Nuuskommentaar: Verkorte ‘weergawe’ van Zuma se ‘veronderstelde’ en ‘verwagte’ staatsrede

Pres. Jacob Zuma berei sy staatsredetoespraak voor vir 12 Februarie 2015 Foto: Ntswe Mokoena, departement van kommunikasie

Pres. Jacob Zuma berei sy staatsredetoespraak voor vir 12 Februarie 2015 Foto: Ntswe Mokoena, departement van kommunikasie

Herman Toerien het in gister se nuuskommentaar gekyk na die elemente waaruit ’n staatsrede volgens internasionale konvensie behoort te bestaan. Vandag het hy twee tong-in-die-kies verkorte “staatsredes” voorberei – een wat pres. Zuma “behoort” te lewer, en een wat “na verwagting” gelewer gaan word.

Verkorte weergawe van “veronderstelde” staatsrede van pres. Jacob Zuma

Pres. Jacob verwelkom al die hoogwaardigheidsbekleërs, buitelandse verteenwoordigers en ’n paar bekende gaste wat sy kantoor spesiaal na die verrigtinge genooi het.

Zuma: “Dit is vir my ʼn groot voorreg om vandag hierdie belangrike en rigtinggewende toespraak hier te kan lewer. Mag die toespraak van staatsmanskap wat bo die partypolitiek uitstyg, getuig.

Wat is die stand van sake?

Al bring ek net periodiek blitsbesoeke aan Suid-Afrika, het ek groot moeite gedoen om ’n behoorlike analise te maak van die stand van sake in Suid-Afrika. Die doel van die staatsrede is nie om in groot besonderhede oor elke aspek in te gaan nie – daarvoor wag die begrotingsredes van elkeen van my kabinetslede – maar om oorsigtelik die vernaamste kwessies uit te wys.

Werkloosheid, armoede met die groeiende afhanklikheid van staatstoelaes, misdaad en in besonder geweldsmisdaad, die Eskomkrisis en die gespartel van ander staats- en semi-staatsinstellings weeg baie swaar op teen vordering wat te midde van groot opofferinge deur toegewyde Suid-Afrikaners gedoen word. Ons is baie bekommerd oor die impak op veral die belastinglas van middelklas Suid-Afrikaners wat belegging en herinvestering in die ekonomie in die wiele ry, en die inkomstegaping laat groei.

Dit is ook vir ons ’n groot bron van kommer dat daar so ’n opwelling van rassisme en rassehaat is, en ons sal moeite doen om die oorsake hiervan ongeag die betrokkenes se ras aan te spreek. Ons sal ook die ratifisering van die Internasionale Konvensie van Ekonomiese, Maatskaplike en Kulturele Regte ernstig opneem en aan die hand daarvan wetgewing wat rassepolarisasie aanwakker identifiseer en uit die wetboek verwyder. Dit beteken byvoorbeeld dat ons onmiddellik ons appèl teen ’n beslissing van die arbeidshof in Kaapstad in die sogenaamde DKD-saak laat vaar, en nie meer nasionale kwotas sal toepas nie. Trouens, ons sal alle maatreëls waar ras die norm vir aanstellings en bevorderings is, onmiddellik uitfaseer.

Probleme en deur saamstaan beter maak

Die land het elkeen se kundigheid nodig, en ons kan die probleme van die land net behoorlik aanpak as ons hierdie energie in ’n sweisvlam kan konsentreer. Ons sal daarom die georganiseerde landbou met ’n nuwe gesindheid nader en ons optredes en uitsprake wat tot ’n uitrafeling van verhoudinge gelei het, dadelik staak. Ons sal ons voortaan laat lei deur die kundigheid en goedgesindheid wat in die landbougemeenskap opgesluit is – enersyds om die landbou deur die huidige droogtekrisis te help, en andersyds om met die regte gesindheid diep te kan delf in die kundigheid van boere – die beste in die wêreld – om opkomende boere die beste kans op sukses te bied.

Uitdagings

Soos u stellig weet het Suid-Afrika erg op die internasionale korrupsiepersepsie-indeks teruggesak sedert ek president geword het. Die omvang van korrupsie is so groot dat dit ’n beduidende impak het op die reeds stremmende faktore het wat die ekonomie in die wiele ry. Ons gaan hierdie probleem nou met volle erns aanpak. Dit sluit in om toe te sien dat almal, ook burgemeesters, hulle hou by besuinigingsmaatreëls wat die regering op sentrale vlak aankondig. Die dae is getel dat premiers hul agterente afvee aan hierdie opdragte en groot afvaardigings ten duurste na bestemmings soos Kuba neem, en burgemeesters die opdrag om nie luukse rygoed aan te skaf, gewoon ignoreer nie.

Om toe te sien dat dit nie weer gebeur nie, word ʼn spesiale eenheid in die lewe geroep wat sulke gevalle uitsnuffel, die Spesiale Soustreinpolisie, afgekort, die SS.

The right stuff

Ons moet probleme oplos. Plaasaanvalle word daarom met onmiddellike ingang tot prioriteitsmisdaad verklaar.

Die amptelike beleid van kaderontplooiing word ook met onmiddellike ingang geskrap, ook omdat dit in die eerste plek ongrondwetlik was.

U het seker ook in die media gelees dat die minister van minerale hulpbronne gesê het dat ek vandag ’n belangrike aankondiging oor die mynwese gaan maak. Die regering verbind hom daartoe om beleggings in die mynwese so aantreklik moontlik te maak, en waarborg die beleggings wat in hierdie sektor gemaak het, en nog gaan maak.

Na baie oorweging, het ek tot die slotsom gekom dat ek die land ten beste sal dien deur die amp van president neer te lê, en uit die politiek te tree. Ek sal ook my volle samewerking gee aan alle ondersoeke wat teen my aanhangig gemaak is. Hierdie is daarom my laaste staatsrede, en ek wens die agbare Ramaphosa, wat van middernag af die waarnemende president sal wees, alles van die beste toe.

Nkosi Sikelel’ iAfrika, God seën Afrika

 

 

Verkorte weergawe van “verwagte” staatsrede van pres. Jacob Zuma

Pres. Jacob Zuma verwelkom al die hooggeplaaste comrades en buitelandse verteenwoordigers, asook die persone wat spesiaal genooi is om die skyn van belangrikheid van die geleentheid te vergroot.

Zuma: “Al is ek maar baie benoud om my voete in die parlement te sit; hier is ek en u moet mooi luister hoe goed die ANC regeer – en sal bly regeer tot die Wederkoms.

Wat is die stand van sake?

Al neem my uitgebreide verantwoordelikhede om die land se belange in die buiteland te verkwansel my nie gereeld na Suid-Afrikaanse bodem nie, sorg ek tog dat ek behoorlik op die hoogte van plaaslike sake is.

So is ons baie trots op wat ons vermag, al werk apartheid, kolonialisme en Jan van Riebeeck erg stremmend op ons edele pogings in.

Werkloosheid en armoede word deur staatstoelaes teengewerk, misdaad kan altyd deur statistiek en ’n polisiehoof wat erg verdwaal in haar rapportering is, onder beheer gebring word, en solank die SAKP in die kabinet daarop aandring, sal ons die oplossing van die Eskomkrisis en probleme met ander staats- en semi-staatsinstellings deur verskerpte burokratiese beheer onder beheer bring. Ons glo die middelklas kan nog ’n groot bydrae in die vorm van meer, en verhoogde belasting maak.

Ons is bekommerd oor die opwelling van rassehaat en rassisme. Ons wys alle blankes daarop dat hulle moet waak hierteen, want ons sal nie skroom om die wit oortreders met alle mag en mening vas te vat nie. Max du Preez se witlys vir haatspraaksprekers sal ernstig oorweeg word. Ons sal toesien dat die geskiedenis so herskryf word dat die bose invloed van Jan van Riebeeck behoorlik reflekteer word sodat niemand weer met my sal stry nie.

Die beleid van affirmative action  en die SEB-maaatreëls sal ter wille van versoening verskerp word.

Ter wille van versoening sal ons die herbenaming van stede, dorpe en strate versnel, veral in dorpe waar onluste weens die stand van dienslewering dreig.

Probleme en deur saamstaan beter maak

(Toespraak word onderbreek deur die speaker):

“Agbare Malema, trek op u broek en moenie u vet agbare agter*nt vir die agbare president wys nie.”

Agbare Malema: “Op ’n punt van orde…”

Speaker: “Orde!, Oorde! Verwyder asseblief die agbare Malema!”

Agbare Malema, terwyl hy en sy partygenote verwyder word oor sy skouer: “Pay back the money!”

Zuma: “Ons het bemerk dat die EFF aansienlike steun geniet. Hê, hê, hê.

Na verskeie imbizo’s met ruim verversings is ons oortuig die beste manier om die uittog te stuit, is om beleid by die EFF te gaps. Ons grondhervormingsprogram beteken in wese dat ons alle ooreenkomste wat ons voorheen met die georganiseerde landbou gesluit het, opskeur. Ons sal toenemende druk op die landbou uitoefen dat die staat so veel as moontlik van die grond wat Jan van Riebeeck en sy nasate by swart mense gesteel het, teen die billikste moontlike prys te bekom, en onteiening sal wydverspreid toegepas word.

Uitdagings

Die nare media het versuim om te vermeld dat Suid-Afrika met die jongste korrupsiepersepsie-indeks met twee plekke verbeter het – al moet ek bieg dat ek self effens verbaas was, hê, hê, hê – en bly hamer op die drastiese agteruitboerdery op die indeks sedert ek president geword het.

Ons sal voortgaan om allerlei maniere te vind om meer belastinginkomste vir die staat te genereer, sodat die ontplooide kaders met luukshede soos blink rygoed en oorsese reise na Kuba beloon kan word sonder om hul munisipaliteite of provinsies se diensleweringsbegrotings uit te put.

The right stuff

Ons sal nog geld vind om ons ontplooide kaders toe te rus om die ineenstorting van munisipale dienste te vertraag.

Die belangrike beloofde mynaankondiging wat ek gaan maak: Beleggers – trap in jul spore – ons sal dit nie duld dat daar teen die wil van ons vakbondvennote in Cosatu opgetree word nie.

Onlangse navorsing dui daarop dat die president die grootste verenigende faktor in die land is. Of mense nou links, regs, wit of swart is – die naam Jacob Zuma oorheers die skrywes van meningsvormer. Die opinies wat uitgespreek word is nie aldag vleiend nie, soos om die president ’n one man wrecking ball te noem. Hê, hê, hê.

Eintlik is dit vleiend – ek is nie ’n one man wrecking ball nie. Ek het ‘nʼn hele kabinet en ‘nʼn Luthuli-huis vol bekwame kaders om hiermee te help.

Maar juis omdat die land ’n verenigende faktor nodig het, het ek nie net besluit om my volle termyn uit te dien nie, en daarby buite die tronk uit te dien nie, maar ook om na grondwetlike wysigings te kyk met die oog op ’n derde termyn.

Umshini wami!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Anoniem ·

1 April sal ‘n meer gepaste datum wees vir sy openingsrede. Soos die ander narre in rooi geklee hoef hy net sy neus rooi te maak. Die staat is een groot money making scheme

zahn ·

Kon enigeen van julle al ooit dit regkry om iets leesbaars te skryf as jy ‘n papier in die lug vashou met een hand, en op die papier skryf met die ander hand? Nie? Wel, dan is jy slegter as jeikop stortkop. Kyk mooi na die foto hierbo, sien? Hy kan! kan jy?

Henry ·

Uitstekende handvaardigheid wat tentoongestel word. Baie soos goëlaars se trieks. Wonder hoe hy die kuns bemeester het.
Ek wonder ook in wie se kantoor of studeerkamer onse Prez sit. Boekrak, al die dik boeke…???

Jasper ·

My kinders was nog nooit by n Sirkus nie. Hulle gaan ook die toespraak op Tv volg

Grassie ·

Herman – jy skroom nie om iemand se moer ordentlik om te roer as jy die dag so voel nie. Dit is lekker om ‘n artikel te lees as die skrywer sê wat hy werklik voel of glo en hom nie laat voorskryf deur andere wat dit as polities inkorrek of in stryd met hul ideologiese sienswyse beskou nie.
Doet so voort.

Ek sien uit na vanaand se sirkus en sal graag môre jou kommentaar daarop wil lees.

Eish!!!!!!!!!!!!!!!!!!!! ·

Wow????????? En amper dog ek Zuma het breins gekry! lol hahahahahaaaa
Glo my, my mond het nou al groter en groter oopgeval. Goed gedoen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.