Nuuskommentaar: Versoening méér as net ‘n almanakinskrywing

Op baie Afrikaanse gemeentes se almanakke staan dit dat môre Geloftedag is. Op die amptelike almanakke staan egter: Versoeningsdag. Die bedoeling is nie dat dit bloot moet aandui dat dit ‘n vakansiedag is nie, die bedoeling is dat dit as simboliese naaldpunt van ‘n belangrike strewe moet dien: Versoening.

Peilings verskil skerp oor presies hoé gepolariseerd Suid-Afrikaners is, en of die land meer gepolariseerd is as in 1994. ‘n Deel van die probleem is dat baie van die peilings gebaseer is op afleidings geskoei op vrae wat moeilik na polarisasie herlei kan word. Futurefact het byvoorbeeld afgelei Suid-Afrikaners was in 2009 minder gepolariseerd as in 2008 omdat meer in 2009 aangedui het dat hulle hul as eerstens Suid-Afrikaners beskou, en dan as behorende tot ‘n groep. Ander peilings het die teenoorgestelde resultate opgelewer.

Verlede jaar het iFasion bevind dat net 44,3 % gemeen dat polarisasie nie sedert 1994 toegeneem het nie, terwyl byna 50 % gemeen het dit het wel skerp toegeneem. Meer as 17 % hiervan het dit as skrikwekkend beskou, en selfs ‘n burgerooroorlog gevrees. Amper tien persent het gemeen polarisasie was maar nog altyd in Suid-Afrika ‘n probleem.
In 2011 het die gety teen persepsies dat polarisasie nie toeneem nie sterk gedraai. Genocide Watch het Suid-Afrika selfs tot fase 6 uit ‘n skaal van agt op die volksmoordindeks opgeskuif.

Uit die eindelose aantal berigte – letterlik miljoene as Google met ‘n paar verbandhoudende terme gevoer word – wat op ernstige polarisasie gedurende 2011 dui, staan maar een persoon se naam voortdurend uit: Julius Malema. Die liedjie wat hy gepopulariseer het, dubula ibhunu, duik byna net so gereeld op. Die ANC se toesegging van steun hieraan, selfs na dit in die Hooggeregshof tot haatspraak verklaar is en Malema hieroor in die gelykheidshof bloedneus gekry het, het duidelik erg tot die polarisasie bygedra.

Instansies soos die FW de Klerkstigting moes gereeld inspring en walgooi dat die probleem nie by die grondwet lê of selfs die grondwetlike bedeling nie, maar by die ANC se toenemende wegdryf van die grondwet en grondwetlike beginsels. Ongelukkig was voorbeelde wat op ernstige grondwetlike skending dui, baie maklik te vinde.

Boonop het Malema uitsprake begin maak soos dat blankes misdadigers is, ook in die teenwoordigheid van pres. Jacob Zuma wat nie ‘n vinger gelig het nie. Toe Malema uiteindelik deur die ANC dissiplinêr verhoor is, was dié klag die enigste wat op die polariserende rol van die man betrekking gehad het, en is hy onskuldig bevind weens, soos dit gestel is, ‘n gebrek aan bewyse. ‘n Interessante aspek was dat Afriforum en die TLU SA wat die saak in die gelykheidshof teen Malema gedryf het, hieroor ook vanuit sekere Afrikanergeledere onder skoot gekom het.

Die kabinet se woordvoerder, Jimmy Manyi, het ook eiehandig daarvoor gesorg dat persepsies in die bruin gemeenskap oor polarisasie oor ‘n wye spektrum – ook onder die intellektuele, herdefinieer is. Dit het die ANC in alle waarskynlikheid blywende stembusskade besorg. Onder die ander redes wat vir die polarisasie aangevoer is, is die voortgesette vlaag plaasmoorde, en die regering sy bykans deurlopende swye hieroor. Pas het PETER BRUCE: in die Business Day ‘n artikel geskryf: The Thick End of the Wedge: The Editor’s Notebook. Hy maak ‘n lang lys van blapse deur Zuma, wat hy onder meer daaraan toeskryf dat Zuma hom met swak adviseurs, ook regsadviseurs omring om die president se belange, eerder as die land se belange te dien. Op die oomblik dra nuus dat die belastingbetalers ruim tot die ANC se eeufeesvierings moet bydra by tot die skep van polarisasie.

Zuma se taktiek om vir elke gehoor te vertel wat hulle wil hoor, werk ook nie meer nie. Hiervoor sorg die media wat dieselfde boodskap ook aan ander gehore oordra wat op hul beurt ander boodskappe gekry het – en nou is die media die vark in die verhaal. 18 maande gelede het politieke sosioloë en selfs sielkundiges gewaarsku dat die euforie wat rondom Suid-Afrika se aanbieding van die wêreldbekersokkertoernooi geskep is, te ver van die werklikheid op grondvlak staan. Na die euforie oorgewaai het, is werkloosheid, riool in die strate, misdaad soos plaasmoorde, berigte van korrupsie en vele meer weer vierkantig met die land. Kort hierna het Suid-Afrika 5 plekke op die persvryheidsindeks getuimel, Suid-Afrika het pas verder op die korrupsie-persepsie-indeks die kreeftegang gegaan. Post euforiese depressie was ‘n gegewe – die vraag was net hoe erg dit sou wees, en die Potgieter-plaasmoorde waartydens ook die tweejarige Willemientjie vermoor is, het verseker dat dié post-euforiese depressie diep sou slaan.
En toe kom Malema met sy sangtalent en uitsprake.

Wanneer die ANC binnekort sy eeufees vier, sal die wyse waarop polarisasie in die land hanteer is, as ‘n liederlike klad op dié organisasie se beeld bly staan. En môre is versoeningsdag – ‘n goeie geleentheid vir die ANC om die reddingsboei uit te werp en aan te kondig dat dit die appèl teen die gelykheidshof-uitspraak terugtrek. Anders beteken versoeningsdag niks meer nie as bloot ‘n vakansiedag – terwyl elke dag van die jaar eintlik versoeningsdag moet wees.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae