Nuuskommentaar: Van Zille tot Zuma, dit woel in Gupta-Afrika

Spotprent deur Jerm op 16 Maart 2017.

Elke land het unieke kenmerke wat hom van ander lande onderskei. Soms is daar egter raakvlakke wat ook op sekere ooreenkomste dui, en waaruit lande met sulke ooreenkomste waardevolle lesse kan trek.

Die jongste woelinge om die kop van die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, is simptomaties van ’n gevoeligheid oor sekere aspekte van die verlede – en soms sommer die hele verlede. So ook die periodieke gevalle van “beeldestorm” wat Suid-Afrika beleef, en dat deelnemers aan die #FeesMustFall-veldtog ook “gedekolonialiseerde” leerplanne eis.

Dié soort sentimente is nie heeltemal vreemd aan ander lande nie. In die VSA is daar ’n veldtog om van monumente en ander simbole uit die tyd van die suidelike konfederasie en Burgeroorlog ontslae te raak. Pas is vier konfederale monumente uit New Orleans verwyder, en die stad Baltimore het soortgelyke planne. Die konfederasie se steun, weliswaar gekwalifiseerd, aan slawerny word as hoofrede aangegee. Selfs die bekende uitgekapte gesigte van ’n aantal Amerikaanse presidente van die rotswand van Stone Mountain in Georgia moet verwyder word omdat van dié gewese presidente slawerny gesteun het, of nie daarteen gekant was nie.

Maar dit is nie hoe die meerderheid Amerikaners voel nie. Volgens ’n nuwe peiling deur die agentskap Rasmussen is 69 % van die Amerikaanse kiesers gekant teen die verwydering van dié simbole.

Dit sou interessant wees om te sien hoeveel steun Zille sou kry as sy en haar twiet oor kolonialisme regstreeks teen die partyleier, Mmusi Maimane, se onverbloemde argwaan teenoor haar gemeet word. Openbaar Maimane se optrede en lyftaal nie ʼn bietjie meer voete van klei as die reaksie van Zille nie? Uit kommentare op sosiale media is dit moeilik om steun af te lei, omdat Maimane formeel die DA en lojaliteit aan die DA agter hom het. Maar dis ook duidelik dat Zille baie steun en selfs simpatie geniet, en dit is nie net van “konserwatiewe wit kiesers” soos wat sommige kommentators op aanspraak maak nie.

Nog voordat GuptaLeaks Suid-Afrika getref het, was dit uit ’n peiling duidelik dat pres. Jacob Zuma nie meer die steun van die meerderheid Suid-Afrikaners geniet nie, maar ook dat die meerderheid ANC-ondersteuners die president nou die rug toekeer. Ook in sy geval het die tweespalt in sy party na die oppervlak geborrel. Veral die ANC in die Wes-Kaap gebruik die Zille-insident om die DA mee by te kom, en eis haar kop, uiteraard sonder om hoegenaamd daarop te wys dat Zuma weens veel erger kwessies eintlik al lankal die trekpas moes kry.

Die Zille-kwessie is kompleks omdat bitter baie (wit) Suid-Afrikaners tot voor die bom gebars het, salig onbewus was daarvan dat dit so ’n sensitiewe kwessie is. Toe Zuma met sy storie vorendag gekom het dat Jan van Riebeeck ’n skurk was, het dit enorme veroordelende reaksie uit wit geledere ontlok, veral omdat hy maar taamlik wild met historiese feite omgegaan het oor hoe idillies die pre-wit Suid-Afrika sou wees. Die lot van die KoiSan is onder meer verswyg. Van Riebeeck was verdiend of onverdiend bloot die simbool van kolonialisme wat in die kollektiewe geheue van baie mense ’n uiters negatiewe historiese perspektief oproep.

Zille op haar beurt, het in wese die “ander kant” van koloniale persepsies geopper. Dié persepsies is nie tot wit mense beperk nie, soos daaruit blyk dat dit ook in skoolhandboeke opgeneem is wat deur swart mense saamgestel is. Betreklik onlangs het ’n verteenwoordiger van Ethiopië in die Pan-Afrika-parlement haar land se ontwikkelingsagterstand teenoor sommige Afrikalande daaraan toegeskryf dat Ethiopië nooit gekoloniseer was nie. Histories was Ethiopië wel ’n rukkie lank onder Italiaanse beheer, en baie lank nadat die Italianers verjaag is, was die infrastruktuur wat die Italianers nagelaat het omtrent al infrastruktuur waaroor Ethiopië beskik het.

Hierdie soort misverstande oor die kleurgrens heen is nie heeltemal ongewoon nie. Hoeveel wit mense was byvoorbeeld voor die eerste “blackfacing”-voorval bewus daarvan dat dit ’n sensitiewe kwessie is? So sensitief dat onkunde nie die onvergeeflikheid daarvan kon versag nie?

Met die toenemende druk op Zuma (en danksy GuptaLeaks ’n uitkringende lys kornuite) namate die kwessie van staatskaping met of sonder ’n geregtelike ondersoek aan die kaak gestel word, is dit te wagte dat die ANC, en veral diegene wat nog hoop dat Zuma ’n reddingsboei suksesvol sal beetkry, enige swak plek in die DA genadeloos sal uitbuit. ’n Mens hoef maar net die Penny Sparrow-geval in herinnering te roep om te besef hoe herhaaldelik en hard die ANC op ’n enkele geval kan toesak.

Hoewel baie skrywers paranoia en neuroties wees as kenmerke van suksesvolle leierskap in ’n onseker omgewing beskryf, bly dit ’n kwesbare opsie in vergelyking met volwasse leierskap met deelnemende en gedelegeerde bestuur. Die DA moet versigtig wees dat die storm oor die kolonialisme-kwessie nie maar die kapstok word vir ernstiger foutlyne wat met die opvolgkwessie binne die party ontstaan het nie.

Hoe groter die verskille tussen die Zille- en Zumagevalle kan wees, hoe beter is dit vir die land.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

Jacques Venter ·

Hallo Herman Toerien
Soos jy gesê het verstaan baie blankes nie die sentimente van swart mense nie. Min weet dat kolonialisme vir hulle n vloekwoord is
Helen Zille met haar strugle agtergrond, behoort dit duidelik te verstaan het.
Sy was dus bloot moedswillig en het probeer aandag trek. Haar vergrote ego verhoed haar om te bedank al kos dit die party steun

marous ·

Dis is vir sommige van ons skreeu snaaks dat die linkses so een vir een in die sop beland , oor hul rassistiese uitlatings.

Gert ·

Is dit net ek of buig daardie sneller vinger verkeerde kant toe??
Dui dit aan dat dit nie sosiale media is wat die sneller trek nie maar iemand anders??

Leon van Rensbueg ·

Hallo Herman, glo dat dit goedgaan.
Ek kan verkeerd wees, ek het altyd dit gedink dit was in Mount Rushmore uitgebeitel. Laat weet asseblief dat ek my geskiedenis kan opknap, soos ek noem ek was onder die indruk?
Mooi dag verder
Groete, Leon

Herman Toerien ·

Hallo Leon. Dankie vir die navraag. Inderdaad is ‘n aantal presidente by Mount Rushmere uitgebeitel. By Stone Mountain is ‘n groter relief en drie persoonlikhede wat sterk met die konfederasie geassosieer word, is daar uitgebeitel. Een van hulle, Jefferson Davis, was inderdaad president van die konfederasie.

Loeis ·

Mens moet in gedagte hou dat die ANC en die DA se beleid baie ooreenstem, en in sy poging om ANC steun af te neem, word die DA meer en meer soos die ANC. Dit is dus nie onverwags dat die DA nou ANC retoriek volg nie.

Terloops, verlede week het 31 Mei gesien, waaraan baie van ons as Republiekdag dink. Die dag waarop Suid-Afrika in 1961 amptelik opgehou het om ‘n kolonie te wees. Mens sou reken dat enigiemand wie teen kolonialisme gekant is die dag sou wou vier, maar dit is met die ANC se magsoorname as openbare vakansiedag afgeskaf.

Ek dink eintlik weet ons almal dat dit nie vir die ANC oor kolonialisme gaan nie. Hulle verag eenvoudig die idee dat daar ‘n tyd was dat blankes die politieke mag gehad het. Die DA loop blykbaar dieselfde pad, soos Musi vir ons ge-illustreer het.

Leendert ·

Herman, kom ons vat dit so effe verder, wat ek nie kan verstaan nie, en ek het dit onderaan my skrywe betreffende die Zille/Maimane debakel uitgelig. Hordes wit mense stem vir die DA wel wetend dat die DA en die ANC se beleid is dieselfde betreffende byvoorbeeld taal, BEE, Regstellende Aksie, sentiment rondom RET, jy noem dit. Dus stem daardie mense nie omdat die DA HUL belange op die hart dra nie, maar ANDER mense se balang op die hart dra, wat dit aan betref.

Dan, Solidariteit en Afriforum stel regsaksies in teen die ANC waar dit die grondwetlike regte bv taal, indiensneming, ens van die minderheidgroepe misken, kwotas. Waar die ANC en DA se beleid dieselfde is, en die dag as die DA aan die bewind sou kom, hetsy by wyse van koalisie al dan nie, dan sal Solidariteit en Afriforum ook teen hulle resaksies instel waar hulle die grondwetlike regte van daardie persone skend. Die DA is mos nou tans nie aan die stuur nie, so dit staan nie so pertinent uit nie en is die mense nie daarop attent nie.

Maar hoe stem mens vir ‘n party wat se beleid jou grondwetlike regte skend, en dan veg Solidariteit en Afriforum vir jou met regaksies juis vir daardie regte, wat die party, waarvoor jy stem, misken?

Jacques Venter ·

Loeis
Jy is heeltemal reg as jy sê die DA en ANC beleid kom oorreen. Albei staan vir n middel ekonomie wat vir almal goed is.

Probleem is dat die ANC sehebsug hulle toelaat om die land bankrot te steel.

Die mense wat so krities is oor die DA/EFF aliansie besef nie dat dit oor n magsbalans gaan nie. Hierdie aliansie laat Pretoria, Johannesburg en PE toe om korrupsie te beveg. P Kruger het gesê, eendrag maak mag

Jakobus ·

Jacques, die ANC is tans (vir jare) besig om die land met sy ekonomiese beleid in die grond in te dryf.

Leendert ·

Jacques, jy is 100% korrek, wat Solidariteit en Afriforum aan betref, maar waarom dan ek/mens dan in die eerste instansie vir ‘n party stem wat (of waarvan die beleid) mens se grondwetlike regte skend, en dan moet Solidariteit en Afriforum om daardie regte vir my/mens veg?

Lea ·

Die DA moet asb kom kyk hoe vuil en vol papiere/eetbakkies/plastiek bottels die hoofstraat van Cullinan is,dis nou die str tussen Spar/poskantoor en apteek/drs. Daar moet Groot vullis dromme aan weerskante v d straat ingebou word(losstaandes word weggedra deur die rommelstrooiers) die cANer het jou altyd dadelik geantw op ons tweets maar jy kry geen reaksie v d DA nie. Baie arrogant sou ek se…Die vullis word so elke 3 weke verwyder waar dit in die verlede elke week gedoen was,en dan is daar n verhoging in Levy’s aant kom..Ek gaan beslis v d VF+ stem in die vlgde verkiesing, hulle het daren nie v d klein dorpies vergeet nie.

Jacques Venter ·

Leendert
Die DA veg aanmekaar vir die behoud van die grondwet. Volg die nuus en jy sal sien waarna ek verwys

Leendert ·

As dit so is, is dit selektief, want dan bly hulle tans weg van dit wat hulle nie pas nie, ipv om betrokke te raak, hulle skram daarvan weg. En die dag as HULLE fisies hul beleid sal moet laat geld, dit wat dieselfde as die ANC is en waaroor Solidariteit en Afriforum nou vir die ANC in die howe pakgee, dan sal die DA weer aan die ontvangkant wees.

WitBlits ·

Die geheim van die moderne wereld is om altyd POLITIES KORREK op te tree en dan sal jy KORREKte POLITIEK uitleef of jy word die slagoffer van die sosiale media GALG!

Nico ·

Waarom hardloop almal weg van die waarheid? Jy kan nie die waarheid verander nie – en ook nie die geskiedenis nie. Dis net die mense met ‘n minderwaardigheidsgevoel wat teen kolonisasie is. Hulle vergeet egter dat hulle al die voordele daarvan geniet. Indien dit hulle so pla moet hulle maar in die bos gaan bly sonder water/ elektrisiteit/behuising/vervoer ect ect.
Hulle geniet die vooruitgang maar in dieslefde asem is hulle daarteen. Hulle weet nie meer waaroor om te kla nie. Dis tyd dat hulle van hulle minderwaardigheidsgevoel – komplekse ontslae raak en begin leef.

Akademi Buktu ·

Ek kan nie mooi besluit wie is die kinderagtigste nie – die politici of die politieke analiste. Ons land is kniediep in die moeilikheid, nou en toekomstig, as dit die gehalte insig is wat aan die orde van die dag is. Maimane was voor die plaaslike verkiesing net so kinderagtig met sy tirade oor wie asseblief nie vir die DA moet stem nie. Ek het na verskeie jare aan sy wense voldoen en VF+ gestem, en gaan dit weer doen. Terwyl ek nie met alles wat hulle doen en sê saamstem nie, sien ek nie sulke kinderagtighede uit die VF+ geledere nie. Wat ANC leiers en kommentators betref, hulle is huigelaars par excellence.

Johann Holzapfel, Vredekloof ·

Wou my uit hierdie debakel hou, maar kan nie. Dit gaan hier nie oor WAT Zille gesê het nie en onvergeeflik op Twitter nie, maar DAT sy dit durf sê het! Vreemd genoeg is alles, tot die TUGPROSES teen haar ‘n kolpniale maaksel! Nes die parlement, noem maar op. Raad aan haar: Bedank liefs. Jy het die DA gebring tot waar hy is as teenvoeter vir die ANC-plunderaars. As die waarheid die DA se kanse kan knou om steun op voetsoolvlak (dis ANC-domein daai) te werf. Laat dit dan so wees. In hierdie ruwe Suid-Afrika gaan dit lankal nie meer oor die waarheid of feite nie, maar politieke opportunisme en weerligafleiers om die aandag op die ander ou se kwinte en kwale te ws in ‘n poging om jou eie tekortkominge toe te smeer. Soos met die Gupta-sage: Kommissie van ondersoek, aangestel deur Nommer Een self? Hoekom nie sommer hom die voorsitter maak nie?

Jacques Venter ·

Nico
Britse kolonalisasie het ons plase en oeste afbebrand. Ons vrouens en kinders in konsentrasie kamp dood verhonger. Ons oupas as krygsgevangenes na Indië en St Helena gestuur.

Nou beskou jy mense wat teen kolonialisasie is as mense met minderwaarheids gevoel. Jy is òf dom òf ongevoelig òf albei

Jakobus ·

Wat kolonialiste aan betref, moet ons dalk ook ‘n bietjie perspektief kry. ‘n Baie groot gedeelte van die wêreld is gekolonialiseer. Natuurlik het daar baie dinge gebeur wat onaanvaarbaar is, barbaars, wat weggewens kan word, maar wat nie sal weggaan nie. Ook is die realiteit dat daardie lande, na kolonialisasie, ontwikkel het, baie kundigheid is so gedeel, wat daardie lande latere jare te pas gekom het , ook om in die wêreldmarkte mee te ding, (hulle is aan die ’buitewêreld bekendgestel).

Terug in SA, as daar iemand is wat vir die Britte die dinges in moet wees is dit die Afrikaner en veral die boere (nie dat swart mense nie ook die slagoffers was nie), maar ons het dit verwerk, ons hap nie in die verlede as ons ‘n Engelsman op straat raakloop nie, wil nie standbeelde afbreek nie. Maar intussen sal die ANC darem ook als vat, ook die myne en alle ander rykdomme wat hulle die land ingebring het, ook hul taal.

In 1961 is ons juis uit die Statebond. Na die ANC die land egter oorgeneem het, omarm hulle dit weer vir ekonomiese voordeel, maar is nou éérs kwaad vir die kolonialiste, of is hulle?

Johann ·

En in die lig van die woede wat die mense teen kolonialiste het, hoe beoordeel mens dit teen die verwoesting deur IS (Islamietiese Staat) van artefakte?

Jan ·

Die kruks van die storie, ook met die ‘kwaad’ oor kolonialisme, as ons anmal oor dit waarvan ons nie moet hou nie, of oor kwaad is, op standbeelde uithaal, ons ‘woede’ nie kan beteul nie, afbrand, en dit nie sinvol kan beredineer nie, dan het dit laat in die dag geraak. Dan is die lyn tussen dit, soos ‘n IS en die ekstremiste dit hanteer dun, wat nie net hul radikalisme op beelde en artefakte uithaal nie, maar later soos ons nou al in die buiteland op verskei plekke gesien het, twee maal binne ‘n kort tyd in Engeland.

Helpmekaar ·

Nouja dan moet ons saam met die swartes stem oor die saak.Hullewas vernietig daardeur en ons ook.Watmoet ons nou doen om dit reg te maak Jacques? By wie moet ons gaan kla of hof toe neem sodat almal gelukkig is en met hulle lewens kan voortgaan? Wat moet ons opbou of afbreek? Wat moet ons doen om die pyn te verlig?Kan ons n land vir Brittanje aankla?

Jacques Venter ·

Hallo Helpmekaar.
Beide Afrikaner en swartes het gely onder kolonislisme. Ons kan begin om mekaar se.pyn te probeer verstaan en respek daarvoor te hê.
Ons kan verstaan dat apartheid die lewensbloed uit swart mense gepers het. En verstaan dat regstellende aksie nodig is om ons land te normaliseer

Jakobus ·

Hoeveel van die mense wat ‘nou’ vir der jare en vele geslagte verder, na die gebeure, waarvan hulle nie deel was nie, en nog ‘pyn’ het, is ingelig oor wat gebeur het, en die invloed wat dit toe gehad het, tot op vandag. In hoe verre verstaan hulle die geskiedenis in die konteks van wat in die wêreld gebeur het en nie in isolasie nie. Of is dit mense wat vure aanstook en sekere aspekte in die verlede aangryp en dit nou na jare voor ‘n gehoor melk om die aandag op hul standpunt te vestig, ‘n oningeligte gehoor te betrek, soos die voetvolk.

Johann ·

Jacques, RA gaan nie die land normaliseer nie. daar is omtrent geen witmens meer oor wat nie ge-RA is nie. Al wat gebeur het, is dat daar net meer swartmense is wat werkloos is, want hulle het op RA gekonsentreer. Die land het vergeet om te groei, daar is nie kundigheid om dit aan die gang te kry nie. Die nuwe FinMin, Gigaba, het juis vandag gesê, dis ‘n mite dat die staat nie met die privaat sektor mag inmeng nie, So wat sê dit vir jou? Die probleem lê nie op grondvlak nie, maar by die ANC wat nie weet nie.

Jacques Venter ·

RA is in beginsel reg. Of dit reg toegepas word is n ander vraag. Regstellende aksie moes deur opleiding vooraf gegaan het. n Verdere probleem is cadre deployment.Ek het self gesien hoe onbewames aanhestel en bevorder is. Dis is dit absoluuut nodig dat die ANC uit die regering moet uit

Johann ·

Of jy nou plase RA of wit mense uit hul werk skop, is dieselfde. Gaan lees wat bekende ekonome hieroor te sê het. Dit doen mens as jy nie ander planne het, nie, om weg te vat en vir ander te gee, is nie die oplossing nie. Gaan kyk na al die gevolge, wat ek nou nie hier gaan herhaal nie, maar maak ‘n lysie, om mee te begin.

Afrikaanse Knaap ·

Ek stem nie vir die DANC nie.
Helen Zille het na my mening niks verkeerd gesê nie. Daai tannie werk haar as af vir ‘n beter Suid-Afrika, en om haar nou af te dank oor twak, is, twak.
Dis vir my ironies dat die man wat aan die stuur van haar organisasie is kan weg kom met fotos van manne wat wag met bakstene om ander te stenig, maar haar klein twiet is haar nou haar werk kwyt.
Wat het geword van vergewe en aanmanings? Sy het mos om verskoning gevra?

HELP asb vir Ou Politiek Korrekte Vlakvark ·

Wie weet welke groep was die eerste bewoners van Suid-Afrika? En deur wie was hulle “gekolonialiseer? Presies welke groepe was kolonialiste in Suid-Afrika? Ou Vlakvark verlang feite, nie persepsies nie.

En wie het die swartmense in Afrika oor eeue verslaaf en aan buitelanders verhandel? En wie het die Indiers van Indië en Oosterlinge van die Ooste oor eeue verslaaf en aan buitelanders verhandel? Ou Vlakvark verlang feite, nie persepsies nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.