Nuuskommentaar: Versigtig met kuberkeuses wat ʼn fopnuus-virtuele wêreld skep

studeer-studies-skootrekenaar-tegnologie

Foto: Christin Hume/Unsplash.com

Die kuberruim speel nou met die inperking ’n baie belangrike rol om sekere funksies te vervul, onder andere om die kerk na die mense te bring. Ongelukkig leer die praktyk dat dieselfde tegnologie aan dwaalleraars die geleentheid bied om aanbidders te mislei.

Die Parysgebaseerde internasionale mediawaghond en bewaker van persvryheid, Verslaggewers Sonder Grense (VSG), het sy kommer uitgespreek oor die algemene voorkoms van fopnuus wat oor die Covid-19-pandemie versprei word. VSG is veral bekend vir die jaarlikse persvryheidsindeks wat dié instansie uitreik.

“Namate die pandemie versprei, versprei vals inligting ook eksponensieel,” sê VSG in ’n verklaring.

Die instansie het ook gewaarsku oor die gevolge van pseudo-wetenskaplike gerugte, opsetlike verkeerde inligting, en samesweringsteorieë wat tot ’n versteuring van korrekte inligting lei. Meer as ooit het ons die media nodig om ons met betroubare en tydige inligting te bedien terwyl die gesondheidskrisis nog sy stempel afdruk. VSG gee erkenning aan die merkwaardige werk van joernaliste dwarsoor die wêreld wat ondanks logistieke beperkings, die risiko van besmetting en soms selfs staatsensuur ons elke dag op die hoogte van sake hou. In hierdie steeds veranderende nuussiklus vervul hulle ’n noodsaaklike en lewensbelangrike maatskaplike funksie.

“Help ons om voort te gaan met ons mobilisering om vir hierdie joernaliste te baklei, wat soms in lewensgevaar verkeer, om onder hierdie moeilike omstandighede lig op die onderwerp te werp.” (Uit die Frans vertaal – HT)

Tot so ’n dekade of twee gelede het die Suid-Afrikaanse media gereeld oor VSG berig. Dit het daarna ’n veel, veel kleiner spoor in die Suid-Afrikaanse media-argiewe gelaat, selfs toe dit gereeld baie prominent die ANC aangevat het oor planne om die media te snoer, soos om ’n mediatribunaal daar te stel, en toe die ANC verbete planne gehad het om mediavryheid nek om te draai, soos om die sogenaamde muilbandwetsontwerp deur die parlement te laat goedkeur, maar toe deur die destydse president, Jacob Zuma, vir verdere regsadvies verwys is en skynbaar in die vergetelheid verdwyn het.

Maar dit waaroor VSG nou pertinent waarsku, is ook in Suid-Afrika baie meer ’n werklikheid as wat ’n mens dalk dink. Die aanloop het ook lank voor die ontstaan van Covid-19 begin (en nee, Covid-19 is nie deur die een of ander menslike bose mag soos die Illuminati geskep om ’n groot deel van die mensdom uit te wis nie, soos een van die fopnuus-weergawes lui). Baie hardwerkende, deeglike en objektiewe joernaliste wat by die waarheid hou, is al met krasse vitrioel geviktimiseer. Dink maar aan die vitrioel wat uitgedeel is met verlede jaar se vyftigste herdenking van die eerste bemande maanlanding. Ja, dit is enigeen se reg om te glo dat dit nooit plaasgevind het nie, maar was die smerigheid waarmee joernaliste en ander daaroor bygekom is, werklik nodig?

Nou gebeur dieselfde oor ’n verskeidenheid sake, waaronder aanhangers van die “plat aarde-teorie”, klimaatsverandering, Brexit vs die Skotse strewe na onafhanklikheid en vele meer. Prakties kom dit neer op ’n poging tot die onderdrukking van persvryheid– om joernaliste en hul hoofde met vitrioel so te intimideer dat die werklikheid, insluitend die werklike wetenskap (die teenoorgestelde van die pseudo-wetenskap waarna VSG verwys) nie gepubliseer word nie. (’n Kort oorsig oor die genetika van Covid-19 kan hier gelees word.)

Dit is opvallend hoeveel mense, insluitend verskeie godsdiensleiers, meen dat die huidige inperking die bates van die benutting van die kuberruim aanprys om preke en ander oordenkings by die publiek uit te kry. In sy gereelde dagstukboodskappe wat sy gemeente per WhatsApp bereik, spreek die Bloemfonteinse NHK-predikant, dr. Johan Nel, ook sy kommer uit oor vals boodskappe wat onder die Christelike vaandel deur die kuberruim versprei word.

In ’n preek (’n geselsie genoem) wat vroeër dieselfde dag ook per WhatsApp ontvang is, maar wat ook regstreeks deur Facebook en YouTube uitgesaai is, het die prediker juis kluitjies mildelik ingespan om ’n saak te probeer uitmaak dat die wederkoms op hande moet wees. Dit, terwyl ons uit die Bybel weet dat niemand, nie eens Jesus nie, weet wanneer die einde kom nie. Net die Vader weet.  Hy maak ook die stelling dat Covid-19, waarna hy verkeerdelik as Corona verwys, mensgemaak is om ’n groot deel van die mensdom uit te wis.

Jare gelede, met die koms van faksmasjiene, is gesê ’n persoon hoef net ’n tikmasjien en ’n faksmasjien te hê, dan kan hy ’n politieke party wees. Nou kan ’n persoon oor weinig meer as ’n skootrekenaar en toegang tot die internet beskik om “groot” voor te kom en ’n bykans onbeperkte aantal mense te bereik en deur dwaalleringe enorme skade aan die Christendom aan te rig.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Leeuwyfie

Ek vertrou joernaliste van vandag soveel soos ek die regering vertrou.
MM is die enigste neutrale nuus wat ek kan vertrou.
Maar selfs hulle ketting word verkort en mag nie oor alles berig nie.

David

Vanoggend het CNN se Sally Cohn beweer dat geen vloot hospitaal skip in New York was nie terwyl die New York hawe gesag ‘n hospitaal skip verwelkom het. Dis duidelike bewys daarvan dat die media self ook die “fopnuus” is. Die frase “fake news” is in 2016 deur 4chan geskep PRESIES om na die valse beriggewing van die hoofstroom nuus te verwys. In die huidige krisis het ek BAIE hoofstroom media sien valse nuus berig en wegkom daarmee. Saterdag se berig dat twee mense dood is in die Wes Kaap aan Covid-19 is so voorbeeld. Die Wes-Kaapse regering het gesê… Lees meer »

Autobahn

Was „fopnuus“ of vals inligting nie reeds ´n probleem voor die internet era nie?
By fopnuus moet ek onmiddelik aan die 1992 refendum dink en veral aan die hoofstroommedia dink.

Geagte Herman Toerien, ek kan twee artikels by MM onthou oor die maanlanding. Maar ek onthou geen smerigheid aan joernaliste met betrekking op hierdie artikels nie. Kann u asb ´n voorbeeld gee?

Is ons nie mondig genoeg om self te besluit hoe ons ons inligting sorteer nie?
„Merkur“