Nuuskommentaar: Vandag verarm ons weer…

Argieffoto van Numsa-lede wat staak. Foto: @WisaniMadibs / Twitter

Argieffoto van Numsa-lede wat staak. Foto: @WisaniMadibs / Twitter

Branderryers weet hoeveel ekstra woema daar in ‘n brander is wanneer een brander ‘n ander van agter inhaal – op die strand bly daar dan dikwels kosbare items soos selfone en radio’s in die slag soos die water onverwags ver teen die strand op skiet en sonbaaiers oorval.

Vandag begin ‘n groot staking van die Cosatu (stout-) filiaal, Numsa. Dit volg kort na Amcu se platinumstaking, waar die vakbond op ‘n oorwinning aanspraak maak, hoewel al wat eintlik seker is, is dat die land as geheel verarm is.

Talle ekonome meen die Numsa-staking gaan selfs nog meer skadelik vir die land se ekonomie wees. Hoe dit die Oos-Kaapse ekonomie kan raak, kan hier gelees word.

Stakings wat, volgens adjunk-president Cyril Ramaphosa, daarmee vergelyk om die gans wat die goue eiers lê te slag.

Hierdie staking het egter veel meer elemente as net ‘n staking vir hoër lone. Die opvallendste is dat Numsa, so kort na dit die NUM as grootste Cosatu-vakbond afgeransel het, nie daarmee gediend is om deur Amcu wat “aansien” betref die loef afgesteek te word nie. Amcu is nie lid van Cosatu nie, en boonop ‘n relatief jong vakbond wat maar die afgelope drie jaar werklik op die voorgrond tree, (al het die destydse minister van minerale hulpbronne ‘n kluitjie gebak deur te sê sy het eers ná die Marikana-slagting van Amcu gehoor).

Daar is talle redes waarom NUMSA die mees dominante vakbond wil wees. Dit verteenwoordig die radikale kommunisme in Suid-Afrika wat die SAKP na ‘n filiaal van die Wit Wolwe laat lyk. Met sy sterk Oos-Kaapse belange maak dit rug styf teen pres. Jacob Zuma se Zoeloefikasie van Cosatu, en selfs aanslae op Numsa self.

Vir alle praktiese doeleindes is Numsa, al is dit formeel lid – en selfs grootste vakbond van Cosatu – byna net so ‘n vry agent as Amcu.

Die wedywering tussen Numsa en Amcu om “aansien” kan vergelyk word met die Engelse spreekwoord van ”a bull in a china shop”, waar die Suid-Afrikaanse brose ekonomie deur die china shop verteenwoordig word. Behalwe, dis nie een bul nie, maar twee of meer wat mekaar verwoed in daai winkel met sy ragfyn porselein en ander vakmanskap takel. Die CDP gebruik in ‘n mediaverklaring die vergelyking met ‘n Afrika-spreekwoord: “As twee olifante baklei is dit die gras wat vertrap word.”

Is vakbonde dan ‘n onding?

Die kort antwoord is dat onverantwoordelike vakbonde ‘n onding is. Daar is egter soveel onreg op die Suid-Afrikaanse werksvloer – benewens die verskynsels wat wêreldwyd voorkom soos werkgewers wat geen snars begrip van gesonde menseverhoudings het nie, laat staan nog gesonde arbeidsverhoudinge, uitermate swak bestuurders, gevaarlike werksomstandighede en vele meer, is daar tipiese Suid-Afrikaanse verskynsels soos rasgedrewe diskriminasie. Hierdie diskriminasie word te maklik aan institusionele vereistes gewyt – terwyl die wetgewing eintlik pertinent van die praktyke verbied.

Verantwoordelike vakbonde wat nie skroom om werk te maak van geldige griewe van sy lede nie, is broodnoodsaaklik. Vakbonde wat eenvoudig in ‘n vaste patroon verval het om jaarliks met onredelike eise te kom, en dan die jaarlikse stakingseisoen te benut om sy mag te konsolideer, is eintlik niks anders as ekonomiese saboteurs nie. Van die vakbonde, na hulle die gans wat die goue eiers gelê het geslag het en die werkers hul werk verloor, maak ‘n vinnige makeer, en die werkloses kom staan bakhand vir die nodige regsbystand by verantwoordelike vakbonde. Die onderwysvakbond, Sadou, is al as die grootste vyand van onderwys in Suid-Afrika beskryf. Bykans enige poging van die regering en ander instansies om die gehalte van onderrig te verbeter deur meer dissipline van laks onderwysers te verlang, word eenvoudig met mag en mening teengestaan.

In Suid-Afrika word daar ‘n baie groot spanwydte van verantwoordelike vakbonde verwag. Dit begin reeds in die wetgewende proses om seker te maak dat potensieel skadelike wetgewing gou geïdentifiseer en indien nodig, selfs in die howe aangedurf word. Daar kan lank nie meer net suiwer op arbeidswetgwing gefokus word nie, want arbeidswetgwing geskied dikwels binne ‘n bepaalde institusionele en politieke omgewing. Maar ‘n goeie vakbond sal ook erns maak daarmee as ‘n gewone lid in die verste uithoek in die werkplek geteister word. En met die menslike tragedie wat in die platinumgordel heers, het Solidariteit se Helpende hand getoon hoe belangrik daardie aspek ook is.

Stakings bly ‘n laaste uitweg – en ook eers nadat dit behoorlik vasgestel is dat die werkgewers wel die salariseise kon bekostig.

Die Amcu-staking het ook getoon hoe belangrik dit is dat die leemte in die grondwet wat in wese net die reg om te staak beskerm, maar nie die reg om te werk beskerm nie, deur die howe aangespreek moet word. Die enorme menslike lyding van mense, ook kinders, wat nie wou staak nie, toon hoe belangrik dit is om dié kwessie reg te trek. Solidariteit het reeds aangedui dat ‘n regspan hierna kyk.

Nog voor die Numsa-staking het Solidariteit beding dat die werkgewers se organisasie, Seifsa, Solidariteit se lede wat nie aan die staking deelneem nie, nie sal uitsluit nie. Dit gaan Numsa, wat daarop reken dat ander vakbonde se lede weens uitsluiting ook nie kan werk nie en so sy krag groter aanbied as wat dit werklik is, glad nie aanstaan nie. Wydlopende intimidasie van mense wat nie wil staak nie, gaan (soos gebruiklik) waarskynlik aan die orde van die dag wees.

Met die Amcu-staking het die regering besef dat bestaande arbeidswetgewing aangespreek sal moet word. Radikale vakbonde sal uiteraard hierteen skop. Maar uiteindelik gaan dit die vraag beantwoord of die land ‘n verantwoordelike regering het of nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae