Nuuskommentaar: Verkiesingsbegroting en die grondkwessie

Minister Pravin Gordhan lewer 2014 se begroting. Foto: GCIS

Minister Pravin Gordhan lewer 2014 se begroting. Foto: GCIS

Verskeie partye en instansies het die minister van Finansies sewe uit tien gegee vir die begroting wat onder uiters moeilike omstandighede opgestel is. Dit is verkiesingsjaar, en sy party skroom nie om met onrealistiese beloftes kiesers se guns te wen nie.

Die een gemene deler in die begroting waaroor verskeie partye en instansies krities is, is die grond- en landboukwessie.

Die ANC vind dit al hoe moeiliker om sy eie brouwerk op apartheid se brood te smeer (al word steeds nie geskroom om dit as deel van die verkiesingspyle in te span nie), en daarom word nou, soos in Zimbabwe en ander Afrikalande waar die bevolkings nie meer die blaamspel wou speel nie, na grond as grondslag gekyk om steun te verseker.

Ná twintig jaar aan bewind word die persepsie steeds gedryf dat grond welvaart beteken, en word onder meer ook so gereeld deur pres. Jacob Zuma voorgehou. Die gedagte van klein lappies grond wat die welvaart moet bring, word gereeld gehoor. Suid-Afrika se hoë reënvalgebiede, baie daarvan in voormalige tuislande, kom egter ooreen met die wêreldgemiddeld. In die grootste deel van die land vereis suksesvolle boerdery dus taamlike groot stukke grond – selde kleiner as 500 hektaar, om ‘n inkomste te kan geneer wat as ‘n lewensvatbare inkomste beskou kan word. Bodemtipes, afstande van markte, beskikbaarheid van besproeiing, die vraag na die tipe produkte wat op daardie grond aard, klimaatsbestendigheid en selfs die toestand van paaie het egter alles ‘n invloed op die grond se lewensvatbaarheid – en dan kom die baie belangrike aspek by – die vaardigheid en kennis van die boer.

Droogtes, veldbrande, vee-, gewas- en weidingdiefstal, mynaktiwiteite en vele meer speel ook ‘n rol.

Kortom, in Suid-Afrika is welvaartskepping deur die landbou een van die moeilikste en duurste opsies denkbaar, veral in die lig daarvan dat die land reeds oor ‘n gesoute kern van kundige boere, wat daagliks op hul knieë gaan en gunstige weer afbid, beskik wat wonders verrig. Sonder enorme bystand skep grondhervorming die potensiaal (en op die oomblik dikwels die praktyk) van armoede eerder as welvaart, en van armoede het die land genoeg.

Dit handel nie net oor grondhervorming nie, maar oor die kwessie van die heropening van grondeise. Die regering begroot R8,7 miljard oor die volgende drie jaar om 1,4 miljoen hektaar “wat strategies geleë is” aan te koop.

Johan Pienaar, adjunk- uitvoerende direkteur van Agri SA meen dit sal hopeloos te min wees. Hy meen die bedrag hiervoor benodig sal eerder R173 miljard wees.

Die TLU SA spreek die hoop uit dat die miljoen hektaar wat die regering in produksie wil stel, staatsgrond sal wees. Die TLU SA betwyfel dit of die regering oor ‘n genoegsame kapasiteit beskik om 450 000 kleinboere te help.

Groot kommersiële boere het ook hulp nodig, veral tydens natuurrampe.

Die Christen-Demokratiese Party sê wat landbou betref, bly die regering steeds ver verwyderd van werklikhede, soos die doelwit om 300 000 werksgeleenthede op ‘n miljoen hektaar te skep. Suid-Afrika se landboupotensiaal is weens die land se lae reënval marginaal, en om een werksgeleentheid per drie hektaar te skep is bloot om erge armoede te kweek.

Die Vryheidsfront Plus sê die ontoereikende toekenning bevestig die party se kritiek dat hier verwagting gewek word wat nie nagekom kan word nie. Dit is die tipe besluite wat later tot gewelddadige protes lei.

Die grondkwessie in die land is ‘n emosionele een, met peilings wat toon dat ongeveer 85 persent van die swart mense wat glo dat blankes hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel, en blankes wat die teenoorgestelde glo. Die EFF van Julius Malema teer grootliks op hierdie opvatting. Die ad hoc-komitee oor eiendomsreg verwys na die diefstalopvatting as ‘n groot leuen. Voeg hierby dat daar toenemende vrae deur die afstammelinge van die land se oorspronklike bevolking, die KoiSan, gevra word oor wat hulle aansprake behels, en daar is al beloftes aan hulle gemaak.

Die uiteenlopende opvattings het die DA in sy derde “krisis” in enkele maande gedompel, en die DA se formele beleid oor die heropening van grondeise sal binnekort geneem word. Dit is op die oomblik baie moeilik om te sien hoe die DA sy standpunt hieroor so gestel sal kry om nie na die een of die ander kant aanstoot te gee nie.

Op die keper beskou, lyk dit ten spyte van wydlopende kritiek op ander aspekte van die begroting, nie of die regering met ander sake die spoor so heeltemal byster is soos met landbou- en grondsake nie.

Die land het suksesvolle kommersiële boere nodig wat nie hoef  bekommerd te wees dat hulle hul grond sonder (behoorlike) vergoeding kwyt kan wees nie.

Die suksesvolle boere moet gekoester word, nie soos die land se stiefkinders behandel te word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.