Nuuskommentaar: Verraad teenoor die land en sy jeug

Die onderwysvakbond, Sadou (beter bekend as Sadtu), is al gereeld as die land se grootste vyand beskryf, en waarskynlik met goeie rede. Dat daar stewige kompetisie van ander Cosatu-lidvakbonde kom, is stellig ook so – onder meer weens NUMSA se verbete teenkanting teen die Nasionale Ontwikkelingsplan, wat as “Trevor Manuel se plan” voorgehou word. Gerieflik word verswyg dat Cyril Ramaphosa, sedertdien adjunk-president van die ANC, een van die hoofopstellers is, en dat pres. Jacob Zuma dit ondersteun al is dit ook net om Ramaphosa en ander se steun vir verlede jaar se Mangaung-leierskapsverkiesing te verseker het.

Suid-Afrika se onderwys, veral op laerskoolvlak, steek swak af by talle sub-Sahara-Afrikalande, al is die begroting per capita daarvoor veel hoër.

In een opsig is Sadou reg – sake krap erg op die hoogste vlak. In die post-1994-Suid-Afrika het sake sommer vanuit die staanspoor ontspoor toe pres. Nelson Mandela die omstrede dr. Sibusiso Bengu as minister van onderwys aangestel het. ‘n Beheptheid met transformasie en die uitleen van die ore aan gediskrediteerde oorsese “kundiges” het daartoe gelei dat die een model na die ander wat oorsee reeds gesneuwel het met groot kostes en ontwrigting geïmplementeer is, en leerplan op leerplan het gevolg.

Verskeie kenners meen die “verbeterde” matriek-uitslae is eerder die gevolg van laer standaarde as die verbetering van onderwys, en dit word skynbaar gestaaf deur die feit dat universiteite al hoe meer tyd en geld aan oorbruggingskursusse moet spandeer, en steeds met ‘n reuse uitvalkoers te make het.

By baie skole word beslis skouer aan die wiel gesit en uitmuntend presteer. Nie net akademies nie, maar ook op sport- en kultuurterreine. Dit word grootliks moontlik gemaak deur ‘n toegewyde onderwyskorps waar die leerkragte meer as hul deel doen. So word jong mense in hul volledigheid vir die toekoms voorberei. By hierdie skole is lede van Sadou so skaars soos hoendertande.

By skole waar Sadou goed verteenwoordig is, heers ‘n gans ander kultuur. Toe ‘n LUR ‘n verrassingsbesoek aan ‘n skool in Botshabelo bring, en die skool se hekke laat sluit toe die skool se openingstyd aanbreek, is ‘n hele aantal leerlinge, onderwysers en die skoolhoof uitgesluit. Vind ‘n vergadering tussen skole na-ure plaas, word gewone tyd in skoolure afgeneem om vir die “oortyd” te kompenseer.

En die resultate is power, met hier en daar selfs gevalle waar nie ‘n enkele matrikulant slaag nie, of dan slaag op ‘n vlak wat voor 1994 toe die minimum-slaagsyfer 40 % was, sou beteken het die leerling het loshande onderdeur geduik.

Terwyl daar groot simpatie is vir Sadou se aandrang dat minister Angie Motshekga afgedank moet word – ‘n sentiment wat baie wyd gedeel word, is die redes wat Sadou aanvoer misplaas. Die dispuut oor ‘n ooreenkoms oor die besoldiging van nasieners dien in Augustus in die Hooggeregshof in Pretoria, en die ryp forseer van die saak ten koste van die leerlinge en die belastingbetalers kom op ‘n vorm van minagting van die hof en sabotasie van die land neer.

Daar is dikwels ‘n fyn balans met arbeidsake en die land se beste belange. ‘n vakbond wat sy sout werd is oorweeg ‘n groot hoeveelheid inligting voor op ‘n vorm van massa-aksie besluit word.  Sadou en Solidariteit staan wat dit betref as absolute pole teenoor mekaar. In ‘n gebroke wêreld waar selfs die lojale ANC-ondersteuner, wyle dr. Jakes Gerwel die ANC as moontlik ‘n vrot regering beskryf het, is verantwoordelike vakbonde en burgerlike instellings onontbeerlik om selektiewe bevoordeling, chaos en vertrapping te voorkom.

En dit kan geen geheim wees nie met watter vakbond die Ystervrou, wat pas gesterf het, die beste sou kon stryk.

Maar Suid-Afrika word helaas nie deur ‘n ystervrou regeer wat (gewoonlik) die regte ding doen nie. In dit laat negatiewe elemente soos Sadou gedy en maak die bestaan van vakbonde soos Solidariteit, en burgerlike instellings, net nog meer onontbeerlik.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae