Nuuskommentaar: Verkiesingsbedrog – Kan ANC vertrou word?

Foto: Maroela Media

Foto: Maroela Media

Benewens die voor die hand liggende regstellings wat die konstitusionele hof gemaak het deur herverkiesings in nege Potchefstroomse ANC-wyke binne 90 dae te las, het die hof ook die “beginsel” van “genoegsaam vry en regverdig” uit die veld gemoker. Sal die ANC en die OVK kan aanpas by ’n situasie waar daar nou minder ruimte is vir middelmatigheid en doodgewoon vrotheid, ook buite verkiesingsverband?

Terwyl daar groot verligting moet wees dat die konstitusionele hof die ANC – en eintlik ook die OVK – in die bek geruk het deur die tussenverkiesings in nege Tlokwe-wyke (Potchefstroom en omgewing) ongeldig te verklaar, bly daar ’n onheilspellendheid in die lug hang dat só ’n opsigtelike gekierang tot in dié hof moes vorder om reg en geregtigheid te laat geskied.

Trouens, daar het in die proses meer as twee jaar verloop sedert die kwessie die eerste keer voor die verkiesingshof gedien het, en daar reeds bevindinge teen die OVK gemaak is. Vir bykans twee jaar het die onregmatig-verkose raadslede ruim salarisse met voordele ontvang, en is op dié manier ook verseker dat die ANC sy meerderheid herwin het en posisies soos burgemeester, speaker en ander kon vul.

Dit laat ongelukkig ook die vraag ontstaan oor hoeveel ander gevalle daar die afgelope twintig jaar moes gewees het.

Uit die beriggewing blyk dit dat die OVK bewus was van die bedrog wat plaasgevind het, naamlik die aanry van “kiesers” wat nie in die betrokke wyke woon nie, maar op bedrieglike wyse daar geregistreer is en toegelaat is om te stem. Na berig word, was die OVK se houding dat dit nie omvangryk genoeg was om enige invloed op die uitslae te hê nie. Die uitslae in verskeie wyke wat die ANC desondanks naelskraap gewen het, dui egter op die teendeel.

Die konstitusionele hof het nou ’n streep getrek deur die “beginsel” van “genoegsaam vry en regverdig” wees. Dié bedenklike “beginsel” is gereeld deur die regering ingespan om onder meer verkiesingsuitslae in Zimbabwe te “regverdig” Dieselfde verkiesings wat Botswana (ook ’n lid van die SAOG) en Australië wou hê moes oor plaasvind.

Selfs sonder die aanry van onregmatig geregistreerde kiesers kan die vraag ook ontstaan hoe vry en regverdig ’n tussenverkiesing kan wees as die minister van maatskaplike dienste vlak voor die verkiesing skielik juis in daardie wyke kospakkies vir armes laat uitdeel – kospakkies wat onder meer komberse insluit?

Die inspan van die woord “genoegsaam” dui daarop dat dit maar in die haak is as alles nie presies reg verloop het nie. Daar mag maar foute wees, en by implikasie dat daar maar bedrog mag wees. Stembusse vol opposisiestemme wat in die veld opgetel word is maar reg, ’n OVK-beampte wat nadat die stembusse gesluit is ’n vrag stembriewe in die stembus gooi dat dit eintlik “doef!” onderin val en dan skouerophalend sê sy mag ook mos maar stem, is in die haak? Hoeveel waarnemers het opsigtelike ongerymdhede gerapporteer net om later te hoor by daardie stempunte het alles klopdisselboom verloop?

Maar geleidelik het die OVK se geloofwaardigheid by ’n groot deel van die publiek geërodeer. In hierdie geval moes die verkiesingshof byvoorbeeld ingryp om die OVK te verplig om ondersoek in te stel na die optrede van ’n beampte, John Makodi, wat blatant geweier het om onafhanklike kandidate te registreer. Die gevolg was dat net drie van die nege wyke op die aangekondigde datum kon stem. Makodi is geskors, en dit blyk nou dat die personeel van die OVK se Potchefstroomse kantoor vervang is. Dit is nie duidelik of hulle afgedank of verplaas is nie.

Tot krediet van die OVK is gou ná die uitspraak van die konstitusionele hof besluit dat voldoende bewys van woning verskaf moet word om as kieser in ’n bepaalde wyk geregistreer te word. So iets gaan in plakkerwyke enorme probleme veroorsaak, en die EFF sal nader aan die verkiesing gewis ’n mondvol hieroor te sê hê.

Die ANC, by monde van sy sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, het hom half grasieus oor die uitspraak uitgelaat en aangedui die ANC sal hom daarby neerlê – so asof daar ’n keuse was. Die groot toets is egter of die ANC, en die regering, nou die praktyk gaan staak om kiesers na kwesbare wyke aan te ry, en of die kospakkie-praktyk nou ook in ooreenstemming met gesonde demokratiese beginsels sal geskied. Die Potchefstroom-geval was immers nie die eerste waar kospakkies kort voor verkiesings hul opwagting gemaak het nie.

Die komende tussenverkiesings is waarskynlik die laaste geleentheid in ’n lang ruk wat die gesamentlike opposisie het om weer die septer in Potchefstroom te swaai. Dié keer sal die EFF deelneem en vermoedelik veral ANC-steun erodeer. Met volgende jaar se landswye munisipale verkiesings is Ventersdorp by Tlokwe ingedeel, en sal die ANC waarskynlik ruim voordeel trek.

Intussen, vir enigeen vir wie “genoegsaam” nie voldoende is om iets as vry en regverdig te verklaar nie, is die hof se uitspraak ’n groot verligting. Mag die beginsel tog maar na ander sfere deurgetrek word, soos die OG-verslae oor staatsdepartemente en munisipaliteite, met kaderaanstellings en vele meer. Boonop word “genoegsaam” dikwels darem al te wyd geïnterpreteer sodat nie net middelmatigheid ingesluit word nie, maar doodgewoon onbekwaam en vrot ook.

Sodat die land weer optimaal kan begin funksioneer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Heinrich ·

Die ANC op regeringsvlak mag dalk maak of hulle saamspeel (vir nou), maar op grondvlak is dit ‘n heel ander storie met die kospakkies wat op strategiese tye uitgedeel word, intimidasie wat almal van weet, asook kiesiers se politieke ongeletterdheid met die dreigement dat “ons weet wat jy stem en gaan kom vir jou” ; die knapies wat van plakkershut na plakkershut loop met sulke stories rig groot skade vir die land aan. Al wat dan die cherry op op die koek sit is hulle liewe president wat dreig met voorvadergeeste of appartheid wat terug kom…die howe se uitsprake help maar op grondvlak is die IK ook maar nie daar om mee te redeneer nie…

Theresa B ·

Nie in die verlede nie – Nie in die hede nie en nog minder in die toekoms. Regtig! Hoeveel bewyse wil julle nog hê??!!

Bruno Stef ·

Politikuste is 90% manteldraaiers tydens een van die laaste tussenverkiesings voor 1994 in dieselfde Potchefstroom het die Konserwatiewe Party die Nasionale behoorlik gelooi en die setel afgeneem.Die KP LP het na n paar maande na die NP oorgeloop en sy setel saam met gevat wat my laat wonder hoeveel van die oorlede NP se “Dirty tricks department” werk al jare lank agter die skerms vir die ANC. Elke politikus het sy prys daarom vertrou ek geen hofbeslissing of aanvaarding van enigeen in politiek nie.

Dawie ·

Kortbroek en sy trawante het destyds mos toe lekker met die ANC samgesmelt om al hulle voordele te behou.

Johan ·

Dit is nou goed en wel dat jy bewys van jou Adres moet gee met die volgende verkiesing volgens die OVK.
Dit maak ‘n nuwe blik met wurms oop. Die Poskantoor werk nie, so hoe gaan ons bewys van Adres kan gee. Met hierdie Zumas daai alles LINKS om. Niks kan net normal en eenvoudig wees nie.

pop ·

Volgende verkiesing is amper hier. Gaan die korrupste tot dusver wees. Hou maar dop.

Ouman ·

Nog altyd geglo politici is laagste vlak van lewe. Te lui en oneerlik om te werk vir ‘n lewe. Ou brother Bob het hulle mooi geleer. Die ergste is dat groot deel van bevolking nog vir hulle stem.

GES ·

Dit is maar ‘n siekte onder die hoë bome. Om hulle self en hulle voordele te beskerm buig hulle baie maklik voor die wind. Die mees onlangse klassieke geval is die taalbeleid by van sommige universiteite. Ons groot probleem is die “joiners”. Die dag as hulle uit die pad is kan ons vorentoe beweeg.

W Grobler ·

Die 1994 verkiesingsuitslae was ook op die “genoegsaam vry en regverdig” twak gegrond.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.