Nuuskommentaar: Verloorder in Zimbabwiese verkiesing: SA

Teen dié tyd is dit ‘n feitlik uitgemaakte saak dat Robert Mugabe en die Zanu-PF die verkiesing in Zimbabwe gewen het. Dit het, selfs volgens die kritiese EU vreedsaam verloor, maar oor of dit vry en regverdig verloop het, is daar meningsverskil. Tot dusver, soos ook vooraf, meen die Afrika-Unie en die waarnemers van die SAOG dat die verkiesing ook “grootliks” vry en regverdig verloop het, terwyl Westerse waarnemers, op aandrang van Mugabe nie toegelaat is nie. Nie-regeringsorganisasies is egter betreklik eenparig in hul oordeel dat die verkiesing erg gekook is, soos dat tot ‘n miljoen mense in Harare, Morgan Tsvangirai se vernaamste steunbasis, se name nie op die kieserslyste was nie en dus nie toegelaat is om te stem nie. In Mugabe se vestings was name tot vier keer op die kieserslyste.

Tsvangirai het die verkiesing as klug beskryf, terwyl die bekende Roy Bennet die uitslag as diefstal beskryf en mense tot vreedsame protes soos weiering om belasting en rekenings te betaal, en om van die werk af weg te bly, opgeroep het.

Zanu-PF-ringkoppe daarenteen word aangehaal dat hul party volgens voorlopige aanduidings selfs beter as 30 jaar gelede, toe die party 71% van die stemme gekry het, kon gevaar het.

Daar is aansprake van grootskaalse intimidasie.

Dit is ook baie moeilik om te bepaal hoe die verkiesing sou verloop het as die speelveld absoluut gelyk was. Koerante in die weste het berig dat peilings aan die MDC ‘n baie groot voorsprong gegee het. In Suid-Afrika is tot kort gelede effektief die teenoorgestelde berig, terwyl ontleders gemeen het Mugabe en sy party het ‘n voorsprong van ongeveer een persent. Van die ontleders het selfs die uitslag aan die hand van ‘n vermeende gekook van die kieserslyste probeer bereken, en steeds by ‘n baie gelykop uitslag uitgekom.

Gemeet teen westerse standaarde kon daar in ieder geval geen vry en regverdige verkiesing plaasvind nie. Mugabe het, minstens tot kort voor die verkiesing, effektief ‘n monopolie oor die media gehad, en uitsendings van die SABC in Zimbabwe, vir soverre dit onverbonde kon wees, is ook onlangs opgeskort. Tsvangirai wou die verkiesing uitstel sodat die nuwe grondwet eers geïmplementeer kan word, en die speelveld gelyk gemaak kon word. Dit het onder meer behels dat die gewapende magte eers werklik neutraal moes wees. Die hof het anders beslis.

Aan die ander kant is daar ook vrae of Tsvangirai, sedert die vorige verkiesing, genoeg gedoen het om hom as lewensvatbare opponent vir Mugabe gevestig te hou.

Maar wat nou, vry en regverdig of te nie?

In breë trekke sit Zimbabwe nou weer waar die land was voor Mugabe voor streeksdruk moes swik en ‘n gedwonge politieke huwelik met Tsvangirai moes aangaan. Met onder meer Tsvangirai as eerste minister, en Tendai Biti as minister van Finansies, was daar skielik stemme onder Mugabe se politieke opponente dat sanksies teen die land minstens verlig moes word, en dat Zimbabwe gehelp word om ekonomies te herstel. Die weste het inderdaad heelwat beperkings laat vaar, maar grootliks met geteikende maatreëls teen Mugabe en sy vernaamste kornuite volgehou, wat volgens alle aanduidings daartoe gelei het dat hierdie spannetjie hulself ruim aan Zimbabwe se groot diamantrykdom gehelp het. So erg dat die inkomste wat Biti aan die staatskas kon verklaar, glad nie met die geraamde produksie kon strook nie. Trouens, die verskil is enorm, maar Zanu-PF wou om verstaanbare redes dit glad nie eens vir bespreking op die tafel plaas nie.

Nou, volgens alle aanduidings, gaan die getemperde en matigende invloed – vanuit ‘n westerse perspektief – van Tsvangirai en Biti verdwyn en die afkeer van die weste in Mugabe oorbly. Mugabe kon immers nooit sy groot haas verdoesel dat hy uit die politieke huwelik met Tsvangirai wil tree nie.

Die kanse is dus goed dat gewoon teruggekeer gaan word na die posisie wat Suid-Afrikaners al aan “gewoond” geraak het. ‘n Mugabe met sy uitgesproke anti-wit (hy het onder meer onlangs oud-pres. Nelson Mandela gekritiseer omdat hy te versoenend teenoor die blankes was), anti-westerse, anti-gay en ander sentimente. Kort voor die verkiesing het Mugabe nog aan ‘n skare gesê gays se koppe moet afgekap word, terwyl hy gal teen die weste gebraak het.  Zimbabwiërs wat in groot getalle oor die landsgrense stroom, hier werksgeleenthede opraap en tronke help voller kry…

Met Mugabe en die Zanu-PF alleen aan bewind, is die kanse goed dat die sanksies weer volledig ingestel gaan word, en Suid-Afrikaners die ekonomiese prys gaan betaal van ‘n Suid-Afrikaanse regering wat Zimbabwe ekonomies probeer rugsteun.

Die Suid-Afrikaanse regering (effektief die ANC) se reaksie op die verkiesing gaan ook ‘n impak hê op die vlak van rasse-polarisasie in Suid-Afrika. Julius Malema se nuwe party voed tot ‘n groot mate op hierdie polarisasie, en het reeds voor die verkiesing sy volle steun aan Mugabe toegesê. Die ANC, wat onlangs nog ook so gemaak het, het kort voor die verkiesing ‘n meer neutrale houding ingeneem, maar nou kom die groot toets – gaan Mugabe soos ‘n arm patat hanteer word of gaan hy omarm word? Word hy omarm word al die verkeerde boodskappe na Suid-Afrika se minderheidsgemeenskappe uitgestuur.

Pas is Suid-Afrika se geloofwaardigheid opnuut geskaad toe regter Francis Legodi uit die Seriti-kommissie bedank het. Dié kommissie, wat die wapenskandaal moet ondersoek, is reeds erg onder verdenking vir ‘n dubbele agenda. Die Burger berig vanoggend dat die amptelike rede vir sy bedanking ‘n rookskerm is, en dat ook hy nie met sy gewete in die kommissie kon saamleef nie.

Die alternatiewe scenario is dat Mugabe en sy kornuite reeds versekerings het dat China op reuse skaal sal toetree om die impak van sanksies nie net te neutraliseer nie, maar Zimbabwe ekonomies te laat floreer. China, met self weinig ooghare vir menseregte en demokratiese instellings, en Zimbabwe kan mekaar effektief baie goed aanvul. Zimbabwe beskik oor ‘n groot minerale reserwe wat China kan help om sy groeiende nywerheidsontwikkeling te rugsteun, waaronder platinum van die Zimbabwedyk wat heelwat goedkoper ontgin kan word as die Suid-Afrikaanse reserwes uit die Bosveld-stollingskompleks. Dié dyk bevat ook ongeveer 320 ander minerale, waaronder goud, chroom, nikkel, tin en mika.

Hierdeur sal China boonop die guns van groot dele van Afrika verstewig en die land groter toegang tot Afrika se olie- en gasreserwes bied.

Suid-Afrika se beeld in die weste sal egter verder geknou word as Suid-Afrika Mugabe openlik uit sy muishondstatus gaan probeer lig. Veel moeite gaan dit nie kos nie, omdat die westerse media reeds Zuma as ‘n tipe antitese vir Mandela uitbeeld, en as ramp vir Suid-Afrika voorhou. Dié negatiewe persepsie sny egter wyd, want ook diegene wat Zuma aan bewind stel se rasionaal staan onder verdenking. En ‘n deel van hierdie lae dink van Zuma word juis aan sy, en die ANC se volgehoue band met Mugabe en die Zanu-PF veroorsaak. Maar Mugabe is maar een muishond, met die Zuma-administrasie wat ook ander muishonde soos Kuba omarm.

Dit is gewoon so dat internasionale verhoudings nie veel met moraliteit verband hou nie, maar met belange. Die VSA het byvoorbeeld lamlendig gereageer op die nuus dat ‘n man van Saoedi-Arabië tot 600 sweephoue en sewe jaar tronkstraf gevonnis is omdat hy op bedenklike wyse aan belediging van Islam skuldig bevind is. Die VSA het die straf glad nie gekritiseer nie, en hom slegs vaag oor vryheid van meningsuitdrukking uitgespreek.

Japan se vise-premier, Taro Aso het ontsteltenis veroorsaak toe hy hom lomp uitgedruk het en gesê het Japan kan by die Nazi’s leer oor hoe om stilweg ‘n grondwet te verander. Die konteks was dat hy voel Japan moet grondwetlik beter in staat gestel kan word om hom militêr weerbaar teen Chinese en Noord-Koreaanse bedreigings te maak. Na die Tweede Wêreldoorlog is ‘n erg pasifistiese grondwet in wese aan Japan opgedwing wat dit moeilik maak om homself militêr doeltreffend te maak. Dit toon sterk ooreenkomste met die vernederende bepalings van die Verdrag van Versailles wat na die Tweede Wêreldoorlog aan Duitsland opgedwing is.

Die heftige reaksie op Aso se lomp opmerking toon hoe onaantasbaar ‘n grondwet in die oë van die weste is. In Suid-Afrika toon die ANC dikwels ‘n erge ongeduld met die grondwet wat, soos dit gestel word, die meerderheidswil frustreer. Die persepsie wat die weste hieroor oor Suid-Afrika nahou, sal bloot verdiep word indien Suid-Afrika instrumenteel gaan wees om Mugabe volwaardig teug te voer na die internasionale arena.

Die finale vraag is – as Suid-Afrika hom blind hou vir die opsigtelike gebreke in die Zimbabwiese verkiesing, wat kan van volgende jaar se verkiesing op eie bodem verwag word? Die een voorval na die ander kom nou voor waar Zuma amptelike geleenthede, soos die oorhandiging van HOP-huise en die bekendstelling van die naam van ‘n nuwe universiteit gebruik as ANC-verkiesingspodiums. Veral die SABC-TV word gereeld van erge politieke vooroordeel beskuldig.

Is ‘n piesangrepubliek-verkiesing vir Suid-Afrika ook goed genoeg?

Suid-Afrika kan die groot verloorders van die Zimbabwiese verkiesing word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae