Nuuskommentaar: ‘Vertroude’ ANC al wat kan regeer – Zuma

Zuma met sy aankoms by die FNB-stadion. Foto: ANC/Twitter

Zuma met sy aankoms by die FNB-stadion. Foto: ANC/Twitter

Dit is te vroeg om veel betekenis te heg aan baie toeskouers se uitlopery die naweek by die ANC-verkiesingsmanifessaamtrek in Gauteng toe pres. Jacob Zuma aan die woord gekom het. Voorts het Zuma by dié geleenthede weer dinge kwytgeraak wat Suid-Afrika se stabiliteit onder druk plaas.

Volgens berigte het toeskouers in die FNB-stadion op groot skaal die pad gevat voor, en veral tydens, pres. Zuma se toespraak die naweek.

Vir die ANC in Gauteng was dit besonder belangrik dat daar ’n groot opkoms in die stadion moes wees toe die Gautengse ANC se verkiesingsmanifes bekend gestel is. Eerstens het die EFF onlangs ’n vol stadion daar getrek. Die ANC kon hom dit nie nadoen nie, en “slegs” 85 000 mense uit ’n moontlike 95 000 is deur die hekke. Hierop is die Gautengse ANC trots, maar die probleem het begin toe die toeskouers by die honderde, en tydens Zuma se toespraak by die duisende, die stadion begin verlaat het, aldus Netwerk 24.

Vir Gauteng was dit voorts belangrik, omdat die ANC die indruk probeer wek dat daar geen breekspul tussen Zuma en die ANC in Gauteng is nie. Zuma het ook tydens die party se bekendstelling van sy verkiesingsmanifes in Mpumalanga ‘n toespraak gelewer.

Tog is daar ook nuuswaarde in wat Zuma in sy toesprake gesê het, veral waar hy weer van sy geskrewe toespraak afgewyk, en wéér sy voet daarin gesit het. In sy ywer om opposisiepartye sleg te sê, het hy onder meer weer bitter uitgepak “oor hulle na die howe hardloop”. So meen hy word die demokratiese wil van die mense ondermyn.

Dit beteken in die praktyk dat hy geen snars van ’n idee het hoe ’n grondwetlike demokrasie werk nie. In die proses minag hy die oppergesag van die Grondwet, en skop hy die waardigheid van die regbank in die tande.

Ironies het hy by die geleentheid in die FNB-stadion die ANC as instelling wat die demokrasie hoog ag, geloof. Trouens, hy het ’n beroep op lede gedoen om die ANC in staat te stel om die morele hoë grond te kan beklee, anders as die opposisiepartye “wat hulle tot anargie wend”. Om die EFF (en ook maar genoeg van sy eie mense se anargistiese optrede) en byvoorbeeld die optrede van die Vryheidsfront Plus oor dieselfde kam te skeer is baie dik vir ’n daalder.

Hy moedig die kiesers aan om vir die ANC as “vertroude party” te stem, en nie vir die opposisie nie wat geen ervaring het van hoe om ’n land te regeer nie.

Hy versuim natuurlik om te meld dat Suid-Afrika, veral onder Zuma se bewind, baie sleg op verskeie internasionale indekse vaar. Op twee kredietgraderingsagentskappe is Suid-Afrika se posisie op ’n nerf na bo rommelstatus gelaat, en ’n derde besluit binnekort. Dis juis hierdie soort uitsprake van Zuma wat ’n groot aandeel daarin gehad het dat Suid-Afrika sukkel om rommelstatus af te weer.

Hierteenoor het die DA getoon dat dit die Wes-Kaap suksesvol kan regeer, ten spyte van groot uitdagings (waaronder die feit dat die ANC op nasionale vlak regeer). Die ANC se “prestasie” in die regeer van provinsies is nie juis iets om oor huis toe te skryf nie, en oorlede apartheid word grootliks vir dié toedrag van sake geblameer.

Maar die komende verkiesing handel oor munisipale verkiesings, en wat dit betref, moet die ANC sy kop feitlik deurgaans in skaamte laat sak. Nie een munisipaliteit in Noordwes of Limpopo kon skoon oudits verwerf nie, twee provinsies wat “toevallig” deur die ANC regeer word.

Weer vra Zuma van die kiesers ’n blanko tjek. Ja, daar is aanduidings en beloftes van beterskap, maar so was dit met elke verkiesing sedert 1994.

Die ANC word deur ’n berg probleme in die aanloop tot die verkiesing in die gesig gestaar. Die suur sop loop tans uit (nie net by die ANC nie) oor mense wat in onverkiesbare of twyfelagtige posisies op kandidatelyste genomineer is. Die onlangse politieke moorde veral in KwaZulu-Natal (wat nou ondersoek word) hou blykbaar ook met die nominasieproses verband. Die ontevredenheid het verskillende oorsake. Een is dat die ANC beloof het die “afdwing van kandidate van bo af” sou vanjaar erg getemper wees. Plek-plek was daar skynbaar egter steeds groot eksterne beïnvloeding van lyste, met onder meer beskuldigings van nepotisme.

Boonop dui peilings dat die ANC minstens plek-plek setels aan die opposisie gaan afstaan, en selfs munisipaliteite kan verloor. Selfs net ’n klein afname in die stemaandeel kan veroorsaak dat “veilige kandidate” se posisie in gedrang kom, en nie die pyp gaan rook nie.

En om ’n raadslid te wees of nie, is in die huidige werkloosheidsklimaat dikwels die verskil tussen feitlik ongekende welvaart en totale armoede.

Voorts is dit nou te ene male so dat die ANC kan voorgee soos hy wil, maar die feit dat Zuma steeds die septer swaai, én enige tyd weer iets kan kwytraak wat die land en/of die ANC enorme skade kan berokken, gaan nie goed onder baie van veral stedelike swart mense af nie. Daar is ook verskeie brandende kwessies wat die ANC se vermoë om bruin stemme te trek onder druk plaas, waaronder die Solidariteit-DKD-saak, en die bruin-swart-magstryd onder meer om die Marius Fransman-kwessie. Dis tog interessant dat die gewoonlik uiters verbale Tony Ehrenreich nou al ’n geruime tyd baie stil is.

Danksy ’n paar hofsake is die byna blinde vertroue in die OVK se onverbondenheid nou erg geknou. Daar is ’n groter beslistheid by verskeie partye te bespeur om die vergrootglas op die OVK te hou om onverbondenheid te verseker.

Nietemin, dit sou al baie help as die ANC inderdaad probeer om die morele hoë grond op te neem. As dit in die praktyk sou beteken dat daar onder meer nie meer ’n gekonkel sou wees met kospakkie-uitdelery nie, as amptelike staatsgeleenthede nie vir politiekery gekaap word en ondersteuners onder meer op belastingbetalerskoste met busse aangery word nie, en as die ANC boonop druk op die SAUK uitoefen om werklik onverbonde te wees – dan sal daar veel minder skeptisisme wees as die verkiesing uiteindelik vry en regverdig verklaar word. Maar die ANC se oorhaastigheid in die verlede om verkiesings in Zimbabwe, waaroor onder meer Verslaggewers Sonder Grense die piep wou kry, vry en regverdig te verklaar, boesem nie veel vertroue in dat die ANC weet wat morele hoë grond beteken nie.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Theuns ·

Dankie Herman. Dit bly maar vreemd dat mense, tenspyte van Zuma, voortgaan om vir die ANC te stem? My Pa was ‘n trotse polisieman en so ook die meeste van my broers. So om en by 1967 word ‘n vriend van my, wat ook ‘n polisiman was, deur rowers by ‘n winkel dood geskiet. Ek wou met alle geweld ook by die Polisie aansluit en my werk wat ek op die Spoorwee gedoen het los. My pa het my beter geken en vir my gese “kom werk eers by die aanklagte kantoor vir ‘n naweek dan besluit jy oor jou toekoms!” So gemaak en ek kan reguit se ek het ‘n wereld gesien wat afgryslik was. Die Sn.t, p.s en k.k was nie vir my nie! Jy vra nou wat het dit met vandag se ANC te doen? Baie want dit is die nasate van daardie mense wat nie respek vir ‘n lewe gehad het nie, wat nie disipline geleer is nie, wat nie netheid verstaan het nie. Dit is die nasate wat vir die ANC stem!! Ek hoop maar Maroela plaas dit wat ek hier geskryf het nie want dit is die waarheid!!

Rynhardt ·

Zuma is reg, net die Anc kan regeer, daarom is alles oppad na die afgrond.Die sogenaamde eksperts se peilings wat se dat die Anc munisipaliteite kan verloor, steur ek my nie aan nie, want die peilings was oor die jare nog nooit akkuraat nie! Die feit dat Zuma uitvaar teen die opposisiepartye is toneelspel, want eerstens is dit n sogenaamde opposisie, want hul bestaan uit Anc-faksies wat die Anc se vryheidsmanifes ondersteun.Die politieke landskap van SA is n groot klug!

Gertjie ·

Skryf liewer aan ons hoekom loop hulle later weer terug na die ANC.
Is dit oor kos pakkies “T-Shirts” of domgeit…!!!

Popeye ·

Mnr Zuma, die mense wat uitgeloop het, het vir jou ‘n duidelike boodskap gegee. “Ons is baie ontevrede met hoe dit gaan in SA! Ons waarsku jou nou! Ons sal nog hierdie keer vir die ANC met jou aan die stuur stem, maar….na hierdie gaan ons as ANC -kiesers (dis wat ons sal aanhou stem) jou met klippe uit die stadion verwyder! Kry dinge reg of ons gaan self die ANC regruk mnr Zuma…..hoor u???

Jcwf ·

Zuma kan net een ding doen om die ‘vertroude’ ANC te help om voort te gaan met regeer. Hy kan aftree.

Maar hy sal dit doen as dit te laat is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.