Nuuskommentaar: Van e-tollenaars en e-sondaars

Pres. Jacob Zuma. Foto: GCIS

Pres. Jacob Zuma. Foto: GCIS

“Die moeilikheid met pres. Jacob Zuma is dat hy te min lees. Dis nie dat hy nie kan lees nie, maar dat hy nie die regte goed lees nie. Hy lees nie kabinetsvoorligtings nie. Hy lees nie die goed wat die moderne, gesofistikeerde regering se lewensbloed is nie.”

Aan die woord is Richard Calland, wat staatsreg aan die Universiteit van Kaapstad doseer, en outeur is van die boek, The Zuma Years: South Africa’s changing face of power.

Calland het ook die adviseurs waarmee die president hom omring, en wie se advies hy gereeld in die wind slaan, as onindrukwekkend beskryf.

Calland het die Kaapse persklub toegespreek, en daardeur is verseker dat dié akademikus se oordeel oor Zuma in Suid-Afrika goed bekend sal wees.

Vir Suid-Afrikaners wat die week op TV-nuus gesien het hoe Zuma die VN toespreek, was dit duidelik dat die president sukkel om Engels vlot te lees. Dit is egter merkwaardig dat Zuma, wat kleintyd moes uitspring na hy skaars die binnekant van ‘n klaskamer gesien het, so ver kon kom.

Of sy vreemde regeerbesluite veel met die afwesigheid van formele skoolonderrig te make het, is ‘n oop vraag. Pas het Zuma Suid-Afrikaners verstom deur die omstrede e-tolwet te onderteken, terwyl die Appèlhof nog uitspraak oor die implementering voorbehou.

Die Vryheidsfront Plus het vroeër die president daarop gewys dat die e-tolwetsontwerp in verskeie opsigte ongrondwetlik is, en het aanvaar dat dit hieroor was dat die president so lank geneem het om sy handtekening daarop aan te bring.

Terwyl ontleders plaaslik sin uit Zuma se besluite probeer maak, probeer die president om sy statuur internasionaal te vestig (moontlik om minder gesofistikeerde kiesers plaaslik te beïndruk). Hy het tydens debat in die VN se algemene vergadering die VN daarvan beskuldig dat dit, deur die samestelling van die veiligheidsraad, die meeste lidlande in wese ontkieser. Hy het dit veral teen die mag wat die vyf permanente lede van die Veiligheidsraad het.

Maar benewens ‘n praat plaaslike berigte oor Zuma se jongste VN-uitsprake, dui ‘n soektog deur van die wêreld se vernaamste media en Google aan dat die wêreld, vir wie Zuma so in die “bresse” tree bloedweinig nuusdekking verleen het. Trouens, iemand wat glad nie eens by die VN opgedaag het nie, pres. Omar al-Bashir van Soedan, het baie meer nuusdekking verkry. Bashir word vir vermeende volksmoord deur die Internasionale Strafhof gesoek. Pas het sy magte weer op betogers losgebrand en talle deur die kop en in die bors geskiet.

Maar ook in die plaaslike media is die fokus wat op Zuma geplaas word kwalik sy VN-optrede, maar die vreemde tydsberekening vir die ondertekening van die e-tolwet.

Omdat die Openbare Beskermer nie wil, of kan sê wie met voetesleep met die voorsiening van inligting wat aangevra is, die afhandeling van die Nkandla-verslag ophou nie, word Zuma ook verdink, of dan, dat hy ‘n aandeel in die oponthoud het. Zuma het immers tydens sy bewind homself as die kampioen-voetesleper bewys, soos ook met die sogenaamde spioenasiebande-sage.

Wat Zuma se aandrang op die demokratisering van die VN betref, is die debat al uitgedien. Die VN kan immers nie op sy eie demokratiseer voor die lidlande self nie gedemokratiseer is nie. In ‘n wêreld waar grondwetlike demokrasie moeisaam vorder, het min mense aptyt om deur ‘n soort wêreldregering regeer te word wat volksmoordenaars, despote, tot die been korrupte regeerders, regeringsleiers wat deur verkiesings met gruwelike ongerymdhede aan die bewind klou, en ander goggas soos Mugabe insluit.

In ‘n wêreld waar minderheidsregte as integrale deel van menseregte beskou word, is daar min aptyt vir leiers wat nie tussen demokrasie en ‘n diktatuur van die meerderheid kan onderskei nie. Hier staan die ANC voor in die koor.

Niemand meen die bestaande stelsel is volmaak nie. China beskik byvoorbeeld ook oor ‘n vetoreg, wat hy ook gereeld saam met Rusland inspan om Sirië se Bashar al-Assad te koester terwyl duisende mense sterf en meer as ‘n miljoen al gevlug het. China kan volgens geen definisie as ‘n demokrasie beskryf word nie, en tog staan Zuma se kontinent byna reikhalsend uitgereik na die land agter die bamboesgordyn terwyl ‘n neo-kolonialisme duidelik plaasvind, met na raming reeds meer as ‘n miljoen Chinese wat reeds op die kontinent werksaam is. Trouens, politieke partye en ontleders is al baie bekommerd oor die stief behandeling wat veral Europese beleggers kry sodat die Duitse ambassadeur al minder diplomaties daaroor stem dik gemaak het.

Ook hier te lande is daar kommer oor waarheen die ANC met grondwetlike demokrasie onderweg is, en die Sentrum vir Grondwetlike Regte maak gereeld die stem dik hieroor.

Indringende vrae gaan gevra word wat die president laat besluit het om nou met die ondertekening van die e-tolwet ‘n taai klap na die appèlhof uit te deel – ‘n saak wat in alle waarskynlikheid ook nog in die grondwetlike hof sal gaan draai. Het die tydsberekening iets daarmee te maak om die Vavi-faksie in Casatu ‘n snotklap te gee en so te toon wie nou eintlik die tamboer slaan?

Met dié handtekening vergroot die moontlikheid immers dat die ANC in aanstaande jaar se algemene verkiesing Gauteng kwyt kan wees.

Wat ook al die motiewe, die uitstaande Nkandla-verslag sal veroorsaak dat daar weer hardop gewonder sal word oor die beweerde verband tussen minstens een firma onder diegene wat die e-toltenders gekry het, en Nkandla, en veral die finansiering van die Nkandla-hoofweg.

Want mense wat in die duister gehou word, maak ten ene male hul gevolgtrekkings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johann Buys ·

Dis net jammer dat ons met die regering sit wat ons verdien! Suid-Afrika, sal nes die res van die “Donker Kontinent” voortgaan om vir die “Bevrydings Organisasie” te stem.

Ek is een van die wat gedink het PW maak die pap lekker dik aan toe hy gepraat het oor wat ons onder ‘n swart regering te wagte kan wees. Nou kom die Zuma/Guptas en bewys hom reg!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.