Nuuskommentaar: Versoening – twee briewe uit die hart

(Foto: Wikimedia Commons)

Versoening word nie noodwendig deur materiële gemeet nie – die innerlike gesindhede kan in sekere gevalle swaarder weeg as die materiële. Tydens ’n ramptoestand is dit egter moeilik om nie God se ontevredenheid te verstaan as die ryk man die arm vrou wat desperaat na iets vir haar kinders te ete soek, met leë hande wegstuur en sê: “Gaan in vrede” nie. Vandag begin ’n hofsaak oor ’n minister wat toegang tot ’n rampfonds aan ras koppel.

Met die inperking as gevolg van die Covid-19-pandemie spreek heelwat mense die hoop uit dat die ramp tot beter tussengroepverhoudinge sal lei, en is daar ook ’n versugting dat daar meer nasionale kohesie sal wees. Uit berigte lyk dit plek-plek of dit wel realiseer, maar ander berigte handel weer oor skynbaar groeiende spanning. Hoe gaan iemand ’n goeie gewer wees as sy gesindheid nie blymoedig is nie – as hy weens sy velkleur as minderwaardige behandel word? Vandag juis sleep Solidariteit en AfriForum die regering hof toe omdat die departement van toerisme volhou met sy planne om beskikbare ramphulp volgens raskriteria toe te ken. Pres. Cyril Ramaphosa het ’n ideale geleentheid om die kwessie vreedsaam te besleg laat verslons deur nie op Solidariteit en AfriForum se olyftakkies wat uitgehou is te reageer nie.

Dit hoef niemand te verbaas het nie. Die wyse waarop die ANC die Kliptownberaad in 2012 wanaangewend het om rassegevoelens op ’n knop te jaag, in teenstelling met die amptelike doel dat die beraad moes help om rasseverhoudinge te laat vlot, sal nog lank ’n skandvlek op die ANC wees. En natuurlik is dit nie net die regering wat rassegevoelens aandryf nie, maar daar is ook heelwat blankes wat die pot roer, soos wat die Menseregtekommissie gereeld deur sy skandalige bevooroordeeldheid demonstreer.

Maar gister, kort na mekaar, beland twee skrywes in die openbare domein wat ook demonstreer dat daar ’n ander Suid-Afrika is wat wel nog op versoening gefokus is. Die eerste is ’n verklaring van dr. Theuns Eloff wat hom aan die FW de Klerkstigting onttrek. Eloff noem onder andere dat hy hom nog steeds op versoening sal toespits. Dit is duidelik dat Eloff emosioneel is oor die bande wat hy nou knip. Hy was immers tien jaar lank in verskillende hoedanighede by die stigting betrokke. Dit is duidelik dat oudpresident FW de Klerk se uitlatings oor apartheid oor ’n wye front persoonlike skade aangerig het. Hy sluit af dat hy steeds by versoeningsaksies betrokke sal wees. Lees die volledige berig hier.

Die tweede is ’n WhatsApp van ’n dominee van die Hervormde Kerk Carletonville wat die gemoed skud en die hart week maak. Ds. Calitz vertel hoe hy, met permit en al, ’n tannie na Parys geneem het vir ʼn bloedoortapping. Sy het leukemie. Op pad terug huis toe in Carletonville, word hy by ’n polisiepadblokkade voorgekeer. Hy verwag om met permit en al gearresteer word, maar die kaptein vra wat sy beroep is, en toe hy sê hy is ʼn predikant, vra die kaptein of hy nie vir hom en sy manskappe sal bid nie. Hy maak so, en beleef self ’n emosionele oomblik. “Toe kom elkeen van hulle na my toe, skud my hand en sê: ‘May the Lord bless you and your family.’ Hulle spuit my hande met die nodige spuite, ensovoorts en stop ander voertuie sodat ek kan ry. Ek het tot in Carletonville met ’n knop in my keel gery. Trane wat vlak sit. Mag ons ook in hierdie tyd besef wat hulle vir ons beteken en ons gebede nodig het…” Lees die volledige skrywe hier. 

Hoe meer gevalle soos hierdie gebeur, hoe beter is die kanse dat daar vrede en regverdigheid sal wees. Maar dan MOET die president ook sy kant bring en minstens ’n poging aangewend het om vandag se hofsaak af te weer. Wat van hom verwag word, is nie te moeilik nie, maar in pas met sy ampseed ingevolge die Grondwet.

En hoe kan enigeen dit regverdig om stappe in te stel wat nie net wit mense benadeel nie, maar ook die brood uit die mond neem van daardie wit mense se swart werkers … en daardie swart werkers se kinders. ’n Rand kan immers net so ver gerek word. En nog meer – hoe kan iemand die geld van ’n rampfonds met korrupsie in die oorvol sak van iemand wil stop op grond van sy ras eerder as sy behoeftes? Of sy eie bultende sak?

Jakobus 1: 27 lui soos volg:
Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld.

Daar staan niks van om jou eie mense volgens hul ras te bevoordeel nie. Die NetBible stel dit soos volg: “Pure and undefiled religion before God the Father is this: to care for orphans and widows in their misfortune and to keep oneself unstained by the world.”

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Harold

Amen!!! Dan het CR nogal gevra ons moet bid (hy was in nood)en sluit gewoonlik af met God seën Afrika.Toe hy moes vra gebed oor korrupsie ens,was hy doodstil,want dalk sou dit die kaders beinvloed.Wat se hart was dit?
Ek bid ook met geloof dat God elke nasie sal nader trek en deur Sy liefde sal seen.Dit is hoekom die Seun gegee is,glo net.

Anel

Die probleem is dat daar altyd net van blankes verwag word om versoening te bewerkstellig. Hoe meer die blankes doen hoe meer word daar van hulle verwag. Wanneer gaan die ander begin? Alles wat die blankes doen word met ‘n vergrootglas gedissekteer om die geringste fout te soek. Maar die ander kan doen wat hulle wil. Hoeveel blankes het nou weer geld geskenk vir al die verskillende fondse maar hulle word uit gesluit wanneer dit kom by die toedeling daarvan? Hoeveel van hierdie ryk swartes het iets geskenk wat persentasie gewys kan vergelyk met die blankeskenkings? Ek hoop van harte… Lees meer »

david

Baie dankie Herman , soos altyd ‘n skitterende artikel.
Dit bevestig maar net weer…daar is mense, en daar is ander mense.!
Wat SA betref, versoening kom van twee kante af. Maar ek is bevrees,
die haatvlakke binne in baie swartes jeens witmense loop nog steeds
te hoog, om werklike versoening te laat gebeur.
En mense soos Julius Malema en andere blaas die vlam van haat
verder aan , net vir politieke gewin….!

Raadslid

Het so ‘n gedeelte van hofsaak gekyk. Maak mens kwaad, geen geregtigheid meer in die SA regstelsel nie. Die minister kon net so wel self in die regterstoel gesit het.

Genis

Na ek gister Malema se EFF “campaign” gesien het. Dit was nie n boodskap nie, twyfel ek.. Hoe kan ENCA hom soveel lugtyd gee, om soveel twak kwyt te raak?