Nuuskommentaar: Veelrassige politiek

Argieffoto

Die ANC het groot gewag gemaak daarvan dat dit met hierdie verkiesing wil terugkeer na sy “nie-rassige wortels”, die DA vry openlik na swart kiesers, die ACDP maak gereeld aanspraak daarop dat dit die enigste ware nie-rassige party in Suid-Afrika is, en waarnemers let veral op in watter koers bruin kiesers gaan neig met die totstandkoming van Patricia de Lille se Good-party.

Kort-kort hoor ’n mens hoe verbaas kiesers is as hulle op TV-skote bruin lede by Vryheidsfront Plus-saamtrekke sien.

Al word dit om politiek-korrekte redes ontken, is veelrassige politiek om ’n verskeidenheid redes kompleks, en dit word maar te dikwels in die aktiewe politiek gesien. Veral die DA trap gereeld in die slaggat, en dit is veral die jeugvleuel wat hom maar te gereeld aan kritiek blootstel.

Die jongste voorbeeld is die DA se jeugleier wat blatant losgetrek het teen die onderwyseres van Schweizer-Reneke wat nou geskors is oor beweerde rassisme, en deur Solidariteit en ’n massa individue gesteun word. Hierdie jeugleier word nou erg deur die media gestriem; selfs daardie media wat daarvan verdink word dat dit die DA subtiel of blatant ondersteun.

Charles Smith, baie gewilde rubriekskrywer en senior redaksielid van Volksblad, skryf dat die DA gaan sukkel om stemme in Schweizer-Reneke te kry.

Verskeie koerante het die aas aan die DA uitgehou om die optrede van sy jeugleier te belig. Teen vanoggend is, volgens die DA se webwerf, nie op die jeugleier se optrede gereageer nie. In ’n verklaring van die DA op die webwerf, kon die party se reaksie waarin na ander vinger gewys word, net so maklik na homself gewys het.

“The fact that the country has been gripped by this incident is further illustration of a broader issue which we must address. The project of building a country that we all equally belong to is far from over. It requires leadership from all of us and not divisive partisanship.

It is evident that a great deal of distress has been caused by some parties and organisations at the extremes of the political spectrum who have used this incident to divide and not unite us.

It has also caused immense stress to the learners, their parents and to the teacher involved.”

Hierdie voorval was nie uniek nie. ’n Paar jaar gelede het die DA se jeug ’n protesoptog na Kleinfontein buite Pretoria gehou, en die dorp daarvan beskuldig dat dit “ongrondwetlik” optree. Van die DA se senior leiers moes die DA-jeug repudieer.

Die uiteenlopendheid van die opvattings tussen wit en swart lede is waarskynlik die onmin wat tussen die DA-leier, Mmusi Maimane, en die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, ontstaan het oor Zille se kolonialisme-twiets.

Persepsies, eerder as feite, kan leiers lelik aan die agterent hap.

Die ACDP is waarskynlik nie verkeerd in sy aanname nie dat dit die mees veelrassige party in die land is, maar demonstreer terselfdertyd hoe moeilik dit is. In die praktyk gebeur dit dikwels dat swart mense beter rondom tak-bedrywighede organiseer, en dat strukture ’n karakter aanneem wat vir baie blanke lede erg vreemd is. Die ACDP-leier hanteer vele kwessie op maniere wat nie werklik met die demokrasie geassosieer word nie, soos die aanwys van lede van die Nasionale Uitvoerende Komitee. Sy eie vrou, Gautengse Wetgewerlid (met ’n besonder hoë afwesigheidspersentasie) is byvoorbeeld NUK-lid sodat hy iemand in die NUK het wat hy kan vertrou, aldus die leier.

Veral tydens die era toe oorlopery moontlik was, was die ACDP ’n gewilde kortpad vir ANC-lede wat in hul eie party met die nominasieproses uitval. Met opgeblase aansprake oor hul persoonlike steun, word hulle gou in die ACDP in leiersposisies ingeslinger, om kort daarna na die ANC oor te loop en op “beloning” te hoop. Adv. Mighty Madaza en eerw. Selby Khumalo is twee voorbeelde. Die ACDP wat toe sewe parlementslede gehad het, kon nog nie herstel nie, en kon net-net drie parlementslede beredder.

Met een van die vorige algemene verkiesings het ’n meningsopname getoon dat wit Afrikaanssprekendes se steun vir die ANC só min is dat dit as nul geregistreer het. Dis geen geheim dat dit die gevolg was van blatante diskriminasie teen blankes nie, en veral die instelling van diskriminerende maatreëls teen Afrikaans as taal.

Die ironie was dat dit betreklik kort na die NNP se assimilasie in die ANC gebeur het. Die NNP-leier, Marthinus van Schalkwyk, het toe verklaar dat dit gedoen word “om jul stem te wees”. Dit het geblyk ’n onhoorbare stem te wees, en die kiesers wat hierdeur gevang is, het hulle duidelik nie weer daardeur laat vang nie.

’n Paar algemene beginsels is van toepassing. Die eerste is histories-kultureel van aard. Studies toon byvoorbeeld dat ongeveer 85% van die swart kiesers glo blankes het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel. Die ad hoc-komitee oor eiendomsbesit het dit as “die groot leuen” beskryf.

Toe dr. Pieter Mulder, toe leier van die Vryheidsfront Plus, ’n histories juiste lesing oor grondbesit en rassevestiging in die land in die parlement lewer, het van die DA se swart lede hom gaan verkla as sou hy gejok het.

Nog ’n aspek waar ’n kloof geslaan word, is dat eerw. Kenneth Meshoe by geleentheid geweier het om ’n nuusverklaring oor ’n plaasmoord in Noordwes uit te reik “want dan sê die ANC ek is ’n meeloper”. Hy het toegelaat dat die verklaring deur die ACDP se Wes-Kaapse leier uitgereik word.

Dit moet ook in gedagte gehou word dat die werkloosheidskoers onder swart mense veel hoër is as onder blankes. Daar is dikwels ’n soort desperaatheid om as amptelike kandidate aangewys te word, of minstens hoog op die nominasielyste te beland. Oudits toon dan aan dat potensiële kandidate dikwels met stringe “ondersteuners” by sulke vergaderings opgedaag het, en verkies is. Die oudits toon aan dat van hierdie “lede” dikwels aktiewe lede van ander partye is. Een oudit het selfs uitgewys dat die “provinsiale leier van die Vrystaat” so verkies is. Ironies was hy kort daarna lid van die ANC se “religious desk”.

Hierdie stuk kan verder besoedel word met ’n lang lys van skelmstreke (die uwe was self daar) maar word daargelaat.

’n Realiteit is dat die land se rassesamestelling gewoonlik ook ’n kulturele werklikheid weerspieël, en die kulturele werklikhede ingevolge die grondwet en die internasionale reg, sekere regte erken. Dit spreek vanself dat ’n groter gemak met kulturele assosiasie sal bydra tot politieke voorkeure.

’n Party wat sy blanke lede verwaarloos, ly noodwendig skade. Blankes beskik histories oor meer hulpbronne soos geld en kundigheid. Met ’n verkiesing is die beskikbaarheid van vervoer bitter belangrik, terwyl die spreekwoord lui dat as ’n individu oor ’n rekenaar beskik, hy ook ’n politieke party kan wees. Met die nodige kundigheid kan hy ’n mediaverklaring opstel, en deur die rekenaar in die media se nuusstelsels, reeds as persgereed, laai.

As die persoon boonop Afrikaans goed magtig is, kan hy ’n groot persentasie media bereik wat vir ander partye ontoeganklik is. ’n Tipiese media-adreslys van ’n politieke party sal sowat 95 verskillende media-adresse bevat, waarvan byna die helfte Afrikaans is, of ook Afrikaanse berigte plaas. Sonder ’n rekenaar en die kundigheid om dit reg in te span, kan daardie party nie meeding nie.

Navorsing dui daarop dat baie Suid-Afrikaanse kiesers nie hul partye van voorkeur weens beleid- of beginselsake nie, maar “pragmatiese” oorwegings soos getalle en persepsie van bekwaamheid kies. Dit kan egter verwag word dat baie kiesers iewers ’n kantelpunt sal ervaar waar hulle voel die nadele om vir ’n party te stem wat nie ’n voorkeur of gelykberegtiging van sektorale belange bedien nie, stemme gaan verloor.

Uit leserskommentare lyk dit egter of die ANC nie sommer meer blanke stemme gaan trek nie, in weerwil van sy uitsprake. Baie lesers is van mening dat die DA heelwat blanke, en veral Afrikanerstemme gaan verloor, terwyl dit ook lyk of die skynbare DA-blapse die DA se wit steun onaangeraak laat.

Die algemene propaganda van analiste soos prof. Amanda Gouws kan dalk klein partytjies soos die ACDP knou. Teenargumente soos dat klein partytjies meer proporsionele waarde vir koalisievorming inhou, kan dié argumente dalk neutraliseer.

Politiek in Suid-Afrika, selfs sonder die rassefaktor, is kompleks of moeilik. Die kwessie van ideologie is nog nie eens behoorlik onder die loep geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Paul ·

Na al die geharwar en om ander partye, buiten die onkapabile en korrupte ANC met ‘n rondvallende president, wat nie sy links van sy regs kan onderskei nie, aan die voorpunt wat netsowel kon gevolg het, gelukkig te hou en te ondersteun, het ek besluit ek kom vir ‘n slag, in my keuse my eie waardes en waaraan ek glo voorop te stel. Dit sal verseker ook nie die DA wees nie.

marco polo ·

Tensy ons nou finaal kan hoor waar die volkstaat gsan wees, dink ek die antwoord le iewers tussen die VF en Cope.

Hendrik ·

MP jy gaan nie finaal hoor waar die volkstaat gaan wees nie, want die staat sal dit nie gee nie! Jy gaan dit self met jou eie sak , kundigheid, beplanning en volgens SPLUMA stad/dorps beplanning wetgewing moet doen, Alles wettig en resultaat van SPLUMA wetgewing is veiligheiddorpies soos Midstream en enige golf landgoed. DIt word reeds gedoen. Enige stuk grond kan deur ‘n maatskappy/individue gekoop word en ontwikkel word. Grootste kopseer is water en riool want onthou ‘n volledig omgewing impakstudie moet saam met dorpstigting ingedien word. Alles wettig.

marco polo ·

Hendrik, dit is goed en wel om sulke woongebiede te he, maar as dit in n omgewing is waar die Afrikaner die minderheid is, gaan ons steeds blootgestel wees aan al die diskriminerende geite en giere van die meerderheid. Dit is nie vir my n opsie nie. Lyk my Orania of die Wes Kaap is my voorland wanneer ek eersdaags uit ballingskap terugkeer na SA

marco polo ·

Gert, ek doen ja, maar dis eersdaags tyd vir my om af te tree en ek sal seker n rukkie in SA gaan bly, totdat my agterent weer juk en ek die pad vat.

Alwyn ·

Waarom smelt Cope en Da maar liewer nie saam nie met Lekota as leier. Vra maar net?

koos ·

Alwyn, dan is Moesie nie meer ‘n leier nie.
Dit gaan alles oor mag en poste in die parlement en moontlik ook die staat.
Sien, die leier van die oposisie kry ‘n moewiese “salaris” elke maand, en hoe laer af op die parlement se voedsel ketting (randlys van partye) is, hoe minder kry jy, van geld tot SAL vlugte. En ja ek en jy betaal daai geld en vlugte.

Verbaasde ACDP-lid ·

Oh! So eerware Kenneth Meshoe was bang oor wat die ANC van hom sou sê?
Noem ek so iemand n bang broek of n swak opponent?
Ek dink nie ek wil meer so iemand as leier hê nie!

Jerry ·

Die enigste oplossing met veelrassige politiek en die rassefaktor in SA is dat daar op alle vlakke van die samelewing regstellings geimplementeer moet word sonder uitsluiting van ras en heeltemal weggedoen moet word met kleur, kwotas, BEE ens. Daar is baie metodes, prosesse en maniere waarmee dit geimplimenteer kan word, maar dan het jy leiers nodig wat vertrou kan word en wie se denkwyses buite die ideologiese grense en beperkinge strek. In SA word die ideologiese vooruitsigte van die ANC geskoei op veelrassigheid, maar uitgesluit wit en swart anti revolusioneres en gegewe die rigting wat die ANC onomkeerbaar ingeslaan het, gaan hierdie ideologiese vooruitsigte nie verander nie, net soos wat VF en Solidariteit/AfriForum se Afrikaner nasionalistiese vooruitsigte, nie gaan verander nie. SA het dus leiers nodig wat al hierdie dinge wil en kan verander. Niks in hierdie wereld is onmoontlik nie en net dalk gee die liewe Vader nog vir SA sulke leiers aan beide kante van die spektrum. Dit is eintlik belaglik maklik om alle groepe ten goede van mekaar te laat verander, maar hier in SA gaan die liewe Vader ons maar moet kom help omrede ras die alleroorheersende domastrante faktor sal bly met die huidige leiers en die toekomstige leiers wat tans gekweek word!

Paul ·

Herman, jy sê hier bo, en ek haal aan: “Met een van die vorige algemene verkiesings het ’n meningsopname getoon dat wit Afrikaanssprekendes se steun vir die ANC só min is dat dit as nul geregistreer het.” Ek het ‘n idee dit moes dalk NUL + 1 gewees het, hulle het vergeet om Roelf by te tel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.