Nuuskommentaar: ‘Vertrou regering’ – Jeff

Jeff Radebe. Foto: GCIS

Jeff Radebe. Foto: GCIS

Suid-Afrikaners moet die (ANC)-regering vertrou, want belangrike aspekte van die Nasionale Groei- en Ontwikkelingsplan berus hierop, meen minister Jeff Radebe, wat in wese as minister in die presidensie die land se premier is. Dit is in landsburgers se belang dat hulle die regering in al sy besluite vertrou en sal glo dat die besluite in belang van die burgers geneem word.

Radebe is ook voorsitter van die nasionale beplanningskommissie. Dit is nie die eerste keer dat Radebe iets met hierdie strekking sê nie en dit sou water hou as vertroue nie iets was wat verdien moes word nie. En wat dit betref, haper dinge – ongelukkig wat Radebe self betref ook.

’n Goeie voorbeeld was toe hy in Maart vanjaar ’n dokument vrygestel het waarin hy pres. Jacob Zuma loof en aanspraak maak daarop dat die regering goeie werk gedoen het. Hy het in die dokument talle voorbeelde van goeie werk gelys.

Africa Check het egter die aansprake ontleed en volgens Radebe se eie aansprake die kaf van die feite geskei. Radebe se kantoor, asook die regering se woordvoerder, Phumzile Williams, het nie op Africa Check se versoek vir bronne vir die aansprake gereageer nie en die aansprake is teen ander beskikbare bronne gemeet.

Die gevolg is dat Radebe met heelwat eier op sy gesig gesit het. Sekere aansprake was wel breedweg korrek, maar buite konteks. Dit is interessant dat Radebe se aanspraak dat die burgers van die land die regering met hul belastinggeld vertrou, as “twak” bevind is.

Miskien sou dit die minister baat om eers kers op te steek by ’n veel bekender naamgenoot, Thomas Jefferson. Een van Jefferson se bekendste aanhalings, toe hy in 1801 as president van die VSA ingehuldig is, lui: “Sometimes it is said that man cannot be trusted with the government of himself. Can he, then, be trusted with the government of others?”

Robert A. Heinlein het eenvoudig gesê mense moet hul land liefhê, maar nooit die regering vertrou nie. Maar dit net terloops.

As die ANC net naastenby soveel energie sou bestee tot die beswil van die land en al sy mense as wat bestee word daaraan om Zuma fatsoenlik aan die burgery te probeer voorhou, was Suid-Afrika nou ’n veel beter plek. Maar vertroue moet op substansie en nie op rookskerms gebou word nie.

Die nuwe misdaadstatistieke is pas bekend gemaak, of dit blyk dat dit vol foute is. Ongelukkig reflekteer dit nou op die geloofwaardigheid van ’n breë spektrum, ook omdat die polisiehoof daarop aanspraak maak dat die statistikus-generaal die syfers vooraf geverifieer het. Tot die polisie se krediet is dadelik om verskoning gevra vir die foute wat ingesluip het. Maar as dit impliseer dat Statistieke SA saam geblaps het, hou dit geen goeie gevolge vir die geloofwaardigheid van hierdie uiters belangrike instelling en die land in nie.

En as die publiek kopsku is om die regering te vertrou, is beleggers ook kopsku en Amerikaanse en Europese sakelui het dit onlangs in die parlement aan die regering gesê, met miljarde rande se beleggings wat gereed is om plaas te vind … mits die regering vertrou kan word. Die moontlikheid van onteiening, veral ná wat in Zimbabwe gebeur het, staan die beleggers nie aan nie.

Daar is ’n ontsettende lang lys sake waaraan die regering moet aandag gee voordat hy kan hoop om in alle sektore en onder alle bevolkingsgroepe breë geloofwaardigheid te hê.

Die verbetenheid waarmee die regering, byvoorbeeld deur sy DKD-Solidariteit-appèl, bruin mense in die Wes-Kaap (en effektief die Noord-Kaap) deur die toepassing van nasionale kwotas wil marginaliseer, aandring op transformasiepraktyke wat kleingeld maak van minderhede se grondwetlike regte, blatant met die toekenning van beurse diskrimineer, betrokknheid by die Hitachi-skandaal ontken, Nkandla probeer toesmeer, Guptagate ignoreer en probeer voorkom dat Zuma sy dag in die hof kry, skend sy geloofwaardigheid.

Radebe kan gerus gaan oplees wat die standaard-vereistes vir grondwetlike demokrasie is, soos dat ’n regerende party in die belang van al die mense van die land moet regeer, nie net die meerderheid nie. Dat die oppergesag van die grondwet onskendbaar moet wees en daar nie kort-kort dwarsklappe van die regbank mag wees as die ANC nie sy sin kry nie.

Om mense wat die ANC kritiseer as dislojaal teenoor die land af te maak, of nog erger, te dreig met gewelddadige reaksies wat kan kom deur voor te hou dat aanvalle op die ANC in werklikheid op aanvalle op swart mense neerkom, grens aan sedisie.

Om lojaal teenoor die land te wees, beteken ongelukkig net te dikwels om krities oor die ANC te wees.

Ons weet u probeer net u werk doen, minister en dalk staan u kop ook in die rigting van president word, maar hierdie refrein is wanklankig en stel u net te veel bloot.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Kaspaas ·

Ha Ha Ha nou dat Trevor Noah in Amerika is wil Jeff seker oorneem as Standup komediant. Goeie grap maar cANCer is net goed wanneer dit by korrupsie, haatsprake, stakings ens kom daarop kan n mens hulle altyd vertrou.

nico ·

Mnr radebe die dag wanneer julle die korruptes toesluit en aankla dan bedoel ek van bo na onder almal sal ek dit oorweeg om die regering te vertrou maar huidiglik as ek U was eerder stil bly

Mike de Beer ·

Herman Toerien weet waarvan hy praat … of is Herman, ekself en miljoene ander verkeerd in ons persepsie van wat aangaan in terme van die regering, korrupsie, nepotisme, ongeloofwaardigheid, swak dienslewering ens. ???

Arie Plaasboer ·

Waar kom Radebe aan die vermeltelheid om te wil beweer dat die land se inwoners die regering moet vertrou as daar in die grootste geheimenis oor kragkrag kragsentrales onderhandel word wat, volgens vooraanstaande werelklas ekonome, hierdie land onderhewig gaan maak aan die wense van vreemdelinge?

sarie van heerden ·

Voordat ek ‘n Kohler Barnard geval word is ek versigtig net deur te skryf dat respek verdien word en ek moet opsien na ‘n leier met integriteit en hy nie in die buiteland as ‘n “uneducated clown” beskryf word nie.

Johannes Meintjes ·

Veels tee min, ver te laat mnr. Radebe! Die ANC het 20 jaar gehad om die land oortuigend en met daadwerklike vrug te regeer. Daarin is, op die keper beskou, hopeloos en baie betreurenswaardig gefaal. ‘n Geheel-nuwe regeringsbenadering met behoorlike verteenwoordiging vir minderhede en kulture, asook baie beter werkwyses is uitermate dringend in SA nodig, – veral as SA en SADC wil uitblink as internasionale rolspeler te midde van ‘n baie deurmekaar mensdom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.