Nuuskommentaar: Verspoel die vitrioelvloed die middelgrond?

Argieffoto

Die kwessie oor Steve Hofmeyr en MultiChoice oor die Ghoemas het soveel samelewingsfasette oopgeruk dat dit eintlik nog lank sou kon prut in die Suid-Afrikaanse en Afrikaanse drukkokers.

Dit het egter oopgebars kort voor die algemene verkiesing, en omdat soveel van die sake wat in die drukkoker beland het, ook baie relevant in vanjaar se verkiesing geword het, al is dit grootliks sektoraal hoewel met diép wortels, is die drukkoker se temperatuur hoog opgedraai om gou-gou “uitsluitsels” te kry. Nou het die FAK boonop enorme steun gekry vir sy besluit om Steve Hofmeyr vir sy werk oor 25 jaar te vereer.

“Times is few,” het iemand by geleentheid voor ʼn belangrike verkiesing gesê wat gemeen het dis ghrênd om die rooi taal te gooi.

Onder die sake wat sommer gou op die ontleedtafel van onder andere rubriekskrywers en ander meningsvormers beland het, was vryheid van meningsuiting, politieke korrektheid, vitrioel, rassisme en die onewehandige hantering daarvan, radikale uiterstes, Afrikaans, skrywers- en kunstenaarsvryheid, minderheidsregte en verraad.

Van hierdie sake word al lank in sekere politieke kringe onderling onder mekaar warm gebroei. Trouens, daar het reeds ’n redelike woordeskat van gemeenskaplike begrippe ontstaan wat in sulke groepe onderling goed verstaan word, maar nie noodwendig in die kringe wat anders dink so verstaan of erken word nie.

’n Bietjie meer as ’n dekade gelede is daar in sommige Europese politieke dampkringe groot gewag gemaak van “die nuwe politieke/ideologiese siening”. In plaas van om die politieke spektrum as ’n reguit lyn van links na regs (of dan in die Afrikaanse ideomatiek, verlinks tot verregs) uit te druk, word dit as ’n ronde bal uitgedruk. Die rede is dat die partye daarbinne nie altyd nét links, of nét regs sal wees nie. ’n Party wat oorwegend links is, kan beleidselemente tipies van die middelgrond hê, en verskeie skrywers het opgemerk hoeveel keer linkse en regse partye sekere beleidsaspekte, of dan ten minste ooreenkomste in styl, met mekaar deel.

Andile Mngxitama van BLF. (Foto: Facebook)

Die rondebal-idee kon egter nooit behoorlik posvat nie, veral nie ná partye soos dié van Geert Wilders sterk begin figureer het nie. Dit bly nietemin ’n handige model om te verstaan waarom die opstel van strooipoppe van ander se beleid so doeltreffend in die partypolitieke arena kan “werk”.

Soos byvoorbeeld, as die BLF ewe pikant na die Vryheidsfront Plus as “rassiste” verwys, terwyl die VF Plus vir Peter Marais as Wes-Kaapse premierskandidaat het, en die BLF nie wit lede toelaat nie. Of die EFF wat bykans deurlopend na die DA as “wit party” verwys terwyl die DA soveel van ʼn swart identiteit demonstreer dat dit in ander kringe as ’n “ANC Lite” en soortgelyk beskryf word.

Net ’n slotopmerking oor die “identifikasies” wat rubriekskrywers in die drukkoker op die lyf loop. Dieselfde een sal as links-liberaal en verregs uitgeskel word, na gelang van wie vir die naamgewery verantwoordelik is. So word ontleders uitgeskel as Cape libs, lefties, verkramp, en vele meer, maar word selde as behorende tot die middelgrond beskryf.

En ja, dan is daar kiesers, veral juis onder diegene wat verkies om nié te stem nie, wat die middelgrond met afsku bejeën.

Maar dis verkiesingstyd, en politieke partye moet ook versigtig trap. Vandag word kiesers afgeraai om hul “stemme op klein partytjies te vermors”, maar môre moet daardie einste party(tjie) in die oë gekyk word om ’n koalisie te vorm. Maar soms was daardie aanvalle so kwetsend dat daar ’n groot weerstand is om ’n koalisie te vorm. En die party wat tydens die verkiesingsveldtog so aangeval word, kan dalk seer terugbyt; selfs voor kiesers nog gaan kruisies trek het.

Geen objektiewe waarnemer sal byvoorbeeld stry dat die VF Plus ver bo sy gewigsklas sy mediaveldtog voer nie. Kritiek op die VF Plus kan maklik boemerang, soos met die vraagtekens oor die DA se verbintenis tot Afrikaans, en ander sake.

Maar wat is die middelgrond, en is dit ’n goeie plek om te wees?

fak-leierskapkonferensie-2017-04

Prof. Danie Goosen, voormalige voorsitter van die FAK. Foto: Verskaf

In 2015 skryf prof. Danie Goosen, destyds voorsitter van die FAK, in ’n meningstuk op Maroela Media dat Afrikaners hulle eerder in die lewensbeskoulike middelgrond moet tuismaak. In 2018 verklaar Kallie Kriel, hoof van AfriForum, dat dié organisasie die middelgrond beklee en daarom hemelsbreed van die EFF verskil. In April vanjaar skryf prof. Pieter Labuschagne, nou gereelde rubriekskrywer, dat die DA die wegwyser na die middelgrond kan en behoort te wees.

So verklaar die een skrywer ná die ander onbedoeld die middelgrond as ’n plek sonder vaste adres. Prof. Goosen, wat in sy artikel hierbo verwys baie aandag aan die middelgrond skenk, wys egter ook op die noodsaaklikheid vir die Afrikaner om homself op die lewensbeskoulike middelgrond te posisioneer: “Maar dit hou ook verband met die noodsaak om op ’n geloofwaardiger wyse op die uitdagings van ons tyd te antwoord.”

Hy motiveer dit vervolgens behoorlik. Die tyd het behoorlik ryp geword om dié artikel weer te lees. ’n Baie soortgelyke artikel deur Goosen het destyds in Netwerk24 verskyn, en is in Standpunte oorgeneem. Laasgenoemde artikel het die subopskrif van kulturele selfbeskikking gehad.

Met hierdie nuuskommentaar is behoorlik kennis geneem van die inhoud van ’n rubriek deur die redakteur van Beeld, Barnard Beukman. Onder die opskrif, “Heeltydse afbrekers het geen bouplan”, ontleed hy ook die Steve-MultiChoice-speelveld, en in die proses hunker hy na die middelgrond. Hy delf ook in ’n rubriek van Ivor Price, “Ivor Price kap terug: ‘Ek is moeg vir rassiste’”.

Dit sou onvanpas wees van die uwe om ook nog ’n eiertjie te lê oor die rubrieke van Price en Beukman. Genoeg om te sê dat Beukman sekerlik een van die voorste ontleders is en besonder aandag aan die werklikheid en gebalanseerdheid skenk. Price is, verstaanbaar, erg sensitief oor rassisme waaraan hy van jongs af blootgestel is. Soms was die rassisme nie kwetsend bedoel nie, maar wel so ervaar, soos die wit vrou wat hom ondeurdag “komplimenteer”: “Vir ’n kleurling praat jy darem goeie Afrikaans.”

Ons beleef nou, te midde van verbete weerstand teen rasionele ewehandigheid, ’n era waar politieke korrektheid nie meer so “in” is soos tot enkele jare gelede nie. Dis baie goed so, maar dit beteken ook nie dat ’n mens ander se gevoelens bloots moet ry nie. Die inspan van vitrioel is en was nog altyd mislik siek en onoortreflik verkeerd. En kan ’n mens boonop in die sop laat beland.

Rubriekskrywers moet ook waak daarteen om nie ter wille van groot lesersgetalle met wilde twakstories die temperatuur op te jaag nie (en dan nog dikbek te kla oor die vitrioel wat dit op hulle self loslaat). Onlangs het ’n bekende akademikus op die program Kommentaar op RSG verskeie omstrede stellings gemaak wat die bloed van baie laat kook het. Agterna het hy erken hy het Ernst Roets van AfriForum ’n wit terroris genoem, maar het ontken hy het gesê wit mense het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel. Die potgooi verklap egter duidelik dat hy dit ook gesê het.

Ten slotte, Afrikaners en ander Afrikaanssprekers moet altyd die oog hou op waar Borrelonië gesetel is. Borrelonië is die verafrikaansing van die Vlaamse begrip, Bubbelonië – die fiktiewe hoofstad van diegene wat met hul sterk sentimente vir hul moedertaal hulle afsluit van werklikhede daarbuite.

Hulle kan wel deur die versteurde beeld van die borrel sien wat buite aangaan, maar is oop vir basies enige afleiding, en reageer soos ’n trop wilde tarentale wat deur iemand in ’n hoenderhok ingejaag word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Sorry om te sê ·

Baie gepraat Herman, maar soos gewoonlik, niks gesê nie.

Dries du Toit ·

Sorry om te së. Jy moet maar vir vroulief vra om vir jou te verduidelik. Salig is die wat arm van gees is

Dries du Toit ·

Politieke korrektheid is n daad wat net deur blankes in SA beoefen word. Selfs om braaivleisvure sal die meerderheid blankes versigtig sy woorde kies wanneer hy oor mense en politiek praat om sodoende niemand te affronteer nie. Dit is waar dat politieke korrektheid nou baie vinnig besig is om te verdwyn. En dit kan absoluut voor die ANC, MRK, Howe, OVK ens se deur gele word. Hulle uitspraake word daagliks deur die blanke gesien as absolute rassisme. Werklike aardsrassiste soos Malema en sy EFF kaders, BLF met sy verregaande rassehaat uitsprake kom onophoudelik weg met moord op n daaglikse wyse op openbare verhoë Dit in teenstelling met blankes soos Penny Sparrow en Vicky Momberg en baie meer. Dit is ook nie verregaande om te weet dat wanneer politieke korrektheid totaal verdwyn het dit weer aan die klok gehang sal word as die blanke se skuld

Herman Toerien ·

Ivor Price het die volgende laat weet: “Terloops, ek het nooit, ooit enigiemand wat my oor my Afrikaans komplimenteer as rassisties ervaar nie – en dit ook nie so geskryf nie. Patroniserend, miskien ja, maar beslis nie rassisties nie. Die r-woord gebruik ek baie selde. Ook, ek is nie van kleins af aan rassisme blootgestel nie. Ek skryf juis gereeld oor hoe ons vir lank daarteen beskerm is. Ek is jammer dat jy – en waarskynlik dan ook ‘n paar ander – daardie spesifieke rubriek destyds so verstaan het. Wanneer ek oor ras skryf, is dit om ervarings op te teken, in die hoop dat ons uiteindelik saam ‘n beter land sal kan bou. Ek wil nie ‘n klipgooier wees wat mense wil verdeel nie.” Ek vra verskoning dat ek sy woorde anders verstaan het as wat hy bedoel het.

Koos ·

Herman, is die verskoning ook nou polities korrek?

Ek voel jammer vir die mense wat nie die stuk verstaan nie, dit is dinge wat daagliks gebeur.

Andreas ·

Reg so Herman, dis goed om te sien dat Ivor jou lees, lekker om te weet mense van die ander platvorms boer ook hier. Ek het Ivor se artikels op ‘n stadium gereeld gelees. Dalk moet hy tog daaraan dink om sekere artikels van hom nog ‘n keer te lees voor hy dit plaas.

Andreas ·

Dankie Herman vir jou insig en deel, jy bring nou vir jare al nou kant om persepsies te besweer en ‘n aanwyser vir die Afrikaner na die middelgrond te wees.

Dan, jy sê onder andere hier bo, in April vanjaar skryf prof. Pieter Labuschagne, nou gereelde rubriekskrywer, dat die DA die wegwyser na die middelgrond kan en behoort te wees. Hier wil ek graag die woorde ‘KAN EN BEHOORT TE WEES” beklemtoon, want hulle is nie.

James ·

Daar was nooit ‘n middelgrond nie. Slegs ‘n oorkoepelende “long game”, deur die ANC.

Hier, in Suid Afrika na die volgende vyf jaar beginnende 8 Mei 2019, sal almal die eindstrategie verstaan – in 2023, met Grooot Wysheid in retrospek.

Kom ek spel gou kortliks die verloop uit na 08 Mei 2019, vir die res van vanjaar:

1. Die ANC (rondom 60%) en die EFF (rondom 10%), gaan gesamentlik meer as 2/3’s he om die Grondwet te verander – en grond te onteien sonder vergoeding;
2. Julius gaan sy pond vleis eis om saam te werk – en dalk wag daar vir hom ‘n kabinetsposisie?

Dit, op nasionale vlak – en dalk meer ingewikkeld as wat ek voorspel.

MAAR – op provinsiale vlak – gaan dinge vinniger gebeur. Ek voorsien:

1. ‘n Koalisie regering tussen die ANC en EFF in Gauteng;
2. ‘n Premierskap vir die EFF in Limpopo, in ruil vir hul hulp in Gauteng;
3. Weskaap…God help hulle.. ‘n Koalisie – OOK tussen die ANC en EFF.

Kortom, die “middelgrond” het nooit bestaan nie. Dit was net ‘n ANC truuk.

Ons gaan dit NOU sien, in 2019, wanneer die ANC sy koalisie vennote kies. En dit gaan EERDER die EFF, as die DA wees…

Gaan olie jou roer. Die aanslag teen minderhede, gaan REGTIG begin – na 08 Mei 2019. Alles tot nou, was net die “curtain raiser”.

Felix ·

Eerstens, die laaste peiling van die Intituut vir Rasseverhoudinge wys die ANC op 49,5%. Dan betreffende jou opmerking in die heel laaste sin …. korreksie van my kant, die aanslag het paar jaar gelede al begin en is nou op sy hoogtepunt.

Felix ·

Eerstens, die laaste peiling van die Instituut vir Rasseverhoudinge wys die ANC op 49,5%. Dan betreffende jou opmerking in die heel laaste sin …. Korreksie van my kant, die aanslag teen minderhede het paar jaar gelede al begin en is nou op sy hoogtepunt.

Felix ·

Herman,
Ek moet nou dalk nooit hierdie een vertel het nie, maar ek waag dit tog. So paar maande gelede het ons erge probleem met ‘n rioolpyp aan die agterkant van die huis. Die badkamer met stort, en so, is toetentaal onbruikbaar. Ons kry toe nou vir die Drain Surgeon om te kom help. Hulle het aan die binnekant van die huis beloer, toe aan die agterkant buite die huis doenig geraak. Intussen skroef ‘n ou ‘n ent verder weg ‘n deksel bokant die skag af, wat so twee voet ondertoe na die rioolpyp af loop en beduie ek moet kom luister. Die volgende oomblik hoor ek net so ‘n whoosh-geluid en water wat spoel. “En daar gaan die ’oorsaak’ verby”, sê hy.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.