Nuuskommentaar: Verpligte geskiedenis in matriek

skool klaskamer skoolhoof

Argieffoto

Gaan die verpligte aanbied van geskiedenis as matriekvak goed of sleg wees? Daar is verskeie skerp en stomp kante aan die saak gekoppel wat eers uitgestryk moet word.

Suiwer dogmaties kan gesê word dat dit ’n goeie ding is dat geskiedenis as verpligte matriekvak aangebied word, veral in ’n heterogene land soos Suid-Afrika waar uiteenlopende perspektiewe van wat in die verlede gebeur het, sake nou kan vertroebel. Die regering se planne vir die onteiening van grond sonder vergoeding is ’n voorbeeld, veral waar dit herlei kan word tot die beskuldiging dat wit mense hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel.

In sy reaksie oor die nuwe planne sê adv. Anton Alberts van die Vryheidsfront Plus dat die huidige leerplan ’n eensydige verdraaiing van Suid-Afrika se geskiedenis is wat wittes vir alle praktiese doeleindes bloot demoniseer. Die voorgestelde nuwe sillabus is ’n manier wat die ANC gaan misbruik om sy propaganda onder leerders te versprei.

In ’n konsepdokument oor die aangeleentheid haal Sadou vir Chinua Achebe (Things Fall Apart, 1958) aan: “Until the lions have their own historians, the history of the hunt will always glorify the hunter.” (Achebe was ’n Nigeriese romanskrywer.)

Terwyl die Vryheidsfront Plus skynbaar kras is in sy oordeel dat die huidige leerplan wittes vir alle praktiese doeleindes demoniseer, oordeel die voorstellers van die voorgestelde nuwe bedeling dat die leerplan minder Eurosentries, en meer Afrikasentries behoort te wees. Gaan die gaping dus vergroot?

Die ou gesegde lui dat die oorwinnaar die geskiedenis skryf. ’n Goeie voorbeeld is moontlik dié oor die herkoms van Bloemfontein se naam. Die meeste dokumente en brosjures, asook Mangaung se webwerf, verwys na die bekende weergawe van blomme om die fontein. Die bekende geskiedskrywer, Theal McCall, en oorlewerings onder veral die Koranna, wil dit hê dat die stad sy naam by ’n legendariese Koranna-kaptein, Jan Bloem, gekry het.

Bloem was ewe gemaklik weerskante van die gereg, en dit lyk op die oog af of latere geskiedskrywers bloot nie kans gesien het om die stad se naam aan so ’n ongure karakter te koppel nie.

As ’n mens die dag lus is om die humeur lekker te verloor, hoef ’n mens bloot die geskiedenis van die Anglo-Boere-oorlog in ou Engelse ensiklopedieë te gaan nalees. ’n Verhaal van ’n heldhaftige volk (die Britte) wat om filantropiese redes ’n oorlog aanpak, ondanks die gevare wat die wreedaardige Boere ingehou het.

Navorsing deur prof. Peter Raper, ereprofessor in linguistiek aan die UFS, toon dat verskeie plekname in Suid-Afrika na die ou Khoi-San-benamings teruggevoer kan word. Hieronder tel ook die name Tshwane en Mangaung.

Dat die voorstellers beplan dat die leerplan werklik ver terug strek, blyk daaruit dat hulle “argeologie” daarby wil insluit. Uit hul beskrywing van wat hulle ingesluit wil hê, soos die uitgrawings by Sterkfontein, blyk dit dat hulle paleontologie en argeologie verwar. Daar kan egter aanvaar word dat naas paleontologie, ook aan argeologie aandag gegee sal word. Of dit prakties moontlik sal wees om sulke omvangryke vakafdelings sinvol as deel van ’n geskiedenisleerplan in te sluit wat net vir twee jaar, grade 11 en 12, aangebied word, sal gesien moet word. Boonop is hierdie velde dinamies en nuwe uitgrawings bring gereeld ’n magdom nuwe kennis na vore. Soms word ou teorieë sommer ingrypend gewysig. Boonop kan verwag word dat heelparty mense beswaard sal wees oor aspekte van ’n leerplan wat die geskiedenis miljoene jare terugvoer, ongeag dat dit slegs opgeneem kan word nadat dit ’n portuuroorsig deurstaan het.

Sadou se uiteensetting van wat dié vakbond graag wil hê, klink billik en realisties: “We find a country of lost identity, whose history is contested by anyone who wishes to write their opinions on social media and personal researches about where we come from, and where we are heading. It is on the basis of our history written by foreign minds who glorify colonialists and not the real heroes of the South African struggle against both the colonial and apartheid regime that Sadtu believes it is about time our history is told by South Africans.

“We want to write it to ourselves in order to map a way forward in advancing a developmental state. Sadtu wants the real South African history to be part of the curriculum as a compulsory subject in basic education.”

Maar watter geskiedenis gaan opgeteken en in die leerplan opgeneem word? Die Matie, Charl Swart, se data hieronder getabuleer, soos opgeneem in sy meestersverhandeling, skep ter aanvang ’n bron van kommer.

Nie net toon dit dat sowat 80 persent swart mense glo wit mense het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel nie, dit toon ook dat die getal mettertyd toegeneem het. Hierteenoor glo minder as 10 persent van die wit mense dat dit die geval is, maar ook hier het die getal toegeneem (die gevolg van propaganda waarna die VF Plus verwys?).

Hierteenoor is ’n foto nou in omloop op Facebook wat ’n getekende kontrak tussen Jan van Riebeeck en die Khoi-San vir die aankoop van grond toon. ’n Leser wys daarop dat sy vrou se familie in besit is van ’n dokument wat toon dat hulle grond by Fauresmith van Adam Kok gekoop het.

Trouens, die ad hoc-komitee oor eiendomsbesit het die opvatting dat wit mense hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel, die Groot Leuen genoem. Die TLU-SA het ’n groot beloning uitgeloof vir die eerste persoon wat ’n geval kan toon waar ’n wit mens sy grond bekom het deur dit van swart mense te steel.

Toe die destydse leier van die Vryheidsfront Plus, dr. Pieter Mulder, in die parlement ’n “geskiedenisles” gegee het oor wie histories op watter grond aanspraak kan maak, is hy erg deur LP’s van onder andere die ANC, maar ook swart LP’s van die DA, verkwalik. Die destydse president, Jacob Zuma, het Mulder ook erg voor stok gekry.

Mulder is ook vanuit die geledere van die gebalanseerde en goed ingeligte historici verkwalik – nie oor ’n moontlike feitedwaling nie, maar die wysheid van die metode waarop hy die waarheid ter tafel gebring het. Dit toon dan ook sommer nog ’n dimensie van geskiedenis – die komplekse manier waarop dit in ’n heterogene samelewing hanteer moet word. Maar … dit sny weerskante toe.

Agri SA het gister skaars ’n verslag oor plaasaanvalle bekend gemaak, waarin statistiese afleidings gemaak is wat op syfers van die SAPD gegrond is, of daar was reaksie omdat die SAPD se syfers nie altyd strook met die geverifieerde syfers van ander instellings nie.

Die verpligte aanbied van geskiedenis in matriek is ’n goeie plan, maar onderhewig aan ’n rits voorwaardes.

Insette vir die samestelling van die leerplan moet dus van kundiges van elke kant van die politieke en ideologiese spektrum verkry word, anders sal dit meer gepas wees om die vak “snert” eerder as “geskiedenis” te noem.

As dit eerlik en reg aangepak word, kan almal wen. Soos die geskiedenis egter uitwys, die ANC voldoen nie hieraan nie. Dit beteken ouers moet hulle deeglik van regte feite vergewis, en sorg dat hul kinders dit ook ken.

Nog ’n uitdaging is om leerders te leer om die feite analities te kan beoordeel, en prakties daarmee te kan werk. As dit weer in ʼn papegaaileerdery ontaard, moet die hele oefening liefs gelos word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Marina ·

Net solank hulle ALLES en die VOLLE reinewaarheid vir die kinders leer van Jan van Riebeeck en al ons voorvaders en alles wat ons as kinders op skool van geskiedenis geleer het ook in hulle handboeke sit het ek geen probleem daarmee nie maar as hulle leuens vir die kinders gaan leer gaan ek n probleem he daarmee. Dan moet ons n petisie opstel daarteen want dan gaan ek volstrek weier dat my kind daardie kastige verpligtende geskiedenis vak moet vat. Uit en gedaan. Ek voel net dis regverdig.

Potts ·

Geskiedenis kan verpligtend bly waar dit is op die oomblik, tot en met Gr9 dink ek. Daar is oorgenoeg tyd om te leer van waar ons kom.
Nou wil hulle n vak wat onnodig is in meeste graad studies indruk waar kinders moet begin voorberei vir n toekoms.

Lily ·

Ek voel dat ons kinders deesdae toegerus moet word op skool met die uitsluitlike doel om eendag ‘n werk te hê – hoe gaan Geskiedenis as vak vir jou ‘n werk gee? Hoe gaan die feit dat jy jou land se geskiedenis ken en die herkoms daarvan, vir jou verseker dat jy kos op jou bord het en vir jou mense kan sorg?

John ·

Mag die leerders hul antwoorde begin met: “Na bewering…” of “Volgens die graad12-geskiedenishandleiding ‘…..’ het die Afrikaners glo…'”maar soos ek in my skooltaak, waarvoor ek 5% gekry het (vir skoonskrif), aandui, is daar geskiedskrywers wat ‘n ander mening toegedig is (ek probeer regtig mooi skryf)?

Amelia ·

Geskiedenis verpligtend???? Maar wie en wat se geskiedenis en gaan dit die ware geskiedenis wees of gaan dit eensydige geskiedenis wees?

Basson ·

Eers was dit LO ens ens, nou is dit nog ‘n ‘arbitrere’ vak. Tyd is alreeds so min vir sinvolle vakke, en nou moet meer hulpbronne vermors word op ideologiese breinbeheer.

Eerder moet daar gekonsentreer op dit wat werklik saak maak,

Eish ·

Ek vertrou ongelukkig nie die regerende meerderheid met die taak nie, veral ook aangesien Sadou betrokke is. Hul kankerbestuur spreek vanself.
Dis uit en uit n propaganda foefie in die sosialistiese regering se hande en n werktuig om kinders te kondisioneer.

Wayne ·

History is of great importance, if you don’t know where you come from you would not know where you are going to. But if you use it as a propaganda tool it will create greater deviation between people, thankfully the kids of today are resilient and will influence change in the future when all the relics are gone.

Wiskunde ·

SORG EERDER DAT JULLE WISKUNDE EN WETENSKAP OP STANDAARD IS en hou op om mense geskiedenis te leer wat hulle meer opruiend en opstandig gaan maak . julle pluk ‘n lat VIR JULLESELF .. trust me!

Theresa ·

WARE geskiedenis (kenners sal moet help saamstel en sif!! Is tans se geskiedenisboeke regtig so foutief?? Maak verskillende boekdele vir verskillende tydvakke – as daar nou regtig soveel moet bykom. Wanbalans moet sterk teëgestaan word) hoef glad nie tot Gr 12 verpligtend te wees nie. Wie se idee is dit nou weer?? Beslis nie iemand wat besef hoe tegnologie, wetenskap en selfs tale ‘n beter mensdom in ‘n bitter sukkelende land ‘n goeie grondslag op loopbane gee nie. Geskiedenis as vak is belangrik. Behoort egter nie verpligtende Gr 12 vak te wees nie. Fokus op kommunikasie, landbou, wetenskap, rekeningkunde, tegnologie (vakmanskap ook!). Bevorder skrynwerk, elektrisiteitkennis, loodgieterwese. Fokus op goed wat mense se lewens verryk. Voetslepende terugkykery begin nou erg vervelig raak – of is dit nou regtig al wat tel. Dan kan die geskiedenisboeke baie insiggewende feite bevat…

Jacques ·

SA geskiedenis was nog altyd vir my verveelig , ek verkies die geskiedenis van WW1 en WW2 . Mense julle hoef nie bekommerd te wees oor die saak nie want die handboeke gaan in elk geval nie betyds wees nie . Hulle wil nou iets wat niks met met bv n Dr se studies te doen het in ons kinders se keel afdruk nie . Shame en dit gaan nou alles reg maak . Regtig , sorteer eers die belangrike faktore uit soos ekonomie , medies regstelsel ens .

Johan ·

Skitterende gebalanseerde stuk deur Herman. Hoop die opstellers van die Geskiedenis kurrikulum lees hierdie stuk.

Die idee in my opinie is goed. Dalk sal die gemiddelde inwoner van ons land dan ‘n beter perspektief kry van wat in ons land aangegaan het. (mits Herman se insette in ag geneem gaan word en die kurrikulum daaraan gaan voldoen). Anders kan die vak net sowel “snert” heet soos Herman skryf.

Graad 10 – 12? My persoonlike opinie hier is dat Graad 4 – 7 dalk die beter tydperk is. Geskiedenis is reeds ‘n vak in daardie fase en die vakinhoud moet net verander word. Van die huidige literatuur wat gebruik word het ek al gesien waarin feitelike foute is, om nie te praat van die een-ogige en eensydige siening waarin Blankes meerendeels as die “slegte mense” uitgemaak word. Ons land het ‘n komplekse geskiedenis en dit is tyd dat ons almal dit moet leer.

So my opinie – die idee is goed. Inhoud moet net DEEGLIK oor besin word. Kan eerder in Gr 4 – 7 aangebied word.

Polaris ·

In die begin het hulle al reeds hier gewoon en die grond was alles hulle sin. Soos onskuldige engeltjies het hul in harmonie in die natuur geleef. Hulle het nooit eers n vlieg geskaad nie. So edel en rein geslag het die aarde nog nooit gesien nie…

Toe verskyn daar op die horison n verskriklike gesig. Vrees en bewing het hul beetgepak en sulke boosheid het nog nooit in hul verstand opgekom nie. So lank as wat ons leef sal hul die verskriklike onreg nooit te bowe kan kom nie. Oee die pyn en lyding, deur ons blote teenwoordigheid word hul nog daagliks erg versoek en frustreer…

Snowball ·

En saam met die verkriklike gesig, die kennis van seevaart en landbou en wiskunde en geletterdheid en die ryk kulture van Europa…..en …. die WIEL!! Wil jy nou meer!

Paul ·

Maar nog steeds het hulle nie ‘n wetenskap taal nie. Ek neem aan Engels het hulle maar, vandat hulle uit die noorde gekom het, altyd na aan die hart gelê.

Penellope Jones ·

Sal seker meer polities geinspireerd was as enigiets anders.
Mens wonder net, met al die feite wat geskiedenis bevat, hoe die wat bietjie sukkel met feite onthou en weergee, sal vaar?
Een van my kinders sou nie geslaag het as dit die geval was toe hulle nog op skool was nie.

Casper Labuschagne ·

Nee. Geskiedenis is een van die vakke wat jy na skool kan inhaal. Daar is belangriker vakke soos wiskunde, wetenskappe, taal en handelsvakke wat die grondliggende vaardighede skep. Geskiedenis is wel ‘n keuse vir diegene wat regtig daarin belangstel.

Attie ·

hou op lewe in die verlede fokus op die toekoms ons land het dit meer nodig my geskiedenis is nie joune nie

Armand ·

“Who controls the past controls the future. Who controls the present controls the past.”
― George Orwell, 1984

Lees ·

Ek het Geskiedenis tot in matriek geneem en gebruik dit nie vandag nie. Die neem van hierdie vak moet vrywillig wees wanneer kinders hul vakkeuses maak. My gevoel is, dat as jy daarin belangstel, maar dit nie as ‘n leervak wil neem nie, kan jy daaroor oplees.. Daarvoor het ons deesdae die wonderlike internet.

Mooi Afrikaans ·

Jene Herman, ek geniet jou skryfstyl en hoe jy ‘n sinvolle argument met sulke pragtige Afrikaans kan uiteensit. Welgedaan en dankie!

J ·

Los geskiedenis totaal en al uit in die skole uit. Alles sal seker weer net politiek wees en die regte weergawe van dag 1 sal so verdraai word soos dit tans gebeur. Kyk wat gebeur tans moord en doodslag . Ek het geen vetroue in Geskiedenis ek was gepreinspoel op skool vandag is dit my kind wat tans op skool is en ook amper klaar is met sy skool loopbaan.

NEE VIR GESKIEDENIS!!!!

JM ·

Solank hulle net die waarheid vir die kinders leer en nie net insit wat hulle pas nie, kan dit dalk ‘n goeie ding wees

JB ·

Dit gaan ‘n fout wees. Hulle het reeds hulle eie weergawes van die Geskiedenis in die huidige skool boeke… dit gaan beslis net ‘n eensydige blik wees op Suid Afrika se geskiedenis

Leon ·

Geskiedenis is belangrik maar onprakties in vandag se omvang. Ongelukkig gaan die ANC die geskiedenis net herskep om hul agenda te bevorder. Ons moet maar seker maak dat ons kinders wel die ware en feitelike geskiedenis weet.

Paul ·

Hulle gaan maar sukkel om te verduidelik waar die goud- en diamantmyne vandaan kom, die wynplase, al daai sade wat JvR hierna toe gebring het, ook hoe die dorpe en stede ontwikkel het, wie die passe gebou het, in effek die hele land se infrastruktuur. O’ja en kommunikasie netwerke, natuurbewaring, die Krugerpark. Waar pas die Franse Huggenote in en nog en nog en nog? Al hierdie kennis kom dalk uit noord Afrika en nie Europa nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.