Nuuskommentaar: Vervolging van Christene

Indië se landsvlag. Argieffoto: Pixabay

Al meer berigte word ontvang oor die vervolging van Christene in Indië, iets wat deur die owerhede ontken word, maar wat ook baie mense laat wonder hoe dit gebeur het dat Indië vandag hoegenaamd oor ’n Christenbevolking beskik.

 ’n Onlangse verslag van Geopende Deure het opnuut onder die aandag gebring hoeveel Christene daagliks feitlik wêreldwyd vervolg word oor hul godsdiens. Open Doors USA het besondere aandag gegee aan die vervolging van Christene in Indië, en ook daarna verwys as die vervolging wat almal ontken aan die gebeur is.

Indië het ’n Christenbevolking van 64 miljoen, wat baie mense dalk mag verras. Volgens oorlewering is hierdie teenwoordigheid die gevolg van die sendingwerk van die apostel Tomas, ook bekend as die ongelowige Tomas. (Volgens die Indiese owerhede het ’n sensus van 2011 aan die lig gebring dat dit “net” 28 miljoen Indiërs, oftewel 2,3% van die bevolking is wat die Christenskap aanhang. Dit maak die Christenskap steeds die derde grootste godsdiens in Indië, met die Islam die tweede grootste.)

Om navorsing te doen oor Tomas se sendingwerk in die Ooste (dit was skynbaar baie wyer as net Indië) is min of meer ’n nagmerrie weens die literatuur wat gelaai is met fiksie. Dié fiksie het sy herkoms in vyandigheid, godsdienstige jaloesie, onbegrip oor hoe Oosterse denke en tradisie neerslag gevind het (ook in die Christengeledere), en vele meer. Dit lyk redelik vas te staan dat Tomas deur Hindoes, spesifiek jaloerse Hindoes, verraderlik vermoor is.

Tot vandag toe word gereeld verwys na jaloesie onder veral jong Hindoes wat ontsteld is oor die uitbreiding van die Christengemeenskap.

Aan die ander kant van die spektrum word die Christendom verwelkom, juis weens die beweerde invloed van Hindoeïsme en Boeddhisme op hierdie godsdiens. Dit moet egter in gedagte gehou word dat hierdie simpatieke waarnemings dikwels oordadig is. (Die Islam het destyds nog nie bestaan nie, en die wedersydse invloed lê op ’n ander vlak.)

Met huwelike is daar byvoorbeeld ’n redelik maklike uitruilbaarheid tussen Christenskap en Hindoeïsme met die vroue wat met skynbare gemak die godsdiens van hul man navolg.

Die invloed van Boeddhisme blyk onder meer daaruit dat baie Christene van oudsher glo dat die Vader in die Seun hergebore is.

In sommige kringe in Indië word ook ’n sterk godsdienstige verband tussen Christenskap en joga getref.

Liturgies is die St. Tomas-Christene baie verdeeld. Hulle het oorspronklik aangehaak by die Siriese Kerk, en spesifiek die vertakking wat vanuit Persië sy invloed laat geld het. Die eerste groot skeuring het gekom toe daar druk van die Portugese was om hulle deel van die Rooms-Katolieke Kerk te maak. Baie het die skuif gemaak, maar sterk Oosterse invloede behou.

Hierna het verdeling op verdeling gevolg, met ook die Protestantisme wat neerslag gevind het.

Vandag word die Tomas-Christene deur die Indiese regering as ’n “vooruitstrewende kaste” beskryf, en word hulle amptelik bevoordeel deur die stelsel van “positiewe diskriminasie”.

Die meeste woon steeds in die omgewing van Kerala en praat die plaaslike taal, Malayalam. Hul “kragtige invloed” op bykans alle terreine is steeds grootliks tot Kerala beperk.

Die jongste styging in gevalle van aanvalle op Christene hou skynbaar verband met die opkoms van die Bharatiya Janata-party (BJP) van premier Narendra Modi. Die jong heethoofde glo Indië kan net behoorlik verenig as dit onder Hindoebewind staan (stel dus iets in die rigting van ’n Hindoeteokrasie voor). Die Hindoes maak ongeveer 80% van die bevolking uit.

Die Christen- en Moslembevolkings loop min of meer onder dieselfde diskriminasie deur, nadat Christene voorheen erg deur sekere Moslemkoninkryke vervolg is.

Dit is interessant dat, met die skryf van die Suid-Afrikaanse Grondwet, mense van Indiese herkoms via hul ANC-lidmaatskap ’n groot rol in die opstel daarvan gespeel het. Een van die invloedrykstes is sekerlik appèlregter Azhar Cachalia. Baie, veral uit die handves van menseregte, is aan die Indiese grondwet ontleen. Indië se grondwet, weens die heterogeniteit van die bevolking, kan egter as ’n etniese federasie beskou word, waar dié van Suid-Afrika heterogeniteit deur ’n grondwet vir homogeniteit probeer ondervang.

Die tweede beginsel is dat daar byna altyd godsdiensspanning in ’n land ontstaan wanneer amptelik of nieamptelik van ’n sekulêre grondwet afgestap word, en een van die godsdienste (meestal van die meerderheid) se politieke invloed baie verhoog word. Ware godsdiensvryheid bly dan dikwels in die slag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

VLUG ·

INDIE is nog ‘n hellhole, dit is hoekom die mense oral die wereld heen gevlug het .. Hoekom Christene nog daar wil bly gaan my verstand ten bowe . vlug en trek .. OU armsalige godverlate vuil stinkende land . kom weg daar.

foxi ·

Liewe VLUG. Hulle is NIE die enigste land wat vuil en stukkend is nie. Ons is nie baie vêr daarvan af nie. Maak nie saak in watter omstandighede jy leef en woon nie…. daar waar jou hart is…..daar sal jy die lig sien (GOD). Christene gaan met tyd ooral in die wereld vervolg word. Dit sal van die mens afhang hoe hy dit gaan handteer.

May!!! ·

Nou ja!!! As hulle nie wil hoor nie laat hulle dan maar voel!! Brand gaan hulle brand!!! Verseker! Net Sy kinders gaan hemeltoe!!!

Anoniem ·

May. Ek voel vreeslik jammer vir jou om so te oordeel. Die opdrag aan jou en my was om dan heen te gaan en aan alle volke en nasies die evangelie te gaan verkondig en leer hulle en doop hulle. Nou omdat hulle Christus aangeneem het en n vuil en stunkende land bly soos” Vlug” ook se beteken nie hulle is nie kinders van God nie. Christus het juis onder die armes en ellendiges gaan bly om hulle te leer en die evangelie te verkondig.

Lars ·

Christene word wêreldwyd vervolg. Die pous gaan die Colosseum met rooi belig om aandag daarop te vestig.

marous ·

Waarom veroorsaak verskillende geloofs oortuigings soveel verdriet ? Die gewone goeie mens wees norme is basies dieselfde. Miskien is dit die verskillende vertolkings van die hiernamaals wat mense so op loop het …..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.