Nuuskommentaar: Versoeningsdag of Vergeldingsdag?

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Op 16 Desember elke jaar is ons veronderstel om Versoeningsdag te vier. Die dag is na 1994 ingestel as geleentheid vir ons almal om ons verdeeldheid te oorkom en te versoen. Dit is natuurlik ook, met rede, op Geloftedag.

Geloftedag pas nie by die regering se agenda van nasiebou en transformatisme in nie. Dus moet Geloftedag tot randfiguur verklaar word met die hoop om mense af te skrik. Hulle maak staat daarop dat wit mense bang is om rassiste genoem te word – hopelik sal hulle dan ook bang wees om hierdie “verdelende” en “rassistiese” fees te vier en eerder Versoeningsdag kies. Indien dit gebeur, wen die regering. Dan konformeer ons tot hulle agenda en voorwaardes van transformatisme, eerder as om self te besluit wat vir ons belangrik is.

’n Mens hoef egter net na president Cyril Ramaphosa se Versoeningsdag-toespraak vanjaar te luister om te verstaan waarom duisende Afrikaners steeds kies om Geloftedag eerder as Versoeningsdag te vier. Na hierdie toespraak moes ’n mens jouself afvra: vier die regering Versoeningsdag of Vergeldingsdag? Niks van Ramaphosa toespraak het gespreek van ’n regering wat regtig vrede, aanvaarding en versoening onder almal wil bewerkstellig nie.

Volgens Ramaphosa is ware versoening nie moontlik nie solank as wat die vele probleme in ons samelewing onopgelos bly:

“We cannot build a truly caring society so long as the country’s majority live in conditions of poverty, inequality and deprivation, while a minority exists in comfort and privilege.”

Ook is dit nie moontlik om ware versoening te bewerkstellig wanneer beleid soos ekonomiese transformasie, regstellende aksie en grondhervorming teengestaan word nie. Dit is nie moontlik om werklik te versoen terwyl daar ongelykheid en armoede onder die meerderheid mense in die land is nie.

Ramaphosa het hiermee eintlik gevra waarom mense steeds regstellende aksie en transformasie teenstaan in die lig van al die armoede in ons land. Dit is mos die antwoord op al ons probleme. Die regering vra net vir redelikheid van ons kant af – al wat ons moet doen is om dinge vanuit hulle oogpunt te sien.

Versoeningsdag is ’n dag waarop ons onsself tot sosiale samehorigheid en nasiebou moet herverbind. Dit is sodoende ’n dag waarop elke maatskaplike vennoot sy deel om versoening moet doen.

Besighede móét dus hul getrouheid aan transformasie bewys deur die regering se rasseformule te volg. Landbou-organisasies en grondbesitters móét ook die regering se projek van grondhervorming ondersteun. (Dit sluit natuurlik ook onteiening sonder vergoeding as middel tot grondhervorming in.)

“Without justice there can be no lasting peace. And unless all are able to lead lives of dignity, there can be no reconciliation and progress.”

Indien daar nie (sosiale) geregtigheid geskied nie, kan die regering ook nie noodwendig vrede waarborg nie. Dus moet wit mense die beleid en projekte van die regering ondersteun met die hoop om blywende vrede en versoening te kry.

Ramaphosa se toespraak het gespreek van voorwaardelike versoening – oftewel vergelding. Indien wit mense bereid is om die nodige opofferings te maak, sal die regering dálk met ons versoen. Indien wit mense by al die regering se beleid en projekte inkoop, sal hulle versoening oorweeg. Indien wit mense nié hierdie dinge doen nie, kan daar nie blywende vrede wees nie.

Hierdie toespraak klink dus meer na ’n afdreiging. Volgens Ramaphosa hou wit mense die sleutel om sukses in hulle hande. Verbeterde toestande in ons land hang van niemand anders as die wit mense af nie. Indien wit mense nie by die regering se beleid en projekte inkoop nie, sal swart mense nie net arm en onderdruk bly nie. Versoening en blywende vrede sal ook onmoontlik wees.

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Die boodskap is duidelik. Ons as wit mense moet nou ons samewerking gee, anders gaan ons vir ewig stief hanteer word. Die regering sien ons regtig as diewe wat alle grond, geld en geleenthede by swart mense met geweld gesteel het en verbete daaraan vasklou. Die enigste rede waarom dit nog sleg met soveel swart mense gaan, is nie weens die regering se slegte beleid nie. Dit is omdat wit mense weens selfsug aan hulle welvaart en mag vasklou. (Dit is ook ’n sentiment wat deur paneellede in die regering se vooraf goedgekeurde Versoeningsdag-boodskap gedeel is. Een vrou het selfs laggend gesê hoe die skuldige diewe eintlik net in die tronk gegooi en die sleutels weggegooi moet word.)

Gegewe die kollektiewe skuld wat wit mense dra, moet ons eintlik gelukkig wees dat die regering enigsins met ons wil versoen. Al wat die regering van ons vra, is dat ons net hulle beleid en agendas aanvaar. Hulle het arm swart mense se beste belange op die hart. Ons doen arm swart mense in deur aan ons welvaart vas te klou. Die regering is sodoende volgens hulself dus die enigste redelike party.

In die lig hiervan is dit baie duidelik waarom duisende Afrikaners jaarliks skaamteloos kies om Geloftedag, eerder as Versoeningsdag, te vier. Geloftedag is ’n ongelooflike belangrike dag in ons geskiedenis. Dit is iets waarop ons trots kan wees en waaroor ons dankbaar kan wees. Dit spreek van die komplekse geskiedenis van groepskonflik in ons land. Ons kan dit ook vier as ’n deurslaggewende gebeurtenis vir ons voortbestaan in ons land. Ons herverbind ons jaarliks aan die gelofte wat die Voortrekkers destyds afgelê en deurgevoer het. Ons herverbind onsself so ook aan ons verlede én toekoms in die land.

Versoeningsdag is nie óns dag nie. Die regering wil ook nie hê dit moet wees nie. Hulle wil dit eerder gebruik as geleentheid om ons te beledig en skuldig te laat voel. Alles natuurlik om hulle eie agenda te bevorder, eerder as om versoening en goeie verhoudings tussen groepe na te jaag.

Dit beteken natuurlik nie dat Afrikaners nie goeie verhoudings met ander groepe in die land wil of moet hê nie. Dit beteken bloot dat ons dit beslis nie gaan soek óf vind onder die regering se bitter en vergeldende vaandel van “versoening” nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

33 Kommentare

jongste oudste gewildste
Danie

Geagte Mnr die president. Jy kan nie en sal nie my hart verander nie. Ek is n wit boer wie se voorouers n gelofte aan ons God Elohim gemaak het op die 16de Desember 1838 en niks wat jy se of enige ander organisasie gaan dit verander nie. Jou versoening moet maar op n ander dag val. Aan Elohim die lof en eer en dankbaarheid vir daai dag toe Hy ons beskerm het en die oorwinning gegee. En hiermee se ek nie ons moet weer oorlog maak nie. Wat ek se gee ons die erkenning om ons feeste te vier… Lees meer »

JohanR

Het Cyril ALWEER gepraat! Ek het dit seker misgeloop. Cyril was al vrot toe hy nog saam met Zuma geloop het, en het net vrotter geword!

Boerkind

CR kan dreig en leuens vertel, maar die geskiedenis kan hy nie verander nie. In watter groep val hy en sy strooptogbende (state capture and plunder)? Seer sekerlik nie in die arm massa groep nie? Hoe het CR aan sy biljoene gekom en waarom verdeel hy dit nie onder die arm massas nie?? Koop hy steeds stoetdiere aan teen miljoene vir sy plase? Gaan die plase ook onteien word? Hy is geen voorbeeld vir wat hy preek nie! Nog swakker as Zuma…..

Johannes

Die brulpadda kwaak sy kwaak en die ander paddatjies wat van niks beter weet nie kwaak maar saam. Hulle weet nie dat hy so kwaak om sy eie tekortkominge en die van sy spesie weg te steek nie

Maggies

Dankie Monica vir hierdie rubriek wat ons kortliks die waarheid vertel. Ek haal my hoed af vir mense soos jy wat nie skroom om hulle mede landsburgers in te lig oor waar hulle met die regering staan nie.