Nuuskommentaar: Verval land of is dit net persepsie?

vlag suid-afrika

Argieffoto.

In 2013 het die Kovsie-kanselier, dr. Khotso Mokhele, die afgestudeerde studente tydens hul gradeplegtigheid aangemoedig om hul spraakvryheid te gebruik om oor die algehele verval wat ons om ons sien beswaar te maak. Benewens Maroela, het min of geen media hierdie brokkie belangrike inligting gedra nie.

Politieke korrektheid neem egter nie feite weg nie. Met die aanbied van die wêreldsokkerbeker-eindtoernooi in Suid-Afrika in 2010 was dit juis moeilik om besoekers van oorsee uit stede se gevaarlike dele te hou, terwyl beeldpoetsers hard probeer het om die bestaan van sulke gebiede weg te praat. In een geval is ’n buitelander wat aangeval is en in die hospitaal beland het, se lot wel in die oorsese pers vermeld, maar nie in die plaaslike pers nie – wat skynbaar self op die euforie-golf probeer ry het.

Ook tydens verkiesings en die president se staatsrede word die ANC se “goeie storie” aangebied asof die deel van die koek wat platgeval of verbrand het, nie bestaan nie. Versiersuiker word bloot oor die hele koek gesmeer.

En ja, daar is goeie nuus-stories, al klim die wurms dikwels later ook dáár uit die krake wat weens die swak bouwerk ontstaan, of omdat dinge met tenders nie alte lekker verloop het nie.

Sommige verskynsels, soos middestedelike verval, is skynbaar deel van ’n onafwendbare internasionale probleem, of dan minstens deel van veral die nuwe wêreld. Min dinge demonstreer dit so duidelik soos die sogenaamde gebouekapings wat in verskeie stede, maar veral Johannesburg, plaasvind.

Die uitsetting van die inwoners, dikwels onwettige immigrante, ontlok baie ontevredenheid van die inwoners en filantrope. Dat mense in die proses gered word van lewensgevaarlike omstandighede soos geen lopende water of elektrisiteit en geen werkende toilette nie, en bevry word uit misdaadhole soos dwelmneste, prostitusienetwerke en vele meer, weeg volgens die kritici nie op teen die lot van mense wat hulle met hul meubels op straat bevind nie.

Ons ken wel die prentjie van ritse en ritse winkels wat wel nog in die eertydse sakekern sake doen, wat saans hul straatfront met volledige staaldeure moet beveilig. Die meeste sake het egter na winkelsentrums – die sogenaamde malls en marts – in die voorstede verskuif. Misdadigers trek ongelukkig dikwels saam soos wat menige gebruiker van outomatiese banktellers al moes agterkom.

Twee wêrelde ontstaan, hoewel die voorstedelike gebiede dikwels ook erg ly onder swak munisipale dienslewering soos strate wat verkrummel, riool wat gereeld in strome strate af vloei, strepe op paaie wat met verdwynverf geverf word en vullis wat vir lang tye nie verwyder word nie.

Dus weer die vraag: Verval die land om ons, of het dr. Mokhele ’n politieke steekhou probeer inkry? Sy stelling is juis gemaak in die aanloop tot die ontstaan van Agang, met aanduidings dat verskeie kanseliers en rektore hulle op so ’n manier uitgedruk het dat dit gelyk het of hulle hulself posisioneer om openlik hul steun aan hul oud-kollega, dr. Mamphele Ramphele, toe te sê. Toe Agang inplof en Ramphele die politiek vaarwel toeroep, het hierdie steekhoue ook end gekry.

Is daar ’n weg uit hierdie tameletjie? Kan middestede deur natuurlike ekonomiese kragte hul ou glorie herwin?

In die VSA het ’n relatiewe nuwe woord, gentrified, ontstaan. Dit beskryf die proses waar bekende vervalle gebiede soos Harlem ’n invloei van middelklasmense beleef, wat dan tot ’n soort opheffing lei. Die proses is nie oral gewild nie, omdat dit dikwels daartoe lei dat werklik armes wat ’n onderdak in hierdie vervalle gebiede kon bekostig, moet padgee omdat huur en ander lewenskostes oor ’n wye spektrum vir hulle onbekostigbaar styg. Hulle word dan dakloses omdat hulle ook nie elders geholpe kan raak nie.

Die proses is egter nie so eenvoudig nie, soos dat arm inwoners met goeie opleiding dikwels sélf deur die opheffing bevoordeel word en opgang kan maak. Ras speel ook dikwels ’n rol, soos dat gebiede wat ’n swart bevolking het wat meer as 40% van die totaal uitmaak, neig om vervalle te bly.

Die proses, met of sonder gentrified, is kompleks. (Gentrified is pas volledig in The Atlantic bespreek.)

Wat duidelik is, is dat die oplossing nie in slagspreuke soos die bekamping van “witmonopoliekapitaal” of “radikale ekonomiese transformasie” gesetel is nie.

Geykte begrippe soos hoë drempelwaarde van voetgangerverkeer wat ekonomiese lewensvatbaarheid, en dus ook die tarief van eiendomsbelasting en huur bepaal, beteken niks as daardie oorvloed “voete” se sakke leeg is, of as te veel van die “voete” daar is om ander “voete” te beroof nie. Dié lysie is lank, soos die leegloop van parkeergarages terwyl die strate nie net vol parkeer word nie, maar dubbelparkering die verkeer erg ontwrig.

Eers wanneer middestedelike verval doeltreffend aangespreek is, kan daar sprake van ’n “goeie storie” wees.

Maar middestedelike verval is nie al teken van “die algemene verval wat ons om ons sien gebeur nie,” soos Mokhele gesê het. ’n Regering wat sy ekonomiese beleid grootliks op retoriek bou, en waar die land die karakter van ’n kleptokrasie het (met staatskaping en korrupsie ingesluit), kan nie daarin slaag om die bewese toename in armoede te stuit nie. Politiek-onverantwoordelike uitsprake en optredes erodeer die delikate basis waarop die ekonomie staan, en pres. Jacob Zuma is ’n meester om die pap hier te laat vasbrand.

En dan is die “goeie storie” eintlik maar niks anders as ’n riller nie.

Dan raak Solidariteit se Plan B al hoe aantrekliker, al meen Max du Preez Solidariteit het die Afrikaner gestaatskaap.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Kom Ons Boks ·

Goeie artikel. Die vorige bedeling het erg gebuk onder sanksies maar nog steeds fantastiese ekonomiese groei getoon teenoor die ekonomiese groei van vandag. Mense het in hul duisende destyds die land ingestroom vir ‘n stukkie van die pastei. Vandag is die pastei-makers van die duiwel af maar die massas moet nog besef dat daar geen plaasvervanger vir harde werk, disipline en integriteit is nie. Ons antwoorde le in die verlede.

Heike ·

Die meeste in SA wil net bakhand staan.Te lui om te werk.Kan niks op hulle eie doen behalwe afbrand moor en vernietig nie.Daar kry hulle volpunte.Weet nie waarom hulle nie n slag n positiewe bydrae vir n slag kan doen nie want dan sal hulle respek verdien en iets begin regkry.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.