie slegte onderwysers wat gereeld die k-woord en ander erkende verkleinerende woorde inspan, en word die leerlinge erg getraumatiseer. Die verhale klink minstens plek-plek bietjie dik vir ’n daalder.

Op die oog af lyk dit of die persentasie swart kinders in die betrokke skole die sogenaamde kritiese massa oorgesteek het, en dat daar dan tipies ’n groter en openlike protes kom teen ou gebruike en reëls wat anders is as waaraan hulle gewoond is of in ’n transito-kultuur geskep het. Maroela Media het reeds daarop gewys hoe daar sterk parallelle is tussen wat op Suid-Afrikaanse en Amerikaanse kampusse gebeur.

Kollektief voel hierdie nuwe kritiese massa vervreemd van die algemene kultuur, en bou weerstand op teen onder meer kolonialisme, die sleureffek van die Amerikaanse Burgeroorlog, teen die aankoms van Jan van Riebeeck en vele meer.

Nou het dit as’t ware kop toe gegaan en ’n harige rassekwessie geword. Die blote rol wat modes speel, en die statussimbole wat daaraan kleef om hoegenaamd sekere haarstyle te kan kweek, is nog kwalik verreken, maar uit Facebook-inskrywings en ander sosiale media is dit duidelik dat dit ’n beduidende krag is. Dit lyk of ’n ou spreekwoord, “liewer dood as uit die mode”, weer kop uitgesteek het. Destyds het skoolhoofde en onderwysers fiks gebly danksy leerders wat met hul haarstyle in die mode wou wees, maar buite die skoolreëls beweeg het.

Ethiopië

Die voortslepende protes in Ethiopië en gevolglike hardhandige, en soms bloedige reaksie van die regering, haal kwalik die nuus in Suid-Afrika. ’n Vlugtige raadpleging van Google het egter bevestig dat die kwessie nog lank nie opgelos is nie.

Met die hardhandige optrede van die Ethiopiese regering teen betogers word nou wyd bespiegel of Ethiopië se etniese federasie nou onder druk kom. Tot taamlik onlangs is die model wyd en syd as stabiel verkondig en die land het skouspelagtige ekonomiese spronge gemaak.

Die situasie is egter veel ingewikkelder. Daar word ongeveer 90 tale in Ethiopië gepraat, met Oromo die grootste, gevolg deur Ahmara. Die Ahmaras het tradisioneel die meeste keisers opgelewer en dit was tot onlangs nog die landwye taal vir onderrig op primêre onderwysvlak, waarna na Engels oorgeslaan is. Met die ontplooiing van die etniese federasie het ander streektale die laerskole se tale van onderrig geword.

Die hoofstad, Addis Abeba, word deur Oromo-grondgebied omring. Ahmara lê net noord daarvan.

Tog word die sentrale regering nie deur een van die groot groepe oorheers nie, maar deur die Tigre wat 6,08% van die bevolking uitmaak. Hulle is trouens minder as die Somali’s in die land.

Die Tigre kon deur hul noue verwantskap met die Ahmara’s eers ’n voet in die sentrale regering se deur kry, maar het uiteindelik die oorhand gekry. Die noue verwantskap is vergete. Trouens, een van die brandpunte is dat ’n gebied wat hoofsaaklik deur Ahmaras bewoon word, binne die geografiese grense van Tigre val, en die inwoners die grens wil skuif.

Die onrus het begin toe die sentrale regering die hoofstadgebied aansienlik wou uitbrei. Dit sou ten koste van Oromo-landbougebied wees. Die veiligheidsmagte het hardhandig opgetree, en tot 400 Oromo’s het gesterf. In Julie het die Ahmaras begin betoog en ook hulle is hardhandig behandel. Dit het tot nog betogings in solidariteit gelei en soveel as honderd is doodgeskiet.

Op die oog af lyk dit dus nie of die konsep van ’n etniese federasie die skuld moet kry nie, maar dat ’n etniese minderheid beheer daarvan neem en gesentraliseerd tot nadeel van die verskillende volke begin regeer.

In teorie het die verskillende etniese gebiede grondwetlik baie gesag, en kan selfs onafhanklik word. Die praktyk is egter anders en as ’n gebied waardevolle delfstowwe ontdek, of op landbougebied presteer, is die sentrale regering gou by om te gryp, te onteien en sy eie mense daar te vestig.

Die konsep is dus nie die probleem nie, maar die misbruik daarvan.

Ook België het as etniese federasie ontwikkel en die etniese streke geniet nou ’n groot mate van outonomie. In dié stadium lyk dit selfs of die federasie soveel middelpuntvliedende kragte ondervang, dat daar nie nou sprake van die uitmekaarspat van die land is nie. Selfs die plan van die Vlaamse N-VA om die konsep “konfederasie” vir bespreking oop te stel het oor ’n wye front teenspoed gekry en is nou tjoepstil.

Daar kan verwag word dat die politieke en ideologiese teenstanders van selfbeskikking, ook vir die Afrikaner, die Ethiopiese voorbeeld sal gebruik as propaganda teen selfbeskikking. Soos uitgewys was die probleem nie die stelsel nie – dit het trouens tot die einde van, in ’n stadium sewe burgeroorloë gelei wat tegelyk in Ethiopië gewoed het. Die probleem is dat die stelsel gekaap is en ontspoor het.

Bespreking

Om heterogeniteit, of die modewoord, diversiteit, te misken in die strukture wat moet opvoed of regeer is om ’n lang lat vir die eie bas te pluk. In Suid-Afrika word ook gereeld druk wat uit diversiteit voortspruit op die samelewing geplaas, waarvan AfriForum en Solidariteit se hofsake oor Afrikaans as universiteitstaal maar een manifestasie is.

Daar is ’n ander opsie, en uit gereelde leserskommentare lyk dit of dit minstens redelike steun moet geniet, naamlik om via artikel 235 van die Grondwet die een of ander vorm van geografiese of korporatiewe selfbeskikking te probeer bekom. Orania is ’n manifestasie hiervan, maar andersins lyk dit of daar min belangstelling in die opsies is wat hierdie artikel bied (en heel waarskynlik kwaai teenstand van die regering sal ontlok).

Die ander opsie is dat ons in hierdie land maniere moet vind om die eie kultuur en standaarde te handhaaf, diskriminasie teen minderhede op grond van hul velkleur in die howe en die internasionale forums te beveg, en op ’n nie-konfronterende manier met ander medeburgers oor die weg te kom.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

22 Kommentare

Christo ·

In Amerika vat die wit meerderheid die swart minderheid se identiteit weg omdat hulle voel dat hulle moet reg wees want die meeste mense doen dit so.
In SA voel die swart meerderheid weer hulle is die wat reg is want hulle is dan in die meerderheid en dis hoe dinge mos gedoen moet word ten koste van die minderheids groepe.
Dis hoekom Spreuke in die bybel is ,dis om al die dinge wat ons nou weer die wiel wil gaan uitvind uit te klaar.
Ons sal gedurig ons koppe stap todat ons weer terugkeer na die Woord van die Here toe en ophou om mens gemaakte maniere te volg.

Armando ·

Albei opsies maak sin, howel no 1 die mees aantreklike is, vir my altans. No 2 gaan ‘n baie lang en uitgerekte opsie wees soos in die VSA, en daar is nou nog nie vrede nie. Afskeiding kan egter moontlik tot konfrontasie lei, moontlik ook oor die mikmeganisme van die een of ander wapen.

Burger ·

Persepesies van andersheid maak die wereld baie deurmekaar .

Willem ·

Uitstekende kommentaar Herman! Ek glo al hoe meer mense besef nou wereldwyd dat die hele idee van multikulturalisme, soos wat die laaste paar dekades baie sterk gepropageer is deur die voorstaanders van globalisering, in wese vals is en nooit in praktyk kan werk nie. Selfs al kan almal in “kleurblindheid” saamleef sal daar nogsteeds teenstand, van beide kante af, daarteen wees as gevolg van die eenvoudige emosionele rede dat dit werklik onaangenaam is om multikulturalisme in enige opset – skool, universiteit, kerk, woonbuurt, sosiale samekomste, om maar ‘n paar te noem – te handhaaf. Dis mos lekker om saam met jou eie mense te bly! Dis baie jammer dat die woord “Volkstaat” vir die gemiddelde Afrikaner ‘n soort vloekwoord geword het – as gevolg van uiters linkse kommentators, soos Max du Preez, wat afrikaanse nuus in die onlangse verlede oorheers het.

Theuns ·

Dankie Herman vir jou insig en kommentaar. Albei opsies is moelik. Selfbeskikking het n besondere aantrekingskrag vir baie van ons mense. Nou kan jy met reg vra wat staan in ons pad? Ek dink dit gaan oor die vrees vir die onbekende, werk, eindom en geld. Waneer sal die opsie dan beslag kry? Ek dink die antwoord is wanneer die Afrikaner als verloor het! En dit sal dalk nog 40 jaar in die woestyn kos om ons mense te oortuig! Jou tweede opsie is dalk in die huidige bestel gesetel waar ons ‘ parralele regering en samelewing vir ons self moet skep. Sal dit werk? Ja maar ek twyfel of die meerderheid daarmee tevrede sal wees en dit gaan ook baie geld kos! Ons sal alles vir ons self moet doen en betaal terwyl ons belasting geld aangewend word slegs vir die meerderheid? Die derde opsie is oorlog om terug te vat wat aan ons behoort. Maar dit sal lei tot totale vernietiging van die land! Dit is en bly ‘n ope vraag oor watter rigting ons moet inslaan?

Hendrik ·

Theuns ek weet nie hoekom jy wonder of selfbeskikking al onderweg is nie. Op kultuurdorpe soos Orania en Kleinfontein is dit al reeds aan te gang. Wat se die meerderheid daarvan? Wel tot dusver was dit nog net die DA jeug wat daarteen geprotesteer het. Waarom wonder? Kom kyk self.

Grassie ·

Dankie vir ‘n interessante en leersame bydrae.
Ek glo geografiese selfbeskikking is die meeste Afrikaners se hartewens maar, helaas, ek dink nie dit sal in ons land moontlik wees nie. Behalwe vir Orania en Kleinfontein weet ek nie of daar nog iewers ‘n paar vierkante kilometer bestaan waar Afrikaners die meerdeerheid vorm nie. Selfbeskikking sal nie aan ‘n minderheid gegee word nie. Al wat ons nou kan doen is om as volk saam te staan en ‘n magsblok te vorm wat na ons belange omsien en dan te kyk wat die onmiddellike toekoms vir ons inhou. Maar daardie “saamstaan” – ai toggie!

Hendrik ·

Die groot trek het klein begin en geeindig met groot industrieele areas van die PWV gebiede. Alles het klein begin. Saamstaan is vir die ouens in die verkiesingsrye en saamwerk is vir die ouens wat alreeds iets begin doen het soos in Orania en Kleinfontein. Soos ek vir Theuns gese het komkyk self.

Theuns ·

Grassie, ek stem nogal saam met jou insig. Hendrik ek hoor en is bewus van Orania en Kleinfontein en wat jy se het ek nie ‘n probleem mee nie! Maar ek het meer gedink in terme van ‘n massiewe verskuiwing van miljoene Afrikaners en wit mense in die algemeen maw grootskaal. Dan ook ‘n eie grondgebied wat nie deel is van die RSA grondgebied nie. Dit moet grond wees wat ‘n erkende internasionale land sal wees wat nie onderhewig sal wees and huidige regering se ” moods” nie. Dit moet ‘n grond gebied wees soos bv die ou Transvaal of Wes Kaap. Daar moet nie eers sprake wees van bv. onteining van grond deur die regering nie as hulle besluit dat hulle nou die grond nodig het om in belang van die groter meerderheid aangewend moet word nie! Ons moes die grondgebied geeis het met die onderhandelinge in 1994!

Hendrik ·

Joe Theuns ek weet ook nie of daar so grondgebied sal wees net vir Afrikaners. Ek dink nog steeds dat die Zoeloes een of ander tyd KZN na ‘n federale staat sal verander. Dit sal natuurlik ons help in ons strewe na selfbeskikking. Soos jy se hoe nadelig is so skuif van Afrikaners na ‘n nuwe gebied vir die regering as so baie produktiewe geskoolde mense uit die ekonomie gaan. Ek dink die situasie sal wees soos die swartes wat elke einde van die maand/jaar huis toe gaan na hul tweede huis. Die wittes kan dit nadoen maar ouers kan nie ver van hul kinders wees nie. Kyk wat se nadeling effek het dit op die swartes se gesinslewe. Die oplossing is maar nog steeds om industrie te vestig in nuwe gebiede en die mense sal daarna toe trek. On sit op die oomblik in ‘n netelige posisie maar erens moet ons begin.

Siniese Simon ·

Herman ,jou vergelyking van die haarstyl debakel ,die boerkini verbod in Frankryk en die Etniese probleem in Ethiopie dra baie gewig. Die haarstyl propagandiste het ‘n verskuilde agenda!Ek besoek baie voorheen benadeelde skole en die meisies dra hulle hare kort en dra ook skooldrag.Die personeel ,is uitsluitlik swart. Hoe werk dit??

Pietman ·

Een opsie is om ‘n fonds te stig vir almal wat ‘n onafhanklike land begeer. Daarna koop ons ‘n onafhanklike staat van die regering . Goed die regering gaan teësinnig wees maar ons koop die besluitnemers om ( hulle is mal oor omkoopgeld).

Theresa B ·

Die dam word nou heeltemal geruk……………………….!!!

Lance ·

Sny al die hare af en gaan net met n deurtrekkertjie skool toe …problem solved hehe

Karma ·

Ek het nou net ‘n ‘screenshot’ gesien van daai poppie se “Afro” – dit is amper so breed soos haar skouers en LANK! Vir my word dit as lang hare geklassifiseer en lang hare moet op skoolvlak vasgemaak of getemper word. Die skoolbeleid sê ook dat dreadlocks en gevlegte hare toegelaat word, maar nie extensions nie; alles moet net netjies en weg van die gesig af wees. Ag nee man, dié is sommer weer opportunisme om ‘n geraas te maak. Die poppie was nog nie eens ‘n vonkel in haar pa se oë toe apartheid in volle swang was nie. Diegene wat sê hulle sou graag wou hê dat daar die allerlei ‘simpel’ skoolreëls moet wees nie, is ook laf. D.w.s. die leerders kan maar met pienk/pers/geel kleurstukke in die hare skool toe gaan; hulle uniforms kan soos die hond-se-dinges lyk en hulle kan maar seks met mekaar en die onnies tydens lesure hê; hulle kan maar dwelms gebruik en verkoop op die gronde en lekker drink ook – want daar is nie skoolreëls nie en hulle het mense regte. Twak man! Op skool is jy daar om te leer sodat jy eendag iets kan beteken vir die land en die wêreld!

Johanna Botha ·

Deminste het hulle hare wat vol groei. Ek se dra jou hare soos jy wil groei dit uit tot op jou kniee en kwaf dit op tot teen die plafon

Johanna Botha ·

Punt is net almal maak soos hulle wil selfs as volvasse mense so ja hulle leer maar by die ouers ook …breek brand plunder en nog baie

Kobus ·

As ek nou kan vas haak by die harestorie, is dit dan nie maar dieselfde as die swart kinders in skole sou aandring op tradisionele drag nie, ipv westers wat nou op hulle afgedwing word en wat hulle aanvaar?

Maar nou aanvaar hulle die westerse kleredrag, maar is Afrikaan in haredos.

lettie ·

Die swart meisies se klagtes dra nie gronde nie. Wanneer n instelling uniform dra, kom daar verantwoordelikhede saam en reels. Kyk na die SAPD, Weermag,Korrektiewe Dienste, verpleegsters wat uniform dra. Swart en wit vrouens se klere, hare en juwele is smaakvol. Die swart meisies is gretig vir aandag.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.