Nuuskommentaar: Verpolitiseerde sport laaste spyker in doodskis van Suid-Afrikanisme

(Foto: Wikimedia Commons)

Een uit drie Suid-Afrikaanse burgers sien moedertaal (kultuur) as die primêre identiteit – dit is die identiteit waarmee hulle die meeste tuis voel. Ras is tweede, ekonomiese klas derde en Suid-Afrikanerskap vierde met een uit elke tien mense wat dit as primêre identiteit beskou. Selfs wanneer ʼn mens na sekondêre identiteit kyk, is Suid-Afrikanerskap sesde op die lys – ná ras, moedertaal (kultuur), klas, geloof en politieke party.

Indien slegs een uit tien mense hulself primêr as Suid-Afrikaners beskou, waarom word die reënboogprojek steeds vandag verkondig? Die antwoord lê in die volgende: Ondanks bogenoemde werklikhede meen byna agt uit tien van mense dat ons onsself eerstens as Suid-Afrikaners – eerder as lid van ʼn ander groep – behóórt te sien.

Teoreties is mense dus oortuig dat ons onder ʼn Suid-Afrikaanse monokultuur moet verenig. (Of hulle is oortuig dat dit die regte ding is om te glo.) In die praktyk organiseer mense hulself egter steeds op grond van kultuur (moedertaal).

Ten einde hierdie teenstrydigheid te verstaan, is dit belangrik om kultuur self te verstaan. Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, is bekend vir sy stelling:

“Kultuur is nie net braaivleis en rugby en lekker musiek nie.”

Hiermee verwys Buys natuurlik na die dikwelse vervlakking van die Afrikanerkultuur tot blote sport en ontspanning. Soos wat hierdie maatstaf gebruik word om die diepte van een kultuur uit te wys, kan dit ook gebruik word om die vlakheid van ʼn ander te bewys.

Suid-Afrikanisme is iets wat amper almal teoreties steun en amper almal in die praktyk ontwyk. Indien jy regtig eerlik na die post-’94-samelewing en geskiedenis kyk, sal jy bevind dat Suid-Afrikanisme eintlik net braaivleis, sport en lekker sêgoed is. Is dié diskrepansie dan dalk toe te skryf aan die feit dat Suid-Afrikanisme eintlik ʼn mitiese kultuur is? Byna geen mens leef in die werklikheid daarvolgens nie, juis vanweë die oppervlakkigheid daarvan.

Sport is seker die een ding wat ons nog altyd in amper enige omstandighede kon verenig. Dit is nog altyd gebruik as getuienis van ʼn Suid-Afrikaanse kultuur.

Argieffoto.

Hierdie baken van vereniging is aanvanklik in die 1995-Wêreldbeker-rugbytoernooi gebruik. Nelson Mandela in ʼn nommersestrui was op daardie geskiedkundige dag die eerste simbool van Suid-Afrikaanse kultuureenheid.

Hierdie sentiment is in die 2019-Wêreldbeker-rugbytoernooi herhaal met die Springbokke wat opgehemel is tot simbool en hoop vir nasionale eenheid. Dié samesyn rondom sport het herinner aan die meer onlangse 2010-Wêreldbeker-sokkertoernooi waarin dieselfde desperate sentiment vir versoening gedeel is.

Buiten ʼn groeiende gedeelde veragting vir die ANC, blyk sport een van die min goed te wees wat Suid-Afrikaanse burgers verenig. Dié “kultuur” is daarom die afgelope maand veral in gedrang gebring deur die kras verpolitisering van sport.

Vroeg in Julie was Lungi Ngidi heel eerste om die Black Lives Matter-beweging openlik te ondersteun. Hierna het meer as 30 ander oudspelers en afrigters gevolg en uiteindelik ook Krieket Suid-Afrika (KSA) self. KSA het selfs verder gegaan deur ʼn nuwe transformasieprojek van stapel te stuur: krieket vir sosiale geregtigheid en nasiebou.

(Foto: @OfficialCSA/Twitter)

Hierna het die aktivisme na rugby oorgespoel met meer as 50 oudspelers en afrigters wat ʼn soortgelyke brief uitgereik het. Die eerste werklike groot opslae het egter gekom nadat spelers en beamptes die knie gebuig het voor die eerste wedstryd in die 3TeamCricket-inisiatief.

Hierdie gebeurtenis is met ongebreidelde openbare woede ontvang.

Jacques Faul, KSA se waarnemende uitvoerende hoof, het in gister se Rapport met skok vertel hoe hy en sy familie op sosiale media hieroor verguis word – hy is selfs ʼn Marxis genoem.

Die vraag is dan waarom mense met soveel woede reageer. Is dit enigsins geregverdig?

In elke daad, brief, verklaring en uitspraak oor die afgelope maand het sportlui uitdruklik die BLM-beweging gesteun. Geen van dié sportlui het gepoog om die stelling “Black Lives Matter” te ondersteun terwyl hulle van die beweging afstand doen nie. Hoewel sommige mense verduidelik het wat die beweging vir hulle persoonlik verteenwoordig, het hulle nietemin hulself agter die beweging self geskaar.

(Foto: AP Photo/Alex Brandon, File)

Enigiemand wat die BLM-beweging in woord of daad steun, moet regtig mooi verstaan waarmee hulle hulself vereenselwig. BLM is ʼn selferkende Marxistiese, anti-wit en anti-Westerse beweging wat ʼn probleem aanraak wat nie werklik bestaan nie. BLM is ʼn uiters polariserende politieke beweging en nié ʼn prysenswaardige menseregtebeweging nie. Dit is roekeloos naïef om hierdie werklikheid te wil ignoreer.

Dít is die saak waarvoor sportlui bereid was om op hulle eie platform in aktiviste te verander. Talle van dié sportlui het te midde van die konflik genoem dat ander kwessies soos plaasmoorde vanselfsprekend ook ernstige aandag moet geniet. Tog is BLM die saak wat hulle tot op hulle knieë gedwing het.

Met hierdie kwessie wat by nasionale sport ingesleep is, is die vraag dan of dit steeds die tuiste van sogenaamde Suid-Afrikanisme gaan bly. Hoewel sport nog altyd deur rassekwotas verpolitiseer is, was dit nog nooit so kras en opspraakwekkend soos hierdie nie.

Het sportlui sekere perke oorskry of gaan ons teen die volgende Wêreldbeker reeds weer hiervan vergeet? Gaan mense onthou dat hulle sportsterre onder die druk van ʼn rassistiese en militante Marxistiese beweging geswig en die knie gebuig het? Gaan mense onthou dat dieselfde sportsterre nogtans staande gebly het oor plaasmoorde, bendegeweld en geweld teen vroue en kinders?

Gaan hierdie kontroversie sodoende dalk die finale doodskoot vir Suid-Afrikanisme wees? Sal dit noodwendig ʼn slegte ding wees? Dit sal ons dalk juis die geleentheid bied om met vrymoedigheid te begin leef in die land wat ons ís, eerder as die land wat ons dink ons behoort te wees. ʼn Land wat saamgestel is uit minstens 11 uiteenlopende kulture, eerder as een oorkoepelende monokultuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

28 Kommentare

jongste oudste gewildste
Antoinette

Ek sal nie my knie buig vir BLM nie. Buig my knie net vir Jesus Christus.

AndréS

Ek ondersteun geen sport meer, tot dit nie meer rasgebonde is nie
Verder ondersteun ek geen vd sport borge ook nie

Adam Adriaan

Almal van die BLM knape lei aan ‘n erge ongeneeslike siekte wat soos pes versprei

Termiet

Dit het te diep getref om vergeet te word.

Nie Verbaas

Suid Afrikaanse rugby en krieket verby vir my en dit geld vir enige ander sport waarvoor lafaards nog knie wil buig. Het hulle geen trots meer oor nie? Net so kommunistiese soos ANC regering. Net vir ingeval die bogenoemde klas swape nie verstaan nie, all lives matter! Dankie Kobus Wiese, jy maak ons trots.