Nuuskommentaar: Verlede se kulturele lesse gee hoop vir politieke toekoms   

Koning Goodwill Zwelithini (Foto: Nqobile Mbonambi/African News Agency/ANA)

Die Zoeloevolk is verlede week in rou gedompel ná die dood van koning Goodwill Zwelithini.

Zwelithini is uit alle oorde aangeprys as trotse Zoeloe, politieke vredemaker, beginselvaste visionêr, invloedryke landbouer en brugbouer tussen kultuurgemeenskappe. Selfs al stem jy nie volledig met die Zoeloekultuur, -tradisionele strukture of -gebruike saam nie, kan ʼn mens erken watter reuse- kulturele leier Zwelithini was en watter groot simboliese waarde hy gedra het.

Zwelithini was ʼn groot teenvoeter teen die ANC – veral teen radikale ANC-beleid. Hy was een van die grootste stemme teen beleid soos onteiening sonder vergoeding en het saam met sy volk se reuse-invloed nog altyd groot politieke gewig gedra.

In dieselfde week het Duduzane Zuma aangekondig dat hy Ramaphosa op die ANC se leiersberaad in 2022 gaan uitdaag vir die ANC-presidentskap. (Dit is die einste Duduzane Zuma wat al herhaaldelik voor die Zondo kommissie by bewerings van korrupsie betrek is.) Hy is bereid om sy nek uit te steek om die mees radikale ANC-ideale te laat verwesenlik.

Hoewel dié twee gebeurtenisse onverwant lyk, is daar wel ʼn verband tussen die twee te trek.

Suid-Afrika ervaar tans baie onsekerheid. Swak ekonomiese omstandighede, warm politieke faksiegevegte, beleidsonsekerheid, misdaad wat toeneem, vervallende infrastruktuur en politieke antagonisme teenoor rasseminderhede is van die faktore wat bydra tot groot onsekerheid oor die toekoms.

Dit laat ʼn mens wonder hóé presies die toekoms gaan lyk. Gaan ons vir ewig vasgevang sit in ʼn toenemend verswakkende en korrupte ANC-regering, omdat 1994 die einde van ons politieke geskiedenis was? Is ʼn radikale ommeswaai in die regering enigsins moontlik, of het ons politieke stelsel dalk sekere fundamentele foute wat so ʼn ommeswaai onwaarskynlik (en onwenslik) maak?

Gestel ons het nie die einde van ons politieke geskiedenis in 1994 bereik nie en daadwerklike politieke verandering is haalbaar – waar presies en in watter stelsel sal ʼn mens hoop en ʼn beter politieke toekoms kan vind?

Dit is hier waar Zuma se aankondiging en Zwelithini se nalatenskap juis verwant raak. Hier dien Zuma en Zwelithini as simbole van twee uiteenlopende visies vir en beskrywings van Suid-Afrika.

Hoewel Duduzane Zuma nog nooit regtig in die politiek betrokke was nie, verteenwoordig hy vanweë sy bloedlyn en korrupsiegeskiedenis die ANC-regering wat ons goed ken. ʼn Regering wat, soos wat die Zondo-kommissie getuig, deurspek is met patronaatskap en korrupsie. ʼn Regering wat radikale beleid soos radikale ekonomiese transformasie, grondonteiening sonder vergoeding, gratis tersiêre onderrig en die nasionalisering van die Reserwebank voorstaan. Dít in ʼn land wat eintlik sosiaal en polities konserwatief is. ʼn Regering wat ʼn sentralistiese, eenheidstaat bedryf in ʼn land wat kultureel uitsonderlik divers is. ʼn Regering wat rasse-agendas bedryf, terwyl mense moedertaal, oftewel kulturele identiteit, as hul primêre identiteit aanwys. ʼn Regering wat 1994 as die begin en die einde van ons politieke geskiedenis beskou. Dít terwyl ons geskiedenis veel verder terugstrek en veel meer kompleks is.

Koning Zwelithini was verreweg die invloedrykste kulturele leier, oor die grootste kulturele groep, in Suid-Afrika. In ʼn monargie en koninkryk wat meer as 200 jaar oud is – een wat verskeie regerings, leiers en staatkundige bestelle getransendeer het.

Zwelithini verteenwoordig weer die Suid-Afrika wat eintlik op grondvlak bestaan. ʼn Land van minstens 11 kulture, eerder as vier rasse of een Suid-Afrikanistiese identiteit. ʼn Land veel komplekser as die eenvoudige sentralistiese eenheidstaat van die ANC. ʼn Land waarin kulture en kulturele strukture oor verskeie regerings, politieke bestelle en leiers heen voortbestaan het. ʼn Land waarin grondvlakpolitiek – hetsy in gemeenskapspolitiek of tradisionele leierskapstrukture – eintlik die natuurlike politiek is. Een waarin ʼn konserwatiewe gees vergestalt in die sterk voortsetting van kulturele gebruike, stelsels en strukture.

Duduzane Zuma. Foto: Nokuthula Mbatha/African News Agency(ANA)

Zwelithini en Zuma is hier blote simbole van verskillende werklikhede. Nie een is heeltemal goed of heeltemal boos nie. Hulle verteenwoordig bloot twee uiteenlopende beskrywings van grondvlakwerklikhede en daarmee saam ook verskillende oplossings vir ons probleme. Die een beskryf wel die natuurlike kulturele werklikhede van die land beter en bied so ook beter oplossings vir ons politieke uitdagings.

Winston Churchill het eens gesê hoe verder jy in die toekoms wil insien, hoe verder moet jy in die verlede terugkyk.

Die ANC skets Suid-Afrika se geskiedenis as een wat begin by Jan van Riebeeck, ʼn bose wending geneem het met die apartheidsregime en uiteindelik vervolmaak afgehandel is met hulle post-1994-reënboognasie. Vir eie politieke doeleindes wil hulle hê ons moet vaskyk in die oombliklike verlede, ten einde nie verder en dieper te dink nie.

Indien ʼn mens net verder as die 20ste-eeuse rassepolitiek van apartheid en die 21ste-eeuse rassepolitiek van die ANC kyk, sal ʼn mens eerder ʼn Suider-Afrika sien wat strook met Zwelithini as simbool. ʼn Ongelooflik gefragmenteerde Suider-Afrika waarin kultuur die deurslaggewende faktor is. ʼn Suider-Afrika waarin kulturele konflik en samewerking, eerder as ʼn eenvoudige wit-swart-paradigma, in die sentrum van politiek staan. Een waarin ras irrelevant kosmeties is en behoort te wees, omdat konflik en samewerking oor kulturele belange en bewaring handel. Een waarin wit in konflik met wit, swart in konflik met swart en wit in samewerking met swart die norm is – juis omdat kultuur, eerder as ras werklik saak maak.

Indien ʼn mens dan na die toekoms kyk, is dit tog sinvol om die moeite te doen om tot by hierdie deel van die verlede te kyk. Verby die ANC se eenvoudige oplossings vir ʼn uiters komplekse land. Verby ʼn oplossing wat van bo af die grondvlak wil verander, eerder as ʼn oplossing wat organies by grondvlakwerklikhede aanpas.

Ons het nog beswaarlik die einde van ons politieke geskiedenis bereik. In ʼn soeke na oplossings vir die toekoms kan ons regtig leer uit die verlede. Dit is nie nodig om vas te kyk in die stelsel wat ons het, of selfs in die een wat hierdie een voorafgegaan het nie. Kom ons leer eerder uit dit wat oor eeue, staatsvorme en regerings behoue gebly het. Kom ons leer uit die grondvlakwerklikhede en vorm stelselmatig ʼn beter politieke stelsel daar rondom – ʼn stelsel organies gevorm rondom die kulturele diversiteit, selfstandigheid en selfbestuur wat tans op grondvlak leef.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Probeer verstaan

Is hierdie dalk die begin van groot geveg oor wie nuwe koning gaan wees?

Gerrie

Duduzane lyk vasbeslote om te doen wat sy pa nie kon regkry nie – om die African National Circus in skerwe te laat spat?