Nuuskommentaar: Verskriklik! Wie is spioen en wie pleeg sedisie in regering?

Pres. Jacob Zuma tydens ‘n vorige vraag-en-antwoord-sessie in die parlement. Foto: Parlement

Hoewel die jongste onthullings oor staatskaping en pres. Jacob Zuma se verbintenis tot die kernprogram met die Russe skynbaar diep delf in die veld van “na bewering” en “glo”, kan dit nie geïgnoreer word nie.

“Skrikwekkend” en “dit slaan die asem weg,” is maar twee van die soort opmerkings wat van ontleders en politieke leiers gehoor word ná die Sunday Times se voorbladberig oor wat agter die skerms met die kernprogram aan die gang is.

Of moet gesê word: “Na bewering?”

Die prentjie wat hieruit en uit talle ander verwikkelinge spruit, is van ’n president wat “rogue” geword het en ook nie meer omgee of die ANC van sy handel en wandel hou nie. Maar dis nie eens die ernstige nuus nie.

Onlangs is berig dat Zuma “glo” vir adjunkpresident Cyril Ramaphosa wil afdank. ’n Stertjie wat bygekom het, is dat Zuma glo vir Cyril op grond van nog ’n gefabriseerde “intelligensieverslag” in hegtenis wil laat neem en aankla daarvan dat hy ’n Westerse spioen is.

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa. (Foto: departement van kommunikasie)

Oor die afdanking is Cyril op die oog af rustig – hy sal dit aanvaar, want volgens die Grondwet is dit die president se prerogatief. Oor die spioenasiebewerings is hy, volgens berigte, besig om hom goed voor te berei.

Of is die hele affêre ’n reklamefoefie uit die Ramaphosa-kamp?

Nou kom die stukkie ironie. Op RSG se program Kommentaar word openlik na die nuwe minister van energie, David Mahlobo, as ’n “puntman” van die Russe in die Suid-Afrikaanse kabinet beskryf. David se noue bande met Zuma is bekend, en as vorige minister van staatsveiligheid was hy volgens die deelnemers glo ’n gereelde besoeker aan Moskou. En dit alles is weer ingeklits in die beweerde kernooreenkoms wat Suid-Afrika in die “geheim” met Rusland gesluit het.

Die angel in die verhaal is dat die Russe glo reeds die omkoopgeld aan sekere Suid-Afrikaners betaal het, onder wie Zuma self. Na bewering is $200 miljoen in kontant by Nkandla afgelewer.

En nou bly die een vlieg ná die ander in die salf beland. ’n Russiese afvaardiging bestaande uit onder andere intelligensiebeamptes en weermaglede het Suid-Afrika glo onlangs besoek en Zuma voor ’n ultimatum gestel om die teenprestasie te lewer. Die boodskap is glo duidelik oorgedra dat ’n mens nie met pres. Wladimir Poetin swaarde kruis nie.

David Mahlobo. Foto: GCIS (Maart 2017)

Die gevolg was ’n skielike kabinetskommeling met die handige verskoning dat dit is om van dr. Blade Nzimande, al lank ’n klip in die skoen, ontslae te raak. Die vermoede dat Mahlobo nou moet wikkel om die kernkragplanne op dreef te kry (al kan die land dit doodeenvoudig nie bekostig nie, en al is hernubare energie oor tien jaar wanneer die eerste kernkragsentrale in werking is, veel goedkoper as kernenergie).

Ook hier is ’n vlieg in die salf. Volgens die uitspraak van die hooggeregshof in Kaapstad kan geen steek met die kernplanne gevorder word alvorens wysigings aan vyf stukke wetgewing in die parlement goedgekeur is nie.

Gaan die hof eenvoudig platgeloop word?

So tussenin duik ’n vragie op. Beteken die bewerings oor Ramaphosa as “Westerse spioen”, terwyl Mahlobo openlik as die Russe se “puntman” in die kabinet kan dien (wat normaalweg op sedisie neerkom), dat Suid-Afrika formeel van ’n Westerse moondheid (maar deur Afrika getint) hom nou in die geledere van die Oosblok bevind? Is die oprakel van dié terme ná die “beëindiging van die Koue Oorlog” en die sloop van die Yster- en Bamboesgordyne nie bietjie argaïes nie?

Dié hele petalje speel hom af teen die agtergrond van die Guptas se rol in staatskaping. ’n Soort verligting het oor Suid-Afrikaners gespoel toe dit uit nuusberigte blyk dat die FBI en die Britte ook ondersoek instel na verdagte transaksies waarby die Guptas betrokke sou wees. Die verligting is te verstane te midde van al die vertragingstegnieke wat hier deur die president, die nasionale vervolgingsgesag en die Valke opgetower word.

Suid-Afrikaners moet egter waak dat TV-reekse wat die FBI so op en wakker uitbeeld, nie die sin vir werklikheid versteur nie. Presies waar trek die FBI se ondersoek na Fifa, wat grootliks handel oor dinge onder die tafel met die aanbied van die eindtoernooi in Suid-Afrika? En die FBI werk saam met onder meer die departement van justisie.

Die eerste nuus hieroor dateer van 2015 en die FBI het die klagstaat aan Suid-Afrika oorhandig. In 2016 het Danny Jordaan ’n top-regsman aangestel.

Ons durf nie nou houtgerus agteroorsit en alles aan die FBI en die Britte oorlaat  nie.

Dis immers Suid-Afrika wat soos ’n lemoen uitgedruk word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

snoefie ·

het die president se egoïsme en hebsug hom al ooit verhoed om die hof plat te loop?

snoefie ·

het die president se egoïsme en hebsug hom al ooit verhoed om die hof plat te loop? om die konstitusie te omseil? om menseregte te erken?

Henri ·

Hoe kontrakteer RSA, op bindende wyse, met n ander staat – maw op so vaste wyse dat interne howe die transaksie nie tersyde kan stel nie?
Ek dink nie Mahlobo of sy spioene het daardie kundigheid nie. Hulle het dit nog nooit gehad nie.

Eish ·

Die ontvouing van die drama raak al hoe opspraakwekkender hoe nader die keiser aan die einde van sy ampstermyn kom. Dis nou een pad afdraende en die besef dwing hom ook seker om meer gewaagd op te tree.Ek wil my verstout om te wens dat die keiser niks verder vorder nie, en grensloos gefrustreer en gebriek word deur hofaksies, verset uit eie geledere en internasionale druk en dus met Poetin se volle woede bots. Die geld wat afgelaai is by Nkantla is astronomies! Ek kan my nie indink wat kan slegter gaan in die verafrikaaning van die helhool nie!

Auntie Zumpie ·

Is daar by die WGO iets wat gesteel kan word?
\Wonder maar net.

Loeis ·

“Volgens die uitsprak van die hooggeregshof in Kaapstad kan geen steek met die kernplanne gevorder word alvorens wysigings aan vyf stukke wetgewing in die parlement goedgekeur is nie”

Nou wonder ek wat sal gebeur as mense die bg wysigings op elke moontlike manier vertraag: met die ANC se 62 % setels het opposisiepartye in die parlement nie veel van ‘n kans nie, maar dalk kan hofaksie dit doen. Selfs vertragings tot net na Desember se ANC kongres sal al baie help. As mens dit tot na 2019 kan vertraag, mag dinge baie baie interessant raak.

En as Ramaphosa regtig gearresteer sou word, mag Desember se ANC kongres alreeds baie interessant wees, nog voor dit. Veral met die weermag wat in die land ontplooi is, na bewering om misdaad te bekamp.

Grassie ·

Zuma se desperaatheid om die kernkragtransaksie met Rusland te finaliseer laat my dink dat die bewering, dat hy reeds baie geld van Rusland ontvang het, waar kan wees. As hy nie sy kant van die ooreenkoms nakom nie en die Russe bring die storie op die lappe kan Zuma vir baie, baie jare lank tronk toe gaan vir korrupsie. En hierdie keer sal daar nie ‘n wegkomkans wees soos met die 783 ander klagtes nie. Indien hierdie bewerings waar is sal Zuma nie sy mag kan prysgee voor die transaksie met die Russe beklink is nie – nie nou nie en nie in 2019 nie. Hy kan saam met die Guptas van ons af wegvlug, maar nie van die Russe nie. Ons weet nie waartoe hy in staat is nie, maar ek dink ons gaan sien.

Theo ·

Die stelling dat die Amerikaanse veiligheidsdienstel en FBI nie so doeltreffend is nie is al dikwels in die geskiedenis bewys.
Met die soektog na Osama bin Laden moes die Amerikaanse Magte maar hulle eie intelligensiedienste gebruik.

Eish ·

En hul het hom gekry. Nou wat op dese aarde is ondoeltreffend daaraan? Die intelligensie van die VSA is die CIA. FBI ondersoek binnelands.

Dingaan ·

Hoekom verdra die Suid Afrikaanse “Comrades” nog vir Zuma. Is hulle Blind en doof? Eish.

Eish ·

Dis n ” Comrade” ding, ons Westerlinge sal nie verstaan nie.

C panthrr ·

Gehoor daar is al klaar ennuclear ps gebou en wag net op oprag om dit aan te skakelis klaarblyklik gebou deur china en russiese bondgenote.blykbaariewers in moordwes????????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.