Nuuskommentaar: Vasvat van endemiese korrupsie omvattende en taai taak

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa Foto: Werner Beukes/SAPA

Bulgarye se stryd om nie langer die armste en mees korrupte land in Europa te wees nie, word goed omskryf in ’n artikel in De Standaard. Dit gee egter ook ’n aanduiding van wat vir Suid-Afrika voorlê sou adjunk-president Cyril Ramaphosa dit erns hê om endemiese korrupsie en staatskaping in Suid-Afrika aan die ban te doen. Afrika het immers verskeie “nuwe besems” opgelewer wat as opposisiekandidate hard teen endemiese korrupsie in hul lande gepraat het, en dan, wanneer hulle self aan bewind kom, korrupsie tot nuwe hoogtes voer.

Dit word egter nie van Ramaphosa verwag nie. Die Bulgaarse voorbeeld wys eenvoudig daarop hoe moeilik dit is om, selfs met die beste wil in die wêreld, van endemiese korrupsie ontslae te raak. Boonop het ’n sluipskutter ’n bekende sakeman oor ’n lang afstand doodgeskiet – op die slegste moontlike tyd. Dié sakeman was self by georganiseerde misdaad in die land betrokke, maar sy inligting wat gelei het daartoe dat misdadigers wat in ontvoering gespesialiseer het aan die pen ry, het sy beeld verander.

Boonop beklee Bulgarye sedert die begin van die jaar die voorsitter van die Europese Unie se posisie. Die geleentheid is aangegryp om ’n ander beeld van die land te probeer uitdra – en nou het die prominente sluipmoord plaasgevind.

Volgens die wêreldbank beroof korrupsie ’n land van sy toekoms.

Analiste beskryf pres. Jacob Zuma openlik as ’n sentrale figuur in die korrupsie-netwerk wat Suid-Afrika se ekonomie laat kreun. Die gebruiklike woord wat skrywers en analiste uit die sop hou, naamlik “beweerde”, ontbreek al lankal wanneer Zuma onder die vergrootglas kom. Om van hom as president ontslae te raak het ’n prioriteit geword omdat sy blote teenwoordigheid in die staatspresidentsamp die land se ekonomie enorme skade berokken.

En nou het die ANC se nasionale uitvoerende komitee die eerste behoorlike kans onder Ramaphosa verspeel om die land ’n guns te bewys, toe Zuma se toekoms nie eens op die agenda van die eerste vergadering van die nuwe NUK was nie.

Maar sou Zuma van sy amp gestroop word, waar sal Suid-Afrika begin om endemiese korrupsie aan te pak? Die eerste ooglopende punt is die prosesse om staatskaping hok te slaan, en seker te maak dat vervolging sonder versuim plaasvind.

’n Tweede stap sou wees om tenderpreneurskap in die bek te ruk, gevolg deur “kickbacks” op korrupte transaksies.

’n Groot uitdaging is egter die “klein” korrupsie waaraan soveel Suid-Afrikaners blootgestel word, soos verkeersboetes wat gereeld in tjôtsjô omskep word. Georgië en Oekraïne moes hul ganse verkeerspolisiedienste afdank en deur mense wat vir integriteit gekeur is vervang om die korrupte praktyke hok te slaan. Lees ons van die getalle verkeerspolisie, doeane-amptenare en ander wat byna daagliks gevang word, lyk dit of volledige vervanging in sekere beroepe in Suid-Afrika ook dalk nodig kan wees, so endemies is die korrupsie.

Bykans elke persoon in Suid-Afrika het sy ervaring van die omvang van korrupsie in die land. Van dokumente wat maar net nie wil regkom sonder ’n meevallertjie nie, mediese fondse wat omvattend moet walgooi teen korrupte eise, tot vuurwapens in die polisie se bewaring wat in bendegebruik beland. En wie is nog nie deur selfoonswendelaars probeer inloop nie?

Een persoon, selfs Ramaphosa, kan nie so ’n probleem alleen en oornag oplos nie. Hy sal die hulp van elke eerlike Suid-Afrikaner nodig hê. Hy sal hom met eerlike kabinetslede moet omring wanneer die ANC uiteindelik besef die kwessie van twee magsentrums moet vroeër as later aangespreek word. Die Spaarvarkiebank van Dubai sal ook onder oë geneem moet word.

En dan is daar nog die erfenis van Zuma se patronaatnetwerk wat nie sommer sal toelaat dat hul wortels uitgetrek word nie.

Enorme werk wag op Ramaphosa. Maar dan moet hy hom nie nou eers in ’n wolk van populistiese twak probeer omring nie. Hy rig net skade aan sy beeld aan, wat die werklike take erg bemoeilik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Eish ·

Enige poging om die nasionale euwel aan te spreek, gaan van die leierskorps moet ontspring op besliste en ondubbelsinnige wyse. Die verrotting is so endemies deel van die samelewing dat dit n buitengewone ingreep gaan verg.
Ek is maar in vertwyfeling of dit werklik suksesvol aangespreek kan word. Daar is mense betrokke wat oor geweldige mag en fondse beskik wat verseker met n paar stokke gereed staan om in die speke te druk. Jy benodig n hele nuwe geslag mense waarop die etiese gedragswyse ingeprent is en werklik daarvolgens lewe.
Jan Alleman is sodanig geannekseer deur die verrotting dat die werkswyse van omkopery reeds verdiskonteer is in hul lewenswyse en word as n gegewe aanvaar.
Dit gaan n morele revolusie verg met geen podium vir die wenner nie.
Ek wil my verstout om te sê dat dit moontlik is, maar die regte jokkie ry nie die perd nie. Nie in my leeftyd nie.

Grassie ·

Ramaphosa moet hom nou ongelukkig in ‘n wolk van populistiese twak omring om staande te bly. Die bestuur van die ANC is so verdeeld dat hy met sy een voet op ‘n piesangskil staan. Hy jaag nou radikale standpunte na en roep voorvadergeeste op om sy aansien te versterk. Of hy tot beter in staat is, weet ek nie. Ek hoop my mening daaroor is verkeerd.

Johannes ·

Jammer, miskien mis ek iets… Wat presies sien mense in ramaphosa? Hierdie ou steun openlik die onteiening van blankes se grond, eiendom en besighede sonder vergoeding. Hy kom uit presies dieselfde kamp as die zumas, bikos, tambos, magashules, mabuzas, mandelas ens, ens – almal korrupte kommuniste…

kat ·

Ek stem saam Johannes – Ramaposa het S A op ‘n skinkbord vanaf de klerk en sy meeloper roelf meyer ontvang. Hy kan dus nou daarmee doen soos hy will. Neewat – hou verby – hy het klaar gewys waarnatoe sy kop staan – ook maar deel van die korruptes- kyk wie is sy maatjies en jy het jou antwoord.

John ·

Cyril sal sekerlik sy belofte van grondvergrype moet gestand doen want hy het dit wereldwyd verkondig… herhaaldelik se met ‘n wye glimlag… Vandag buig hy langs Mandela se graf. Die kerel het na’ apartheid in oorywerige kruipers se ‘witkapitaal’-botterpotte geval en nooit hard moes werk vir sy ruim meevallers nie. Hy gun presies dit vir sy mense. Die ergste is dat hy nou omspring en sy vorige weldoeners gaffel. Eerste indrukke is glo blywend. Hoop maar op wonderwerke vanuit Cyril se kraal. Hy gaan sy wildste buffels opsaal en ons sal moet klou om bo te bly.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.