Nuuskommentaar: Verpligte geskiedenis in matriek

skool klaskamer skoolhoof

Argieffoto

Gaan die verpligte aanbied van geskiedenis as matriekvak goed of sleg wees? Daar is verskeie skerp en stomp kante aan die saak gekoppel wat eers uitgestryk moet word.

Suiwer dogmaties kan gesê word dat dit ’n goeie ding is dat geskiedenis as verpligte matriekvak aangebied word, veral in ’n heterogene land soos Suid-Afrika waar uiteenlopende perspektiewe van wat in die verlede gebeur het, sake nou kan vertroebel. Die regering se planne vir die onteiening van grond sonder vergoeding is ’n voorbeeld, veral waar dit herlei kan word tot die beskuldiging dat wit mense hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel.

In sy reaksie oor die nuwe planne sê adv. Anton Alberts van die Vryheidsfront Plus dat die huidige leerplan ’n eensydige verdraaiing van Suid-Afrika se geskiedenis is wat wittes vir alle praktiese doeleindes bloot demoniseer. Die voorgestelde nuwe sillabus is ’n manier wat die ANC gaan misbruik om sy propaganda onder leerders te versprei.

In ’n konsepdokument oor die aangeleentheid haal Sadou vir Chinua Achebe (Things Fall Apart, 1958) aan: “Until the lions have their own historians, the history of the hunt will always glorify the hunter.” (Achebe was ’n Nigeriese romanskrywer.)

Terwyl die Vryheidsfront Plus skynbaar kras is in sy oordeel dat die huidige leerplan wittes vir alle praktiese doeleindes demoniseer, oordeel die voorstellers van die voorgestelde nuwe bedeling dat die leerplan minder Eurosentries, en meer Afrikasentries behoort te wees. Gaan die gaping dus vergroot?

Die ou gesegde lui dat die oorwinnaar die geskiedenis skryf. ’n Goeie voorbeeld is moontlik dié oor die herkoms van Bloemfontein se naam. Die meeste dokumente en brosjures, asook Mangaung se webwerf, verwys na die bekende weergawe van blomme om die fontein. Die bekende geskiedskrywer, Theal McCall, en oorlewerings onder veral die Koranna, wil dit hê dat die stad sy naam by ’n legendariese Koranna-kaptein, Jan Bloem, gekry het.

Bloem was ewe gemaklik weerskante van die gereg, en dit lyk op die oog af of latere geskiedskrywers bloot nie kans gesien het om die stad se naam aan so ’n ongure karakter te koppel nie.

As ’n mens die dag lus is om die humeur lekker te verloor, hoef ’n mens bloot die geskiedenis van die Anglo-Boere-oorlog in ou Engelse ensiklopedieë te gaan nalees. ’n Verhaal van ’n heldhaftige volk (die Britte) wat om filantropiese redes ’n oorlog aanpak, ondanks die gevare wat die wreedaardige Boere ingehou het.

Navorsing deur prof. Peter Raper, ereprofessor in linguistiek aan die UFS, toon dat verskeie plekname in Suid-Afrika na die ou Khoi-San-benamings teruggevoer kan word. Hieronder tel ook die name Tshwane en Mangaung.

Dat die voorstellers beplan dat die leerplan werklik ver terug strek, blyk daaruit dat hulle “argeologie” daarby wil insluit. Uit hul beskrywing van wat hulle ingesluit wil hê, soos die uitgrawings by Sterkfontein, blyk dit dat hulle paleontologie en argeologie verwar. Daar kan egter aanvaar word dat naas paleontologie, ook aan argeologie aandag gegee sal word. Of dit prakties moontlik sal wees om sulke omvangryke vakafdelings sinvol as deel van ’n geskiedenisleerplan in te sluit wat net vir twee jaar, grade 11 en 12, aangebied word, sal gesien moet word. Boonop is hierdie velde dinamies en nuwe uitgrawings bring gereeld ’n magdom nuwe kennis na vore. Soms word ou teorieë sommer ingrypend gewysig. Boonop kan verwag word dat heelparty mense beswaard sal wees oor aspekte van ’n leerplan wat die geskiedenis miljoene jare terugvoer, ongeag dat dit slegs opgeneem kan word nadat dit ’n portuuroorsig deurstaan het.

Sadou se uiteensetting van wat dié vakbond graag wil hê, klink billik en realisties: “We find a country of lost identity, whose history is contested by anyone who wishes to write their opinions on social media and personal researches about where we come from, and where we are heading. It is on the basis of our history written by foreign minds who glorify colonialists and not the real heroes of the South African struggle against both the colonial and apartheid regime that Sadtu believes it is about time our history is told by South Africans.

“We want to write it to ourselves in order to map a way forward in advancing a developmental state. Sadtu wants the real South African history to be part of the curriculum as a compulsory subject in basic education.”

Maar watter geskiedenis gaan opgeteken en in die leerplan opgeneem word? Die Matie, Charl Swart, se data hieronder getabuleer, soos opgeneem in sy meestersverhandeling, skep ter aanvang ’n bron van kommer.

Nie net toon dit dat sowat 80 persent swart mense glo wit mense het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel nie, dit toon ook dat die getal mettertyd toegeneem het. Hierteenoor glo minder as 10 persent van die wit mense dat dit die geval is, maar ook hier het die getal toegeneem (die gevolg van propaganda waarna die VF Plus verwys?).

Hierteenoor is ’n foto nou in omloop op Facebook wat ’n getekende kontrak tussen Jan van Riebeeck en die Khoi-San vir die aankoop van grond toon. ’n Leser wys daarop dat sy vrou se familie in besit is van ’n dokument wat toon dat hulle grond by Fauresmith van Adam Kok gekoop het.

Trouens, die ad hoc-komitee oor eiendomsbesit het die opvatting dat wit mense hul grond bekom het deur dit van swart mense te steel, die Groot Leuen genoem. Die TLU-SA het ’n groot beloning uitgeloof vir die eerste persoon wat ’n geval kan toon waar ’n wit mens sy grond bekom het deur dit van swart mense te steel.

Toe die destydse leier van die Vryheidsfront Plus, dr. Pieter Mulder, in die parlement ’n “geskiedenisles” gegee het oor wie histories op watter grond aanspraak kan maak, is hy erg deur LP’s van onder andere die ANC, maar ook swart LP’s van die DA, verkwalik. Die destydse president, Jacob Zuma, het Mulder ook erg voor stok gekry.

Mulder is ook vanuit die geledere van die gebalanseerde en goed ingeligte historici verkwalik – nie oor ’n moontlike feitedwaling nie, maar die wysheid van die metode waarop hy die waarheid ter tafel gebring het. Dit toon dan ook sommer nog ’n dimensie van geskiedenis – die komplekse manier waarop dit in ’n heterogene samelewing hanteer moet word. Maar … dit sny weerskante toe.

Agri SA het gister skaars ’n verslag oor plaasaanvalle bekend gemaak, waarin statistiese afleidings gemaak is wat op syfers van die SAPD gegrond is, of daar was reaksie omdat die SAPD se syfers nie altyd strook met die geverifieerde syfers van ander instellings nie.

Die verpligte aanbied van geskiedenis in matriek is ’n goeie plan, maar onderhewig aan ’n rits voorwaardes.

Insette vir die samestelling van die leerplan moet dus van kundiges van elke kant van die politieke en ideologiese spektrum verkry word, anders sal dit meer gepas wees om die vak “snert” eerder as “geskiedenis” te noem.

As dit eerlik en reg aangepak word, kan almal wen. Soos die geskiedenis egter uitwys, die ANC voldoen nie hieraan nie. Dit beteken ouers moet hulle deeglik van regte feite vergewis, en sorg dat hul kinders dit ook ken.

Nog ’n uitdaging is om leerders te leer om die feite analities te kan beoordeel, en prakties daarmee te kan werk. As dit weer in ʼn papegaaileerdery ontaard, moet die hele oefening liefs gelos word.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

27 Kommentare

jongste oudste gewildste
Marina

Net solank hulle ALLES en die VOLLE reinewaarheid vir die kinders leer van Jan van Riebeeck en al ons voorvaders en alles wat ons as kinders op skool van geskiedenis geleer het ook in hulle handboeke sit het ek geen probleem daarmee nie maar as hulle leuens vir die kinders gaan leer gaan ek n probleem he daarmee. Dan moet ons n petisie opstel daarteen want dan gaan ek volstrek weier dat my kind daardie kastige verpligtende geskiedenis vak moet vat. Uit en gedaan. Ek voel net dis regverdig.

Potts

Geskiedenis kan verpligtend bly waar dit is op die oomblik, tot en met Gr9 dink ek. Daar is oorgenoeg tyd om te leer van waar ons kom.
Nou wil hulle n vak wat onnodig is in meeste graad studies indruk waar kinders moet begin voorberei vir n toekoms.

Lily

Ek voel dat ons kinders deesdae toegerus moet word op skool met die uitsluitlike doel om eendag ‘n werk te hê – hoe gaan Geskiedenis as vak vir jou ‘n werk gee? Hoe gaan die feit dat jy jou land se geskiedenis ken en die herkoms daarvan, vir jou verseker dat jy kos op jou bord het en vir jou mense kan sorg?

John

Mag die leerders hul antwoorde begin met: “Na bewering…” of “Volgens die graad12-geskiedenishandleiding ‘…..’ het die Afrikaners glo…'”maar soos ek in my skooltaak, waarvoor ek 5% gekry het (vir skoonskrif), aandui, is daar geskiedskrywers wat ‘n ander mening toegedig is (ek probeer regtig mooi skryf)?

Amelia

Geskiedenis verpligtend???? Maar wie en wat se geskiedenis en gaan dit die ware geskiedenis wees of gaan dit eensydige geskiedenis wees?