Nuuskommentaar: Vandag premier, môre president Lesufi?

David Makhura & Panyaza Lesufi (Foto: Twitter)

Die afgelope Dinsdag het David Makhura, premier van Gauteng, ná agt jaar sy bedankingsbrief ingedien. Blykbaar sonder enige druk of dreigemente het hy self besluit dat sy premierskap nou, eerder as in 2024, eindig.

Na verwagting sal Panyaza Lesufi, huidige LUR vir onderwys in Gauteng, hierdie rol oorneem. Lesufi is vroeër vanjaar verkies tot ANC-leier in die provinsie en is dus ʼn gunstelingkeuse vir premierskap.

Dit was vroeg vanjaar al duidelik dat premierskap ʼn nuwe trappie gaan word in Lesufi se politieke ambisies. Van buite sou Makhura mettertyd deur die DA in wantroue verwyder word. Van binne het die ANC ook lank reeds besluit dat Lesufi die pos gaan oorneem.

Enersyds word Lesufi se verwydering by onderwys gevier en andersyds word sy alomteenwoordigheid gevrees. Lesufi was nou al lank genoeg LUR van onderwys om sy vyandskap teenoor Afrikaans en Afrikaners te vestig. Die hoop is natuurlik dat die premierskap hom besig genoeg gaan hou dat Afrikaanse onderwys sonder teenstand kan aangaan.

Die groot vrees is egter dat hy nou net ʼn groter platform vir sy antagonisme het. Lesufi is in wese ʼn goedkoop populis en opportunis. Sy valse en toegedigte “struggle credentials” getuig hiervan. Dit beteken dat ʼn ganse antagonistiese Gauteng-ANC verwag kan word.

Hierdie verandering vind plaas kort voor die ANC se leiersverkiesing in Desember. So is die 2024-verkiesing ook nie té ver weg nie. Lesufi is dalk ʼn boelie, maar uiteindelik ook ʼn loopbaanpolitikus.

Die vraag is dan hoe hy sy politieke pad vorentoe sien. Die opvolgvraag is hoe sy pad weer later met ons eie pad kruis. Bestaan daar politieke puntsmanne wat dié lelike trompop botsing moontlik kan voorkom?

Makhura was op die ou end nie ʼn vreeslike goeie ANC-gesiggie in Gauteng nie. As provinsiale leier moes hy saamwerk met moeilike koalisieregerings in Tshwane en Johannesburg. Hierdie spanning het gespruit uit die ANC se toenemende verliese op munisipale vlak. Provinsiale mag bots dan met munisipale magsverlies. ʼn Swak ANC-premier wat niks laat realiseer nie, pla ʼn swak ANC-munisipaliteit nie so veel nie.

Die huidige situasie is van alle kante spanningsbelaai. ʼn Verlamde en verlammende ANC-premier skep probleme vir opposisiepartye wat munisipale koalisies wil laat werk. ʼn Onaanvaarbare nieu-liberale DA-agenda uit die koalisies laat funksionerende munisipaliteite weer soos vlieë val volgens die ANC!

Nou probeer koalisies wonderwerke verrig met provinsiale politieke antagonisme van bo en ʼn holgevrete staatsburokrasie van onder.

Dit laat die ANC nog slegter lyk in die aanloop tot 2024. Die party het dus vars nuwe provinsiale gesigte nodig vir ʼn nasionale herlewing. Lesufi is hierdie vars nuwe gesig. Hy is mos ʼn dinamiese opkomende jong leier wat beter lewens vir sy mense wil skep. ʼn Mense-mens. Wat meer wil ʼn mens dan hê!

Dit lyk nogal asof die ANC ʼn bietjie huis skoonmaak op provinsiale vlak in aanloop tot 2024. Tydens KwaZulu-Natal se provinsiale konferensie is Sihle Zikalala ook as provinsiale leier verslaan. Ná sy bedanking dien Zikalala nou as lid van die provinsiale uitvoerende komitee in KwaZulu-Natal.

Hierdie provinsiale leierskapoorgange verseker dat provinsies nie twee magsentrums het met die oog op 2024 nie. Diegene wat tot ANC-provinsiale leiers verkies is, moet dus ook premier word. So kan hulle die nodige veranderinge in die wetgewing aanbring voor 2024.

Met die regte nuwe leierskap vervul die ANC immers Ramaphosa se beloftes van interne herlewing. Dit is waarskynlik die enigste kaart wat die ANC oor het om te speel. Vir oorlewing is herlewing eers nodig. Of só hoop hulle.

Indien die ANC in 2024 kan oorleef, lyk iemand soos Lesufi se eie politieke vooruitsigte natuurlik goed. Lesufi “red” die ANC nou deur die báie belangrike provinsie Gauteng te behou. Dit verhoog Lesufi se status in die party veel meer as wat goedkoop rassepolitiek in skole ooit sou kon. ʼn Deurslaggewende rolspeler verdien om later van tyd beloon te word.

Panyaza Lesufi (Foto: Twitter)

Die ANC tree hier absoluut in sy eie belang op. Lesufi moet nou ʼn spanspeler wees met die oog op 2024. Lesufi tree egter ook in sy eie belang op. In die politiek loop eiebelang en mag feitlik altyd hand aan hand. So moet Lesufi se eie politieke ambisies nooit onderskat word nie.

Hy het in die era van rassepolitiek dié kaart herhaaldelik gespeel om vir homself prominensie te verkry. Met premierskapservaring kan hy ʼn al groter rol binne die ANC speel. Nee, hy was op papier (en in persoon) nie ʼn goeie LUR vir onderwys nie – veral nie uit Afrikaners se oogpunt nie.

Wat maak dit nou juis vir die ANC saak? Dit is nie asof doeltreffendheid en bevoegdheid ʼn belangrike aanstellingskriterium is nie. So ook maak die vervreemding van minderhede amper nog minder saak – omdat ons getel eerder as geweeg word, is ons formele politieke invloed op nasionale vlak beperk.

Lesufi is ongelukkig die tipe persoon en politikus wat die meeste beskikbare mag wil hê. Sy kombinasie van eiewaan, toondoofheid vir die werklikheid en ongenaakbare lojaliteit aan ʼn uitgediende staatsideologie maak hom net dalk die perfekte ANC-presidentskandidaat.

President Lesufi laat ʼn mens byna net soveel sidder soos die moontlikheid van ʼn adjunkpresident Malema. ʼn EFF-ANC-nasionale koalisie is ongelukkig iets waaroor ʼn mens moet begin dink. Opportunisme moet nooit onderskat word nie!

Op die ou end móét ʼn mens soveel oor die ANC-politiek omgee as wat dit jou raak. Die ANC doen alles wat hulle kan om nié mag in 2024 te verloor nie.

Burgers moet aanhou om alles in hulle vermoë te doen om dié uitslag toenemend irrelevant te maak. ʼn Adjunkpresident Malema in 2024 of ʼn president Lesufi in 2029 moet so irrelevant moontlik gemaak word.

Staatsverval en -antagonisme word uiteindelik die beste moontlik teengewerk met toenemende staatsbestandheid en onafhanklikheid. Vervallende bedelingspolitiek moet teengewerk word met opkomende gemeenskapspolitiek.

Polities gekaapte openbare skole moet met private Afrikaanse skole teengewerk word. Nes ʼn vervallende nasionale kragnetwerk omseil moet word met selfstandige privaatkragopwekking.

Maklik of goedkoop is dit dalk nie, maar noodsaaklik ongetwyfeld.

Wie wil dan vir ewig uitgelewer bly aan só ʼn drakoniese gemors? Demokratiese uitsette behoort net gevoel te word in soverre insette gelewer kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

Groen Ghoen ·

Dat die staatsmag in die hande van Lesufi en Malemma kan beland noop ‘n mens om alle hoop vir die toekoms van hierdie reeds droewige land te verloor.

Republikein in die Wes Kaap ·

Maar wetsgehoorsames moet steeds belasting betaal.

wendy ·

Jip dit is waar voor die gemors gemik het
But the wheel turns

007 ·

Hy gaan ons vlg President wees, Ace en sy cronies het hom daar in gekry. Ace gaan ook met ‘n bang terug kom vlg jaar. Vice of so iets.

Republikein in die Wes Kaap ·

Teen die tyd dat Lesufi president word is gedeeltes van die Wes Kaap al onafhanklik.

Kokerboom ·

Dit klink idealisties. Helfte van Ooskaap plus duisende onwettiges sit al in Weskaap.

Republikein in die Wes Kaap ·

Indien jy kyk na die sensussyfers en OVK uitslae is die migrante uit Oos Kaap en onwettiges geneig om te konsentreer in sekere distrikte. Daai streke kan maar deel bly van SA. Dit sluit Kaapstad, Overstrand, Paarl, Stellenboch, George en sy direkte bure in. Daar is nog sowat 50 000 vierkante km waar wit en bruin die meerderheid is. Dis daar waar gewerk kan word aan onafhanklikheid.

KatjieDeKat ·

Laat ons hoop dat die blankes wat dan nog vasgekeer is in die res van SA, vlugtelingstatus daar by julle kan kry. Ons sal natuurlik werk vir verblyf, al moet ons ook in tente of Wendy huisies woon.

Republikein in die Wes Kaap ·

Jy is welkom! Maar onthou, dubbele burgerskap word nie toegelaat nie. Jy sal dus jou SA burgerskap moet opgee, en saam met derduisende werklose migrante jou SASSA toelae verloor. So nie, sal jy wel ‘n verblyfpermit ontvang sonder gewone voordele, stemreg.

KatjieDeKat ·

Nog nooit in my lewe SASSA ontvang nie. Ons werk vir ons geld. Ek kom uit n gesin van ambagsmanne, my seun en sy pa ook ambagsmanne. My jongste dogter n apteker, haar verloofde n ambagsman. My oudste dogter het admin ondervinding, haar man ook n ambagsman. As die Wes Kaap ooit afgstig, sal ons met die grootste liefde ons burgerskap van die res vd hool prysgee. Ek is eintlik bitter spyt ek het ooit die Wes Kaap verlaat. Maar as mens jonk is, dink jy mos nie verder as jou neus lank is nie. Bygesê, dit was 1989, so niemand het n idee gehad Hoe erg dinge gaan raak nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Dink net, daar is seker 500 000 Katjies daarbuite. Saam met julle gesinne kan ons ‘n land van 25 000 tot 50 000 vierkante km binne 10 jaar opbou. Ons het darem nog kapitaal en werkywer. Ek wil sien dat jou kleinkinders eendag hier bly.

KatjieDeKat ·

Om die waarheid te sê, ek is gebore in Kenilworth, het grootgeword in Bellville. So ek is n “landsburger” van die Wes Kaap by geboorte:-)

Republikein in die Wes Kaap ·

Nou weet ek hoekom jy altyd sense praat.

Kokerboom ·

Kom laat ons nie dinge vooruit loop. Tyd sal leer.
Dan sal ons ‘n PVA dienooreenkomstig bepaal

Sandra ·

Hy is ‘n groter rassis as enige ander ANC kader, behalwe miskien Malema. Dit sal nooit deug nie.

Hendrik ·

Nog nooit so duidelik en dringend roep dit dat die privaatsektor moet ontwaak en meer agressief sy stem moet laat hoor en saam moet staan. Te lank rank ons op teen Solidariteit en Afri Forum. Ja ons moet hul ondersteun maar ons moet op alle
vlakke aktief raak. Ek neem waar ons volk is vasgevang in die greep van materialisme en is gekondisioneerd onder huidige omstandighede. Ons is indiwidua listies sonder volksbesef en veral Godsbesf. Die WERKLIKHEID is sonder die MAG van die PRIVAATSEKTOR sal ons nooit oorwin nie!!!!!!

Republikein in die Wes Kaap ·

Afrikaners het reeds van mekaar vervreem, soos ‘n familie wat volwasse is.

Jacobus ·

Monica, soos altyd stel jy nie teleur met n eerlike ope stuk nie.

Nettie ·

Ek glo die ANC sien Lesufi se tyd as onderwys-LUR as suksesvol! Prof Koos Malan het dit so goed verduidelik. Die ANC meet ALS aan transformasie. As transformasie plaasvind, is hulle suksesvol. En onder Lesufi het heelwat “transformasie” in hulle guns plaasgevind. So hy word beloon! Vir sukses.

Mariana ·

Nou ja ons moet maar Afrikaans groet. Die een is ‘n witmens hater nes Malema. Hier kom nou baie probleme vorentoe. Ons land is regtig verdoem tot in die hel van die ANC. Hulle het reeds hul onvermoë duidelik getoon en met nog ‘n rassis aan die stuur kan dit net slegter gaan. Ons arme arme land en sy mense

Papsak ·

Grootste fout mense hy n gemors hy like nie wit nie dink wat julle doen

Nie Verbaas ·

Dit sal ons nie verbaas as hy president word nie. Hoe meer onnosel jy is hoe beter is jou kans.

Peter ·

Hulle sal ons nie breek nie, ons sal opstaan teen dié spul, dis in ons gene

Lillian ·

Kaders sorg vir mekaar, dié suurstofdief is ‘n groot rassis

Hennie ·

Nog n bewys dat talente maar dun gesaai is in onse cANCer…..

Sarel ·

Due voorspelling was lankal gemzsk toe dit duidelik word dat die ANC nie van Lesufi gaan o ntslae raak .nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.