Nuuskommentaar: Versoeningsdag en Geloftedag

Geloftedag

Geloftedag. Argieffoto.

Terwyl die gees van Versoeningsdag nou aan die kwyn is, is dit bykans onmoontlik om voor te bly met die aantal Geloftefeeste wat beplan word. Die baie Geloftefeeste, waarvan talle deur gemeentes aangebied word, toon dat ’n groot deel van die Afrikaner ’n sterk verbondenheid tot God se almag ervaar.

Versoeningsdag kwyn, nie oor daar ’n gebrek aan pogings en geleenthede van regeringskant is om dit op ’n min of meer opportunistiese wyse vir politieke doeleindes te benut nie, maar omdat dit soos ander vakansiedae geword het waar sake soos vroueregte, menseregte, die jeug en ander gedenk word, maar dit nie na die ander 365 dae van die jaar deursuurdeeg nie. Inteendeel, baie blyk opportunistiese bekpraatjies vir die geleentheid te wees. Die volgende dag kom die son klaar weer in die ooste op.

Nie dat Geloftedag oral so sonder probleme geskied nie. Maroela het pas ’n lys van Geloftefeeste geplaas wat plaasvind. Van die lesers het gou daarop gewys dat die lys nie volledig is nie. Dit is inderdaad ’n monumentale werk om ’n volledige lys op te stel. Benewens probleme soos dat mense se kontakbesonderhede verander is dit soms onmoontlik om te bevestig dat die betrokke Geloftefees vanjaar weer plaasvind.

Sommiges is gewoon nie ingestel op die bemarking van hul geleentheid nie. Soms span gemeentes saam, of hou dit selfs op hul eie en word dit eintlik net in die gemeenteverband bekend gemaak. Elkeen van die verskeie Geloftefeeste in en om Bothaville het byvoorbeeld ’n eie geskiedenis en gevolg, en groei meestal jaarliks sonder dat dit vreeslik bemark is.

Daar is egter ook ’n aantal wat bykans geslote politiek-godsdienstige byeenkomste daarvan maak en die gebeure na-aan die bors speel.  Politiek het juis ook in die verlede Geloftefeeste enorme skade berokken.

Oor die vraag of Geloftefees veronderstel is om Versoeningsdag uit te sluit, is al kopstukke geskryf. Daar is ’n historiese benadering en daar is ’n Bybels-godsdienstige benadering waar die Christelike boodskap duidelik staan dat jy nie net jou naaste moet liefhê nie, maar ook jou vyande en die vreemdelinge in jou poorte.

Ons leef egter in ’n sekulêre wêreld waar kwessies soos haatspraak en die onewehandige hantering daarvan, diskriminasie voortspruitend uit SEB en “affirmative action” (wat nie met regstellende aksie verwar moet word nie), en “gevleuelde” woorde van politici soos die president wat na wit mense as “white supremacists” verwys (terwyl hy ironies teen rassisme gepraat het), bogpraatjies oor hoe wit mense aan hul grond gekom het en vele meer, veroorsaak dat versoening waarskynlik nou onder ongewoon groot druk is.

Min dinge snoer die Afrikaner so saam soos sy afkeer en wrewel aan wrede plaasaanvalle.

Daar is die aanslag teen Afrikaans by universiteite en die teenkanting in die howe daarvan wat nie aldag ewe klopdisselboom verloop nie.

Teen hierdie agtergrond is dit nie vreemd dat Versoeningsdag bloot ’n vakansiedag op die kalender is nie, of selfs as prikkel dien om die wrewel te laat opstoot nie en dat daar ’n magdom Geloftefeeste plaasvind.

Die FW de Klerkstigting som die betekenis van Versoeningsdag soos volg op: “It is a day that is cause for pause to reflect on the preamble of the Constitution commencing with the opening line, We, the people of South Africa and concluding in several national languages with May God protect our people. The emphasis on maintaining collective stewardship, united in our diversity, for a country healing from a painful past, is testimony to a commitment by all sides that were engaged in the process of negotiations in the early 1990s that South Africa cherishes its character as a multi-cultural, multi-racial, multi-religious and tolerant society, with allegiance to one nation and one country.”

Dit word vervolgens aan die taak van nasiebou gelyk gestel, ’n taak wat ’n reis behels wat terugslae te wagte kan wees. Klem word gelê op die “gerusstelling” wat die Grondwet bied – ’n gerusstelling wat Afrikaanssprekendes stellig nie na die uitspraak oor taalregte by Tuks te warm ervaar nie.

Die politiek-korrekte verswyging van Geloftefeeste in die media, of selfs waar daar ’n druppeltjie nuusdekking is, doen min om ’n groot deel van ’n volk se verbintenis tot ’n gelofte uit die weg te ruim. En hoeveel moedswilligheid was daarin toe die SAUK ’n aantal jare gelede ’n paar groot Geloftedagsaamtrekke as “Versoeningsdagvieringe” aangebied het?

Met die uitsondering van ’n paar “geslote” Geloftedagvieringe waar die politiek en ’n vreemde godsdienstige benadering oorheers, is Geloftedagvieringe ’n aanwins vir die Afrikaner. Dit herbevestig ’n verbintenis tot Goddelike afhanklikheid en gehoorsaamheid, dit snoer ’n kultuur saam, dit motiveer onder soms bitter moeilike omstandighede en dit gee ook die geleentheid aan hedendaagse leiers om as sprekers by hierdie geleentheid hul staal te toon.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

John ·

FW de Klerk-Stigting praat nou net Engels. Wanneer drink ons weer tee by ‘ons’ Queen?

Coen Hattingh ·

Hierdie gewaardeerde artikel behoort die hele wye wêreld ingestuur te word. Ond GELOFTE aan God MOET eerbiedig word. Maroela Media julle bly die BESTE!

Marianne ·

Versoeningsdag klink soos iets wat Graad RRR’s geleer word sodat hulle mooi saam kan speel, totdat hulle ogies oopgaan en …. Hulle soos hulle groot ouers en die se groot ouers word.
F.W het ons verraai, verraaiers was voor ‘n vuurpeloton geplaas…Sy dag sal kom.
As mens na die aanval talle en moord syfers kyk of jy maak net jou oe oop, sien jy DAAR IS GEEN VERSOENING NIE!!!!
My oupa groot Eerwaarde Erasums Johannes Smith het vir die Hoog Hollandse Volk wat nou die Afrikaner Nasie is, by Bloed Revier gebid. Daar was plaas volk ook en almal het saam gebid……
Die land sedert dien het ophou bid en blindelings gevolg.
Mag daar nog mense wees wat hul kinders leer bid en hul kinders leer glo soos my voorouers op Geloftedag – daardie angstige dag – by Bloed Revier.

Theuns ·

More Herman,
Al lewer ek nie altyd kommentaar nie lees ek elke dag jou uitstekende kommentaar! Doen so voort! Ek wil dan ook vir jou en jou familie n Geseende Kersfees en Nuwejaar toewens! Groete.

Herman Toerien ·

Baie dankie Theuns
Ek waardeer jou insette. Ook ‘n baie geseënde Christusfees en voorspoedige 2017 ir jou en jou gesin.

plaasjapie ·

Geloftedag is vir ons wit boere volk n dag wat ons as n Sabbat moet herdenk. Ons voorvaders(voortrekkers) het n belofte afgele om dit te doen as ons Hemelse Vader hulle die oorwinning gee. Daar is niks van n “versoening” ter sprake nie

Herman Toerien ·

Ek stem saam dat dit nie baie goed deurdag was om Versoeingsdag en Geloftedag te laat saamval nie. Tog, om die Gelofte los te maak van versoening is om die Gelofte van die Bybel los te maak, want God is Liefde. Let ook op die boodskap van Engeleskaar toe Jesus se geboorte aangekondig is.

Marianne ·

Versoeningsdag ….. Wat ‘n GRAP.
Die Hoog Hollanders het by Bloed Revier saam met Eerwaarde Erasmus Johannes Smith nederig geniel en in angs die Allerhoogste Vader om verlossing en oorwinning gesmeek.
God het hulle gedra, hulle het die Afrikaner volk geword en God sal ons dra. Ons moet weer nederig kniel en bid.

Klaas ·

Marianne, jy verwys na Eerw. Erasmus Smith. Waar pas Sarel Cilliers in jou prentjie van die gebeure by Bloedrivier?

Brie-brie ·

Ek stem klaas. Dit was sarel cilliers wat gebid het daardie sondag oggend.

Hennie Kuit ·

Versoening is nie ‘n grap nie, dit is ‘n opdrag van God, dieselfde God tot wie ons voorvaders gebid het by Bloedrivier. Moenie vir Hom voorskryf nie.

Herman, dankie, vir ‘n gebalanseerde artikel, dankie dat jy die bybelse beginsel “jy moet jou naaste lief hê en ook jou vyande en die vreemdelinge by jou poorte”.

LeonR ·

Klaas, Brie-brie,

julle is beide reg. Dit was Eerwaarde Erasmus Smith wat gebid het.

Dit was egter Sarel Cilliers wat die Gelofte aan God gedoen het elke dag vanaf die 9de tot en met die skermutseling die 16de Desember. Dit is die Gelofte wat sommige van ons nog nakom.

Pellie ·

Kon hulle nie maar ‘n ander dag gekies het en dit Versoeningsdag genoem het nie. 16 Desember is Gelofte Dag!!! Dit is vandat Politieke Korrektheid die nuwe internasionale geloof geword het dat dinge verkeerd loop.

Gerd Lourens ·

GELOFTEDAG IS NIE VERSOENINGSDAG NIE!!!

“… Hier staan ons voor die Heilige God van hemel en aarde om ‘n gelofte aan Hom te doen dat as Hy ons beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as ‘n dankdag soos ‘n sabbat sal deurbring, … want die eer van Sy Naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee.””

John ·

Chaos! Mense, kyk wat het gebeur tydens Zuma se toespraak!!!

Pop ·

Ons was veronderstel om geloftedag in danksegging en aanbidding deur te bring. God het ons n oorwinning teen die vyand gegee na ons n belofde gemaak het om die dag te gedenk. Gaan vra bietjie rond waaroor die dag gaan en baie min jongmense en selfs volwassenes weet iets daarvan af. Nou is ons verbaas as God ons weer aan die vyand uitgelewer het. Ons het eerste n belofde gebreek.

TTh ·

As dit ‘n soort van opsomming is van geloftedag vs versoeningsdag en polities vs christelik, en die bree afrikaner publiek vir een glo of aanvaar dit, dan is dit verby met die afrikaner, die res van die land se mense gee nie ‘n vlenter om vir geloftedag of nog meer die allerhoogste God nie, EN is oningelig en onopgevoed oor wat die ware geskiedenis van die afrikaner is. Wat die DeKlerk stigting te se het is so irrelevant omdat dit teen die afrikaner gekant is en beywer vir sy vernietiging, te veel ydele woorde wat niks sal verander nie.

ada ·

Ek is so bly dat Geloftedag groei. Ditis die beste nuus ooit!!!

Naas Botes ·

Ek verstaan nie hoekom ons wat Vader by Sy Naam aanroep en ons nie wil vereenselwig met die kerklike siening nie, as n “vreemde godsdienstige en poletieke siening” groepering beskou word nie. Deur die eeue is dit bewys dat die massa verkeerd was en dit geld vandag steeds. Ons hou nie kersfees nie want dit is gebou op n leun, en daarom sal ons seker daaroor ook uitgekryt word as n “vreemde groepering”

Otter ·

Ons het die voorreg gehad om geloftediens by te woon by Gereformeerde Kerk Bellville, gelei deur ds Sarel Celliers, nasaat van die voortrekker met dieselfde naam.

dom Jan ·

Ek verstaan nie Herman werk met Chritusfees en Hennie met Kersfees daar is seëninge by betrokke. In wie se opdrag hou ons kersfees soos ek verstaan is dit n heidense fees. Iemand se nou die dag as hy mooi luister is Jesus in September gebore. As iemand my gelukwens as hy verjaar gaan dit nie werk nie.Ek verstaan ook nie dat versoening en gelofte in die selfde gesprek genoem word nie dit het geen betrekking tot mekasr nie. Hennie versoenig is nie n grap nie en jy ondersteun met die gebod van liefde vir die vyand as ek reg verstaan word nou gepraat van die vyand daar by bloedrivier Hennie daar is geen verband nie ek kan die koppeling van hierdie waarhede nie vind nie. Want dit kan geen betrekking hê met die gelofte nie. Dit is heeltemal onmoontlik. Ek dink die vraag van die skrifgeleerde ia geregverdig maar die antwoord van Juses word deur die meerderheid verkeer vertolk. Ek vra verskoning ek wil nie niemand te na kom of verkleineer deur dit wat ek gese het nie . Verstaan tog net wat u lees.

Hennie Kuit ·

Daar is wel ‘n verband die afstammelinge van die Voortrekkers (dit is ons) en die afstammelinge van die Zoeloes deel huidiglik die land. Die vraag is, wat moet ons vandag doen, dit is goed as ons die oorwinning by Bloedrivier gedenk want dit was ons gelofte maar kom ons probeer ook om ons te versoen met ons eertydse vyand want God het beide ons en die Zoeloes in hierdie land geplaas.

Ek besef dat die huidige regering probeer om ons kultuur te vertrap en dat die plaasmoorde in wese eintlik ‘n aanval tot die Afrikaner is en dat dit totaal onaanvaarbaar is. Versoening kan egter tot iets goed lei en dis ‘n baie goeie idee om dit te koppel aan Geloftedag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.