Nuuskommentaar: Van Riebeeckdag

Jan van Riebeeck

Jan van Riebeeck

Vanjaar val Van Riebeeckdag, of Stigtingsdag, en Gesinsdag saam. Stigtingsdag het egter reeds met die aanbreek van die nuwe bedeling as nasionale vakansiedag in die slag gebly.

Op 6 April 1652 het Van Riebeeck en sy geselskap in die Kaap aangekom om ’n verversingspos te stig. Nie Van Riebeeck of die VOC het die stigting van ’n kolonie in gedagte gehad nie en Van Riebeeck het trouens opdrag gehad om die nedersetting so klein as moontlik te hou.

Van Riebeeck het ook geen planne vir volksplanting gehad nie en het hierdie geleentheid, aanvanklik in elk geval bloot as ’n treetjie beskou om sy ambisies binne die VOC voort te sit, nadat hy voorheen van binnehandel beskuldig is en in oneer verval het.

Hy sou egter tien jaar lank as kommandeur aan die Kaap dien en baie probleme oorkom. Eers heelwat later, in die tyd van Simon van der Stel, sou die rang van kommandeur tot goewerneur opgradeer word en die nedersetting formeel ’n kolonie word.

Tog, meer as 360 jaar na Van Riebeeck se aankoms aan die Kaap, sou sy nalatenskap die onderwerp van warm politieke diskoers word. Pres. Jacob Zuma, as meester van die blaampolitiek, het die lyn na Van Riebeeck se koms deurgetrek om die land se huidige probleme mee te “verklaar.” Zuma se blaamuitdelery staan nie in isolasie nie – ná die ANC se aanvanklike veldtog om alles wat verkeerd is (steeds) op apartheid te blameer, begin stoom verloor het, is die omvattender Afrika-blaam, kolonialisme, afgestof en opgesaal.

Die hele kwessie van die gevolge van kolonialisme is egter uiters kompleks. Daar was inderdaad ontsettende gevolge, soos waar lang periodes van isolasie veroorsaak het dat nuwe-wêreldse gemeenskappe nie aan “Westerse” siektes blootgestel is en immuniteit ontwikkel het nie. Maar as die koloniale periode nie hierdie isolasie verbreek het nie, hoe lank sou die isolasie nog kon voortduur? Sou die latere kontak dan nie dalk selfs groter rampspoed ingehou het nie?

Daar kan ook oorgenoeg data op die tafel geplaas word om te toon dat die voor-koloniale periode allesbehalwe rooskleurig was. “Beskaafde volke” soos die Asteke en Tolteke, het hul piramides gereeld rooi gekleur met die bloed van hul vyande wat vir die bloedlus van afgode geoffer is. Slawerny was nie onbekend nie en aan die noordweskus van die VSA het die rykes van die totem-beskawings selfs gereeld van hul besittings, slawe ingesluit, vernietig as deel van ‘n spoggery oor hoe ryk hulle eintlik is. ’n Moderne wêreld wat deur talle oorloë en insurgensies gekenmerk word, sal moet uithaal om op een slag soveel oorloë gevoer te kry as wat wêreldwyd in die voor-koloniale periode geveg is.

Dit sou egter ook verkeerd wees om te argumenteer dat kolonialisme nie ook dikwels met groot vergrype en wanpraktyke en ’n stropersmentaliteit gepaard gegaan het nie.

Ons gedenk vandag juis Van Riebeeckdag terwyl daar ’n EFF-gekaapte veldtog teen standbeelde en ander simbole uit die verlede gevoer word. Dit herinner aan die beeldenstorm in veral die lae lande van die sestiende eeu, wat onder andere tot die uitbreek van die tagtigjarige oorlog help aanleiding gee het.

Verskillende perspektiewe oor dieselfde geskiedenis staan soos ’n seer duim uit. Dr. Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus, sê die EFF se dreigemente teen Anglo-Boereoorlog- en Paul Krugerstandbeelde wys hul skokkende gebrek aan kennis oor die geskiedenis. Dit is ook ʼn tragiese aanklag teen die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel wat sulke produkte lewer.

AfriForum, by monde van sy adjunk- uitvoerende hoof, veroordeel die aandrang van die ANC Jeugliga en EFF op die verwydering en selfs nog erger, die vernietiging van standbeelde wat sogenaamd met kolonialisme en wit oorheersing te make het, soos byvoorbeeld die Paul Kruger-standbeeld op Kerkplein in Pretoria.  Die voorgestelde aksies bemagtig geeneen nie, maar dra wel by tot die verdere polarisering en groei van disrespek tussen gemeenskappe in die land, wat net tot almal se nadeel kan strek.

Ds. Theunis Botha, leier van die Christen-Demokratiese Party, wys op ’n studie van Genocide Watch, wat toon hoe polarisasie en isolasie van ‘n sekere groep begin deur hulle sleg te sê.

In ’n heterogene land is dit vanselfsprekend dat verskillende groepe verskillende aksente op die geskiedenis sal plaas. Daar sal ook gevalle wees waar die een se held die ander se skurk sal wees.

Die reaksie op die koloniale tydperk is ook nie altyd konsekwent nie. Hoewel Afrikalande groot geraas teen kolonialisme maak, word koloniale tale oor die algemeen gekoester. Plek-plek is wel formeel weggedoen met die koloniale taal as amptelike taal en byvoorbeeld met Swahili vervang, maar Engels of Frans bly die taal van elitisme en hoër onderrig. In Suid-Afrika word selfs na die Anglo-Afrikane verwys.

Juis daarom is die aanslag teen die standbeeld van Rhodes so interessant. Volgens die rubriek in Rapport van Sonja Loots, ’n dosent by Ikeys, is ’n groot deel van die protes juis daarteen dat studente in Engels klas moet ontvang en nie hul moedertale nie. Of hierdie sentimente die afkeer teen “tribalism” sal oorleef, sal gesien moet word.

Kompleks of nie, Van Riebeeck en sy vrou Maria verdien om onthou te word vir hul sterk godsdienstigheid. Van Riebeeck het sy opdrag om in vrede met die inheemse bevolking te leef en met hulle handel te dryf, ernstig opgeneem. Maria kan tereg as die land se eerste verhoudingsbeampte beskou word.

Dit punt is egter dat as van alles ontslae geraak moet word wat nie vlekkeloos tot die land se geskiedenis bygedra het nie, bly bitter min oor. Selfs die beelde van Mandela wat die terreur-tydperk ingelui het, sal moet waai.

En al wat dan oorbly is erg gepolariseerde gemeenskappe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gideon Roos ·

Die realiteit is ons is besig om in ‘n diktatorskap te ontaard. Zuma gebruik dieselfde taktieke as talle van die Diktators in geskiedenis, Hitler ingesluit. Hy speel die verskillende etniese groepe in die land teen mekaar af om aandag van hom af te hou. Die land se probleme word op een van die minderheidsgroepe se skouers gelaai met die idee dat “as ons hulle vernietig, gaan ons probleme daarmee heen”.
Hierdie is dieselfde taktieke wat Hitler gebruik het, en ons almal weet wat dit tot gevolg gehad het. Die Massa moord van 6 miljoen van die etniese groep wat hy geteiken het, en die sterfde van 52 miljoen mense in die tweede wêreld oorlog.
Daar is egter ‘n groot verskil tussen die huidige situasie en die van die verlede. Ons is ingelig, en ons gaan NIE stilbly en wag om in ons graf gegooi te word nie.

Ignace J.A. van Mello ·

Beste,

Ons denk dat hierdie foto van Jan van Riebeeck nie die regte foto is nie. Ons stuur ‘n artikel waarin dit weerleg word ( referensie : Wie is die man ? )

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.