Nuuskommentaar: Veiliger en onveiliger tegelyk (in SA)

Vlag van Suid-Afrika (Foto: Self-photographed, BY-SA 2.5 via Wikimedia Commons)

“Die beste beskikbare berekenings dui daarop dat boere se kans om vermoor te word tussen drie en vier keer so hoog is soos die gemiddelde Suid-Afrikaanse moordkoers, wat alreeds een van die hoogstes ter wêreld is.”

Op die gevaar af om appels met pere te vergelyk is die verskil tussen die moordkoers van boere en hul gesinne en oorlogsterftes tydens WO II nie baie groot nie. Ongelukkig voel pres. Cyril Ramaphosa dat hy nie verklarings teen plaasmisdaad wil uitreik nie, en dat dit die polisie se plig is. Terselfdertyd het die wantroue tussen die landbou, en veral die TLU SA, en die regering geëskaleer met die oorhandiging van die verslag van sy raadgewende paneel oor grondhervorming en landbou aan die president (lees hier). Agri SA het hom voorheen van die verslag gedistansieer nadat Agri SA, wat lid van die paneel was, se insette opsetlik weggelaat is.

Die mensdom beleef op die oomblik die veiligste bestaan ooit in die bestaan van die mensdom. Oudpresident FW de Klerk het dié stelling gemaak toe hy ’n seminaar oor vreedsame naasbestaan en godsdienstige verdraagsaamheid in Oslo, Noorweë, toegespreek het.

Maar dit is nie die ervaring van misdaad-blootgestelde Suid-Afrikaners nie, waar tot boemelaars vrees dat hul karige besittings snags van hul lywe geroof kan word, en hul lewens soms op die koop toe. Suid-Afrika se boeregemeenskap, wat waarskynlik die hoogste moordkoers vir ’n identifiseerbare groep ter wêreld beleef, sal ook die kop skud. En as die moordkoers onder boere en hul gesinslede nie so uitsonderlik is nie soos minstens een lid, ’n akademikus, van die Seunse Weenkoor aanhef, help dit ook nie want die identifiseerbare groep wat internasionaal in literatuur hierdie “titel” verwerf het, is die bruin mans in die Wes-Kaap. Hoofsaaklik weens bende-aktiwiteite.

Maar om syfers van De Klerk te betwis is om appels met pere te vergelyk. Die syfers waaroor dit in daardie geval handel, is konflik wat met oorloë gepaard gaan. As voorbeeld haal hy syfers van Steven Pinker aan. Prof. Pinker is ’n veelsydige akademikus van Harvard. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog was daar 200 konflikverwante sterftes per 100 000. Op die oomblik is die syfer een per 100 000.

Oor die sterftesyfer van boere en hul gesinslede word erg koppe gestamp. Word plaaswerkers se getalle ingewerk, of kan hoewebewoners ingesluit word? Die syfer is in ’n stadium as 115 per 100 000 per jaar aangegee. Of die getal van 200 per 100 000 in WO II sinvol met die 115 per 100 000 vergelyk kan word, is weens ’n gebrek aan basisdata onseker. Is eersgenoemde syfer ook in per jaar uitgedruk, of vir die volle duur van die oorlog? Indien dit oor die volle duur van die oorlog bereken sou word, is die slagting onder boere en hul gesinslede veel groter. Voorts dui dit nie aan of die getal per 100 000 net na diegene regstreeks betrokke by die oorlog, of die ganse bevolkings van die lande in die oorlog betrokke, verwys nie. Ook dit maak ’n verskil.

Die feit dat die plaasaanval-syfer op die oog af na dieselfde orde lyk, is skrikwekkend.

Of die syfers veel werd is, is grootliks irrelevant. Aan die een kant is daar volgens verskeie waarnemers ’n eskalerende koue oorlog aan die broei. Waar tot onlangs (bv. 2017) koppe gestamp is of die koue oorlog deur spanning tussen die VSA en Rusland gevoed word, met onder andere Oekraïne en die Krim as aanstekers, bereken ander die huidige handelsoorlog met die VSA en China as fokuspunte, en die hewige koppestamp in die handelsoorlog tussen die twee lande as fokuspunt.

’n Koue oorlog hou die potensiaal in om tot ’n gewapende konflik oor te spoel. Met die internasionale kernpotensiaal kan enige oorlogsyfer van die verlede enige oomblik na ’n nietigheid lyk. En ongelukkig is dit nie ongewoon dat ’n malletjie met ’n rooi knoppie, hetsy kleiner of groter as die ander s’n, iewers ’n staatshoof met kernwapens kan wees nie.

Terwyl die wêreldbevolking oor hierdie potensiële ramp kan teoretiseer, is daar ’n ander geweldsyfer wat reeds vir Suid-Afrikaners aangebreek het. Suid-Afrika se moordkoers is ver bo die gemiddeld.

Baie van die syfers word egter nog erger wanneer na die landbou alleen gekyk word. Op 19 Maart verlede jaar het AfriForum tydens ’n nuuskonferensie skokkende syfers bekend gemaak, en onder meer gesê: “AfriForum het die mediakonferensie gehou nadat Lindiwe Sisulu, die Suid-Afrikaanse minister van internasionale betrekkinge en samewerking [intussen verskuif], en haar departement verlede week beweer het dat AfriForum paniek in die internasionale gemeenskap saai deur onjuiste inligting te versprei.

“Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê die Suid-Afrikaanse regering onderskat die internasionale gemeenskap se intelligensie deur voor te gee dat eiendomsreg in Suid-Afrika nie bedreig word nie. Dit is volgens Kriel onbetwisbare feite…” (lees volledige verklaring hier).

Wreedheid, wat dikwels marteling behels, speel te veel keer ’n rol. Gedurende die finansiële jaar van 2016/’17 het marteling plaasgevind met betrekking tot 17,6% van die slagoffers wat vermoor is. Marteling tydens plaasaanvalle is besig om toe te neem. (Maroela het die afgelope aantal weke in nuuskommentare twee keer na die rubrieke van Sylvain Ephimenco in Trouw verwys waarin hy groot gewag van die plaasmoorde hier maak (lees hier). Hy het die kwessie in nog ’n rubriek opgevolg.

Intussen het die Vlaams Belang met die onlangse verkiesing in beide Vlaandere en België as tweede grootste party uit die stryd getree. Daar is ’n algemene verwagting dat Vlaams Belang die lot van die Afrikaner en ander minderhede meer simpatiek sal benader, en ook dié van die landbougemeenskap. ’n Leser van Maroela wat die skuilnaam Fred gebruik, reageer met sy kommentaar in ’n mengsel van Afrikaans en Nederlands, deur te skryf hy het met Vlaams Belang se leier, Tom van Grieken, gepraat en hom oor die plaasmoordsituasie ingelig. Van Grieken het gesê hy gaan dit in die Belgiese parlement opper, en die boere se belange bevorder (lees hier).

Intussen is die krisis oor plaasmoorde (waarvoor die regering grootliks toondoof bly) aangevul deur die planne om landbougrond (en ander) sonder vergoeding te onteien.

Gister het die TLU SA ’n wydlopende mediaverklaring uitgereik waarin uitgebrei word oor ’n groeiende probleem wat tussen hulle en pres. Cyril Ramaphosa aan die ontwikkel is.

Oppervlakkig beoordeel ontstaan ’n groot deel van die probleem dat Ramaphosa, waarskynlik om radikale elemente binne die ANC nie te antagoniseer nie, hom nie self oor plaasaanvalle wil uitlaat nie, maar die aksies aan die polisie opdra. Dit versterk die persepsie dat Ramaphosa oor dié kwessie viool wil speel terwyl Rome (en die plase) brand.  Die TLU SA stel dit duidelik: “TLU SA het met waardering kennis geneem van mediaberigte wat lui dat pres. Ramaphosa op hoogte wil bly van plaasaanvalle.

“Ongelukkig bly dit ’n uitlating tydens ’n privaat gesprek tussen die president en ’n individu (Dan Kriek van AgriSA) en nie ’n amptelike verklaring nie,” sê mnr. Bertus van der Westhuizen, die voorsitter van TLU SA in die Vrystaat. “Mnr. Kriek is nie die president se amptelike woordvoerder nie. Slegs ’n openbare en amptelike verklaring vanuit die kantoor van die president of direk van hom af, sal vir ons aanvaarbaar wees.”

TLU SA het die afgelope maand ’n ope brief aan die president gerig en daarin onder meer versoek dat hy ’n verklaring uitreik waar hy misdaad en spesifiek plaasaanvalle, veroordeel.

“Dit het nog nie gebeur nie,” sê Van der Westhuizen. “Solank hy huiwer om in die openbaar standpunt in te neem waar hy hierdie brutale misdade summier veroordeel, bly ons negatief teenoor sy en die regering se gesindheid oor plaasaanvalle, moorde en misdaad in die algemeen.”

TLU SA is van mening dat pres. Ramaphosa ’n amptelike standpunt moet inneem sodat hy aan sy voornemens en beloftes gemeet kan word.

“Boere, en die publiek in die breë, is op die oomblik so kwesbaar soos ’n duif op ’n telefoonpaal,” sê Van der Westhuizen. “As president behoort mnr. Ramaphosa in die belang van die land sy staatsmanskap te openbaar deur hom sterk uit te spreek oor die misdaadsituasie.

“Baie dankie mnr. Kriek vir jou goeie bedoelings, maar dit is nie hoe ons by TLU SA deur die president ingelig wil word nie. Slegs ’n openbare verklaring deur die amptelike kanale van die president of sy kantoor, sal vir ons aanvaarbaar wees.”

Ongelukkig is die ANC nie al party wat kopsku is om mediaverklarings oor plaasaanvalle uit te reik nie. Of dit amptelike beleid is of nie, beide die DA en die ACDP “delegeer” die funksie na die betrokke provinsiale strukture. Nadat die ACDP sy provinsiale verteenwoordiging in die Vrystaat en Noord-Kaap verloor het, is dit wat dié party betref ook daarmee heen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

Wat weet FW van veiligheid en Onveiligheid? Met al die betrokke twak, kan hy ‘n sigaret-fabriek open. Die pres is skynbaar” Horende doof en Siende blind” vir die plaasmoorde, ander moorde, misdaad, staatskaping, korrupsie ens ens.

Andreas ·

Nader ons in Suid-Afrika nie ook ‘n koue oorlog as gevolg van die spanning wat aan die oplaai is nie?

Andreas ·

Cyril is maar net so kwesbaar soos ‘n duif op ‘n telefoonpaal, gegewe sy getrippel rondom die R500,000 Bosasa skenking en sy getrappel op boere se wekroep.

As Cyril dan nie verantwoordelikheid kan neem en president vir almal wil wees nie, waarom gee hy nie dit aan iemand wat nie ‘n probleem met die president se posbeskrywing het nie?

Nel ·

Iemand wat aan so ‘n posbeskrywing voldoen moet nog gebore word.

Vintcent ·

Ek aanvaar dat die regering plaasmoorde aanhits en ondersteun…ten minste todat Ramaphosa (en sy makkers) die volk tot orde roep.

Anneli ·

Ek stem 100% saam. Hoe anders kan Rhamaposa se stilswye interpreteer word?

John ·

De Klerk het hard gesoek na iemand wat bloot na die wit wèreld se oorloè kyk en die mooi rye grafstene met name en datums op, bymekaar tel. Dit is hoe veilig ons nou is. Het veiligheid nie ook te make met dooies wie se grafte nie eers opgeharkte hopies grond kry nie? Met die talle atoomkragstasies en -bomme wat orals oppop en KI-wapens wat in kaste wag op die wagwoord. Wat van siektes wat daagliks die lewe van die mens bedreig, het dit nie iets met veiligheid te make nie… geheime laboratoriums waarin slinkse planne bekook word nie. Sekerlik het die De Klerks nie sekuriteitsisteme by hul huisie nie, nadat hul plasie weens veiligheidsredes vinnig verpand is nie. Hierdie slim lat sal nooit sy baas kan vang nie.

Dries du Toit ·

Plaas dat De Klerk en sy makkers wat nog leef bymekaar kom en daai vriende van hom in die wereld vir wie hy so terwille was, gaan sien en hulle wys wat is die resultaat van hulle planne

Dirk ·

Die kanse is hoog vir boere om vermoor te word in SA. Dit is tyd dat veiligheidsopleiding vir plaasbeveiliging deur die werklike kundiges gedoen en bestuur word en nie deur die sakeryk sakemanne nie. Veiligheid moet bo sakebelange gestel word anders gaan ons boere aanhou bloei!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.