Nuuskommentaar: Vavi: Zuma ʼn Marikana-struikrower

jacob-zuma-marikanaSoos ʼn baie groot bom met ʼn lont wat vreeslik stadig brand, ontvou ʼn verhaal van hoe pres. Jacob Zuma glo die land se geheime dienste ingespan het om ʼn teenvoeter vir AMCU te skep om die vakbond te destabiliseer. Dit het nou tot in die hof gevorder. Indien dit waar is – gaan Zuma en mede-verweerders die meer as ʼn honderdmiljoen rand wat geëis word en koste uit hul eie sakke opdok, of gaan die belastingbetalende publiek pa staan vir ʼn amateuragtige projek wat boonop heel waarskynlik onwettig was?

Enigeen wat die Marikana-gebeure van sowat twee jaar voor die slagting gevolg het, sal kopkrap oor die regering se rol. Volgens hofstukke, wat nou voor die Noord-Gautengse hooggeregshof dien en mediaberigte oor Marikana, het die regering eers ʼn benadering gevolg van die saak ignoreer, tot hardhandigheid en daarna doodgewoon “dirty tricks.”

Dit het deurentyd gelyk asof die veiligheidsdienste en intelligensiedienste in die duister rondgetas het (terwyl akademici hulle haarfyn sou kon inlig oor wat aan die broei is).

Die volgende scenariosketsing is waarskynlik ʼn oorvereenvoudiging:

Aanvanklik was die NUM nie net die dominante vakbond op die platinumgordel nie, maar ook die grootste vakbond en die ruggraat van Cosatu. Die NUM, regstreeks asook via Cosatu, het ʼn belangrike rol in die ANC gespeel, soos die verskaffing van infrastruktuur tydens verkiesings en was as vakbond, ook ʼn bobaas-organiseerder – iets waarin die ANC nie juis uitblink nie.

Toe AMCU as onafhanklike vakbond ontstaan het en boonop deur ʼn uitgewerkte NUM-gesagsfiguur gelei is, was dit vir die ANC soos ʼn klip in die maag. Die ANC se reaksie was om die blinde oog na AMCU te draai, selfs tot kort voor Marikana. In ʼn stadium het die minister van minerale hulpbronne ʼn afspraak met AMCU gekanselleer en toe na Marikana gesê sy het kort voor Marikana vir die eerste keer van AMCU gehoor. Dit klink na ʼn liederlike kluitjie, of sy was die mees afwesige minister in haar portefeulje (en in Suid-Afrika sou dit nogal ʼn kuns wees).

In daardie stadium was AMCU die tweede agtereenvolgende jaar met ʼn reuse staking besig, wat die platinumprys die hoogte laat inskiet het. Kerkgenootskappe en instansies, soos Solidariteit Helpende Hand, het die gevolglike nood en honger in Rustenburg en omringende streke help verlig. Mense het hul huise en voertuie verloor.

En die minister beweer sy het teen daardie tyd nog nie van AMCU gehoor nie!

In 2012 het die Marikana-skietery plaasgevind. Die regsproses is nog nie voltooi nie. Suid-Afrika se beeld het enorme skade gely. Maroela was waarskynlik die eerste nuusmedium wat dit met die Sharpeville-skietery van 1960 vergelyk het, waarna veral die buitelandse media dié vergelyking mildelik ingespan het.

Dit is al effense ou nuus dat pres. Zuma glo hierna ʼn skyn-teenvoeter vir AMCU geskep en in die proses die veiligheids- en intelligensie-agentskappe aangewend het om Amcu te help destabiliseer. Gedurende hierdie proses is die Workers Association Union (WAU) onder leiding van Thebe Maswabi, geskep. Dit is in 2014 as vakbond geregistreer, nadat daar in 2013 glo drie keer persoonlike ontmoetings met Zuma was.

Uit die berigte van destyds was dit duidelik dat ʼn groot karkas iewers aan die ontbind was. Die “vakbond” het skynbaar onuitputlike bronne tot sy beskikking gehad en die luuksheid het geen perke geken nie. Maswabi het ʼn enorme salaris gekry, die blinkste vuurwaens is ingespan saam met vele meer uitspattighede.

Dit alles, sonder enige behoorlike aanduiding van ʼn inkomste. Dié beweerde projek is boonop geloods terwyl die Farlam-kommissie van ondersoek nog lank nie afgehandel en behoorlike remediërende aanbevelings gemaak is nie.

En toe rampsaligheid. Die “onbekende” geldstroom het skielik opgedroog en Maswabi was onder diegene wat dadelik geldelik in ʼn groot erbarmlikheid verval het. En nou dagvaar Maswabi vir Zuma en verskeie ministers vir altesaam R114 miljoen.

Vavi beskryf die skepping van WAU as die gebruik van die ekwivalent van huursoldate om opponente (van die regering) te destabiliseer.

Hoewel die hof nou sal moet oordeel oor die korrektheid van die aansprake en daarna of so iets in terme van die grondwet en wetgewing toelaatbaar sou wees, lyk dinge vir die president nie te goed nie, veral teen die agtergrond van ander blapse en beweerde vergrype deur die president.

In die praktyk het die NUM in die onderonsie met AMCU nie net sy beergreep op die platinumgordel verloor nie, maar binne Cosatu van die grootste tot ongeveer derde grootste vakbond teruggesak. Die meer radikale NUMSA het die plek as grootste Cosatu-geaffilieerde vakbond oorgeneem, maar is in die proses van die Zumafikasie van Cosatu uit Cosatu gedryf. NUMSA het pas die stigting van ʼn eie werkersparty aangekondig, nadat ʼn vroeëre plaaslike poging in die Oos-Kaap met die onlangse munisipale verkiesing wind gesluk het.

Dit alles beitel stadig, waarskynlik stadiger as wat verwag is, weg aan steun vir die ANC.

Hierdie jongste hofsaak, wanneer dit breër nuusdekking begin kry, het egter die potensiaal om Zuma onder nog veel groter druk te plaas om te bedank. Dit sal interessant wees om te sien of daar iewers in die loop van die saak geargumenteer gaan word dat Zuma en mede-verweerders, weens die verregaandheid van die “projek”, die vergoeding en koste uit sy eie sak sal moet betaal.

Die belastingbetalers het immers ʼn baie geldige beswaar daarteen om op te dok vir iets wat skynbaar ultra vires was en boonop die kroon op amateuragtigheid span. Boonop, as die bewerings waar is, het die belastingbetalers reeds ʼn milde bydrae tot die skep en uitspattige bestaan van WAU gemaak. Om dubbel te betaal vir ʼn abortiewe poging, gaan bitter slegte medisyne wees om te sluk.

En vir hoeveel ander geheime projekte word die geheime dienste ingespan? Het ons in die geheim weer ʼn staatsveiligheidsraad gekry wat allerlei geheime projekte goedkeur en beheer?

Hopelik sal die huidige hofsaak baie lig hierop werp.

 

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jan Jooste ·

Dalk kan OUTA as vriend van die hof tot saak toetreë, juis om te vra dat die hof enige toekennings moet toestaan uit die persoonlike bronne – en nie staatsbronne nie. Duidelik gaan nie een van huidige twee partye argumenteer vir persoonlike betaling nie. Slegs ‘n vriend van die hof gaan daarvoor argumenteer.

B A Potgieter ·

Zuma en die ANC is geheel en al verantwoordelik vir die Marikana Slagting en die opstand was deur hul EIE Lede bewerkstellig en nie die S A Polisie.!! En dan ook nie die NUWE Siviele Kommessaris van die S A Polisie is nie verantwoordelik nie, die ADJUNK “Ervare” Kommessaris kon die situasie beheer het. Zuma hert gesien hier kom n Perdeby en het haar toe opgeoffer deur haar vinnig aan te stel.

Oupa ·

George Orwell se Animal Farm, nog steeds, en byna tot op die letter. Jammer dat daar nie ‘n opvolg-skrywe uit dieselfde pen gebore is nie. Of werk die storie soos ‘n sirkel: mens begin weer van vooraf lees?

Sarie ·

Zuma is destyds deur die Oos-Duitse geheime diens opgelei. Harde kommunistiese styl. Ons sien dit in sy manier van dink.

Ou Erdvark ·

Geagte mnr Toerien,

‘n Uitstekende nuuskommentaar. Hou asseblief so aan. Die nasie moet ingelig wees.

Al die “geheime dienstes en intelligensiedienstes” en verwante fondse onder welke naam ookal, is ‘n onding in regeringshande, vatbaar vir misbruik. Geen land het sulke dienstes nodig nie.

Elke lojale landsburger is ‘n oog, oor, mond en bron van inligting vir ‘n waardige en eerbare regering ter beskerming van die getroue landsburger, die nasie en hul bates.

Ou Erdvark stel voor die onmiddelike skrapping van al Suid-Afrika se “geheime dienstes” en verwante fondse. #WegMetGeheimeInligtingsdienstes

snoefie ·

ou Afrikaanse spreekwoord wat se: ” ‘n jakkals verander van haar maar nie van streke nie. maar dalk is ek nou rassisties teenoor ou vossie.

al ·

Ek sidder om te dink hoeveel belastingbetalers geld word gemors om zum-zum se vyande of opponente te laat ondersoek. Daardeur vorm hy ook staatskaping deur mense te elimineer wat in sy pad staan. Hy moes al lankal aangekla gewees het maar die ANC NUK klou aan hom vas – dalk is hul ook bevlek met geheime skandale.

John ·

Zuma se vennote glimlag breed as almal net vingerwys na Zuma. Hulle het hom aangestel omdat hy soos hulle is. Soort soek mos soort. Dink ons regtig as Zuma waai, alles sal verander. Nee. Hulle sal hom vervang wanneer hulle glo hulle kan hom nie meer gebruik nie. Iemand meer radikaal is dalk volgende; iemand wat nog meer gaan gee en doen, want gierigheid en die verkeerde neig altyd na dit wat erger is soos in die trappe van vergelyking. Zuma het reeds so ‘n kandidaat voorsien wat sommer ook aan hom kan voorsien… stokvel werk ook in die politiek.

Realis ·

Ek is baie dankbaar vir Herman Toerien wat soveel ondersoekende joernalistiek doen, om die waarheid in detail aan ons as publiek te kan deurgee. Wens net sy skryfwerk kan netso in die hoofstroom media gerapporteer word.
My opinie is dat daar GEEN opvolger huidig in die ANC vir Zuma is NIE. Altans niemand wat sal sterk staan om die kriminele ( comrats) te beskerm nie. HIER IS BAIE GELD BY BETROKKE.
Ten laaste; hou maar bietjie die onbekende buiteperd Mkize dop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.