Nuuskommentaar: Veldbrande en die mens se rol

‘n Brand woed Maandag (29 Oktober 2018) in die Step Aside-omgewing in die Suid-Kaap. Foto: Verskaf.

Nasa en klimaatsverandering 

Die verwoestende bosbrande in die Suid-Kaap het vanjaar, nog voor die somer behoorlik kon inskop, reeds minstens agt lewens geëis. Verlede jaar, toe ’n groot deel van Knysna verwoes is, het sewe mense die lewe gelaat. Enorme skade is aan eiendom aangerig.

Uit verskeie oorde kry die klimaatsverandering die skuld. As ’n mens die Amerikaanse, en veral die Kaliforniese brande as rigtinggewer gebruik, is dit nie onwaar nie.

Nasa monitor die werking van El Niño deurlopend om die impak op potensiële brande en die bekamping daarvan te bepaal. Nie net word die seetemperature akkuraat met satelliete bepaal nie, maar ook selfs die styging of daling van die seevlak en ondergrondse water word met verstommende akkuraatheid gemeet.

Die melkhoutboom 

Wat die Suid-Kaap betref, is dit nie al rolspeler nie. Volgens ’n nuwe verslag deur die Universiteit Stellenbosch, Fire Ecology, speel indringerplantegroei, en spesifiek die “losloperdennebome”, ’n groot rol. Dit is die dennebome buite beheerde plantasies wat “wild” groei, en enorme hoeveelhede water opslurp. Die natuurlike fynbos word verdring.

Sekere soorte dennebome se gom brand amper soos petrol, en terpentyn word daarvan gemaak.

Hierteenoor tree sommige inheemse spesies, soos die melkhoutboom, as onverbiddelike bastions teen brande op. Die bekendste melkhoutboom is stellig die Poskantoorboom in Mosselbaai, wat na raming 600 jaar oud is, en saam met nog twee Metusalags tot historiese gedenkwaardighede verklaar is.

Die tweede boom wat as nasionale gedenkwaardigheid verklaar is, is die Verdragboom in Woodstock, Kaapstad. Dié boom het sy naam gekry na aanleiding van ’n huisie wat daarlangs gestaan het waar die Kaapse Garnisoenbevelvoerder in 1806 die Kaapkolonie aan Brittanje oorhandig het.

Die derde nasionale gedenkwaardigheid is die Fingo-witmelkhout by Peddie, en het sy naam gekry na aanleiding van ’n groep Fingo’s wat hier hul lojaliteit teenoor God en die Britse koning verklaar het nadat Britse soldate hulle gehelp het om van vervolging deur koning Hintsa te ontsnap.

Dis ’n hoogs beskermde boom, maar dit verhinder nie dat stootskrapers gereeld die bome afmaai om plek vir ontwikkeling te maak nie. Melkhoutbome kom van nature dikwels in lanings voor, en so ’n laning is prakties ondeurdringbaar vir ’n veldbrand wat dit daarteen vasloop.

Een so ’n insident word mooi deur Jan Rabie in sy boek, ’n Boek vir Onrus, beskryf: “Daardie nag droom die meneer hy het aangeland in die paradys. Die paradys is ʼn stuk aarde so platgestoot en platgevee en van alle plantegroei gereinig dat die hoekpenne van erwe al is wat sigbaar is. Dit is dan presies wat in die daaropvolgende weke met die rykste stuk plantegroei op aarde gebeur. Groot geel monsters genaamd stootskrapers kom reinig die hele kusgebied van plante, skeur bessiebos en melkhoutboom en suurvy en koekemakranka reddeloos uit die aarde, berge bloeiende karkasse om opsy gesmyt te word.”

So skryf wyle Rabie oor ’n nuwe ontwikkeling by sy hart se punt, Onrusrivier.

Hy beskryf ook hoe ’n verwoestende veldbrand die geboue op ’n klein plasie buite die dorp bedreig het – ’n plasie wat voorheen oortrek was van melkhoutbome, maar later plek moes maak vir populiere, denne- en bloekombome.

Die langste melkhoutlaning in private besit word wel op dié grond soos ’n kleinnood deur die huidige eienaars bewaar. Die hartseer is dat dit slegs die laaste stuk van ’n nog veel langer laning is wat voorheen tot diep in Onrus self geloop het, waar verskeie ondernemings nog die melkhoutboom in hul name ingesluit het – nou danksy enkele losstaande bome, waarvan sommiges se stamme ’n meter in deursnee is.

knysna brande

Die verwoestende brand wat verlede jaar in die Knysna-omgewing gewoed het. Foto: Verskaf

Beheerde brande kan aanwins wees 

’n Nuusberig tydens een van die verwoestende brande in Australië berig oor ’n ooggetuieverslag van hoe ’n brandende bloekom skielik ’n vuurtong “gespuug” het wat die bloekoms aan die oorkant van ’n dertig meter breë rivier laat vlam vat het. Die boom gee, as dit aan hitte blootgestel is, ’n vlambare gas af.

In Suid-Afrika het verslae boere en brandslaners al gesien hoe ’n vuur wat hom teen ’n teerpad “vasgeloop” het, veroorsaak dat muise wat ook vasgekeer is, aan die brand raak en dan oor die pad vlug, net om die droë gras aan die oorkant van die pad ook aan die brand te steek.

Soms is daar ’n “botsing van belange”. Verskeie uitheemse spesies, soos die hakie, maar ongelukkig ook inheemse spesies, se saad kan eers ontkiem nadat dit aan vuur blootgestel is. As onbeheerde brande uitgeskakel kan word, kan beheerde brande in die hande van kundiges van groot waarde wees. ’n Knap weidingkundige kan byvoorbeeld bepaal, deur die tipe plantegroei te ontleed, teen watter snelheid die wind moet waai wat die hitte bepaal, om selektief die ongewenste plantegroei te vernietig en die gewenste plantegroei te behou. ’n Vlam wat wind op brand, brand byvoorbeeld ook warmer as ’n vlam wat wind af waai.

Met die versengende droogte wat die Wes- en Suid-Kaap getref het, het sommige mense gewonder hoekom afloopwater van Tafelberg nie beter benut kon word nie, of dan nie meer bestaan nie. Verskeie KoiSan-name vir Kaapstad en Tafelberg dui immers op ’n opvallende waterrykheid teen die berg. Uitheemse plantegroei kry egter ook hiervoor die skuld. Uitheemse plantegroei se groot dors kan tot vleilande laat opdroog, en is ’n faktor wat by die benutting van sommige akwifersin berekening gebring moet word.

Al word skeptici dat die mens ’n groot rol in klimaatsverandering speel se skeptisisme as feit aanvaar, is die mens steeds sy eie grootste vyand op die aarde. Die mens kan egter deur die inspan van sy tegnologie grootskaals voorkomend optree.

Benewens vulkaniese as, kan die teenwoordigheid van ’n wye verskeidenheid skadelike gasse nou deur die Sentinel-5 Precursor-satelliet van die Europese Ruimteagentskap (ESA) waargeneem en gekarteer word. Onder die gevaarlike besoedelingstowwe in die lug tel formalien, koolstofmonoksied, stikstofdioksied, osoon en aërolsol wat nou afsonderlik deur Sentinel gemeet en gekarteer kan word. Boonop word ’n app nou ontwikkel wat mense in staat sal stel om die inligting op hul slimfone te kan bekyk.

’n Hele vloot Sentinel-satelliete, wat ’n selfs nog akkurater beeld van lugbesoedeling sal kan verskaf, word beoog.

Altesaam 7 miljoen mense sterf jaarliks weens lugvervuiling, aldus die Wêreldgesondheidsorganisasie wat dié week ’n konferensie oor die probleem in Genève, Switserland, hou.

Die probleem is dat mense nie beheer het oor watter lug hulle inasem nie, aldus die organiseerders. Die onus rus dus op mense om kollektief aandag aan die probleem te gee. Dit sal van die lande en stede wat die konferensie bywoon verwag word om hulle opnuut tot skoner lug te verbind.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

John ·

Maar van die gevaarlikste vuurtjies is gelee in die menslike mond en in sy hand… Groot bome kan so tot ‘n val kom.

Wan indruk ·

“Global Warming” het niks te doen met vuil lug nie .Myne sny onder grond se water are af wat die aard kors moet af koel en statiese ektriese tyd moet verminder. AGV water are wat vernietig word deur myne oor verhit die aard kors. Voor uitgaan is ook ons onder gang

Daan ·

Wan indruk, jy het ‘n WANINDRUK. Mynboubedrywighede het absoluut 100% GEEN invloed op die bosbrande in die Kaap nie. Terloops, ek het geleer van ONDERGRONDSE WATERARE ,AARDKORS, AFKOEL, STATIESE ELIKTRISITEIT , VOORUITGANG en ONDERGANG! Verskoon asb my swak spelling.

jennefer ·

Indringerplante, en n regering wat grondeienaars nie bystaan om die plante uit te roei nie.

Vuisvoos ·

‘n Regering wie se voorsate vanuit die noorde die land ingekom het.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.