Nuuskommentaar: Verander die politieke stelsel

Pres. Cyril Ramaphosa net voor die 2021-staatsrede. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

President Ramaphosa het gisteraand sy vyfde staatsrede gelewer. Die meerderheid mense het waarskynlik nie ingeskakel net om wéér dieselfde teleurstellende boodskap te hoor nie. Diegene wat wel ingeskakel het, is inderdaad oorwegend teleurgestel met dieselfde ou boodskap.

Ramaphosa het die probleme uiteengesit wat ons reeds jare lank ervaar. Ook het hy die swak oplossings uiteengesit wat die ANC reeds langer as 25 jaar toepas. Oplossings gebaseer op dieselfde swak idees wat in die eerste plek die probleme veroorsaak het.

Suid-Afrikaners moes boonop luister hoe die president liries raak oor plante, terwyl miljoene Suid-Afrikaners werkloos is en honger ly weens die einste regering se korrupsie en onbevoegdheid met die hantering van die Covid-19-pandemie.

Jaar na jaar luister ons na die regering se teleurstellende terugvoer. Hulle kan bloot nie ʼn moderne land suksesvol regeer nie – hulle idees is uitgedien en onwerkbaar. Tog kan ons niks daaraan doen nie. Ons sit elke jaar uitgelewer aan dieselfde regering omdat ons hulle nie eintlik aanspreeklik kan hou óf uitstem nie.

In ʼn normale, funksionerende demokrasie sal so ʼn regering nie lank vir die lewe wees nie. Wanneer mense regtig ongelukkig raak, sal hulle bloot die regering uitskop. In ʼn normale land werk die regering vir die mense. Sodoende keer aanspreeklikheid dat die regering mense nie net vertrap en besteel soos hulle wil nie. Ons regering kan egter doen wat hulle wil sonder enige gevolge.

Dit is nie normaal nie, en ʼn mens mag dit hardop erken.

Na 1994 het die meeste mense ingekoop op die ANC-regering. Sommiges het opreg gehoop vir ʼn goeie toekoms en regering. Sommiges het in verblinde euforie by die reënboogprojek ingekoop. Sommiges – veral wit mense – is so verneder oor hulle verlede dat hulle uit morele desperaatheid op ʼn nuwe bestel ingekoop het.

Voormalige presidente Nelson Mandela en FW de Klerk vier die einde van apartheid.

Apartheid wat tot ʼn einde kom, was veronderstel om ʼn nuwe era van normaliteit, gelykheid en geregtigheid in te lei. Almal sou uiteindelik die kans kry om gelyke burgerskap in ʼn goeie en normale land te geniet.

Die vraag is nie of apartheid tot ʼn einde moes kom nie, maar eerder waarmee dié moreel-onvolhoubare stelsel vervang sou word. Dit was ʼn veel moeiliker vraag om te beantwoord.

Dit sien ons ook vandag. Dit voel byna asof een slegte stelsel met ʼn ander slegte stelsel vervang is. Nie een word gekenmerk deur vryheid, gelykheid en gesonde demokrasie nie.

Die huidige stelsel gee minderhede min ruimte en geen daadwerklike insae nie. ʼn Een-man-een-stem-stelsel in ʼn heterogene land is net demokrasie vir die meerderheid. Boonop stem mense volgens identiteit, eerder as beleid of bevoegdheid. Die ANC, wat sedert 1994 elke nasionale verkiesing gemaklik gewen het, getuig hiervan. Ons unitêre staatsvorm veroorsaak verder dat mag permanent gesentraliseer word. Daadwerklike mag is so van munisipaliteite en provinsies ontneem dat mense op grondvlak nie oor hulself kan besluit nie.

Daarom het ons nie net ʼn leierskapsprobleem nie, maar ʼn stelsel-probleem. Weens die stelsel wat ons het, het almal min seggenskap op grondvlak en minderhede op alle vlakke byna geen seggenskap nie. ʼn Beter stelsel is nodig vir beter uitkomste.

Dit is belangrik om nie vasgevang te word in die gedagte dat dit normaal is nie. Ook nie dat ons dit gelate moet aanvaar nie. Die ANC se mislukking is die perfekte geleentheid om ʼn beter alternatief te bou.

Ons land is in geskiedkundige en wêreldterme eintlik ongelooflik jonk. Voordat Suid-Afrika – soos wat ons hom vandag ken – gevorm is, het ryke al gevorm, die wêreld domineer en tot ʼn val gekom. Sommige lande is al langer demokrasieë as wat ons bestaan. Dit sou eintlik vreemd wees as ons nou al die staatsvorm en stelsel van demokrasie vervolmaak het wat reg is vir ons land.

Indien ons vorige stelsel en die huidige een nie reg was nie, wat is dan? Hoe lyk ʼn Suid-Afrika wat beter en meer volhoubaar is as die ANC of die NP sʼn?

Ons huidige stelsel is besig om só klaaglik te misluk juis omdat dit ʼn swak beskrywing van die werklikheid is. Sterk sentrale regerings misluk altyd, omdat mense nie bloot sentraal dikteer kan word nie. Mense moet vir hulself kan besluit en kan ook beter besluite oor hul eie lewens neem as wat die regering kan. Die stelsel is ook ongeskik vir ʼn heterogene land. Met minstens 11 kulture het ons ʼn stelsel nodig waarin kultuurgemeenskappe vir hulself en oor hulle eie aangeleenthede kan besluit. Met die meeste mense wat hul taal as primêre identiteit sien, is ons ook nie net ʼn see van homogene individue nie. Sodoende moet mense op gemeenskapsvlak direkte insae oor hul eie sake kan hê.

Afgewentelde mag gekombineer met ʼn erkenning van ons kulturele heterogeniteit kom eintlik neer op een stelsel – kulturele federalisme. So ʼn stelsel sal mag nader aan mense bring. Mense sal vanuit hulle gemeenskappe oor hul eie gemeenskappe self kan besluit. Geen groep heers oor ʼn ander nie. Dit sal veel meer die werklikheid beskryf as die ANC se sentrale stelsel van homogeniteit.

Dit voel dalk vergesog en onrealisties. Dit is gelukkig reeds besig om op grondvlak plaas te vind. Die Zoeloe-koningryk is seker die beste voorbeeld hiervan. Die Zoeloes is in Natal met hulle eie regering, eie rade en eie gemeenskap. As kultuurgemeenskap sien hulle grootliks na hulself om. Ander tradisionele stamme soos die Barolong is ook ʼn hedendaagse voorbeeld van ʼn kultuurgemeenskap wat afgesien van die regering oor hulself besluit en regeer.

Dan is die Afrikaner natuurlik, ten spyte van ons wye verspreiding reg oor die land, ook ʼn uitstekende voorbeeld. Alhoewel ons nie ʼn eie grondgebied soos die Zoeloes het nie, sien ons steeds met sterk gemeenskapsinstellings en -betrokkenheid na onsself om. Ons het al uitstekend daarmee geword om ten spyte van die staat oor ons eie gemeenskap- en kulturele aangeleenthede te besluit.

Ons gaan nie vir ewig uitgelewer bly aan jaarlikse toesprake van teleurstelling nie. Die hoop beskaam nie. Harde werk ook nie. Solank as wat ons met hoop in ons harte bou aan ʼn beter toekoms, sal die toekoms beter as die hede lyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Groen Ghoen ·

Teoreties gesproke klink dit wonderlik, MAAR die Zoeloes en Barolong is nie “kolonialiste” wat alles in 1652 kom beduiwel het nie. Van 1994 se beloofde “wigte en teenwigte” om minderhede se belange te beskerm het dadels gekom. Hoeveel Afrikaanse skole gaan, as voorbeeld, oor twintig jare nog bestaan? Die owerheid gaan nie help nie. Kyk na die regbank: Sonder Afriforum se diep sakke sou ‘n hele paar manne weens swak regspraak nou in die tronk gesit het. Die openbare media en hul “politieke kommentators” gaan bly twyfel saai in koerante, radio, en sosiale media. Die blanke bevolking se inspraak in die demokrasie word al minder weens dalende getalle. Al wat dus oorbly is die “helpende hand” wat onder by elke mou uitsteek…

Blikkies ·

Ek kan nie sien dat hierdie land nog 10 jaar kan staan nie. Die ANC volgelinge is te stupid onnosel om te sien wat om hulle gebeur, hulle sal wragtig weer vir die idiote stem. My land is gebreek……..

JohanR ·

Daar moet ‘n referendum gehou word oor die verandering van die politieke stelsel. EK wil die president kies, en EK wil kies wie vir my in my omgewing gaan werk. As daai persoon nie in ‘n jaar presteer nie, dan moet hulle uit, en daar moet nuwe verkiesing gehou word. Nou moeg vir 30 percenter kaders!

LANA is ELANè ·

Het beslis nie na die “same old same” gekyk nie, dit is ‘n geteem met geen hoop vir verbetering op dieselfde noot, dankie, maar nee dankie, en om te dink mense het gedink CR gaan ‘n verskil maak, toe nou nie, want die ANC en selfverryking is eerder sy prioriteit, as wat die mense vd land is.

Karel Kobus Kruger ·

The best government is a benevolent tyranny tempered by an occasional assassination. Voltaire

Piet ·

Ek dink regtig hierdie regering, en die mense wat vir hulle stem, is trotse lede van die Dunning-Kruger klub, want geen regdenkende wese kan tevrede wees met dit wat hier gelewer word nie. Indien hierdie regering enigsins eties wil/kan optree, sou dit wees deur te erken dat hulle hierdie land in die modder in gedryf het, en bedank, Maar nog steed is hulle nie tevrede of klaarmet hulle verwoestende aanval teen Suid Afrika. Hulle kan wragtag nie eers ‘n matriek eksamen bestuur sonder om ‘n gemors daarvan te maak nie. Hier word nie een enkele besluit ten goede vir die land en sy mense geneem nie. Elke enkele besluit is eerstens gebasseer om die blanke, en Afrikaans sprekende in Suid Afrika te na te kom en uit te sluit en tweedens om die politisie en hulle poetsers nog verder te verryk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.