Nuuskommentaar: Verbod op sondebelasting dalk binnekort opgehef  

Argieffoto: Pixabay

Die regering se laaste verlenging van die nasionale ramptoestand verval môre. Daarmee saam sal die huidige alkoholverbod ook verval. Die regering het daarom vandeesweek samesprekings gehou en aanbevelings ontvang oor wat die pad vorentoe moet wees. Daar is aanbevelings aan die kabinet gemaak dat die hele land na vlak 2 moet skuif. Die grootste verandering wat hierdie skuif tot gevolg sal hê, is die gepaardgaande afskaffing van die alkohol- en tabakverbod.

Dit is vandag dag 141 van die inperking en so ook dag 141 van die tabakverbod. Die huidige alkoholverbod is in hierdie tydperk reeds een maal opgehef en weer ingestel. Die laaste keer wat die regering die alkoholverbod ingestel het, is mense onkant gevang deur die besluit. Die regering het sonder enige konsultasie of waarskuwingstydperk die verbod heringestel. Dit het ʼn mens laat wonder of die regering dié skielike besluit nie dalk opsetlik so uit die bloute geneem het nie.

Gelukkig hoef ons nie meer daaroor te wonder nie. Die minister van samewerkende regering, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, het nou in hofstukke erken dat die regering mense wel met die verbod oorrompel het omdat hulle mense nie eers kans wou gee om op die verbod voor te berei deur drank op te gaar nie.

Met hierdie skuif was die regering vas oortuig daarvan dat hulle ons met ʼn slap riem gaan vang. As hulle ons net kan verras met hulle wetmaking, sal hulle beheer kan handhaaf.

Eerder as om die oorhand oor drankgebruikers te kry, het die regering hulle bloot ondergronds gedwing. Die regering het die alkohol- en tabakverbod albei ingestel in ʼn poging om mense se gedrag te beïnvloed. Wat die regering eerder reggekry het, was om ʼn verbod op aksynsbelasting in te stel. Mense is met die verbod na ʼn ondergrondse en belastingvrye mark gedwing. Sodoende het die regering nie net misluk in gedragsregulering nie, maar het hulle hulself ook miljarde rande in belastinginkomste gekos.

Die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) het in ʼn verslag bevind dat slegs 9% van respondente wat aan die navorsing deelgeneem het weens die verbod ophou rook het. Altesaam 93% van die land se rokers koop steeds sigarette. Hierdie verbod is vir alle praktiese doeleinde nie net futiel nie, maar kos die regering ook daagliks R35 miljoen se belastinginkomste. ʼn Verdere R34 miljard in belastinginkomste is reeds in die eerste fase van die drankverbod ingeboet.

Ons regering word dikwels verblind deur hulle magshonger aard. Hulle is oortuig daarvan dat mense telkens sal swig voor wetgewing en dat hulle self die vermoë het om dit af te dwing. Die regering wat verloor, misdadigers wat floreer en mense wat hul gedrag voortsit soos hulle goeddink, sou altyd die noodwendige uitkoms wees. Die oomblik wat iets oorreguleer word, verskuif jy mense se gedrag, eerder as om dit te verander. Jy skuif mense se gedrag na onwettige markte en maak sodoende van gewone burgers kriminele.

Hierdie verbode herinner aan die 1920’s waartydens ʼn algehele verbod op alkohol in Amerika ingestel is. Hoewel die verbod aanvanklik algehele alkoholgebruik verminder het, het die verbod mettertyd ondersteuning en so ook doeltreffendheid verloor. In 1925 reeds is daar tussen 30 000 en 100 000 sjebeens in net New York City bedryf.

Met die verkoop van alkohol wat verbied is, het mense dit op kreatiewe maniere in die hande begin kry of gemaak. Die verkoop van alkohol vir medisinale gebruik is in daardie tyd steeds toegelaat. Sodoende het meer as 15 000 dokters en 57 000 aptekers in die eerste ses maande na die algehele verbod hul mediese lisensies ontvang om dié voorskrifte te maak. Party dokters het tot byna 500 voorskrifte ʼn dag geskryf vir “medisinale whiskey”. Mense het ook besef dat hulle dalk nie alkohol mag koop nie, maar dit wel kan vervaardig. Sodoende het die verkope van druiwesap gedurende die verbod vervierdubbel.

Nes mense kreatiewe maniere gekry het om destyds om dié verbod te leef, doen Suid-Afrikaanse burgers vandag dieselfde. Die regering het sinvolle regulasies se doel vertrap deur gulsig na meer mag te soek. Hulle regulasies is reduseer tot ʼn speletjie waarin burgers teenoor die regering te staan kom. Die regering kyk of hulle ons kan uitvang en burgers kyk hoe ver hulle irrasionele regulasies kan omseil. Dit plaas ons in die absurde situasie waar restaurante wyn in teepotte moet begin verkoop ten einde te oorleef.

Met die aanvang van die pandemie het die regering – ten spyte van hulle geskiedenis – opnuut die morele hoë grond gekry as leiers in ʼn krisis. Hulle het die geleentheid gehad om regulasies in te stel wat ons lei en beskerm. Nou stel hulle bloot regulasies in as deel van die magspel teen burgers. Daar waar hulle kan, probeer hulle ons uitvang met regulasies – soos wat Dlamini-Zuma reeds erken het. Dit is hierdie einste mentaliteit wat verkeersbeamptes agter bosse laat wegkruip. Hulle is nie daar met die doel om die spoedgrens vir burgers se veiligheid af te dwing nie, maar eerder om diegene wat dit oortree tot die regering se voordeel uit te vang.

Wat die regering besluit om met die verval van die ramptoestand te doen, is tot ʼn groot mate irrelevant. Indien die ANC regulasies verslap, gaan mense hulle gedrag nou wettig voortsit. Indien die regering die regulasies in plek hou, gaan mense ondergronds met hulle gedrag voortgaan. Mense wil nie noodwendig regulasies oortree nie, maar voel dat hulle geen ander keuse het nie.

Indien die regering die verbiedinge ophef, gaan dit daarom nie werklik ons gedrag beïnvloed nie, maar bloot ons gemoedere.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Mariana ·

Kan maar net lag vir die klomp se denkwyse en algehele magsbeheptheid. Hulle hoort nie in daai poste nie, want die ANC hoort nie as regering daar nie, maar by vlg verkiesing kom die mees “benadeeldes” en trek maar weer hulle kruisie vir hulle. Tyd om plek te maak vir nuwe regdenkende regering, nie selfsugtige een nie. Mense krepeer nou al vir 26jr van ellende omdat hulle vasgevang is deur die beloftemakers wat se woord niks beteken nie.

Juffrou ·

Monica Mynhardt, uitstekende artikel! Dis presies hoe ons Suid-Afrikaners voel!
Ons almal is nou keelvol vir dié magsdronk politici.

Pieter ·

Ek het geen respek vir die ANC kommuniste nie. Hulle is n verleentheid vir die land

JohanR ·

Ek dink die enigste wat enige respek vir die ANC het Pieter is die ANC’s in die parliament….haat is ‘n baie sterk word!

Jaco ·

Daars glo 12 miljoen rokers in SA. Die TOTALE wit bevolking is omtrent 4 miljoen. Ek sou nog ‘n rookverbod verstaan het as meeste rokers wit was. Dan was dit maar net ‘n verdere “terugkry” vir apartheid. Maar getalle wys dat die meeste rokers in SA “our people” is. Our people verbied dus vir our people om te rook. Iets maak nie sin nie.

Misky ·

Puik skryfwerk en Monica het in woorde gesit wat duisende afrikaners voel en dink. “On the spot!!!”

JohanR ·

Ek wil net weer in 5 maande by ‘n lang kroeg toonbank gaan sit en laat die kroegman vir my ‘n lekker koue 500ml bier trek. Ek wil dan daai 500ml wat na my tafel toe, waar die kelner nou net my kaas burger en skyfies neergesit het. Die dag se koerant is onder my arm en daar spandeer ek ‘n lekker uur. As ek nog dors is en die glas is leeg dan bestel ek nog ‘n lekker koue 500ml bier.

Persheks Adri ·

Kom nou CR gee ons sigarette terug moet nie vir kopdoek wag nie wys ons jy verdien ‘n bells! As hy nie nou ons sigarette terug sit nie dan is ou kopdoek STEEDS besig met haar onwettige sigarette en drank!!! Ek hoop regtig hy praat sommer vandag nog. My Kent Menthol raak laag man!!!

Genis ·

Ek het nog nooit, en sal nooit respek he vir die ANC nie… dis n terroris organisasie… Gestig deur lafharige bomplanters..

Pio ·

Ek verstaan nie hoekom die drank en tabakbedryf nie net normaal voortgaan met besigheid en die malles ignoreer nie? Hulle kannie almal in die tronk gooi nie! Waar’s die Ruperts, Oppeheimers ens. om ‘n beweging te begin wat belasting boikot nie?? Ons kan vir hierdie regering ore aansit!!

Kalla ·

Ek wil dit eers sien, hulle oggend en aand praatjies kom nie ooreen nie.

Ou gees ·

Nou wonder ek waar val ek in die 93% / 7% statistiek?
Ek maak gebruik van drupveratomiseerders en dus damp of “vape” ek. Ek het lankal besluit om eerder my eie sap te maak teen ‘n fraksie van die koste waarvoor die mark dit verkoop. Dit beteken ek koop voorraad vooruit. Laas jaar Oktober het ek my voorraad vir die jaar gekoop.
September sal ek my nikotien weer moet aankoop. Dus ek het huidiglik nie gekoop gedurende die verbod, maar ek het beslis nie opgehou “rook” nie.

Terloops, ek het deelgeneem aan die peiling.
Nou hoeveel ander dampers / “vapers” is presies ook in my situasie waar ons nie gekoop het gedurende die verbod? 1%, 3%?

Eclectus ·

Nog ‘n gevolg van die destydse verbod in Amerika was dat die gebrek aan belasting inkomste op alkohol veroorsaak het dat daar op die ou einde nie geld was om die wet af te dwing nie.

Deon ·

Al hierdie belasting wat verloor is deur die verbod op sigaret en drank verkope het hulle blykbaar nie gepla nie, so as mens nou “reverse gear” dink, dan kan hulle mos die belasting wegvat op die drank en sigarette.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.